[youtube=http://youtu.be/ntAwXg-uG6I]
In A Christmas Carol van Charles Dickens het Scrooge Kersfees gehaat. Simeon was anders as Scrooge: hy het uitgesien na kersfees. Waarna het hy uitgesien? Na die geskenke of ete saam met familie? Of het hy gewag vir die vervulling van God se belofte wat 4000 jaar vroeër in Genesis 3:15 gemaak is: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou [Satan] en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy [die Messias] sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”? Lukas 2:25 sê dis wat hy verwag het: “[Simeon] het die vertroosting van Israel verwag”
Simeon se karakter
Emil wil die rykste man in die wêreld wees. Dié lewensdoel maak dat hy dink hy is beter as ander. Hy is ongeskik met dié wat nie so ryk is soos hy nie, en jaloers op dié wat ryker is. Hy werk altyd om ryker te word en gee nie tyd aan sy vrou en kinders nie. Hy stres as dit lyk of hy geld gaan verloor. Om ryker te word doen hy skelm besigheid en raak verslaaf aan werk. Sy rykdom maak hom nie gelukkig nie. Hy is onvergenoeg met sy biljoene en wil altyd nóg hê. Hy is ongeduldig en wil nóú die rykste wees. Hy vlei kliënte om geld uit hulle te kry.
Emil se beskouing van die toekoms bepaal sy karakter in die hede. Net so was dit vir Simeon en so sal dit met jou wees. Simeon was regverdig en vroom, omdat hy die Messias verwag het (v.25). Hy het gedoen wat Miga 6:8 gesê: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” Sou jy nie ook so gelewe het as jy geweet het dat die Messias in die nabye toekoms gebore gaan word nie? Ons wag nou wel nie vir Jesus se eerste koms nie, maar ons verwag sy tweede koms. Dis nodig om soms ons besige lewe te halt en te onthou dat die wederkoms ‘n realiteit is. Dié hoop moenie ‘n déél van jou lewe wees nie, maar moet jou hele lewe kleur. Hoekom sê ek so? As jy hierdie hoop vooroë het, sal jy heilig lewe. Die Bybel sê:
“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” (Titus 2:11-14).
“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” (2 Petrus 3:11-14).
“En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie... Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” (1 Johannes 2:28, 3:2-3).
Sal jy nie gemotiveer wees om heilig te lewe as jy geweet het Jesus kom môre nie? As jy gedurig die wederkoms verwag sal jy:
- Anders dink oor geld. Jy sal weet jy kan dit nie saamvat hemel toe nie.
- Anders dink oor lyding en nie dink dat dit vir ewig sal aanhou nie.
- Anders dink oor plesier. Jy sal nie dink daar is niks beter as hierdie wêreld nie.
- Anders dink oor werk en weet jy werk nie net vir jou moeilike baas nie, maar om die Here te verheerlik.
- Anders dink oor aftrede en nie dink dat jou laaste jare op aarde die beste moet wees, omdat daar niks hierna is nie.
- Anders dink oor jou vyande. Jy sal hulle nie terugkry nie, omdat jy weet dat die Here op die laaste dag met hulle sal afreken.
- Anders dink oor die dood en nie bang wees nie, omdat jy weet dat daar iets ná die dood is. Jy weet ook dat jy ‘n nuwe liggaam gaan kry wanneer Jesus weer kom.
Simeon se omstandighede
In die 1700’s was party slawe bly dat hulle goeie eienaars, soos George Whitefield en Jonathan Edwards, gehad het. Dit was egter nie genoeg om ‘n goeie baas te hê nie. Hulle wou vry wees. Net so was Keiser Augustus gaaf met die Jode en wou hy hulle juk verlig. Maar dit was nie genoeg nie – God se volk wou vry wees. Om dié rede het baie Jode ‘n politieke Messias verwag; ‘n Messias wat die Romeinse juk sou afgooi. Simeon het egter geweet dat daar ‘n swaarder juk is as Rome: sonde. Die Messias het gekom om sy volk te red en troos, omdat hulle deur sonde onderdruk is. Daarom praat Simeon van die Messias wat verlossing en lig bring vir die volk en vir die nasies. Hy praat van die Messias wat bestem is tot ‘n val en opstanding van baie in Israel. Hy sê dat ‘n swaard deur Maria se siel sal gaan. Hoekom? Omdat haar Seun, die Messias, gekruisig sou word. Jesus is nie gekruisig om Rome se juk af te gooi nie, maar om Satan en sonde se juk af te gooi.
Dít is wat Lukas bedoel as hy sê dat Simeon die Vertroosting van Israel verwag het. Jesaja het gesê: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.” (Jesaja 40:1-2). God sê met ander woorde: ‘Net soos wat Ek Israel vir haar sondes gestraf het, sal Ek haar vergewe. Troos haar met dié woorde.’
Ons land en wêreld is in ‘n gemors. Wat is Suid-Afrika en die wêreld se hoop? Dis nie jou stem tydens die verkiesing of ‘n sekere politieke party nie. Dit is Jesus en sy wederkoms. Net Hý kan hierdie wêreld omkeer en herstel. Daarom is jou eerste taak nie om in politiek betrokke te raak nie. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Johannes 18:36). Jou taak is om Jesus se wederkoms te verwag. Dit moet jou dryf om vir mense te sê hulle moet gereed maak, omdat Jesus gaan kom om die wêreld te oordeel. Hulle moet hulle bekeer en die evangelie glo.
Simeon se skopus
In die kerslied, Betlehem Ster, sing ons: ‘Wyse manne kom van ver.’ Hoekom het die wyse manne van ver gekom, en nie uit Israel nie? Deur dit te doen het God gewys dat die heidene die Messias verwelkom het, terwyl die Jode Hom verwerp het. Ja, Jesus is die Vertroosting van Israel (v.25). Maar Hy is dit ook vir die wêreld (v.32, Johannes 3:16, Efesiërs 2:12-13, 19).
Gewoonlik is dit moeilik om die evangelie met jou familie te deel, maar oor kerstyd is dit makliker. Dis maklik om te verduidelik hoekom Jesus mens geword het, of wat die woorde van ‘n kerslied beteken. Moenie dié kans vir die evangelie mis nie. Sal die wêreld húlle blydskap in die kersseisoen deel, terwyl ons wat die regte rede het stilbly?
Mike ontmoet vir Tracy by die see. Hy raak verlief en kontak haar deur die jaar. Die herinnering aan hulle tyd by die see is goed. Die geselsies op die foon is beter. Maar die feit dat hy weer dié jaar see toe gaan om haar te sien is die beste. Net so is die herinnering aan Jesus se geboorte (kersfees) goed. Die feit dat ons Hom nóú kan ken en ‘n verhouding met Hom het is beter. Maar die beste kom nog.