In Meksiko is daar ‘n prediker wat sê dat hy die Messias is. Ek het van ‘n beradingsgeval gelees waar ‘n man in ‘n inrigting gesê het dat hy die Seun van God is. ‘n Dwelmverslaafde man het vir my gesê dat hy Jesus is. In Mt.24:5 lees ons van mense wat sal sê dat hulle die Messias is. Volgens moderne ortodokse Jode het Jesus gelieg om te sê dat Hy die Messias en die Seun van God is.
Hoe weet ons of Jesus die waarheid gepraat het? Was Hy mal om te sê dat Hy die Seun van God is? Hoekom glo ons Hóm, maar is ons skepties as ander mense sê dat húlle die Seun van God is? Die vyf getuies in Jh.5:30-47 wys duidelik vir ons dat Jesus die Seun van God is.
Jesus (v.30-32)
Het jy al ooit ‘n indrukwekkende storie gehoor wat klink of dit nie regtig kon gebeur het nie, maar omdat die persoon wat dit vir jou vertel het betroubaar is, glo jy dit? As jy dan met die persoon se familie en vriende praat bevestig hulle dat dit so is.
Omdat Jesus betroubaar is kan ons Hom glo as Hy sê dat Hy die Seun van God is. Daar is geen goeie rede om te dink dat Hy hieroor gelieg het nie. Iemand wat oor so iets lieg sou onder die rykes beweeg het en homself nie met die vullis van die samelewing opgehou het nie. Uit Jesus se lewe is dit ook duidelik dat Hy nie mal of emosioneel onstabiel was om te sê dat Hy die Seun van God is nie. Hy het die waarheid gepraat.
As mens kon Jesus niks uit sy eie gedoen het nie, maar het Hy in alles sy Vader se wil gesoek (v.30, 19, 8:28, 7:17-18, 4:34, 6:38, Mt.26:39). Ook as Hy geoordeel het, het Hy dit volgens die Vader se wil gedoen (v.30, 8:16). Dit insigself het bewys dat sy Vader Hom gestuur het (v.30). Die getuienis wat Hy in v.19-29 oor Homself gegee het was waar (8:14). En tog het die Jode dit nie aangeneem nie (v.31, 8:13). Volgens die Ou Testament in Dt.17:6, 19:15 het Jesus nie net drie getuies na vore gebring nie, maar vier om sodoende te bewys dat Hy die Seun van God is. Jesus was dan nie die enigste een wat getuig het dat Hy die Seun van God is nie. Die Vader het ook daarvan getuig (v.32).
Glo Jesus se getuienis aangaande Homself (v.19-32). Volgens Jesus sal dié wat sy getuienis verwerp in hulle sonde sterf (8:24). Ek het al meer as eenkeer met mense te doen gekry wat die Bybel afskiet, sonder dat hulle dit vir hulleself ondersoek het. Miskien het hulle ‘n vers of twee gelees om te ‘bewys’ dat dit verkeerd is. Maar hulle het nog nooit met ‘n oop verstand gesit en die Bybel gelees nie. As hulle dus teen die Bybel stry, redeneer hulle teen dit wat hulle by ‘n professor, die media, of ander godsdienste gehoor het. Hulle skiet vir Jesus af op uitlatings wat Hy nooit gemaak het nie, en op dinge wat Hy nie gesê het nie.
Is jy skepties oor die Bybel? Ondersoek dit vir jouself. Ken jy iemand wat skepties is? Moenie toelaat dat hulle beskuldigings onuitgedaag bly nie, maar vra vir hulle waar hulle hulle inligting vandaan kry.
Johannes (v.33-35)
David Hume was ‘n Skotse geskiedkundige en filosoof wat die bestaan van God betwyfel het. En tog het hy daarvan gehou om na George Whitefield se prediking te luister.[1] Die beroemde Benjamin Franklin het Whitefield se prediking geniet, maar nooit sy boodskap geglo nie.[2]
Koning Herodes Antipas het graag na Johannes die Doper se prediking geluister, maar was ongered (Mk.6:20). Net so het Felix ook graag na Paulus geluister, maar nooit tot bekering gekom nie (Hd.24:23-26). God het ook vir Johannes na die Jode toe gestuur, sodat hulle gered kon word (v.34). Die mense het van sy prediking gehou, maar nie geglo in die Een van wie hy getuig het nie.
