1Korintiërs 6:9-11
Baie mense wat bely dat hulle Christene is, weet nie mooi wie hulle is nie. Party van hulle lewe in sonde, maar glo vas dat hulle hemel toe gaan. Ander het regtig verander, maar het ‘n identiteitskrisis. T.s.v. die feit dat hulle hulle bekeer het, verwys hulle nog steeds na hulself as alkoholiste, homoseksueles, ens. Ek dink bv. aan ‘n gelowige wat eenkeer gesê het: ‘Ek is ‘n alkoholis en is al vir 20 jaar droog.’
Volgens 1Kor. 6:9-11 moet jy jouself nie bedrieg oor wie jy is nie, aangesien dit katastrofiese gevolge kan hê. Maak daarom seker dat jy jouself reg beskou.
- Onregverdig (v.9-10)
‘n Paar maande gelede het ek twee dwelmverslaafdes in die straat ontmoet. Hulle het vas geglo hulle gaan hemel toe. ‘Ons beskadig darem nie ander mense nie,’ het hulle gesê. Hulle het egter teen die Here gesondig, aangesien hy vir ons sê om nie ‘n slaaf te wees van enigiets behalwe Jesus nie. Hulle het ook gelieg toe hulle sê dat hulle nie ander mense beskadig nie. Dwelmverslaafdes vertel baie leuens om uit die moeilikheid te kom. Hulle steel om geld te kry vir dwelms. Hulle oortree die landswet en dra by tot die agteruitgang van ons samelewing. Hulle laat ook die misdaadsyfer opgaan.
In die kerk is daar baie sulke mense: hulle lewe in sonde, maar dink nog steeds hulle gaan hemel toe. Paulus het anders gedink: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” (v.9). Jy gee ‘n tree in die regte rigting as jy erken dat jy sleg is en dat jy God se oordeel in die hel verdien (Spr. 28:13, 1Joh. 1:9). Jy is op ‘n slegte plek as jy in sonde lewe en dink jy is op pad hemel toe (v.10). Jy bedrieg jouself, want volgens v.9 sal die onregverdiges nie die Koninkryk van God in besit neem nie (vgl. Gal. 5:19-21, Ef. 5:5, Kol. 3:5-6, Op. 21:8, 22:15).
Wie is die onregverdiges (v.9, 1)? Dit is mense wat onheilig is en in sonde lewe. Dit is mense wie se lewens nie anders lyk as die wêreld s’n nie.
[a] Hoereerders
Die Griekse woord pornoi verwys na mense wat hulleself oorgee aan ‘n lewe van seksuele losbandigheid, hetsy met hulle oë, of deur hulle dade (bv. Matt. 5:27-28, 1Kor. 5). Seksuele losbandigheid was algemeen in Korinte. Die tempel van Aphrodite of Venus—die godin van liefde, skoonheid en vrugbaarheid—was in Korinte. Die tempel het meer as 1000 tempel prostitute gehad.
Ons samelewing is net so losbandig. Vir ongetroudes om saam te bly is algemeen. Dit word selfs deur sommige kerke aanvaar. En tog is die Bybel duidelik: ‘Mense wat seksueel losbandig is, sal die Koninkryk van God nie sien nie.’ (v.9-10).
[b] Afgodedienaars
Afgodery was net so algemeen in Korinte (12:2). Vandag aanbid mense afgode deurdat hulle die verkeerde leringe van Moslems, Hindoes, die Jehova’s Getuies, die Hebrew Roots Movement en ander vals godsdienste aanhang.
Maar afgodery strek wyer as net georganiseerde godsdiens. Dit is ‘n kwessie van die hart. As jy enigiets bo God en sy Woord verhef, is dit ‘n afgod (vgl. Kol. 3:5). Waarvoor sal jy maklik ‘n erediens, of jou stiltetyd mis? Waarvoor sal jy sonde doen, of sonde doen as jy dit nie kan hê nie? Dit is jou afgod. As jy jou nie daarvan bekeer nie, sal jy die Koninkryk van God nie sien nie (v.9-10).
[c] Egbrekers
Paulus praat hier van getroude mense wat seksueel ontrou is aan hulle lewensmaats. Egbrekers verwys ook na mense wat vir enige rede skei, trou, skei, trou, skei, trou (Luk. 16:18). Hulle maak God se instelling van die huwelik goedkoop. God sal hulle oordeel (Heb. 13:4, Op. 21:8). Hulle sal sy Koninkryk nie ingaan nie (v.9-10).
