Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 December 2017

Die Koning van die engele

Christ's two crowns

Reeds in die 2de eeu n.C. het Christene Bybelse simbole soos ‘n herder, brood, ‘n duif, ens. op hulle was seëls en klei breekware gebruik.  In die 4de eeu het hulle hulle kerkgeboue met hierdie en ander simbole versier.  Party Christene was sterk hierteen gekant, maar vir ander was dit nie ‘n probleem nie.  Epifanius van Salamis (315-403 n.C.) het vurig baklei en gesê dat hulle hierdie kunswerke moet uitgooi.  Omdat hy egter in die minderheid was, het die debat doodgeloop.[1]

 

In die 8ste en 9de eeu n.C. het dit ‘n tweede asem gekry, sodat die Oostelike kerk byna geskeur het.  Baie mense het voor die kunswerke gebuig, dit gesoen, voor dit gebid of kerse voor dit aangesteek.  Volgens hulle het hulle nie die kunswerke aanbid nie, maar respek betoon aan die engel of afgestorwe gelowige wat daarin uitgebeeld is.

 

‘n Groep gelowiges het gesê dat hierdie mense die tweede gebod oortree.  In reaksie hierop het hulle gesê dat God sy volk verbied het om voor drie dimensionele beelde te buig, en dat dit nie verkeerd is as hulle voor twee dimensionele prente buig nie.  ‘Maar al sou ons ook drie dimensionele beelde maak, wys dinge soos die koper slang en die gerubs op die ark dat dit nie verkeerd is om voor dit te buig nie,’ het hulle gesê.  ‘Die prente help ook die mense wat nie kan lees nie.’[2]

 

Ek het nie ‘n probleem as iemand vir Dawid of die engel by Jesus se graf teken nie.  Maar om voor hierdie prente te buig, dit te soen of voor dit te bid is iets anders, omdat sulke respek die Here alleen toekom.  Kan jy jou indink dat ‘n engel voor ‘n prent van Adam of Petrus buig en dit soen?  Die Engele weet dat hulle net voor Een moet buig, en dit is die Here.  Hy is die Koning van wie die ou lied sê:  ‘Come and behold Him, born the King of angels.’  Dit is o.a. waaroor Heb. 1:6b gaan.

 

Sy realm

In Griekse en Romeinse mitologie het elke god oor ‘n sekere gebied of realm geheers.  Daar was ‘n god van die hemel, die see, oorlog, landbou, liefde, ens.  In Christenskap is dit nie so nie.  Ons God heers oor elke realm (Ps. 103:19, 135:6).  Dit is wat in Heb. 1:6 met ‘wêreld’ bedoel word.

 

[1] Toe die Vader die Seun 2000 jaar gelede in die wêreld inbring (v.6, 10:5), het die engele Hom aanbid en gedien:  Matt. 4:11, 26:53, 28:2-3, Luk. 2:13-14, 22:43, Hand. 1:9-11, 1Tim. 3:16.

 

[2] Toe Jesus ná die hemelvaart in die toekomstige wêreld inkom (v.6, 2:5), het die engele Hom aanbid:  Ps. 24:9, 110:1, Ef. 1:20-22, 1Pet. 3:22.

 

[3] Wanneer Hy eendag na die wêreld toe terugkeer (v.6, 9:28), sal al die engele sy heerlikheid aanskou:  Matt. 25:31, 2Tess. 1:7, 10.

 

Toe Jesus in Betlehem gebore is was Hy in sy menslike natuur vir ‘n kort tydjie minder as die engele (Heb. 2:9).  Na sy hemelvaart het Hy egter die heerlikheid ontvang wat Hy voor Gen. 1 en sy geboorte by die Vader gehad het (Joh. 14:28, 17:5, Fil. 2:6-11).  Volgens Ef. 1:22 het die Vader “alle dinge onder sy voete onderwerp”.  “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde,” het Hy in Matt. 28:18 vir sy dissipels gesê.  Wat in Dan. 4:35 vir die Vader geld, geld ook vir Hom:  “na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde”.

