[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]
Johannes 3:1-8
Die Engelse woord is ‘regeneration’. Soos ’n ‘generator’ krag opwek, genereer die Heilige Gees lewe in ’n mens se hart. Sinclair Ferguson beskryf ‘regeneration’ as ‘another Genesis’.1 Toe God die wêreld gemaak het, het sy Gees (Heb. ruach) soos wind (ruach) oor die waters gesweef en lewe geskep (Gen. 1:2, 2Pet. 3:5). Met weergeboorte waai die Heilige Gees (Gk. pneuma) soos wind (pneuma) oor die sondaar se hart (Joh. 3:8). Hy reinig die sondaar met geestelike water en skep nuwe lewe in sy binneste (Joh. 3:5). Paulus beskryf weergeboorte as ’n herskepping (2Kor. 5:17).
1. Wie moet weergebore word? (v.1-2, 7)
“Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier van die Jode... En Jesus het hom geantwoord: ‘Jy is dié leermeester van Israel...’ ” (v.1, 10). Nikodemus is nie outomaties gered, omdat hy besny is, geleerd, deel van God se uitverkore volk, of ’n geestelike leier nie. Hy moet weergebore word (v.7). Dit geld vir almal: jy is nie noodwendig God se kind, omdat jy Christelike ouers het, ’n ouderling is, of ’n diploma in teologie het nie. Joh. 1:13 sê van gelowiges: “Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore.” Jesus se opdrag geld vir elke mens: jy moet weergebore word (v.7).
Jy is nie ’n gelowige, omdat jy Jesus as ’n wonderwerkende profeet erken nie. Baie Fariseërs het dit erken, maar was ongered (v.2, 12:42-43). Jy moet weergebore word (v.7). Vers 7 is nie ’n opdrag wat jy kan uitvoer nie. Die Griekse woord (dei) beteken liewer weergeboorte móét plaasvind voor jy die koninkryk kan ingaan (v.7, 5). Dit is nie ’n opdrag soos: ‘Tel jou kouse op! Ruim jou kamer op!’ nie. Dit is liewer ’n opdrag soos: ‘Lewe! Laat daar lig wees!’ (2Kor. 4:6, Ef. 2:5). Dit is soos Jesus se opdrag aan blindes, dowes, dooies en lammes: ‘Sien! Hoor! Lewe! Loop!’ Hulle kan dit nie uit hulleself doen nie; Hy werk dit in hulle.
Iemand sal sê: ‘As ek myself nie kan wederbaar nie, is dit God se skuld dat ek verlore gaan.’ God allen kan jou ’n nuwe hart gee (Esek. 11:19, 36:26). Maar kan jy Hom nie vra nie (Eseg. 18:31)? In die 1840s het B.M. Palmer dit vir ’n jong man in Savannah, Georgia gesê. Na een van Palmer se preke, het die jong man gesê: ‘You preachers are the most contradictory men in the world... you said in your sermon that sinners were perfectly helpless in themselves—utterly unable to repent or believe and then turned round and said they would all be damned if they did not.’ Palmer se biograaf beskryf wat verder gebeur het:
‘Well, my dear E—, there is no use in our quarelling over this matter; either you can or you cannot. If you can, all I have to say is that I hope you will just go and do it...
...after a moment’s silence, with a cloking utterance, the reply came back: “I have been trying my best for three whole days and cannot.” “Ah,” responded Palmer, raising his eyes and putting down his pen, “that puts a different face upon it; we will go then and tell the difficulty straight to God.”
