A.W. Tozer het gesê: ‘What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.’[1] Gen. 1:26a lê die fondasie vir hoe ons reg oor die Here moet dink. As jy dit doen, sal dit jou huwelik vir die goeie beïnvloed. Hoe kan ons weet dat die Here ‘n Drie-Enige God is en hoe help dit ons huwelike?
Mense kon dit nie uitdink nie
‘n Maand gelede het ‘n Jehova’s Getuie by my hek gestaan. Volgens hom het mense die Drie-Eenheid uitgedink. ‘Kan jy die Drie-Eenheid verstaan?’ het hy gevra. ‘Kan jy God se ewigheid verstaan, die feit dat Hy nooit ‘n begin gehad het nie?’ het ek geantwoord.
Die feit dat ons die Drie-Eenheid nie kan verstaan nie, beteken nie dat dit nie waar is nie. As jy God se wese heeltemal kan verstaan, is jy so groot soos Hy. En as jy so groot soos die Here is, is dit nie die moeite werd om Hom te dien nie.
Bloot die feit dat ons die Drie-Eenheid nie kan verstaan nie, wys dat dit nie deur ‘n mens uitgedink is nie en dat dit die waarheid is. Wie kon ‘n leerstelling uitdink wat sê dat daar net een God is, maar dat Hy in drie Persone bestaan?
- Die Vader is God, die Seun is God, die Heilige Gees is God.
- Die Vader is nie die Seun of die Heilige Gees nie; die Seun is nie die Vader of die Heilige Gees nie; die Heilige Gees is nie die Vader of die Seun nie.
- Daar is net een God, nie drie nie.
- God is altyd al drie Persone gelyk, en nie partykeer die Vader, op ander kere die Seun, en by tye die Heilige Gees nie.
Die eerste vers in die Bybel leer dit
Ken jy Gen. 1:1 uit jou kop uit? Baie mense wat die vers ken, het nog nooit diep daaroor gedink nie. Die vers sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die Hebreeuse woord vir God is ‘Ĕlôhîym en staan in ‘n meervoud. Dit dui op God se menigvuldige krag, maar impliseer ook dat Hy in meer as een Persoon bestaan.
In Gen. 1:2 lees ons van God se Gees, en in v.3 van sy Woord (‘God het gesê’). Volgens die res van die Bybel is God se Woord en sy Gees unieke Persone. Joh. 1:1-3 sê dat die Woord God is, maar dat Hy ‘n aparte Persoon is wat alles geskep het. Volgens Hand. 5:3-4 is die Heilige Gees God, maar uit Joh. 15:26 weet ons dat Hy nie die Vader of die Seun is nie. Gen. 1:2, Job 33:4, Ps. 33:6, 104:30 leer vir ons dat Hy lewe en orde in die skepping gebring het.
Die res van die Bybel bevestig dit
Meer as 40 persone uit alle vlakke van die samelewing het die Bybel oor ‘n tydperk van 1600 jaar neergeskryf. As almal van hulle die punte en diagram hierbo bevestig, kan ons met sekerheid weet dat ons nie per ongeluk ‘n vers of twee verkeerd geïnterpreteer het nie. Waar bevestig die Bybel dit?
In Gen.1:26a lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”. Die Joodse rabbi’s het gesê dat God in v.26a met engele praat. Maar dit kan nie wees nie, omdat die engele ons nie gemaak het nie, omdat ons nie na hulle beeld gemaak is nie, en omdat God nie hulle raad gevra het toe Hy ons geskep het nie (Jes. 40:14).
Ander dink dat God in v.26a ‘n koninklike meervoud gebruik. ‘n Koning sal bv. sê: ‘Dit is vir ons ‘n voorreg om jou in ons midde te hê.’ Ons lees egter nie in die Hebreeuse taal van konings wat só na hulleself verwys nie.[2]
Die Skrif leer baie duidelik dat daar net een God is, maar dat Hy in drie Persone bestaan.
[1] Daar is net een God
Gen. 1:1, Deut. 6:4, 4:35, 39, 32:39, Jes. 44:6, 8, 45:5-6, 21-22, Joh. 10:30, 1Kor. 8:4-6, 1Tim. 2:5.