Johannes die Doper het helder en duidelik vir die Jode gesê dat Jesus die Messias en die Seun van God is (v.33, 1:19-34). Dit is nie dat Jesus sy getuienis nodig gehad het nie, maar Hy het dit vir die Jode gegee sodat hulle van hulle sonde en God se toorn gered kon word (v.34). Vir die tyd van sy bediening was Johannes ‘n lamp wat gekom het om die waarheid van die Messias uit te lig (v.35). Hy het die vlam van sy helder lamp by die Messias se Lig aangesteek (1:6-8, 8:12). Die volk het sy lig geniet soos wat motte die lig van ‘n bedlampie geniet (v.35, Mt.21:26, 13:20). En tog het hulle die Lig verwerp toe Hy in die wêreld ingekom het (1:9-11, 3:19-20).
Moenie soos baie wees wat daarvan hou om na Bybelse prediking te luister, maar nie in geloof daarop reageer nie. Jou straf sal groter wees omdat jy geweet het wat reg is, maar dit nie gedoen het nie (Lk.12:47-48). Moenie die evangelie en die verkondiging daarvan akademies of linguisties benader nie. Moenie toelaat dat die vloeiende woorde of die lekker gevoel in jou bors jou betower en jou aandag van die evangelie se inhoud af wegtrek nie. Wees eerder gehoorsaam aan wat jy hoor; glo dat Jesus die Seun van God en die enigste Verlosser van sondaars is.
Die wonderwerke (v.36)
Rudolph Bultmann was ‘n Duitse teoloog wat gesê het dat enigiets bonatuurlik in die Bybel verwerp moet word. Ná hom het elke liberale teoloog in sy voetspore gevolg. Maar volgens die Nuwe Testament het Jesus se vyande sy wonderwerke gesien. Hulle kon nie ontken dat Hy dit gedoen het nie, en tog het hulle geweier om te glo dat Hy die Messias en die Seun van God is (vgl. Hd.4:16).
Jesus het ‘n groter getuienis as Johannes gehad: die wonderwerke wat Hy gedoen het bewys dat God Hom gestuur het (v.36, 3:2, 10:25). Die Vader het Hom deur die Heilige Gees bekragtig om hierdie werke te doen, en tog het die Jode Hom verwerp (v.36, v.1-9, 17-18). ‘Before the very eyes of the Jews there was evidence of divine power. And they rejected it!’[3]
Jesus se wonderwerke bewys dat Hy die Seun van God is. Glo dit. Sy dade wys mos dat Hy nie net praatjies maak nie. Die rede hoekom mense dit nie glo nie, is omdat hulle vooraf besluit het om nie te glo nie. Hulle glo dat ‘n eensellige dier oor biljoene jare in ‘n mens verander het (‘n wonderwerk), maar nie dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie. Daarom bly hulle blind, selfs as God rondom hulle werk en Christen-vriende se gebede voor hulle oë beantwoord.
Die Vader (v.37-38)
Peet is dolverlief op Sharon. Sy het egter vir hom gesê dat sy nie in hom belangstel nie. Toe hy huistoe ry, toe dink hy: ‘Miskien het sy nie lekker gevoel nie – ek dink tóg dat sy van my hou. Dalk het sy net nie geweet hoe om haarself uit te druk nie. Sy het my dan ‘n drukkie gegee toe sy totsiens gesê het. As dít nie ‘n teken is dat sy van my hou nie, dan weet ek nie wat ís nie?’ Op dieselfde manier kan God in ‘n hoorbare stem sê dat Jesus sy Seun is, maar as iemand dit nie wil glo nie sal hy sê dat dit die duiwel of donderweer was.