[d] Wellustelinge
Die Griekse woord malakos verwys na iemand wat meisieagtig, of sag is; na iemand wat die passiewe rol in ‘n homoseksuele verhouding inneem. Dit verwys na ‘n man wat maniertjies het soos ‘n vrou: sy gewrigte, die fyn uitspraak van sy woorde, hoe hy stap, sy kleredrag, sy handsakkie, sy grimmering (Deut. 22:5).
God haat dit en beskou dit as rebellie. Jy rebelleer wie Hy jou gemaak het: manlik, of vroulik volgens Gen. 1:27. Dit is loutere onsin om te sê dat iemand in sy geslag ‘n man kan wees, terwyl sy identiteit vroulik is. Daar is geen wetenskaplike bewys hiervoor nie en buitendien druis dit in teen die Bybel. Dit is dus tragies dat die NG Kerk hierdie dinge goedkeur. Volgens v.9-10 sal sulke mense die Koninkryk van God nie ingaan nie.
[e] Sodomiete
Die Griekse woord arsenokoitēs verwys na ‘n persoon wat die aktiewe rol in ‘n homoseksuele verhouding inneem (vgl. 1Tim. 1:10). Paulus gebruik twee Griekse woorde wat ‘manlik’ [arsēn] en ‘bed’ [koitē] beteken. Dit kom uit Lev. 18:22, 20:13 waar die Here sê dat ‘n man nie met ander ‘n man in die bed mag klim soos ‘n mens dit met ‘n vrou doen nie.
Mense wat homoseksualiteit voorstaan, sal sê dat Lev. 18:22, 20:13 tempelprostitusie verdoem. Volgens hulle het die woord ‘gruwel’ [Heb. tō’êbāh] in beide tekste te doen met afgodery. Maar in die konteks is al die seksueles sondes in Lev. 18 ’n ‘gruwel’ (Lev. 18:26-30, Heb. tō’êbāh). As mense wat homoseksualiteit voorstaan konsekwent wil wees, moet hulle sê dat ‘n mens nie egbreuk, bloedskande, of bestialiteit in ‘n afgodstempel mag beoefen nie, maar dat jy dit wel by jou huis kan doen. Hopelik sal niemand so redeneer nie.
Die Ou Vertaling praat in 1Kor. 6:10 van Sodomiete. Die woord is sinoniem vir homoseksueles, omdat die mans van die stad Sodom homoseksuele dade met Lot se gaste wou pleeg (Gen. 19:4-8). Mense wat homoseksualiteit voorstaan, sal dit ontken. Hulle sê: ‘God het Sodom gestraf, omdat hulle nie gasvry was nie.’ In dié verband verwys hulle na Eseg. 16:49-50.
Dit ís so dat Sodom hoogmoedig was en dat hulle die armes onderdruk het. Eseg. 16:50 sê egter dat hulle ook die ‘gruwel’ [Heb. tō’êbāh] gedoen het. Gen. 19 wys duidelik dat die ‘gruwel’ na homoseksualiteit verwys. Volgens Gen. 19:5 wou die mans van Sodom Lot se gaste ‘ken’ [Heb. yada], net soos wat Lot se dogters in Gen. 19:8 nog nooit ‘n man ‘geken’ [Heb. yada] het nie, en soos wat Eva swanger geraak het nadat Adam haar ‘geken’ [Heb. yada] het (Gen. 4:1).
Lot het gesê dat die mans se versoek boos is (Gen. 19:7). Duidelik het hy verstaan dat hulle nie maar net ‘n geselsie met sy gaste wou aanknoop nie, maar dat hulle homoseksuele dade wou beoefen. Jud. 7 bevestig dit en sê dat Sodom se sonde seksuele losbandigheid was en dat hulle ‘n onnatuurlike begeerte gehad het vir seks met iemand van dieselfde geslag (vgl. Rom. 1:26-27).
Dit is skokkend dat die NG Kerk homoseksualiteit goedpraat en aanmoedig. Volgens Paulus bedrieg jy jouself as jy sê: ‘Ek is ‘n gay Christen en is op pad hemel toe.’ (v.9-10). Volgens hom is dit soos om te sê: ‘Ek is ‘n dronk Christen, of ‘n skelm Christen.’
