Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 February 2018

Die Prosperity Gospel in Ultra HD

Tv with gold bars

Het jy al ooit ‘n lae gehalte foto gesien wat lyk of dit uit ‘n klomp blokkies bestaan?  Jy kry jy die geheelbeeld - veral as jy die foto ver van jou gesig af hou - maar mis die fyner besonderhede.  Maar as die foto uit 10 of 12 megapixels bestaan (1 megapixel is rofweg 1 miljoen pixels of kolletjies), is die detail uitstekend.  ‘n Ultra HD (hoë definisie) rekenaarskerm of TV het baie megapixels, wat ‘n top visuele gehalte verseker.

 

In Jud. 12-13 beskryf Judas die vals leraars in Ultra HD.  Hy gebruik ses illustrasies om hulle te beskryf.  Soos in die vorige drie preke sal ek my toepassings tot die Prosperity Gospel beperk.

 

  1. Hulle is skandvlekke (v.12)

By my matriekafskeid het die boelies my vriend met ‘n vleispastei gegooi.  Dit het ‘n bruin blerts op sy nuwe wit hemp gelos.  Die vals leraars was so: skandvlekke in die gelowiges se liefdemaaltye (v.12).  Wat beteken dit?

 

Sowat 100 jaar na Judas sy brief geskryf het, het Tertullianus van Noord-Afrika hierdie liefdemaaltye beskryf.  Die kerk het dit o.a. gehou om die armes te versorg.  Hulle het dit as ‘n aanbiddingsdaad beskou en dus nie toegelaat dat iemand te veel eet of drink nie.  Voor hulle na die tafel toe gekom het, het hulle saam gebid.  As hulle klaar hulle hande gewas het, is lampe ingebring.  Elke persoon moes ‘n gesang of skrifberyming vir die Here sing.  Na die ete het hulle weer gebid en in vrede verdaag.

 

Hierdie maaltye is aanvanklik saam met die nagmaal gehou (Hand. 2:42, 46, 1Kor. 11:20-22, 33-34), maar is teen die middel van die 2de eeu daarvan geskei.[1]  Dit het egter tot in die 5de eeu n.C. ‘n normale deel van die kerk se lewe en aanbidding gebly.  Dit het stadig begin kwyn en tussen die 6de en 8ste eeu n.C. verdwyn.[2]

 

Hierdie is blykbaar die liefdemaaltyd [Gk. agapē] waarvan Judas in v.12 praat.  Die vals leraars het hulleself tydens hierdie feeste ooreet, dronk geword en losbandig opgetree (v.12, 1Kor. 11:21, 2Pet. 2:13).  Volgens v.12 het hulle nie gevrees dat die Here hulle hiervoor sou oordeel, soos Hy in 1Kor. 11:29-32 met die Korintiërs gedoen het nie.  Dit het hulle nie gepla dat hulle hulle pense verafgod en die armes se kos verorber nie (vgl. Rom. 16:18, Fil. 3:19).

 

Vandag se Prosperity predikers doen dieselfde en gee nie om as hulle ‘n arm weduwee se laaste twee muntstukke vir hulleself vat nie (Mark. 12:40, 42, 44).  Het jy al op TV gehoor hoe hulle vir mense sê om hulle geld te stuur, en dat die Here dit honderdvoudig vir hulle sal teruggee?  Hulle sien dollar-tekens, vryf hulle hande saam en lek hulle lippe af in die hoop dat ‘n weduwee haar man se pensioengeld vir hulle sal stuur.

 

Hulle gulsige optrede is ‘n moerbeivlek op die rein kleed van Jesus se goeie naam (v.12, Rom. 2:24).  Vir talle ongelowiges is TBN se Prosperity Gospel die idee wat hulle van Jesus, die evangelie, Christenskap en die kerk het.  Gevolglik stel hulle nie daarin belang nie.

 

Die Grieks vir ‘skandvlekke’ [spilas] kan ook met ‘rif’ of ‘rots’ vertaal word.  Dit verwys na ‘n rif in die see.  Omdat seevaarders dit nie sien nie, ly hulle skipbreuk.  So is dit met hedendaagse Prosperity predikers: hulle dwaling is so subtiel dat duisende mense se geloof op die versteekte rif van hulle leuens verpletter word.  Hulle is van Jesus afgesit, omdat Hy nie die gesondheid en rykdom kon gee wat prediker so-en-so belowe het nie.

 

  1. Hulle is herders wat hulleself voed (v.12)

Mense wat na Prosperity predikers luister is soos Pinocchio.  Hy en ‘n klomp ander seuns is na ‘n eiland van plesier toe gelok, maar eintlik was dit ‘n strik.  Hulle het in donkies verander wat op die soutmyne moes werk.

