
Rut 3:1-9
Vroeg in my bediening in Kemptonpark het ek elke Vrydag saam met ’n groep predikante en teologiese studente gebid. Ons het die gebedstyd afgeskop deur na ’n preek te luister. Een Vrydag luister ons na ’n preek uit Rut 3. Die prediker het gesê Rut se reukolie verwys na Christus wat ons met die Heilige Gees salf, haar badwater verwys na weergeboorte, en haar mooi klere verwys na die Vader wat ons met Christus se geregtigheid beklee. Na die preek het een van die predikante sy misnoeë uitgespreek. “Wat ’n klomp bog!” het hy gesê. "Die teks gaan nie oor Christus nie, maar oor Rut en Boas wat seksueel losbandig was op die dorsvloer." As ek terugkyk, dink ek sy kritiek was reg en verkeerd. Dat die Ou Testament van Christus praat, betwyfel ek nie vir 'n oomblik nie. Maar dat Hy agter elke klip en bos is, is onwaar. En dat Rut en Boas seksueel losbandig was, is 'n groter leuen. Wat het dan op die dorsvloer gebeur, en waar pas Christus in die prentjie? 'n Boodskap deur Ivor Jefferies.