[f] Diewe
Party van die Korintiërs was so (v.7-8). Die Griekse woord vir ‘diewe’ is kleptēs waarvan ons die woord ‘kleptomaan’ kry. Dit beteken nie dat diefstal ‘n siekte is soos sielkundiges en psigiaters sê nie. Diefstal in enige vorm is ‘n oortreding van die agtste gebod en is sonde. Die oplossing vir diefstal is nie pille en terapie nie, maar berou en bekering. Die sg. kleptomaan is niks anders as ‘n gewone dief nie. Hy sal die Koninkryk van God nie ingaan nie (v.9-10).
[g] Gierigaards
Hierdie verwys na mense wat ‘n dryf het om meer en meer vir hulleself te kry. Hulle sal op ander trap om hulleself te verryk. Geld is hulle afgod (Matt. 6:24). Dit is vir hulle belangriker as die Here; belangriker as ‘n verhouding met hulle gesinne, families en vriende. Geld definieer hulle sukses en hulle lewens.
[h] Dronkaards
Die Bybel verbied nie die gebruik van alkohol nie (bv. Deut. 14:26). Dit spreek hom egter sterk uit teen dronkenskap (bv. Ef. 5:18). ‘n Dronk persoon kan homself nie beheer nie. Hy baklei in sy huwelik, rand mense aan, versuim om sy pligte na te kom, mors geld, neem dwase besluite en stel ander mense se lewens in gevaar (bv. dronk bestuur). Hy is nie ‘n slaaf van Jesus nie, maar ‘n slaaf van drank.
Let op dat die Bybel van dronkaards praat. Daar is nie beweegruimte vir mense om te sê: ‘Darem is ek nie ‘n alkoholis nie.’ Volgens die Bybel is ‘n persoon wat homself dronk drink ‘n dronkaard. Die Bybel verskoon nie die probleem as geneties, of as ‘n siekte nie. Net soos diefstal is dit ‘n sonde waarvoor mense vergifnis nodig het en nie ‘n siekte waarvan hulle genees moet word nie. Volgens Paulus moet geen dronkaard dink: ‘Ek kan dronk in die hemel ingaan nie.’ Jy kan nie (v.9-10).
[i] Kwaadsprekers
Die Griekse woord [loidoros] verwys na mense wat ander afbreek met hulle woorde (v.10, Spr. 25:24, LXX). Dit sluit sekerlik vloek en skel in. Slegte woorde wys dat iemand ‘n slegte hart het (Matt. 12:34). Hy sal die Koninkryk van God nie ingaan nie (v.9-10), al dink hy so. Hy kan nie sê wat iemand onlangs vir my gesê het nie: ‘Dit is nie asof ek duiwel toe gaan omdat ek so baie vloek nie. Ek benadeel immers nie ander mense nie.’
[j] Rowers
Die Griekse woord harpax verwys na mense wat ander beroof, uitbuit en hulle goed gryp (bv. grondeise). Dit verwys na iemand wat ander afpers deur dreigemente (bv. die verkeerspolisie in Zimbabwe).
Die ESV vertaal die woord as ‘swindler’. Dit verwys na iemand wat jou kul om geld te steel. Dit laat my dink aan mense wat vals e-posse stuur om te sê dat jy ‘n paar miljoen pond geërf het en dat jy jou bankbesonderhede moet bevestig. Dit laat my dink aan mense wat vals advertensies op Gumtree en OLX plaas. Dit laat my dink aan mense wat ander se kaarte kloon en hulle geld steel. Dit laat my dink aan bedelaars wat ‘n lang storie vertel en vir jou sê dat hulle R250 nodig het om ‘n bus kaartjie te koop.
Is jy soos hierdie mense, of enige ander mense op die lys? Leef jy dalk in ‘n sonde wat nie op die lys is nie? Paulus waarsku: ‘Moet jouself nie bedrieg nie—jy sal die Koninkryk van God nie ingaan nie’ (v.9-10).
- Regverdig (v.11)
‘n Verloofde man is nie enkel soos wat hy voorheen was nie. Maar hy is ook nog nie getroud nie. Christene is so: jy is nog nie in die hemel nie, maar jy is ook nie meer deel van die wêreld nie. God het jou op grond van Jesus se kruisdood en deur sy Gees gewas in die bad van wedergeboorte, jou uit die wêreld afgesonder om syne te wees, Jesus se perfekte rekord van gehoorsaamheid aan jou toegereken en jou regverdig verklaar (v.11, 2Kor. 5:21, Tit. 3:5). Jy het hierdie nuwe lewe en reiniging deur die doop uitgebeeld (v.11, Hand. 22:16, Heb. 10:22, 1Pet. 3:21).