Toe Jesus gedoop is het die Vader getuig dat Hy die Seun van God is (v.37, 8:18, 1:34, Mt.3:17). Hulle het egter nie die Vader se stem of vorm in Jesus se woorde en vleeswording erken nie (v.37, 1:18, 14:9). Hulle ongeloof het veroorsaak dat sy Woord in hulle koppe was, maar nie in hulle harte nie (v.38, Ps.119:11). Meer as enige ander volk op aarde het hulle sy Woord gehoor, maar dit nie verstaan nie (Jes.6:9, 2 Kor.3:14-15).
Die Vader het in meer as 450 profesieë die Messias se koms, karakter en missie voorspel. As dit noukeurig in Jesus vervul is, moet ons mos glo dat Hy die Messias en Seun van God is. Iemand wat dit ontken sê dat God ‘n leuenaar is (1 Jh.5:10). Miskien moet jy eers die Vader se karakter bestudeer om te sien dat Hy nie kan lieg nie (Nm.23:19). As jy daarvan oortuig is kan jy mos sy getuienis aangaande die Messias glo.
Die Skrif (v.39-47)
Saartjie het ‘n boekrak vol resepteboeke. Sy geniet dit om die resepte te lees en uit haar kop uit te leer. Op ‘n dag toe hoor haar vriende die skokkende nuus dat sy van die honger gesterf het. Sy het gedink dat haar kennis van kos haar sou versadig. Sy het die resepte geken, maar nooit die kos gemaak en geëet nie.
Natuurlik is dit ‘n lawwe illustrasie, maar daar is baie mense wat dit met die Bybel doen. Hulle ken, lees en bestudeer die Bybel, sonder dat hulle geloof het in die Een van wie die Bybel getuig. En volgens Jesus is dit wat die Jode gedoen het.
God het die Woord gegee sodat ons daardeur gered kan word (Hd.17:11, 2 Tm.3:15, 1 Pt.1:23-25). Die Jode het dit as ‘n reëlboek bestudeer, en daarom het dit nie hulle harte bereik nie (v.38-39). Hulle het geglo dat God hulle poging om goeie Bybelstudente te wees, met die ewige lewe sal beloon. Alhoewel die Ou Testament duidelik van Christus getuig het (Lk.24:25-27, 44), wou hulle Hom nie raaksien nie en het hulle in die proses die ewige lewe soos ‘n vliegtuig verpas (v.39). Toe Jesus ‘n hand van verlossing na hulle toe uitgesteek het, het hulle geweier om dit te vat (v.40, Mt.23:37).
As Jesus hulle goedkeuring gesoek het (v.41), sou Hy die tipe Messias gewees het waarvoor hulle gewag het: ‘n Messias wat hulle teen die Romeine bemagtig het, en een wat die volk op ekonomiese gebied bevoordeel het. Jesus se reguit woorde het gewys dat Hy nie mense se guns soek nie: ‘Ek weet alles en kan sien dat julle nie die grootste gebod nakom nie, dat julle God nie met alles in julle liefhet nie’ (v.42, 2:24-25, Lk.11:42, Dt.6:5). As hulle die Vader liefgehad het, sou hulle die Seun ook liefgehad het.
Maar ten spyte daarvan dat Hy gekom het om die Vader te openbaar, het hulle Hom nie ontvang nie (v.43, 1:11). As ‘n vals messias in sy eie naam gekom het, sou hulle hom ontvang het (v.43, Mt.24:5). Die Jode was banger vir mense se opinies as vir God s’n (v.44, Rm.2:29, Mt.6:1-2). Omdat dit nie ‘populêr’ was om in Jesus te glo nie, het hulle Hom tot hulle ewige spyt verwerp (v.44, 7:48, 9:22, 12:42-43).
