Coram Deo Cover Image

Coming soon...

27 May 2023

Wie moet die kerk lei?

Efesiërs 4:11

Ons gemeente behoort aan die Afrikaanse Baptistekerke (ABK). Ons glo elke gemeente is outonoom. Daar is nie ’n eksterne gesagstruktuur wat vir die gemeentes voorskryf hoe om hulle interne sake te bestuur nie. Onder Christus en sy Woord is elke gemeente vry om hulle eie besluite te neem.

Tog mag ons nie van die Bybel afwyk nie. As ons dit doen, sal die ABK ons aanspreek. As ons hardnekkig in ons sonde volhard, sal hulle nie verder met ons vereenselwig nie. Dit is hoe dit veronderstel is om te werk, maar ’n paar jaar gelede was daar planne om die struktuur te verander. Omdat baie gemeentes in die verlede drooggemaak het, wou die uitvoerende raad voorstel dat ons vaster strukture daarstel. Gemeentes kon hulle vrywillig tot die assosiasie verbind, maar sou dan tot ’n mate hulle vryheid weggee. Die nuwe struktuur sou beteken ’n gemeente kan byvoorbeeld nie sonder die uitvoerende raad se goedkeuring ’n leraar beroep nie. As die raad met ’n kandidaat ontevrede was, kon hulle of die Algemene Jaarvergadering—bestaande uit verteenwoordigers van elke gemeente—die betrokke gemeente se besluit veto.

Ek was ontevrede met die voorstel, omdat dit die plaaslike gemeente se outonomie oorskry. Met Jehu se ywer het ek die voorstel teengestaan. Te laat het ek besef my reaksie is te sterk. Ek was soos Samuel Dunn in die 1800’s. Hy en ’n paar ander wou ’n nuwe orde onder die Metodiste sien. Hulle was bereid om op hierdie heuwel te sterf. Hulle misplaaste ywer het verdeeldheid gebring en die herlewing geblus.1 In George Whitefield se tyd het die Erskine broers dieselfde gedoen. Die Here het vir Whitefield kragtig gebruik. Toe hy in Skotland wou preek, het die Erskine broers hom gekeer. ‘Tensy jy die Presbiteriaanse regeringstelsel bely, kan jy nie in ons gemeentes preek nie.’2

My ywer het nie so ver gegaan nie, maar dit was sonde. Ek het die Heilige Gees bedroef en moes my sondige gesindheid teenoor die Here en my broers bely. Ek het al gewonder of die Here sy seën om hierdie rede van ons gemeente onttrek het. Psalm 133 sê waar daar eenheid is, beveel die Here sy seën. Per implikasie seën die Here nie verdeeldheid nie. Volgens Ef. 4:3 moet ons die eenheid wat die Gees daarstel, bewaar. Ek het in die verlede oortree en wil dit nie weer doen nie. Daarom benader ek die saak van kerkregering versigtig. Ek wil sagmoedig hanteer. Meet wat ek sê aan die Bybel (Hand. 17:11). Eet die vis en spoeg die grate uit.

Die Hoofskap van Jesus oor die kerk is vis en nie grate nie (1:22). Syne is nie ’n dominerende hoofskap soos Adolf Hitler s’n nie, maar Hy lei die kerk soos die brein die liggaam lei—hulle werk as ’n eenheid saam (Ef. 1:22-23, 4:15-16, 5:23).

Hoe voer Christus sy hoofskap uit? Ef. 4:11-13 sê: “En Hy het sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot ’n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.”3

Christus lei sy kerk nie deur die regering, ’n koning, die Pous, ’n ekumeniese raad, ’n sinode of ’n A-tipe persoonlikheid nie. Hy gee leiding deur geestelike manne wat die gemeente uit die Woord toerus, sodat almal mekaar dien en tot geestelike volwassenheid in Christus groei. Wie is hierdie geestelike manne?

 

1. Die apostels en die profete

In Mark. 3:13-19 het Jesus twaalf apostels geroep en as die eerste leiers van die kerk aangestel. Judas het vir Jesus verraai en uitgeval. Na sy dood het Jesus Mattias in sy plek aangestel (Hand. 1:23-26). Jesus se halfbroer Jakobus het ’n apostel geword (Gal. 1:19, 2:9, 1Kor. 15:7). Volgens Hand. 14:14 was Barnabas ’n apostel. Paulus is die laaste apostel wat deur Jesus geroep is (Handelinge 9, Rom. 1:1, 1Kor. 15:8). Vandag is daar nie meer sulke apostels nie. ’n Apostel moes persoonlik deur Jesus geroep word, Hom na sy opstanding sien en vir drie jaar deur Hom geleer word (Hand. 1:21-22, 24). Paulus het aan hierdie vereistes voldoen (Gal. 1:1, 11-12, 17-18, Hand. 26:16, 1Kor. 9:1).

