Ek ken ‘n man wat besig was om te skei toe hy in ‘n verhouding betrokke geraak het. Hy en die vrou het toe getrou. Kort daarna het die vrou tot bekering gekom. Hulle is nou al vir ‘n paar jaar getroud en die man is nog ongered. Wat verwag God van ‘n vrou in só ‘n huwelik? Die beginsel wat vir haar en baie ander situasies geld, word opgesom in 1 Korintiërs 7:17-24.
Godsdiens (v.17-19)
Twee jaar gelede het mnr. X tot bekering gekom en my kom sien. Hy wou met mag en mening sy werk los om teologie te studeer. Omtrent 8 jaar gelede het ‘n man ons kerk besoek. My vriend het gepreek. Die man was baie diep geraak en het die volgende dag al sy goed weggegee. Hy wou met ‘n groot aliminium kruis deur Suid-Afrika loop en Bybels uitdeel.
Volgens Paulus is dié optrede te radikaal. Ons moenie so wees nie.
Die algemene reël vir getroudes, enkel mense, geskeides, slawe, besnedes, onbesnedes is dít: bly soos wat jy was toe God jou tot bekering geroep het (v.17, 20, 24). Hierdie reël geld altyd en op alle plekke, nie net vir Christene in Korinte nie (v.17, vgl. 4:17, 11:16, 14:33).
Moenie dink veranderde omstandighede is meer geestelik, of om dieselfde te bly is minder geestelik nie. As God vir jou die geleentheid gee om jou omstandighede te verander, kan jy dit doen (v.21, 9, 15, 27-28, 39). Maar as jou omstandighede nie verander nie moet jy daarmee tevrede wees (v.7, 12-14, 27-28, 39).
Paulus gee ‘n voorbeeld van wat hy bedoel. Jode wat met hulle bekering besny was moenie dink dit maak hulle ongeestelik nie. Hulle moenie hulle besnydenis ongedaan wil maak deur ‘n operasie nie. Heidene wat tot bekering kom moenie dink die besnydenis red, sodat hulle besny word nie (v.18, vgl. Handelinge 15:1, 5). Vir God maak dit nie saak of jy besny is of nie. Nie een van die twee maak jou meer of minder aanneemlik voor Hom nie. Wat vir God saakmaak is dat jy ‘n nuwe hart het en dit wys deur jou gehoorsame dade (v.19, Galasiërs 5:6, 6:15, Romeine 2:25-29, Kolossense 3:11, Johannes 14:15, 1 Johannes 2:3).
Status (v.20-24)
Ek het vroeër vanjaar die lewensverhaal van Ernest C. Reisinger gelees. Ek het al voorheen van hom gehoor, maar niks oor hom geweet nie. Van wat ek gehoor het, was ek onder die indruk dat hy ‘n predikant was. Soos wat ek gelees het, het ek die hele tyd gewag dat hy ‘n predikant moet word, maar dit het nie gebeur nie.
Reisinger het eers sy eie konstruksie maatskappy besit en op die kantlyn met beeste geskou. Hy het ‘n multi-miljoenêr geword. Terwyl hy in dié sektor gewerk het, het hy kerke geplant, gepreek, as spreker by die Banner of Truth predikantekonferensie opgetree, teologiese boeke versprei, saam met broers gebid, kerke, predikante, en individue beïnvloed. Eers toe hy 47 was het hy ‘n predikant geword. Reisinger se invloed as ‘n gewone man in die bank het my diep beïndruk.
Ons buurman in Louis Trichardt was ‘n eenvoudige man. Het het net ‘n standerd 6 (graad 8) gehad en in ‘n ‘brick yard’ gewerk. Hy het nie ‘n kar gehad nie. Hy was lief vir God en sy Woord. Hy het sy Bybel goed geken en Sondagskool gegee. Deur te bly soos hy was het hy ander beïnvloed.
Dié twee stories illustreer Paulus se punt. Die Bybel sê nie dat jy nooit jou omstandighede of beroep mag verander nie. Die punt is eerder dít: bly soos jy is; met God se hulp kan jy dáár ‘n invloed hê.
