“1 Halleluja! Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE! 2 Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid! 3 Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word! 4 Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. 5 Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, 6 wat laag neersien, in die hemel en op die aarde? 7 Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef; 8 om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk. 9 Wat die onvrugbare van die huis laat woon—’n blye moeder van kinders. Halleluja!” (Psalm 113).
‘n Oproep tot lof (v.1-3)
Die Israeliete het Psalm 113-118 (bekend as die Egiptiese Hallel) by die Pasga, Pinksterfees, en Huttefees gesing om hulle verlossing uit Egipte te herdenk. Hulle het Psalm 113-114 gesing voordat hulle die paaslam geëet het, en Psalm 115-118 na die ete (cf. Matteus 26:30).
In vers 1 is daar ‘n drievoudige oproep tot lof (v.1). Hierdie oproep herinner ons daaraan dat God ons gered het om Hóm te loof. Hoe kan enigiemand uit die bande van sonde en slawerny gered wees en nié die Here loof nie? ‘n Kort film met die titel Eetaow wys dit (kyk gerus die video op You Tube). Die Mouk stam van Papua Nieu-Guinea het in vrees vir die geeste gelewe. ‘n Sendeling het vir ‘n paar maande Bybelstories oor ons sonde en God se verlossing vir hulle vertel. Uiteindelik het hy by die storie van Jesus gekom. Hulle het baie van Jesus gehou en wou Hom aanbid. Toe die sendeling die storie van Jesus se kruisdood vir hulle vertel het, was hulle diep bedroef. Hulle het geglo en gewens daar was ‘n uitweg. Toe die sendeling vir hulle vertel van sy opstanding en die rede en betekenis van sy kruisdood, het daar lofprysing uitgebreek. Die mense het vir 2 en ‘n half ure gesing, gejuig, gedans en geloof. Hulle was so bly dat Jesus die plaasvervanger was vir húlle sonde.
Al is jou omstandighede donker, kan jy nogsteeds daagliks die Here loof vir jou verlossing (v.2). Paulus sê: “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Tessalonisense 5:16-18). Jy moet die Here loof vandat die son opkom, totdat jy in die aand gaan slaap (v.3). Jy hoef nie in die oggend op te staan met bekommernis, of in die aand met angs te gaan slaap nie. Prys en dank eerder die Here vir jou verlossing en vir sy soewereine beheer. Maar v.3 beteken nie net dat jy van die môre tot die aand die Here moet loof nie. Dit beteken ook (en miskien meer waarskynlik) dat God in alle nasies geloof moet word – van die ooste tot die weste. Ander verse sê: “Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe” (48:11). “Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en ‘n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare.” (Maleagi 1:11).
Ons primêre fokus in sending moenie die redding van sondaars wees nie, maar die lof van ons groot Verlosser deur die redding van sondaars. Om te sorg dat jy nie jou fokus verloor nie, kan jy:
- Tekste hersien wat wys dat die evangelie God-gesentreerd is, en nie mens-gestreerd nie. Efesiërs 1:3-14 sê dat God ons gered het ‘tot lof van sy heerlikheid’.
- Onthou dat ons God in die hemel gaan loof vir ons verlossing. Dáár word dit duidelik dat ons gered is om God te loof, en dat verlossing nie ‘n einddoel in homself is nie.
- Jesaja 48:11 memoriseer: “Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen—want ag, hoe is my Naam ontheilig! —en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.” Verlossing gaan nie hoofsaaklik oor ons nie, maar oor God se eer.
- Onthou dat God ons geskep het om Hóm te verheerlik (Jesaja 43:7), en dat God self bestaan om Homself te verheerlik (Psalm 115:1). Verlossing kan dan onmoontlik hoofsaaklik oor ons gaan.
- Die nommer 1 versoek in die Onse Vader onthou: ‘Laat U Naam geheilig word’.
- Jouself herinner aan die hoofdoel van Jesus se kruisdood: Om God se heiligheid en geregtigheid te toon (Romeine 3:25).
Jy sal vir ewig herinner word aan Jesus se kruisdood vir jou, omdat jy vir ewig sy wonde sal sien in die hemel (Johannes 20:27, Openbaring 1:7, 5:6). Jy sal ook weer in die hemel die nagmaalwyn drink en die brood eet (Matteus 26:29, Lukas 22:16-18). Jy sal God vir ewig loof vir sy verlossing (v.2). In hemel eindig gebed, maar lof eindig nooit. As jy nie iemand is wat die Here loof nie, het jy te familiêr geraak met die evangelie. Jy het nodig om weer die evangelie-waarhede te deurdink. Of jou gebrek aan lofprysing mag ‘n aanduiding wees dat jy glad nie gered is nie. Kan dit wees dat jy God se redding en goedheid gesmaak het, maar Hom nie loof nie? Ek wil vir jou sê hoe jy God se verlossing kan smaak en ervaar:
God is heilig en vereis volmaakte heiligheid. Jy het sy wet oortree in jou sondige wese, asook in jou sondige dade, emosies, gedagtes, woorde, begeertes. Jy verdien God se oordeel en straf. God is liefdevol en genadig. Daarom word Hy ‘n mens in sy Seun, Jesus Christus. Jesus is uit ‘n maagd gebore, en daarom is Hy sondeloos – volkome God en volkome mens. Jesus het geen sonde gedoen nie, maar was volmaak gehoorsaam aan sy Vader. Jesus het die straf wat ons verdien het op Homself geneem aan die kruis. Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan uit die dood. As jy jou van jou sonde bekeer en met jou hele hart op Jesus vertrou, sal God jou sonde uitwis en Jesus se perfekte rekord van gehoorsaamheid aan jou toereken. As jy nie weet hoe om jou te bekeer en op Christus te vertrou nie – vra in gebed dat die Heilige Gees jou sal help.