Kan iemand vandag dieselfde sê? Kerkvaders soos Ignatius van Antiochië (35-107 n.C.) het briewe aan verskeie gemeentes geskryf en erken sy woorde dra nie dieselfde gesag as die apostels s’n nie. Hy het onomwonde gesê hy is nie ’n apostel nie.4 Al die ander kerkvaders sou dieselfde sê.

Tog bestaan daar volgens verse soos 2Kor. 8:23 en Fil. 2:25 apostels in ’n ander sin. Die Griekse woord apostolos beteken gestuurde. Daar is apostels of gestuurdes van die kerk en gestuurdes van Christus. Die apostels of gestuurdes van Christus het uitgesterf. Die apostels of gestuurdes van die kerk bestaan nog. Daarom kon die ou Skotte van ‘the apostolic John Knox’ praat.5 Robert Bruce en John MacDonald is ‘the apostle of the north’ genoem.6 Hierdie manne het baanbreker- of pionierswerk gedoen. Onder hulle kragtige prediking het massas mense tot bekering gekom.

Wat van profete? Deur die geskiedenis het baie mense akkurate profesieë en voorspellings maak. George Wishart (1513-46) is een voorbeeld hiervan. Wishart was John Knox se voorganger en mentor. John Howie sê van Wishart: ‘he posssessed the spirit of prophecy to an extraordinary degree... very remarkable...was that uncommon measure of the spirit of prophecy which he possessed.’7 Wishart se laaste profesie was op die brandstapel. Dwarsdeur Wishart se bediening wou Kardinaal David Beaton hom dood hê. Op die einde was hy suksesvol. Toe Wishart op die brandstapel was, het hy deur die vlamme gesê: ‘This flame hath scorched my body, yet it hath not daunted my spirit; but he who, from yonder place, beholdeth us with such pride (die kardinaal), shall within a few days lie in the same, as ignominiously (laag, veragtelik, oneervol, skandelik) as he is now seen proudly to rest himself.’ Wishart se profesie is vervul. Minder as drie maande later is die Kardinaal vermoor, vermink en buite St. Andrew’s kasteel opgehang.8

Mense soos Wishart het hulleself nie as geïnspireerde profete beskou of gedink hulle is op die vlak van die profete wat die Bybel geskryf het nie. John Knox en Alexander Henderson se biograaf sê: ‘The canon of our faith, as Christians, is contained in the scriptures of the Old and New Testament; we must not look to impressions or new revelations as the rule of our duty; but that God may, on particular occasions, forewarn persons of some things which shall happen to testify His approbation of them, to encourage them to confine in Him in circumstances of peculiar difficulty, or to serve other important purposes, is not, I think, inconsistent with the principles of either natural or revealed religion.’9

Die gawe van profesie bestaan nog, maar v.11 se leiers-apostels en profete het uitgesterf. Wat Jesus hulle geleer het, is neergeskryf. Ons bou op die fondasie van hulle lering en lê dit vir die gemeente uit (Hand. 2:42, Ef. 2:20, 3:4-5, 2Pet. 1:19-21, 3:2). Ons voeg niks by nie en vat niks weg van wat hulle geleer het nie (Op. 22:18-19).

Waar laat dit moderne apostels en profete wat hulleself as leiers oor ’n groep gemeentes beskou?

Moet jou nie aan hulle steur nie.

Ignoreer hulle.

 

2. Die evangeliste

Die kerk stuur evangeliste uit om te preek, dissipels te maak en kerke te plant (Matt. 28:19-20, Hand. 13:3, Rom. 10:15). Filippus en Timoteus was evangeliste (Hand. 8:5, 40, 21:8, 2Tim. 4:5). As die evangelis ’n gemeente geplant het, moet hy leiers vir die nuwe kerk aanstel (Hand. 14:23, Tit. 1:5). Daarna beweeg hy aan. Hy en die stuurgemeente onttrek. Die nuwe gemeente is onafhanklik en beheer sy eie sake. As die evangelis hulle later besoek, kan hy hulle bemoedig en hoor hoe dit gaan. Maar hy is nie meer die gemeente se leier nie.