 

Prosperity predikers belowe plesier: ‘As jy positiewe woorde spreek, sal jy ryk en gesond wees.’  Ongelowiges stroom na hulle kerke toe om die regte formule te leer, sodat hulle voorspoedig kan wees.  Die geestelike guru op die verhoog sê dat hulle hulle geld moet gee as hulle plesier uit die geestelike ‘vending’ masjien wil kry.

 

Hulle besef nie dat die ‘man van God’ besig is om hulle geld te steel nie.  Hy is nie ‘n herder se vuil toonnaels werd nie, maar is ‘n bokwagter wat mense se geld vat om homself te voed (v.12, Eseg. 34:2, 8).  In stede daarvan dat hy God se skape met die groen weiding van die Woord voed, vermaak hy die bokke (Jer. 3:15, Joh. 21:15-17, 1Pet. 5:2).  Vir hom maak dit nie saak dat mense geestelik skipbreuk ly nie - solank hy sy geld kry.

 

Hoekom wil enigiemand dan onder hierdie ketters se lering sit?  Al rede wat ek kan sien, is dat die vals leraars se dissipels óók vir hulleself lewe.  Hulle gebruik die vals leraar as ‘n trappie om by die koekieblik van gesondheid en rykdom uit te kom, maar uiteindelik is dit húlle wat op die vloer lê terwyl hy die koekies alleen opeet.

 

  1. Hulle is wolke sonder water (v.12)

In 2004 was ek vir ‘n vergadering Hectorspruit tussen Komatipoort en Malelane.  Dit was oor die 40°C.  Die man wie se plaas dit was het gesê dat hulle dringend reën nodig het.

 

Teen 15:00 het donker wolke opgekom en het die wind vreeslik gewaai.  Almal het in hulle karre geklim en terug gery Nelspruit toe.  Die volgende dag by die kerk was ek gretig om te hoor hoe baie dit gereën het.  ‘Niks,’ het die oom teleurgesteld gesê.  ‘Die wolke het oorgewaai.’

 

Net so is die vals leraars “waterlose wolke deur winde rondgedrywe” (v.12).  Hulle maak leë beloftes en stel mense teleur.  “‘n Man wat hom beroem op ‘n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie.” (Spr. 25:14).

 

Indien jy hierdie mense se beloftes bevraagteken of sê dat dit in jou geval nie gewerk het nie, blameer hulle jóú en sê hulle dat jy nie genoeg geloof het nie.  Hulle doen dit om die skuld van hulleself af te skuif.  So maak hulle dat mense dink die Here is onbetroubaar.

 

Hulle verstaan ook nie die verband tussen gebed en geloof nie.  Volgens hulle sal jy ‘n BMW X5 en goeie gesondheid kry as jy genoeg geloof het.  Maar dit is nie wat gebed óf geloof beteken nie.  Gebed beteken dat jy in Jesus se Naam jou lofprysing, danksegging, belydenis, voorbidding en versoeke na God toe bring (Joh. 14:13-14).

 

Om in Jesus se Naam te bid beteken ‘n paar dinge.  Maar wat dit nié beteken nie, is dat jy sy Naam as ‘n towerformule aan die einde van jou gebede gebruik: ‘In Jesus Naam!’  Om in sy Naam te bid beteken o.a. dat jy dinge volgens sy wil vra (1Joh. 5:14).  Jy bid m.a.w. volgens sy woorde soos ons dit in die Bybel het (Joh. 15:7).

 

Dit impliseer outomaties dat jy nie in Jesus Naam vir ‘n BMW X5 kan bid nie.  Jy kan wel vir genesing bid, maar omdat die Bybel nie elke mens se genesing waarborg nie, moet jy jou aan die Vader se wil onderwerp en saam met Jesus sê: “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39).

 

Wat geloof betref gaan dit nie oor hoe groot jou geloof is nie, maar oor hoe groot die Een is in Wie jy glo.  Jy moet m.a.w. nie in jou geloof glo nie, maar in die Here.  Jy moet glo dat Hy goed is, en dat Hy sy kinders wíl help.  Jy moet glo dat Hy Almagtig is, en dat Hy jou kán help.  Jy moet glo dat Hy getrou is, en dat Hy jou sál help.  Dít is wat dit beteken om in geloof te bid: jy vertrou 100% op die Here, en glad nie op hoe sterk jou geloof is nie.