 

Die huidige aarde, die hemel, en die nuwe aarde is dan die realm waar Jesus Christus regeer.  Hy is dus nie net die Koning van die engele nie, maar van alles en almal.  ‘There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry, “Mine!”’ (Abraham Kuyper).[3]

 

Wat beteken sy soewereine heerskappy prakties vir ons?

 

[1] Jesus Christus het vir Robert Mugabe en Jacob Zuma aangestel en afgedank (Dan. 2:21).  Alle konings en leiers kry hulle gesag by Hom (Rom. 13:1).  Hy is die Koning van die konings en die Here van die Here (Op. 19:16).  Praat met Hóm oor die politiek eerder as om daaroor te kla (1Tim. 2:1-2).

 

[2] Die huidige droogte in die Wes-Kaap en die brande wat vroeër vanjaar in Knysna gewoed het, is onder sy beheer (Deut. 28:23-24, Job 5:10, Ps. 148:8, Jer. 14:22).  Hy beheer ook siklone, tsunami’s, sneeustortings, donderstorms, vloede, aardbewings en alle natuur rampe (Gen. 7, 1Sam. 12:18, Job 37:3-6, Ps. 83:16, 107:23-30, 147:16-18, Jes. 29:6, Jona 1).

 

Omdat dit so is, moet ons nie oor die droogte murmureer, of Christus se goedheid bevraagteken nie.  Ons moet Hom eerder vrees en ons van ons sonde bekeer.  Sy beheer oor die natuur beteken logies dat die natuur Hóm nie beheer nie.  Die implikasie is dat Hy vir die Wes-Kaap reën kan gee, al is dit nie nou hulle seisoen vir reën nie.  En sal ons nie hiervoor bid nie?

 

Maar wat as die Here besluit om nie reën te stuur nie?  Ek ken ‘n predikant in Zimbabwe wat R500 per maand verdien.  Hy sorg vir 7 weeskinders en het nie eers genoeg geld om brood te koop nie.  Al wat hulle elke dag eet is pap.  Omdat hulle nie lopende water het nie, het ‘n paar gelowiges geld bygedra om vir hulle ‘n boorgat te sink.  Hulle het 60 meter geboor en nie water gekry nie.

 

In reaksie het hy die volgende sms getik:  ‘A man’s life does not consist of the abundance of the things which he possesses.  Jesus is enough... If Jesus has given me repentance toward God, then I believe that is all that matters.  Yes, the Lord is all I will think about, and I will help my wife not to be distracted.’

 

Dit moet ook ons gesindheid wees indien die Here besluit om nie dadelik ons gebede vir reën in die Wes-Kaap te beantwoord nie:  “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Hab. 3:17-18).  “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21).

 

[3] Die duiwel en sy demone kan nie ‘n vinger verroer sonder Jesus se toestemming nie; Hý besluit wat hulle mag doen, en vir hoe lank hulle dit mag doen (Job 1:12, 2:6, Matt. 8:31-32, Mark. 1:25-26).  Moet dan nie soos party mense sê dat die duiwel los is wanneer jy finansieel sukkel, siek word, ‘n rebelse kind het, iemand aan die dood afstaan, ‘n miskraam het, ens. nie.  Wanneer sulke dinge gebeur is die duiwel nie ewe skielik in beheer nie - Jesus is.  Bring daarom jou bekommernisse na Hom toe, want Hy sorg vir jou (1Pet. 5:7).

 

[4] Die dood is nie ‘n persoon met ‘n swart kappie en ‘n sekel-maaier in sy hand, wat ter enige tyd kan besluit om jou dood te maak nie.  Jesus is in beheer van die dood, en sal besluit wanneer jy doodgaan (Job 14:5, Op. 1:18).  As jy ongered is moet jy bang wees, omdat daar iets erger as die dood is:  die tweede dood of die hel.  As jy met jou sonde aanhou sal dit jou ewige bestemming wees (Op. 21:8).