Tog was dit nie Hý wat hulle sou aankla nie, maar Moses en sy wet op wie hulle gehoop het (v.45, 9:28-29, Rm.2:17). Moses het nie die wet gegee dat hulle daardeur gered moes word nie, maar om hulle sonde uit te wys sodat hulle kon sien hulle het ‘n Verlosser nodig. Moses het hulle dus nie beloon nie, maar hulle aangekla, hulle monde toegestop en gewys dat hulle elke een van die tien gebooie geminag het (v.45, Rm.3:19).[4]
As hulle regtig in Moses geglo het sou hulle ook in Jesus geglo het, omdat Moses van Hom geskryf het (v.46, vgl. Gn.3:15, Eks.12, Dt.18:15-18, die tabernakel, manna, water uit die Rots, die Sabbat, ens. as skadubeelde van Christus). En as hulle nie Moses se profesieë oor die Messias geglo het nie, kon hulle onmoontlik geglo het noudat die profesieë vervul was (v.47, Lk.16:31).
Lees en bestudeer die Bybel met die regte ingesteldheid. Daar is niks erger as om met ‘n oop Bybel op jou skoot hel toe te gaan nie. Moenie bloot die Bybel lees om te sê dat jy dit in ‘n jaar deurgelees het nie. Moenie soos die Jode dink dat iemand wat die Bybel gereeld lees of uit sy kop uit ken ‘n beter kans het om in die hemel te kom nie (v.39). Die bekende Rabbi Hillel het gesê: ‘The more study of the Law the more life... if he has gained for himself words of the Law he has gained for himself life in the world to come.’[5]
Natuurlik moet jy op die woorde, struktuur, konteks, sinsbou en kruisverwysings let. Maar moenie só daarin vaskyk dat jy die Een mis oor wie dit alles gaan nie. Net soos met die Jode gebeur dit vandag dat mense dit geniet om die Bybel te bestudeer, en tog nie gered is nie (v.39). As jy die Bybel lees moet jy gereed wees om in Jesus te glo en om te doen wat Hy sê.
Moet dan nie streef om net meer van die Bybel te weet nie, maar om die Een van wie jy daar lees lief te hê en te gehoorsaam. Vind tasbare maniere hoe jy dít wat jy geleer het kan uitvoer. Moenie net sê jy sal ander mense meer liefhê nie. Sê eerder dat jy vir hulle sal bid en ‘n R250 koopbewys vir hulle sal gee. Moenie net sê jy sal die Here meer eer nie, maar sing lofliede in jou stiltetyd, sê nee vir jou sonde, wees opreg en ernstig as jy die nagmaal gebruik, en getuig openlik van Jesus by die werk.
Weet asseblief dat Jesus nie die intense studie van die Bybel afskiet nie. As jy die Bybel nie reg verstaan nie, sal jy dit verkeerd toepas. Maak daarom seker dat jy dit noukeurig bestudeer. Maar sorg ook dat jy dit biddend lees en gereed is om te doen wat jy daarin leer. As jy die Bybel só lees kan jy nie anders as om te sien dat Jesus die Seun van God is nie.
Ek hou daarvan om boeke te lees. As ek die outeur nie ken nie is daar ‘n paar dinge waarna ek kyk. Wie is die uitgewers? Wie is dit wat die boek aanbeveel? Watse tipe dinge sê die mense wat die boek aanbeveel: is dit ‘n goeie boek, of is dit die beste boek oor die onderwerp?
En so is dit ook met Jesus. Wie sê dat Hy die Seun van God is? Is dit betroubare getuies? En wat sê hulle oor Hom? Op grond van die vyf getuies in Jh.5:30-47, glo ek met my hele hart dat Hy die Seun van God is.
[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.2, p.274
[2] Ibid, vol.1, pp.116, 438
[3] Leon Morris, The Gospel According to John, p.328
[4] Sien Jh.8:44, Mt.5:27-29, 15:6-9, 23:16-22, 25, 26:59-60, Lk.16:14, 20:47, Jh.5:18, 18, 19:6 vir hulle oortreding van al tien gebooie.
[5] Ab.2:7 aangehaal in Leon Morris, Ibid, p.330 n.115