Almal dink nie so nie. Volgens party mense staan al die gemeentes onder ’n sentrale leierskap. Ek verskil van hulle. Rome heers nie oor almal nie. Antiochië besluit nie namens Efese nie; Grace Fellowship in Pretoria besluit nie namens ons gemeente nie. Elke gemeente staan onder sy eie leiers (Heb. 13:17, 1Pet. 5:2). ’n Sentrale regeringstelsel is so onbybels soos die Katoliekekerk.

Party mense gryp na Hand. 15:22-30, 16:4 om die gedagte van ’n sentrale regeringstel of sinode te verdedig. Die Jerusalem-gemeente het ’n brief vir al die gemeentes gestuur, sodat hulle hulle daaraan moes onderwerp. Is dit nie ’n voorbeeld van ’n sentrale regeringstelsel nie?

Die apostels het nog gelewe. Hulle het die ware evangelie uitgespel en op skrif gesit. Vandag staan elke gemeente in die wêreld onder Christus se leer soos deur die apostels aan ons oorgelewer. Handelinge 15 het niks te doen met ’n sinode nie. Soos by Nicea of Westminster kan ons die apostels se leer saam met ander gemeentes bestudeer en ’n geloofsbelydenis vasstel. In die veelheid van raadgewers is wysheid (Spr. 11:14). Maar ons kan dit nie op almal afdwing nie. Elke gemeente het die reg om sy eie belydenis uit te spel. Ons gemeente staan nie onder julle belydenis of andersom nie. As ’n gemeente die kernwaarhede van die evangelie glo maar op kleiner punte verskil, beskou ons hulle as broers. As hulle die kernwaarhede verwerp, verwerp ons hulle: “Is die woord van God van julle afkomstig? Of het dit slegs julle bereik? As enigeen meen dat hy ’n profeet is of dat hy geestelik is, behoort hy die dinge wat ek aan julle skryf, as ’n opdrag van die Here te erken. Maar enigeen wat dit misken, word misken.” (1Kor. 14:36-38).

 

3. Die herders en leraars

Die Griekse teks praat van die apostels, die profete, die evangeliste, die herders en leraars. Dit sê nie: die herders en die leraars nie. Ef. 4:11 praat nie van ’n vyfvoudige bediening nie, maar van ’n viervoudige bediening. Die herders en leraars is nie twee groepe nie, maar een: herder-leraars.

Verskeie tekste wys ’n herder-leraar is dieselfde as ’n opsiener, biskop, ouderling of pastor (Hand. 20:17, 28, 1Tim. 3:1-2, Tit. 1:5, 7). Hierdie ampte is een. Die herder-leraars staan onder die groot Herder van Heb. 13:20. Jesus lei sy kudde deur menslike herders wat hulle met die Woord voed (v.11, Jer. 3:15, Joh. 21:15-17, 2Tim. 4:2). Die sentrale plig van lering beteken vroue kan nie herder-leraars wees nie. ’n Vrou kan kinders en ander vroue onderrig (2Tim. 1:5, 3:15, Tit. 2:3-4). Maar sy mag nie in die publiek oor mans leiding neem en hulle onderrig nie. Die Skrif sê: “Laat die vroue in die gemeentes swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar moet hulleself onderwerp, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hulle eie mans daaroor uitvra, want dit is ’n skande vir ’n vrou om in die gemeente te praat.” (1Kor. 14:33-35). “Ek laat nie toe dat ’n vrou onderrig gee, of oor ’n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra. Adam is immers eerste geskep, daarna Eva.” (1Tim. 2:12-13). Paulus baseer sy verbod op die Skrif. Soos ’n man sy eie huisgesin lei, moet hy God se huisgesin lei (1Tim. 3:4-5, 15).

Jesus lei sy gemeente deur ouderlinge wat die Woord verkondig (v.11, 1Tim. 5:17). Die gemeente word nie in die besluitnemingsproses uitgeskakel nie, maar die ouderlinge onderrig hulle om volgens die leiding van die Gees deur die Woord besluite te neem (Hand. 6:1-7, 15:22, 28, Matt. 18:17, 1Kor. 5:4-5). Die Bybel staan nie ouderlingregering of -dominering voor nie. Onder Christus lei die ouderlinge die gemeente om die waarheid te volg.