We knelt down and I prayed as though this was the first time in human history that this trouble had ever arisen; that here was a soul in the most desperate extremity, which must believe or perish, and hopelessly unable of itself, to do it; that, consequently it was just the case for divine interposition; and pleading most earnestly for the fulfillment of the divine promise. Upon rising I offered not one single word of comfort or advice...So I left my friend in his powerlessness in the hands of God, as the only helper. In a short time he came through the struggle, rejoicing in the hope of eternal life.’2
2. Wat is weergeboorte? (v.3-5)
Jesus praat hier met gesag as die Seun van God. Ons sê amen aan die einde van ’n woord, sin of gebed. Jesus sê dit aan die begin (v.3, Gk.). Amen beteken ‘waarlik of laat dit so wees’. Jesus bedoel sy lering is waar; Nikodemus moet dit glo. Hy sê nie soos die profete: ‘So spreek die Here’ nie. As die God van die profete, sê Hy: ‘Ek sê vir jou.’ Wat het Hy gesê? “As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (v.3). Die Grieks (gennēthē anōthen) is dubbelsinnig en beteken jy moet weergebore of van bo gebore word. Jesus bedoel albei. Natuurlike geboorte is nie genoeg nie; om die koninkryk van God in te gaan, moet jy geestelik gebore word (v.4, 6). Hierdie geboorte kom van bo en is ’n bonatuurlike werk van God (v.5, 8, 1Joh. 3:9). Dit is nie iets wat jy uit jouself kan doen nie; die Heilige Gees moet dit in jou doen. So min soos jy jou natuurlike geboorte bewerk het, so min het jy ’n hand in jou geestelik geboorte. Toe ek dit by ’n vorige geleentheid sê, het iemand my aangevat: ‘Nêrens sê die Bybel weergeboorte is iets wat God skenk nie.’ Petrus sê: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1Pet. 1:3, Ou Vertaling).
Dit is die verskil tussen Bybelse Christenskap en nominale of tradisionele Christenskap; tussen Bybelse Christenskap en ander godsdienste. Om ’n tradisionele Christen, Moslem, Jehovas Getuie of Hindoe te wees, is maklik: jy volg net die voorgeskrewe lering. Om volgens die Bybel ’n Christen te wees, verg ’n wonderwerk van God. Dieselfde krag waardeur God sy Seun uit die dood opgewek het, moet in jou werk (Ef. 1:19-20).
Charles Finney het nie so gedink nie. Volgens hom werk die Gees reaktief as die sondaar weergeboorte kies.3 Die Bybel sê dit is andersom: jy kan eers geestelike dinge soos die koninkryk sien as die Heilige Gees jou lewend maak of wederbaar (v.3). Weergeboorte gebeur voor geloof (v.3, 15-16, Ef. 2:1, 5, 8-9). Jy is nie weergebore, omdat jy geestelik sien nie; jy sien geestelik, omdat jy weergebore is (v.3, 1:12-13). Die Heilige Gees skep nuwe lewe en gee jou die vermoë om te glo en jou te bekeer: “Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk.” (Hand. 5:31, eie beklemtoning). “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.” (Hand. 11:18, eie beklemtoning). “Met sy aankoms daar was hy van groot hulp vir diegene wat deur die genade gelowig geword het” (Hand. 18:27, eie beklemtoning). “Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.” (Ef. 2:8, eie beklemtoning). “Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.” (Fil. 1:29, eie beklemtoning). “Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken” (2Tim. 2:25, eie beklemtoning).
Gewoonlik gebeur weergeboorte, geloof en bekering op een slag: jy hoor die evangelie, die Heilige Gees open jou hart, jy verstaan die evangelie, jy glo in Jesus Christus, jy bekeer jou van jou sonde tot God: “Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid... Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad—deur die lewende en blywende woord van God.” (Jak. 1:18, 1Pet. 1:23). Die prediking van die Woord is die geleentheid eerder as die instrument van weergeboorte. Die waarheid open niemand se oë nie; die Heilige Gees doen dit: “Maar tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar ’n sluier oor hulle harte... Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” (2Kor. 3:15, 17). Die Heilige Gees open ons oë om die waarheid te verstaan: “die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het.” (Hand. 16:14).4
In uitsonderlike gevalle werk die Heilige Gees sonder die Woord om mense te vernuwe. Johannes die Doper is van die moederskoot af met die Heilige Gees vervul (Luk. 1:15). Dit gee hoop vir ouers wie se baba sterf, of wie se kind van geboorte af verstandelik gestrem is. Gaan sulke kinders hemel toe? Ek glo so (2Sam. 12:23). Dit kan net gebeur as hulle weergebore word (v.5). Maar hoe kan hulle weergebore wees as jy die evangelie moet verstaan voor die Gees nuwe lewe in jou kan skep? Hoe kan hulle weergebore wees as die Woord die Gees se instrument van weergeboorte is? Die waarheid is dat die Heilige Gees direk in mense se harte werk. Hy werk nie deur die Woord nie, alhoewel Hy gewoonlik saam met die Woord werk. In die geval van babas wat sterf en mense wat van geboorte af verstandelik gestrem is, werk Hy sonder Bybel.