In v.20 herhaal Paulus hierdie beginsel. Sy volgende voorbeeld kom uit die slawe wêreld. ‘n Slaaf wat tot bekering kom moet hom nie oor sy sosiale status bekommer of dink dis ongeestelik nie (v.21). Wat tel is jou verhouding met God, nie jou sosiale status nie (1:26-31). ‘n Christen-slaaf is vryer as die vryste heiden; ‘n vry Christen is meer gebonde as enige slaaf in die wêreld (v.22, vgl. 1 Petrus 2:16). Die Skrif sê mos:
“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Johannes 8:32, 36). En: “julle dien die Here Christus.” (Kolossense 3:24). Charles Spurgeon het gesê: ‘If Christ has called you to be his slave, why would you stoop to be a king?’
As jy die geleentheid het om vry te raak, vat dit (v.21). As jy egter nié die kans het nie, wees daarme tevrede en verheerlik die Here waar jy is (v.21, vgl. Kolossense 3:22-24). God sal vir jou krag gee om jou omstandighede te dra (v.24).
Jesus het ons met ‘n prys gekoop – met sy bloed – en daarom is jy sý slaaf (v.23, 6:20, 1 Petrus 1:18-19, vgl. Levitikus 25:42, 55). Moet dan nie ‘n slaaf van mense wees nie. Moenie bang wees vir mense vrees en hulle opinies nie (v.23, Spreuke 29:25). Om ‘n slaaf te wees op aarde is aanvaarbaar (v.21). Om ‘n slaaf te wees van mense se opinies is nie (v.23).
Om die beginsel te beklemtoon sê Paulus vir ‘n derde keer: bly soos wat jy was toe God jou geroep het (v.24). ‘Bly daar met God,’ sê Paulus in v.24. Wat beteken dit? Jy moet in jou omstandighede bly om God te verheerlik, en daarin volhard met die krag wat Hy gee. Jy kan in alle omstandighede gemeenskap met die Here hê (v.24).
Daar is wel uitsonderings waarin jy jou omstandighede kan verander (v.21, 15). Die algemene reël bly egter staan: ‘Bly soos jy is. Moenie vlug nie, maar skyn jou lig. Die feit dat jy in die wêreld is beteken nie jy hoef van die wêreld te wees nie.’ (5:10, Matteus 5:16, Johannes 17:15).
Hoe kan ons dié beginsel in ons dag toepas?
[1] Getroudes
Dalk het jy vir verkeerde redes geskei en hertrou. Moenie van jou nuwe maat skei en na jou eerste maat toe teruggaan nie. Is jou maat ongered? Moenie wil skei en sê: ‘Ek het ‘n fout gemaak en met die verkeerde een getrou’ nie. Paulus het reeds in v.12-14 hieroor gepraat. Daar is wel die uitsondering dat jy kan skei as die ongelowige party wil (v.15). ‘Hoe weet jy of jy met die regte persoon getroud is? Kyk na die naam op jou huweliksertifikaat.’ (John Piper). Dalk dink jy om te skei sal vir jou vryheid gee, of dat jy gelukkiger sal wees as jy skei. Dis nie waar nie. Jy sal nooit gelukkig wees as jy buite God se wil is nie.
[2] Geskeides en enkel persone
Moenie haastig wees om te trou, omdat jy tot bekering gekom het en gehoor het dis sonde om saam te bly nie. Is jy of die ander persoon om verkeerde redes geskei? As jy sommer net trou pleeg jy dalk egbreuk. In Lukas 16:18 staan daar: “Elkeen wat van sy vrou skei en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.” As jou eks-maat nog ongetroud is, moet jy met moet hom of haar versoen raak (v.11). Is die persoon met wie jy wil trou gered? Indien nie, mag jy nie met hom of haar trou nie (v.39).
Om getroud te raak moenie jou hoogste prioriteit wees nie; om God te verheerlik moet. Bly soos jy is. As jou ongelowige maat jou gelos het kan jy weer trou (v.15). As jy enkel is en met begeerte brand kan jy trou (v.9). As jy geskei is omdat jou maat egbreuk gepleeg het kan jy weer trou (Matteus 19:9). As jy ongered was toe jy geskei het kan jy vir jou ‘n Christen maat soek (v.39, 2 Korintiërs 5:17).