In party Baptiste gemeentes neem diakens die leiding. By ander gemeentes is ’n bestuurskomitee of bedieningshoofde die leiers. Dit is verkeerd. Volgens die Bybel doen diakens dienswerk, sodat die leiers op geestelike werk kan fokus (Hand. 6:1-3). Dit beteken vroue kan diakens wees (1Tim. 3:11, Rom. 16:1). Die gemeente kies diakens (Hand. 6:3, 5), terwyl ouderlinge ander ouderlinge aanstel (2Tim. 2:2, Tit. 1:5, Hand. 14:23). 1Tim. 3:1-7 en Tit. 1:6-9 beskryf hoe ’n ouderling se persoonlike en gesinslewe moet lyk. Wanneer die ouderlinge nuwe leiers identifiseer, kan hulle die gemeente se insette vra. Iemand in die gemeente mag dalk iets van die persoon weet waarvan die ouderlinge onbewus is (1Tim. 5:19-20). Indien die persoon ’n geskikte kandidaat is, kan die ouderlinge hom deur die oplegging van hande afsonder (1Tim. 4:14, 5:22).

’n Gemeente moenie net een ouderling hê of die leraar en sy vrou as leiers beskou nie. In die Nuwe Testament het elke gemeente meer as een ouderling gehad (4:14, Hand. 14:23, 15:6, Fil. 1:1, Tit. 1:5, Jak. 5:14, 1Pet. 5:1, vgl. Spr. 15:22). Die enkel-leiers in die sewe gemeentes van Openbaring beteken nie daar was net een ouderling nie. Dit beteken liewer een van hulle het namens die res gespreek soos Petrus in Hand. 2:14 die spreekbuis namens die ander apostels was.

God se wil vir ouderlinge is dat hulle die skape deur hulle voorbeeld moet lei (1Pet. 5:2-3). Hulle moenie dien om mense te behaag nie, maar omdat hulle die Here se beloning soek (1Pet. 5:4). Hulle moenie die gemeente afbreek nie, maar hulle opbou (2Kor. 10:8, 13:10). Hulle moet die gemeente vir hulle dienswerk toerus, sodat elkeen sy gawe gebruik en die gemeente geestelik groei (v.11-13). As die leiers dit nie getrou doen nie, sal hulle gered word, maar hulle beloning verloor (1Kor. 3:15). Of dalk dit sal bekend word hulle is slegte leiers wat hel toe gaan (Esegiël 34, Matt. 24:45-51)!

Bely jou sonde en bekeer jou as die Here jou sonde uitwys. Jesus kan ongeredde herder-leraars red. Hy het dit met Thomas Chalmers gedoen. Chalmers was ’n predikant in Skotland. Voor sy bekering het hy in die kansel met die suiwer evangelie gespot. Hy het bittermin tyd aan mense se siele spandeer. Na sewe jaar in die bediening het twee van sy familielede kort op mekaar gesterf. Dit het hom oor die ewigheid laat dink. Daarna het hy self dodelik siek geword. Dit het vir ses maande aangehou. Genadiglik het die Here hom gespaar. Toe hy na sy gemeente toe terugkeer, het die 31-jarige predikant soos ’n ou man gelyk. Sy gemeente was geskok. Toe hy van die ewigheid begin praat, het die mense penorent gesit. ’n Rukkie later het hy kragdadig tot bekering gekom. Dit het sy bediening verander. Groot getalle mense het tot bekering gekom.10

Kan die Here vir Chalmers red en nie vir jou nie? Natuurlik kan Hy: “Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is. Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe.” (1Tim. 1:15-16).


1  Iain H. Murray, Wesley and Men who Followed (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2003), 199.

2  Iain H. Murray, Heroes (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2009), 66.

3  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

4  The Epistle of Ignatius to the Trallians, par. 3. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0106.htm

The Epistle of Ignatius to the Romans, par. 4. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0107.htm

The Epistle of Ignatius to the Philadelphians, par. 4. Verkry by http://www.earlychristianwritings.com/text/ignatius-philadelphians-longer.html

5  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), inner flap.

6  Iain H. Murray, A Scottish Christian Heritage (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2006), 55, 120 n.6.

7  Howie, ibid., 18, 30.

8  Ibid., 18-32. Sien ook https://www.undiscoveredscotland.co.uk/usbiography/b/cardinalbeaton.html

9  Ibid., 31 asterisk.

10  Murray, Scottish Christian Heritage., 81-6.

Kategorieë