 

Maar as jy in Jesus glo is die dood ‘n lelike vissersboot wat jou na ‘n pragtige Paradys toe neem (Luk. 23:43, Fil. 1:21, 23).  Terwyl jy in die boot is sal Jesus by jou wees en jou hand vashou - jy hoef nie te vrees nie (Ps. 23:4, Heb. 2:14-15).  Die dood kan jou so min skade doen soos ‘n goeie nagrus, ‘n leeu in jou droom, of ‘n by wat nie ‘n angel het nie (1Tess. 4:13-14, 1Kor. 15:55).

 

As jy hard en lank genoeg dink, sal jy sien dat Christus se soewereine heerskappy praktiese gevolge vir elke area van jou lewe het.  Dit geld vir terminale siektes soos kanker, slapeloosheid, pyn, tragedies wat oor jou pad kom en meer.  Niks, maar niks, is buite sy beheer nie.  Omdat dit so is, kan jy Hom met jou lewe vertrou:  jy is in veilige hande.

 

Sy dienaars

Roy besit een van die grootste plase in Amerika.  Hy het meer as 3000 mense wat vir hom werk.  Sy laagste vlak werkers verdien R35 000 per maand, terwyl sy voormanne vir meer as R150 000 per maand werk.  Wat is die eerste ding wat jy wil weet as jy dit hoor?  Hoe baie geld het Roy?

 

Dit is presies so met Jesus en die engele:  as ek jou eers van húlle vertel het, sal jy wil weet hoe wonderlik hulle Koning is.  Engele is onsigbare geeste (Kol. 1:16, Heb. 1:14, vgl. Luk. 24:39).  Hulle kan in ‘n liggaam verskyn (Gen. 19:1, Matt. 28:2-3, Heb. 13:2), maar is nie grootmense of babas met vlerke soos in Michelangelo se kunswerke nie.

 

Hulle is baie sterker as mense (2Pet. 2:11).  Hulle is ook sterker as die duiwel en sy magte (Op. 12:7-9).  Dawid beskryf hulle as kragtige helde (Ps. 103:20), en volgens 2Tess. 1:7 is hulle magtig.  God het slegs twee engele gebruik om Sodom en Gomorra te verwoes (Gen. 19:13).  Onder God se bevel kan hulle d.m.v. rampe en plae ‘n populasie uitwis (Op. 7:1, 16:1-21).

 

Hoeveel engele is daar onder Jesus se mag?  As ons ‘n groot getal wil uitdruk, sê ons bv. dat daar op 23 Desember der duisende mense op Durban se strand was.  Die Bybelskrywers doen dit ook, maar vir hulle is tienduisend die syfer wat ‘n onbepaalde getal uitdruk [Gk. murias].  Volgens Deut. 33:2, Ps. 68:18, Dan. 7:10, Heb. 12:22 en Op. 5:11 is die engele duisende maal duisende, tienduisende maal tienduisende.  Die engele is meer as wat enige van ons kan tel.

 

Volgens Heb. 1:6[4] aanbid hierdie magdom van heerlike en magtige hemelwesens die Here (vgl. Ps. 103:20-21, 148:2, Op. 5:11-12, 7:11).  Buiten vir die feit dat dit iets van Jesus se soewereine heerskappy oor die engele sê, is daar ten minste nog twee maniere waarop ons hierdie waarhede moet toepas.[5]

 

[1] Omdat Jesus vir die engele sentraal is, moet ons ons ore toedruk vir mense wat dinge by engele hoor waarin Jesus nie die middelpunt is nie.  Wat moet jy bv. doen as ‘n kollega vir jou sê dat ‘n engel wonderlike dinge in sy drome met hom deel?  Of wat as ‘n charismatiese familielid jou saam met hom kerk toe nooi, en iemand tydens die erediens so iets sê?  Hoe weet jy of hierdie mense die waarheid praat of nie?

 

In die eerste plek moet jy onthou dat God nie meer indirek met ons praat soos in die Ou Testament nie (God sê vir die engel, die engel sê vir Moses, Moses sê vir die volk).  Volgens Heb. 1:1 praat Hy direk met ons deur die geïnspireerde Woord van sy Seun.