[2] God bestaan in drie Persone
Gen. 1:26, 3:22, 11:7, Ps. 2:2, 6-7, 45:7-8, 110:1, Jes. 6:8, 48:16, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1, 14:16, 23, Hand. 2:33, 1Kor. 12:4-6, 2Kor. 13:13, Ef. 2:18, 4:4-6, Heb. 1:1-3, 1Pet. 1:2.
God se liefde wys dit
In 2013 het ek Ps. 136 gepreek. In die ESV sê al 26 verse: ‘his steadfast love endures forever.’ Op daardie stadium het ek oor God se liefde probeer dink, en kon ek dit nie verstaan nie. Ek het vir my vrou gevra: ‘Wat is liefde - ek kan dit nie verstaan nie?’ ‘God is liefde,’ het sy geantwoord.
Wat beteken dit dat God liefde is (1Joh. 4:8)? Dit beteken o.a. dat God in sy diepste wese liefde is. Hy definieer wat liefde is. Dit beteken ook dat God in meer as een Persoon bestaan.[3] Hoe weet jy dit? As God nog altyd liefde was, moes daar iemand gewees het om lief te hê. Volgens Joh. 17:24 het die Vader die Seun van ewigheid af liefgehad. Die Heilige Gees het ook in die liefde tussen die Vader en die Seun gedeel, net soos wat Hy God se liefde aan óns harte kommunikeer (Rom. 5:5).
Omdat die Drie-Enige God nog altyd in perfekte liefde en gemeenskap met Homself gelewe het; het Hy ons nie gemaak omdat Hy eensaam of verveeld was, of omdat Hy ons nodig gehad het nie.
Die huwelik wys dit
Die maan bewys dat die son bestaan, omdat die lig wat dit afgee ‘n weerkaatsing van die son is. ‘n Spieël bewys dat die objek wat daarin gereflekteer word bestaan. Alhoewel dit onvolmaak is, wys die huwelik dat God in meer as een Persoon bestaan: Adam en Eva was twee persone, maar in die huwelik was hulle een (Gen. 1:27, 2:23-24).
As jy aan die Here behoort is jy nie net fisies een in die huwelik nie, maar ook geestelik een (Mal. 2:15). As jy een is met die Here, is jy immers een met almal wat met Hom verenig is, nie waar nie? As jy die eenheid in jou huwelik wil versterk, moet jy seker maak dat jy en jou lewensmaat een is met die Here. Hoe gebeur dit?
Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons in Christus gekies om sy kinders te wees (Ef. 1:4-5, 2Tim. 1:9). Deur Jesus se kruisdood het Hy sy plan in werking gestel en ons in Christus verlos en vergewe (Ef. 1:7). As jy jou bekeer en in Christus glo, sal die Heilige Gees in jou woon en sal jy hierdie wonderlike eenheid ervaar (1Kor. 6:17, Ef. 1:13). Jy sal een wees met die Drie-Enige God en Hy met jou (Joh. 14:23, 17:21, Gal. 2:20, 1Joh. 2:24, 4:13). Dit beteken nie dat jy God word nie, maar eerder dat sy lewe in jou is (Joh. 15:4-5, 17:3, 2Pet. 1:4).
Jy moet hierdie eenheid bely deur in die Naam van die Drie-Enige God gedoop te word (Matt. 28:19). Ek het reeds gewys dat jy deur jou eenheid met die Here ook een word met sy liggaam, die kerk (1Kor. 12:12-14). Hy het ook die Woord en gebed as middele gegee, sodat jy in Hom kan bly en in gemeenskap met Hom kan lewe (Joh. 8:31, 15:7). Jy moenie net die Woord hoor nie maar dit doen, sodat jy in Hom en sy liefde kan bly (Joh. 15:9-10).
As jy en jou lewensmaat só een is met die Here, is daar geen rede om verdeeld te wees nie. Soos die Vader, die Seun en die Heilige Gees een is en julle een is met Hom, kan julle ook een wees met mekaar (Ef. 4:4-6). Om hierdie eenheid te bewaar moet jy met die Gees se hulp nederig, vredevol, sagmoedig, geduldig, liefdevol, verdraagsaam en vergewensgesind wees (Ef. 4:1-3, Fil. 2:1-5, Kol. 3:12-15). As jy selfsugtig is, sal daar verdeeldheid wees (Jak. 4:1-2).