Wat is die les? Deur die krag van Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees ís dit moontlik om nie meer te lewe soos die mense in v.10 nie, maar om ‘n nuwe mens te wees (v.11). Deur Jesus en die Heilige Gees kan mense wat seksueel losbandig was, rein word. Ek dink hier aan die Samaritaanse vrou in Joh. 4 en aan ‘n gelowige wat voor haar bekering rondgeslaap het en van 5-jarige ouderdom af verslaaf was aan pornografie.
Mense wat afgode aanbid, kan verander in mense wat die ware God aanbid. Ek dink hier aan die Tessalonisense in 1Tess. 1:9. Egbrekers kan verander in mense wat getrou is aan hulle lewensmaats. Ek dink hier aan die vrou in Joh. 8:11. Ek dink aan ‘n man wat ontrou was aan sy vrou. Hy het berou gehad en hom bekeer. Vandag is hy getrou aan sy vrou.
Homoseksueles kan verander in mense wat gelukkig getroud is met iemand van die teenoorgestelde geslag, of die Here dien deur enkel te bly. Ek dink hier aan ‘n predikant, ‘n berader, ‘n man wat ek vir ‘n paar jaar lank beraad het, en aan Rosaria Butterfield wat almal homoseksueel was, maar tot bekering gekom het.
Diewe en rowers kan verander in mense wat eerlik werk en vrylik gee. Ek dink hier aan Saggeus wat mense gekul het, maar hulle dubbel en viervoudig vergoed het (Luk. 19:1-10). Mense wat gierig was, kan verander in mense wat ewige rykdom soek. Ek dink hier aan ‘n oom wat sewe ingevoerde karre besit het en aan ‘n man wat op pad was om R80 miljoen per jaar te verdien. Beide van hulle het tot bekering gekom en is baie vrygewig.
Dronkaards kan verander in mense wat nugter is. Ek dink hier aan ‘n drankverslaafde man en ‘n dwelmverslaafde vrou wat tot bekering gekom het. Ek dink aan ‘n sekere JJ wie se kind vir sy onderwyseres gesê het: ‘We had a dinner, today, Miss! We had gravy, potatoes, meat, and cabbage, and rice pudding… My father has been converted!’ JJ het nie meer sy geld op drank uitgegee nie, maar hy het sy vrou en kinders versorg.
Ek dink aan ‘n man in Wallis wat op die skepe gewerk het. In sy huis was daar drie fotos langs mekaar: een waar hy dronk teen ‘n lamppaal staan, een waar hy langs Martyn Lloyd-Jones op die strand sit, en een waar hy skoon en netjies aangetrek is. Onder elke foto het daar een woord gestaan: ‘Lost. Found. Saved.’
Mense wat ander afbreek, vloek en slegsê, kan verander in mense wat sag praat en ander opbou. Ek dink hier aan John Bunyan wat baie gevloek het voor sy bekering. Na sy bekering het hy ander bemoedig en hulle opgebou.
God laat die ou dinge verby gaan en maak alles nuut (2Kor. 5:17). Dit is ‘n kragtige getuienis vir die wêreld. Dit wys dat Jesus die grootste sondaar kan verander. Ek dink hier aan die Korintiërs (v.9-11). Ek dink aan Paulus (1Tim. 1:12-16). Ek dink aan ‘n man in my vriend se gemeente. Hy was in die tronk. Die mense in die dorp het hom geken as ‘n groot sondaar, maar die Here het hom gered en hom in ‘n nuwe mens verander.
As jy reeds gered is, reken die Vader sy Seun se geregtigheid aan jou toe en beskou Hy jou nie meer as ‘n dief, ‘n dronkaard, ‘n egbreker, ‘n rower, homseksueel, ens. nie. Moet dan nie jouself en ander Christene takseer volgens hulle versoekings, of volgens die slaggat waarin hulle eenkeer getrap het nie. Moet bv. nie van ‘n ‘gay Christen’ praat nie. As die persoon in homoseksuele sonde leef, is hy nie ‘n Christen nie. En as hy hom daarvan bekeer het, is hy nie gay nie. Moenie die twee verwar nie.
Moet ook nie die mentaliteit hê van die slawe wat in 1863 in die suide van Amerika bevry is nie. Selfs nadat hulle bevry is, het hulle nog soos slawe gedink. Moenie so wees en lewe asof jy nog ‘n slaaf van sonde is nie. Leef eerder soos die nuwe mens wat jy in Christus is.