‘n Rede vir lof (v.4-9)
[i] God is verhewe (v.4-6, Johannes 17:5). In teologiese terme sê ons Hy is transendent. In vergelyking met die verhewe God is die mens niks, stof op ‘n weegskaal, ‘n druppel in ‘n emmer, gras wat verdor, ‘n blom wat verlep, mis voor die son, ‘n droom, ‘n sprinkaan, ‘n wurm, ‘n plant in ‘n geut wat maklik vrek (sien Psalm 90, Jesaja 40-41). Wie is hoog soos die Here? God is so hoog verhewe dat Hy neerkyk, nie net op die aarde nie, maar ook op die hemel (v.4-6). Daarom vra die Bybelskrywers: “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge?” (89:7). “O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Eksodus 15:11).
[ii] God is wel verhewe, maar tog buig Hy Hom tot ons neer (v.7-9, 1 Samuel 2:8). Ander verse sê: “Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.” (138:6). “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15). “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Filippense 2:6-7). Teoloë praat van God se nabyheid aan ons as sy immanensie. Die hoë en verhewe God word ‘n mens in Christus. Hy buig Hom tot ons neer deurdat Hy self arm word. Hy doen dit om die armes uit die stof en ashoop te kom red en hulle te verhef tot die troon. Luister gerus na die onderstaande verse:
“HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig.” (86:1). Soos in hierdie vers, verwys die armoede in ons Psalm nie net na ’n gebrek aan geld nie, maar na die erkenning dat jy geestelik gebrekkig is en God nodig het. Jesus praat van dié wat arm van gees is (Matteus 5:3). Jesus het gekom om goeie nuus aan die armes te verkondig (Lukas 4:18). In Paulus se woorde: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (2 Korintiërs 8:9). Ons was in die stof van ons sonde. Jesus het ons opgewek en op die troon geplaas: “ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efesiërs 2:5-6). Volgens Openbaring 5:10 is ons konings.
Baie mense kyk neer op ander wanneer hulle tot ‘n magsposisie verhef word. God is nie so nie. Hy is die Opperheerser, maar gee tog om vir die onvrugbare vrou wat graag wil kinders hê. Sara, Rebekka, Ragel, Hanna, Simson se ma, Rut en Elisabet was almal onvrugbaar, en die Here het vir elkeen van hulle kinders gegee. Vandag nog is dit moontlik dat God vir onvrugbare vroue kinders kan gee: “God laat die eensames woon in ‘n huisgesin” (Psalm 68:7). Indien ‘n gelowige vrou kinderloos is, plaas Hy haar in ‘n geestelike huisgesin waar sy ‘kinders’ kan hê. Sara was onvrugbaar, maar vandag het sy miljoene kinders dwarsoor die wêreld: “Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.” (Galasiërs 4:27). Almal wat in Christus glo is kinders van Abraham en Sara (Galasiërs 3:7).
God is nie ontoeganklik soos party belangrike figure in ons wêreld nie. Deur Jesus Christus kan ons met vrymoedigheid tot Hom nader: “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:15-16). Moenie roem omdat God jóú uit die stof verhef het nie. Dit is alles genade: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?…Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (1 Korintiërs 4:7, Efesiërs 2:8-9). Jesus het nie gekom om selfregverdige mense te red nie. Hy het gekom om armes te red, en doen dit juis sodat hulle nie in hulleself kan roem nie. God het vir armsalige Josef uit die tronk bevry en hom verhef om ‘n regeerder te wees in Egipte. Israel was hopeloos onder die mag van die Egiptenare toe God hulle bevry het. Rut en Naomi was twee weerlose weduwees toe God hulle verhef het. Maria en Josef was arm inwoners van Israel. God het aan hulle die voorreg gegee om die Messias groot te maak. Verskeie van die apostels was arm vissermanne toe Jesus hulle gekies het om Hom te volg. Jy self was niks spesiaal toe God jou kom red het nie:
“Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” (1 Korintiërs 1:26-29).
Moenie jouself verhef soos wat Satan, Adam en Eva gedoen het nie: ‘Ek sal soos die Allerhoogste wees… Julle sal soos God wees’. As jy jouself in arrogante hoogmoed verhef, sal God jou verneder (1 Petrus 5:5). Erken eerder dat jy Hom nodig het (1 Petrus 5:7). Verneder jouself sodat God jou kan verhef op die regte tyd (1 Petrus 5:6). Moenie jouself op die skouer klop nie, maar loof Hom, want wie is soos die Here (v.9)?
Write a comment:
You must be logged in to post a comment.