Wat het gelei tot jou egskeiding? Dra jy skuld? Werk eers aan dié tekorte voordat jy weer trou. As jy dit nié doen nie, sal jy baie maklik dieselfde foute in jou tweede huwelik maak.
[3] Mense wat kollegas het met meer as een vrou
Sam werk saam met jou. Hy het drie vroue. Hy het onlangs tot bekering gekom. Hy vra vir jou: ‘Wat nou?’ Hoe help jy hom? Moet hy sy eerste vrou hou en van die ander twee skei? Moet hy met die Christen vrou getroud bly en van die ander skei? Moet hy al sy vroue hou?
In die lig van v.17, 20, 24, dink ek die laaste opsie is die regte een: hy moet bly soos hy is. Sy geval is dieselfde as ‘n man wat egbreuk pleeg en dan met die vrou trou: hy moet sy sonde bely, maar hy moenie van haar skei nie. Hy moet egter net met sy eerste vrou slaap. Hy moet steeds vir die ander vroue en kinders sorg (1 Timoteus 5:8). As hy tog van sy tweede en derde vrou skei (of hulle van hom), is dit toelaatbaar: “Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” (Matteus 19:9).
Sam kan ‘n lidmaat van die kerk word, maar hy mag nie ‘n ouderling word nie. ‘n Ouderling moet immers die man van een vrou wees (1 Timoteus 3:2).
[4] Werkende mense
Moet jy jou werk los as jy ‘n Christen word? As jou werk sondig is moet jy dit los. Jy kan nie aanhou om met te dwelms handel, of in ‘n vuil klub of aborsie kliniek te werk nie.
Indien jou werk nie sondig is nie, moet jy nie bedank omdat jy ‘n Christen geword het, en bang is die ongelowiges ‘besmet’ jou nie. Alles in die lewe is God s’n. Verheerlik Hom deur jou getuienis en kwaliteit werk. Werk asof jy vir die Here werk (Kolossense 3:23). Moenie jou werk los omdat dit ongeestelik is, en jy as predikant of sendeling vir die Here wil werk nie.
Moenie dadelik jou werk bedank omdat dit volgens jou ongeestelik is om ‘n politikus of sielkundige te wees nie, of om vir die regering te werk nie. Moenie dadelik uit die video winkel, bottelstoor, SAB, die gym, of die filmbedryf bedank nie. Laat eerder jou lig skyn terwyl jy daar werk. Dalk gee die Here later vir jou die kans om iets anders te doen (v.21).
[5] Mense met ongeredde vriende
Jy hoef nie dadelik jou ongeredde vriende te los, omdat jy nou ‘n Christen is nie. Probeer om die kanaal oop te hou, sodat jy hulle vir die Here kan wen. Moet egter nie saam met hulle sondig nie.
[6] Ongeredde mense
Het jy al die Here se roepstem gehoor? Het jy jou al van jou sonde bekeer? Hoor dan vandag sy roepstem in die evangelie. Jy is ‘n slaaf van jou sonde. God is kwaad vir jou. Jy verdien sy straf. Hy is ook lief vir jou en het aarde toe gekom om sondaars te red. Hy het die wet perfek onderhou namens dié wat in Hom glo. Hy het die straf vir ons sondes op Homself geneem aan die kruis. Hy het uit die dood opgestaan en gee die ewige lewe vir almal wat hulle bekeer en op Hom vertrou. Bekeer jou en glo in Jesus as jy dit nog nie gedoen het nie.
Hoekom moet jy bly soos jy is? As jy buite God se wil probeer om jou omstandighede te verander, sal jy nie gelukkig wees nie. God sal vir jou krag gee om getroud, enkel, of geskei te bly; om gelukkig te wees in die sekulêre sektor (v.24).
Ons kultuur sê: ‘As ek net my omstandighede kan verander sal dinge beter gaan.’ Te veel mense dink: ‘As ek net kan trou, met iemand anders getroud wees, enkel kan wees, ‘n ander werk het, aftree, sal ek gelukkiger wees.’
Ek ken ‘n vrou wat onlangs so ‘n skuif gemaak het, en nogsteeds ongelukkig is. Nou wil sy weer ‘n skuif maak. Ons moet besef dat ons geluk in die Here lê, en nie in ons omstandighede nie. Daarom kan jy bly soos jy is en nogsteeds gelukkig wees.