 

Maar wat van die tekste waarin Jesus mense volgens hulle geloof genees het (Matt. 8:13, 9:29, 15:28, Mark. 10:52)?  Hierdie tekste gaan nie daaroor dat die mense genoeg geloof in hulleself opgebou het nie.  Dit gaan eerder daaroor dat hulle juis nié op hulleself vertrou het nie, maar geglo het dat Jesus die Seun van God is wat hulle kan genees.

 

Hulle geloof het Hom egter nie beperk nie, aangesien Hy by verskeie geleenthede mense genees het wat nié in Hom geglo het nie.  Die lam man in Joh. 5 het nie geweet dat Jesus hom gaan genees nie, en het ook nie geglo dat Hy die Seun van God is nie.  Die blinde man in Joh. 9 het eers ná sy genesing geglo dat Jesus die Messias is.  Lasarus en ander dooie mense het nie eers die vermoë gehad om in Jesus te glo toe Hy hulle uit die dood uit opwek nie.

 

Dalk wonder jy oor verse soos Mark. 6:5-6: “[Toe Jesus in Nasaret was] kon [Hy] daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.  En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof...”

 

Die mense van Jesus se tuisdorp (Nasaret) het Hom nie as ‘n Profeet en die Seun van God erken het nie.  Gevolglik het hulle nie hulle siekes vir genesing na Hom toe gebring nie, en daarom kon Hy hulle nie genees nie.  Dit het niks met die hoeveelheid van hulle geloof te doen gehad nie.

 

As jy selfs net ‘n milligram geloof het is dit meer as voldoende (Luk. 17:5-6).  Geloof per definisie gaan immers oor die Persoon in wie jy glo, en nie oor jouself nie.  Die vraag is dus nie of jy genoeg geloof het nie, maar in wie jy jou geloof plaas?

 

  1. Hulle is bome sonder vrugte (v.12)

Ek het ‘n pruimboom wat glad nie pruime dra nie.  As jy gelukkig is sal daar ‘n verdroogde rooi pruim aan die boom hang.  Twee seisoene gelede was die takke so droog soos Namibiese doringhout, sodat ‘n 12-jarige dit tot op die grond kon afbreek.

 

Volgens Judas is die vals leraars soos bome sonder vrugte (v.12).  Hulle preek vir ander, maar dra self nie die vrug van bekering nie (Matt. 21:19).  Soos ons laas week gesien het, kenmerk die vrot vrugte van hoogmoed, lastering, geldgierigheid, losbandigheid, ontevredenheid, ens. hulle lewens (v.8-11, 16).

 

Hulle vrugtelose lewens wys dat hulle twee maal gestorwe of morsdood is (v.12).  Hiervoor sal die Here hulle heeltemal ontwortel en in die vuur van sy oordeel verteer (v.12, Ps. 52:7, Jer. 1:10, Matt. 3:10, 7:19, 15:13, Luk. 13:6-9).

 

Indien jy hierdie mense se boeke lees en na hulle preke luister, sal jy net so vrugteloos wees soos hulle.  Vals lering kan immers nie goeie vrugte produseer nie.  Kan ‘n boodskap van geldgierigheid maak dat jy:

 

  • Die Here en jou naaste meer liefhet en nie geld aanbid nie?
  • Ander se belange op die hart dra en nie net aan jouself dink nie?
  • Jou blydskap in die Here vind en nie in die wêreld nie?
  • Tevrede is met wat jy het en nie gulsig is nie; vrygewig en nie suinig nie; mededeelsaam en nie jaloers nie?
  • Hard werk, jou geld goed bestuur, en geduldig wag dat die Here in jou behoeftes voorsien?

 

As wurms die vrugte van jou lewe kenmerk, sal God die boom van jou lewe afkap en jou saam met die vals leraars in die vuur gooi (Joh. 15:2, 6).  Dra daarom vrugte wat by die bekering pas (Matt. 3:8).

 

Ek bedoel nie dat die Here jou sal red as jy genoeg goeie vrugte dra nie.  Niemand gaan hemel toe omdat hy of sy probeer om Gal. 5:22 se vrug van die Gees in hulle lewens toe te pas nie: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

 

As jy die vrug van bekering wil dra, moet jy aan die lewegewende wortels verbind wees (Joh. 15:1-8).  Hoe gebeur dit?  Jy moet in Jesus glo om jou van jou sonde te red, en nie net om vir jou werk te voorsien nie.  Jy moet jou van jou selfgeregtigheid bekeer, want solank as wat jy dink jy kan iets doen om gered te word, sal jy nie op Jesus vertrou wat alreeds alles vir jou gedoen het nie.