Nikodemus het hierdie lering nie verstaan nie. As ongelowige het geestelike dinge nie vir hom sin gemaak nie (v.10-12, 2:19-20, 4:11, 15, 1Kor. 2:14). Toe Jesus van weergeboorte praat, het Nikodemus gedink Hy praat van natuurlike geboorte: “Hoe kan ’n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” (v.4). Om Nikodemus se vraag te antwoord, het Jesus v.3 in ander terme herhaal: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie.” (v.5).
Wat beteken dit? Party mense dink water verwys na die vrugwater van die baarmoeder, asof Jesus sê: ‘Natuurlike geboorte is nie genoeg om die koninkryk in te gaan nie (v.4); jy moet geestelik gebore word (v.5).’ Ander dink water verwys na die doop. By ’n Christelike kamp het ’n jong man dit as volg verduidelik: ‘Wie weergebore is, kan die koninkryk van buite af sien maar nie ingaan nie (v.3). Net as jy weergebore en gedoop is, kan jy die koninkryk binnegaan (v.5).’ Die Katoliekekerk glo dieselfde, naamlik dat die doop jou red. Hierdie idee het in die vroeë kerk ontstaan.5 Die Church of Christ glo dieselfde. Een van ons lidmate het daar tot bekering gekom. Hy het gou weer geloop, nadat iemand gesê het: ‘Gestel jy kom tot bekering. As jy op pad na die doopbad aan ’n hartaanval sterf, gaan jy nie hemel toe nie. Jy moet gedoop wees om gered te word.’
Baie mense verwar die doop met weergeboorte, asof dit dieselfde ding is. Toe ek ’n paar jaar gelede die evangelie met twee vroue deel, toe sê hulle: ‘Ons weet ons is weergebore, want ons is gedoop.’ Een kinderdoper het artikel 34 van die Nederlandse Geloofsbelydenis6 so uitgelê en gesê hy is weergebore toe hy gedoop is.
Dit is so dat die doop weergeboorte illustreer en uitbeeld (Tit. 3:5, Heb. 10:22). In die eerste eeu n.C. is mense by hulle bekering gedoop, sodat die Nuwe Testament doop en bekering in een asem noem (Hand. 2:38, 10:47, 16:14-15, 31-34, 18:8, 22:16, Rom. 6:3-4, Gal. 3:26-27, 1Pet. 3:21). Maar dit beteken nie doop is gelyk aan weergeboorte, of dat dit noodwendig op een dag gebeur nie. Die uiterlike ritueel is die belydenis van ’n innerlike realiteit. By weergeboorte besny die Heilige Gees ons harte; die sondige natuur word weggesny. Hiervan is die doop ’n openbare belydenis en illustrasie: “In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.” (Kol. 2:11-12). Dit is nie die ritueel wat red nie, maar die Heilige Gees deur weergeboorte: “Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel ’n nuwe skepping.” (Gal. 6:15).
Die gevolgtrekking is dat v.5 nie na die doop verwys nie, maar na ’n geestelike wassing of reiniging van ons harte deur die Heilige Gees: “Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. Ek sal vir julle ’n nuwe hart gee, ’n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ’n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer.” (Eseg. 36:25-27). “So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (1Kor. 6:11).
Jesus praat hier van een aksie (uit water en die Gees) eerder as van twee (uit water en uit die Gees). Die groot vraag is nie of jy gedoop is nie, maar of jy weergebore is (v.3, 5).
3. Hoe en hoekom moet jy weergebore word? (v.6, 8)
Tydens ’n gemeente Bybelstudie het ’n sielkundige gesê: ‘Elke mens word neutraal gebore. Dit is die goeie en slegte invloede rondom jou wat jou maak wat jy is.’ Volgens die Bybel is ons van die moederskoot af sondaars; elke mens is van nature ’n sondaar (v.6, Ps. 51:7, 58:4, Ef. 2:1, 3, Rom. 5:12). Daarom moet almal van ons geestelik gebore word om die koninkryk in te gaan (v.5-6). Dit verg ’n bonatuurlike ingrype van die drie-Enige God: die Seun roep die sondaar uit die graf van sy sonde (5:21, 25, 1Kor. 15:45), die Heilige Gees laat hom lewe (v.5-6, 6:63, 2Kor. 3:6), die Vader laat hom uit die graf voortkom (1:13, Jak. 1:18).
