
2 Korinthiërs 4:1
Die jaar loop op 'n einde en baie van ons is moeg. Ander voel fisies, emosioneel en geestelik uitgebrand. Jy haat jou werk en geestelik wil jy die handdoek ingooi. Om die Bybel te lees, te bid en kerk toe te gaan, het vir jou 'n las geword. Moontlik is jy selfs in Elia se skoene, sodat jy wens om dood te gaan.
In jou geval is die onmiddellike oplossing rus: jy kort 'n vakansie en ten minste 8 tot 10 ure se slaap per nag. Selfs Jesus het vir die dissipels gesê: "'Kom julle saam na 'n verlate plek en rus 'n bietjie op julle eie.' Want daar was baie mense wat voortdurend gekom en gegaan het; hulle het selfs nie kans gekry om te eet nie." (Mark. 6:31). Om te rus is wys, want "[a]s die byl stomp word, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy meer kragte inspan. 'n Voordeel is om wysheid in te span." (Pred. 10:10).
As jy klaar gerus het, moet jy leer om dit een dag op 'n slag te vat. Een van my vriende sê: "As mense deur 'n krisis gaan en vra hoe lank nog, antwoord ek: nog net een dag." Hy bedoel wat Jesus in Matt. 6:34 gesê het: "Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad." Ons kan gerus Klaagl. 3:23 byvoeg: "...sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut..."
Maar genoeg rus en 'n stadiger pas is nie die finale oplossing nie, want op die einde gaan jy oud word, siek raak en sterf. Daarom is die volkome en finale oplossing vir uitbranding geestelik. Dan sal jy nie uitsak nie, maar sterker raak hoe verder jy met die Here wandel: "Hulle gaan van krag tot krag; elkeen verskyn voor God in Sion." (Ps. 84:8). "Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe." (v.16).
Hoe het Paulus dit reggekry om ten spyte van vervolging blymoedig te wees te wees en te volhard? Waar het hy sy krag vandaan gekry en wat het hom gemotiveer om vol te hou?
'n Boodskap deur Ivor Jefferies.