 

Glo dat sy kruisdood voldoende is om jou van God se toorn en jou sonde te red, en dat jy niks hoef by te voeg om sy guns te wen nie.  As jy jou só bekeer, sal die Here jou vergewe en in jou hart kom woon.  En met die Heilige Gees wat in jou woon, sal jy nie anders kan as om die vrug van bekering te dra nie (Fil. 1:11, Gal. 5:22).

 

  1. Hulle is woeste golwe (v.13)

Prosperity predikers is soos die vuil bruin seeskuim wat ek laasjaar in die Oos-Kaap gesien het.  Blykbaar word die bruin skuim deur dooie alge, rioolwater of olie veroorsaak.

 

Volgens Judas is die vals leraars soos golwe wat allerhande vuilheid van die seebodem af optel en dit uitspoel (v.13).  Die morele slyk wat op die bodem van hulle harte lê sal een of ander tyd soos bruin skuim op die golwe van hulle losbandige lewens ronddryf en deur die media op die strand van die samelewing uitgespoel word.

 

Hulle kan m.a.w. nie wegsteek dat hulle goddelose vals leraars is nie:  “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” (Jes.57:20).

 

Wanneer dit gebeur moet jy asb. nie sê wat iemand eenkeer vir my gesê het nie: ‘Ek weet dat Prosperity prediker so-en-so moreel geval het, maar ek glo nog steeds dat hy ‘n man van God is’ nie.  Liefde glo die beste, maar is nie blind nie.  Geen hoeveelheid kan sjarme [Eng. charm] kan die Prosperity predikers se geldgierige en losbandige leefstyle uitkanselleer nie.

 

  1. Hulle is dwaalsterre (v.13)

Toe ek 9 of 10 was het ek ‘n ‘survival kit knife’ gekry.  Op die handvatsel was daar ‘n kompas.  Vir mense in Judas se tyd sou so iets handig te pas kom, veral as hulle op die oop see moes vaar.  In sy tyd het hulle nie kompasse gehad nie, maar van die sterre gebruik gemaak om rigting te kry.

 

Die sterre het o.a. gehelp omdat hulle elke aand op dieselfde plek was.  ‘n Dwaalster of verskietende ster sou vir ‘n paar sekondes indrukwekkend lyk, maar kon nie vir hulle rigting gee nie.

 

Net so is die vals leraars dwaalsterre wat niks beteken nie (v.13).  Jy kan nie op hulle staatmaak om vir jou die pad na die hemelse stad toe te wys nie.  Hulle lyk indrukwekkend, omdat hulle groot gemeentes, baie geld en gladde monde het.  Maar op die einde word hierdie ‘sterre’ in die eindelose swart ruimte van die hel ingesluk (v.13, 6-7, 2Pet. 2:17, Jes. 14:12-15).

 

Wees daarom baie versigtig dat hierdie verskietende sterre jou nie verlei soos wat kerslig ‘n mot aantrek en uiteindelik doodbrand nie.  Moet hulle nie met piering oë en ‘n oop mond bewonder nie.  Hulle lyk mooi, maar is gevaarlik.  Soos verskietende sterre belowe hulle dat hulle jou wense van rykdom en gesondheid kan bewaarheid, maar hulle lieg.

 

Jud. 12-13 wys vir jou wie hierdie vals leraars regtig is.  ‘Hulle is so gevaarlik soos versteekte rotse, so selfsugtig soos verdraaide herders, so nutteloos soos wolke sonder water, so dood soos verdorde bome, so vuil soos skuimende golwe, en so verdoem soos die gevalle engele.’[3]

 

Moet hulle dus nie glo nie, maar plaas jouself onder die voedsame lering van iemand soos Charles Spurgeon, Martyn Lloyd-Jones of Steve Lawson.  Sorg dat jy die Bybel in jou stiltetyd en gemeente bestudeer.  Maak seker dat jou predikant sy vinger op die teks het, sodat jy nie iets anders as die suiwer melk van God se Woord inneem nie.

 

Die Prosperity Gospel en elke ander vals lering moet vir jou soos sneeu op ‘n ou TV skerm wees - dit moet jou dadelik afsit.  Jy moet die ware evangelie in Ultra HD sien.  Eintlik moet dit nóg beter wees, en moet jy dit in lewende lywe sien.  Dit moet jou so aantrek dat jy dit nie wil los nie, maar vir ewig in jou hart wil bêre.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, 1915, 1939, Public Domain, www.e-sword.net

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, pp. 74-75

[3] Vry vertaal uit Michael Green, Tyndale New Testament Commentaries: 2Peter and Jude, Inter-Varsity Press, Leceister: England, 1968, p. 177

Kategorieë