Dalk het jy en jou lewensmaat nie dieselfde persoonlikheid, talente of belangstellings nie. Dit is nie ‘n rede om verdeeld te wees nie. Die dinge wat julle saambind is baie hegter as julle belangstellings (Ef. 4:4-6). Buitendien kan julle die verskille gebruik om mekaar aan te vul, net soos wat ‘n klavier verskillende note moet hê om ‘n melodie te maak. Moet dan nie soos die wêreld skei omdat julle nie ‘compatible’ is nie. As beide van julle in Christus glo is julle ‘compatible’.
As jy met ‘n ongelowige getroud is sal julle tot ‘n sekere mate verdeeld wees, omdat jý een is met die Here en jou maat nie (Matt. 10:34-36). As jou ongelowige lewensmaat getroud wil bly moet jy nie skei nie, maar eerder Christus se liefde uitleef en verkondig sodat hy of sy gered kan word (1Kor. 7:12-14, 1Pet. 3:1-6).
Hoe kan jy prakties in jou huwelik wys dat jy in die Drie-Enige God glo en dat jy aan Hom behoort? Die Vader, die Seun en die Heilige Gees was nog nooit jaloers op mekaar nie; elkeen dink aan die ander se heerlikheid. Die Vader en die Seun verheerlik mekaar (Joh. 8:54, 17:1, 5). Die Heilige Gees verheerlik die Seun (Joh. 16:14). So moet ‘n man en vrou mekaar in die huwelik eerste stel; elke moenie net aan sy of haar eie belange dink nie (Fil. 2:3-4).
Ons moet ook onthou dat ons na God se beeld gemaak is (Gen. 1:26-27). As jy verdeeld is in jou huwelik straal jy ‘n verkeerde beeld uit. Jy sê in effek dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees verdeeld is. Jou lewe is ‘n slegte advertensie vir die evangelie. Jy reflekteer nie die beeld van God soos jy moet nie.
Omdat ons soos die Here een is, kan ons nie met ons lewensmaats of ander gelowiges baklei sonder om onsself te beskadig nie. Paulus sê: “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” (Ef. 5:28-29). Wat in 1Kor. 12:26, Ef. 4:25 vir die liggaam van Christus geld, geld ook vir die huwelik: “En as een lid ly, ly al die lede saam ... Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.”
Kommunikeer jy sleg in jou huwelik? Kyk hoe die Vader, die Seun en die Heilige Gees met mekaar kommunikeer (v.26, Joh. 15:15, 16:13-15). As jy aanhoudend deur die Woord en gebed met die Drie-Enige God kommunikeer (Ef. 2:18, 1Joh. 1:3), sal jy leer om met jou lewensmaat te kommunikeer. Spreuke, Ef. 4:25-32 en Jak. 1:19 sal jou help om reg te praat en te luister. Vra die Here om jou te help om hierdie gedeeltes toe te pas.
Maak tyd en doen moeite om te kommunikeer. Moenie so besig raak dat jy vergeet om te gesels nie. As jy ‘n film saam kyk kan jy voor die TV eet, maar moenie ‘n gewoonte daarvan maak nie. As jy voor die TV sit kyk almal voor hulle en gesels niemand nie. Pasop ook vir Facebook, Whatsapp en YouTube: dit steel maklik die tyd wat jy kon gebruik het om te gesels.
Lees eerder ‘n boek saam, gesels oor wat in jou dag gebeur het, beplan saam om die huis of die tuin mooi te maak, bid saam, eet saam, drink saam koffie, lees saam uit God se Woord en gaan saam kerk toe.
Om jou huwelik te help moet jy in die Drie-Enige God glo. Sonder Hom is jy soos iemand wat ‘n huis sonder 'n fondasie bou. Maar dit is nie genoeg dat jy die Bybelse waarheid oor die Drie-Eenheid ken nie: jy moet dit toepas en deur Jesus Christus in ‘n persoonlike verhouding met hierdie God lewe. As jy dit nie doen nie, is jy soos iemand wat ‘n swak fondasie lê en buitendien niks daarop bou nie.
[1] A.W. Tozer, The Knowledge of the Holy, HarperCollins, New York, 1961, p. 1
[2] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1994, 2007, p.227
[3] C.S. Lewis, Mere Christianity: Fiftieth Anniversary Edition, HarperCollinsPublishers, London, 1942, 2002, pp. 174-176. Jonathan Edwards, Essay on the Trinity aangehaal in John Piper, The Pleasures of God, Mentor: Christian Focus Publications, Ross-shire: Great Britain, 2001, pp. 44-45, n. 24