 

Verder moet jy ook luister of Jesus en die evangelie die middelpunt van hierdie mense se woorde is.  ‘n Engel wat van God af kom, sal nie dinge sê waarin Jesus en die evangelie nie sentraal is nie.  In Gal. 1:8-9 sê Paulus:  “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

 

Dit is interessant dat beide Islam en die Mormone ontstaan het, nadat ‘n engel kamtig aan Mohammed en Joseph Smith verskyn het.  Nie een van die godsdienste wat uit hierdie visioene ontstaan het, aanbid die ware Jesus soos wat die engele in Heb. 1:6 dit doen nie.  Ons kan daarom met sekerheid sê dat die ‘engele’ in hierdie visioene eintlik gevalle engele of demone was.  “En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2Kor. 11:14).  “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1Tim. 4:1).

 

[2] Die feit dat die engele vir Jesus aanbid, wys dat hulle skepsels is soos ons.  Gevolglik moet ons hulle nie aanbid of vir hulle vra om ons te help nie (Kol. 2:18, Op. 19:10, 22:8-9).  Ons moet eerder saam met hulle vir Jesus aanbid (v.6).  “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word?  Wie is soos die HERE onder die hemelinge[?]” (Ps. 89:7).

 

Laat die engele se aanbidding in Heb. 1:6 en die res van die Bybel jou aanspoor om die Here meer te aanbid.  Onthou ook asb. dat hulle jóú aanbidding dophou, en dat dit hulle bly of hartseer maak.  Volgens Heb. 12:22 (sien die konteks) aanbid ons die Here saam met tienduisende engele.

 

Ef. 3:10 sê dat die engele deur óns iets van die evangelie leer.  Volgens 1Kor. 11:10 en 1Tim. 5:21 sien hulle of ons reg optree in die kerk of nie.  As jy jou bekeer en soos hulle die Here aanbid (Heb. 1:6), sal hulle fees vier en bly wees (Luk. 15:10).  Op God se bevel sal hulle jou help en teen gevare beskerm (Gen. 19:15-16, 2Kon. 6:17, Ps. 91:11-12, Dan. 6:23, Matt. 18:10, Hand. 5:19-20, 12:7-10, Heb. 1:14).  Maar as jy met jou sonde aanhou, sal Jesus vir hulle sê om jou dood te maak en in die hel te werp (2Kron. 32:21, Hand. 12:23, Matt. 13:39-42, Op. 14:10).

 

Buig eerder saam met die engele voor Jesus Christus, die Koning van die engele.  As jy dit nie nou wil doen nie, sal jy dit buitendien moet doen wanneer Jesus kom.  Volgens Paulus “het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Fil. 2:10-11).

 

‘n Oom in Nelspruit het hierdie vers vir ‘n Jehova’s Getuie aangehaal en gesê dat hy eendag in aanbidding voor Jesus sal moet buig.  ‘I will not bow in worship to Jesus Christ,’ het die Jehova’s Getuie gesê.  ‘You will bow,’ het die oom hom geantwoord, ‘even if He has to break your knees.’  Die oom was reg.  Dit kan tog nie anders nie, omdat Jesus Christus die Koning van die engele, van mense en van die hele skepping is.

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, 2002, pp. 185-187

[2] Ibid., Part 2, pp. 92-100

[3] Aangehaal in John Piper & Justin Taylor, Red., Sex and the Supremacy of Christ, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2005, p. 41

[4] Volgens die Hebreeuse teks van Ps. 97:7 moet al die gode die Here aanbid, maar volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament (die LXX) moet al die engele dit doen.  Heb. 1:6 word uit die Grieks uit aangehaal.  Sommige dink dat Heb. 1:6 uit die Griekse vertaling van Deut. 32:43 aangehaal word, maar dit is onwaarskynlik.  As jy die Hebreeus lees, sal jy geen verband tussen hierdie vers en Heb. 1:6 sien nie.

[5] Wayne Grudem se Systematic Theology het my gehelp (Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1994, 2007, pp. 406-407).

Kategorieë