Johannes 3 fokus op die Gees se rol. Soos wind waai Hy oor die sondaar se hart (v.8). Wie kan die wind beheer? Net so kan niemand die Heilige Gees beheer nie, ook nie Simon die towenaar of Benny Hinn nie (v.8, Hand. 8:17-20). Die Heilige Gees kies self of Hy een mens (Hand. 8:26-30), of 3000 wil red (Hand. 2:41). Hy besluit of Hy ’n herlewing wil stuur, en of Hy mense so dor soos die woestyn wil laat. Tog kan ons Hom vra om iemand te wederbaar, of ’n herlewing te stuur (Luk. 11:13, Hand. 1:14, 2:1-4).
Hoe sal ons weet Hy het gewerk as sy werk onsigbaar is (v.8)? Niemand kan die wind sien nie, maar jy kan sy effek in die bome sien. Net so kan jy die effek van die Gees se werk in mense se lewens sien (v.8). Hoe weet jy die Gees het jou wederbaar? Jy lewe gehoorsaam en hou nie aan met sonde nie (1Joh. 2:29, 3:9, 5:18, Ef. 2:10, 4:24). Jy is lief vir ander gelowiges en wys dit op praktiese maniere (1Joh. 4:7, 3:14, 16-18). Jy glo in Jesus as die Messias en die Seun van God (1Joh. 5:1). Jy weerstaan die wêreld se verleiding (1Joh. 5:4, 2:16). Jy praat graag met jou Vader (Hand. 9:11, Rom. 8:15). Jy begeer die Woord soos ’n pasgebore baba na melk smag (1Pet. 2:2).
Die Heilige Gees plant God se lewe in jou siel: “sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur” (2Pet. 1:4). Jou hele natuur word verander: jou gedagtes, begeertes, wil, emosies, woorde, dade, vriendekring, vermaaklikheid—alles. Het jy al so verander? Is jy weergebore? Maak die beste van die geleentheid. Roep die Here aan, voordat die Gees besluit om aan te beweeg (v.8, Gen. 6:3).
Is jou geliefdes ongered? Deel jy die evangelie met hulle, maar dit maak nie ’n indruk op hulle nie? Bid met die dankbare wete die Heilige Gees kan hulle red. Die wind kan oor hulle waai, selfs as jy nie daar is nie. Die Gees werk onsigbaar, terwyl jy slaap (Mark. 4:26-29).
Sien jy die tekens van weergeboorte in jou lewe, maar jy twyfel of jy gered is, omdat jy nie weet wanneer dit gebeur het nie. Die Gees se werk is onsigbaar (v.8). Al sien jy nie die wind nie, jy kan die effek daarvan in die bome sien. Al weet jy nie wanneer jy weergebore is nie, jy kan die effek van die Gees se werk in jou lewe sien (v.8). Maak Keith Getty en Stuart Townend se gebed jou eie:
Holy Spirit, living breath of God,
Breathe new life into my willing soul.
Bring the presence of the risen Lord,
To renew my heart and make me whole.
Cause Your Word to come alive in me;
Give me faith for what I cannot see,
Give me passion for Your purity;
Holy Spirit, breathe new life in me.7
1 Sinclair Ferguson, The Christian Life: A Doctrinal Introduction (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1989 [1981]), 49
2 Iain H. Murray, Revival & Revivalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994), 373-4
3 Murray, Revival, 245-6
4 W.G.T. Shedd sê: ‘The new life is not imparted because man perceives the truth, but he perceives the truth because the new life is imparted.’ Aangehaal in Arthur W. Pink, The Holy Spirit (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1970, 1978), 55. Sien ook Stuart Olyott, Something Must Be Known & Felt (Bridgend, Wales: Evangelical Movement of Wales, 2014), 33-48
5 H.F. Stander & J.P. Louw, Baptism in the Early Church (Carey Publications, 2004), 92-3, 103-4, 125, 140, 152-4
6 https://kerkargief.co.za/doks/bely/GB_NGB.pdf
7 Keith Getty & Stuart Townend Copyright © 2005 Thankyou Music (Adm. by CapitolCMGPublishing.com excl. UK & Europe, adm. by Integrity Music, part of the David C Cook family, [email protected])
[/column]