Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 December 2020

Wie is Jesus vir jou?

Lukas 2:22-38

My tema klink postmodern—so asof jý kan besluit wie Jesus is. Die vraag is tog nie wie Hy vir jóú is nie, maar wie Hy werklik is. En tog help dit nie jy glo die waarheid oor Jesus as jy dit soos die duiwel glo en verlore gaan nie (Jak. 2:19). In daardie sin is dit dus belangrik om te vra wie Hy vir jóú is.

1. Vir sy ouers (v.22-24)

’n Paar jaar gelede het ’n besoeker by een van ons Bybelstudies gesê: ‘Elke mens is neutraal gebore. Die slegte invloede rondom jou maak jou wat jy is.’ Maar volgens die Bybel het almal van ons ’n sondige natuur by Adam geërf en is ons van die moederskoot af sondaars (Ps. 51:7, 58:4, Rom. 5:12, Ef. 2:3). Dit is onder andere hoekom Lev. 12:2, 4 ma’s beveel het om veertig dae na hulle seuns se geboorte ’n offer te bring. Alhoewel kinders ’n seën van die Here is, moes elke ma gereinig word, omdat sy ’n sondaar in die wêreld gebring het.

Maar hoekom moes Josef gereinig word as hý nie die kind gebaar het nie (v.22, hulle, ESV, 2020-Vertaling)? Alhoewel Josef en Maria nie ’n seksuele verhouding gehad het voor Jesus se geboorte nie, was hulle getroud (Gen. 2:24). Daarom het Maria se onreinheid in hierdie saak vir Josef beïnvloed.

Maar hoekom moes Maria na Jesus se geboorte gereinig word as Hy nie ’n sondige natuur gehad het nie (v.22, Luk. 1:35, Heb. 7:26)? Die rede is dat Jesus later óns sonde op Homself sou neem aan die kruis (1Pet. 2:24). Josef en Maria se reiniging, asook die offer wat hulle moes bring (v.22, 24), was ’n voorskou van Jesus wat Homself sou offer om ons van ons sonde te reinig. Hy het ons nie net van verkeerde woorde, gedagtes, en dade gereinig nie, maar van ’n sondige natuur. Hy het ons nuwe mense kom maak (2Kor. 5:17).

As nuwe mense verander Hy ons tot ons volkome aan die Vader gewy is soos Hy. Dit was Hy van sy geboorte af (v.22), terwyl dit vir ons by weergeboorte begin. Jesus het kom wys wat dit beteken om ’n normale en volmaakte mens te wees. Wanneer Hy weer kom, sal Hy sy werk in ons voltooi en sal ons soos Hy wees (1Joh. 3:2).

Moet dan nie sê: ‘Dit is maar net menslik om te sondig; niemand is tog volmaak nie.’ Dit is abnormaal vir iemand wat nuut gemaak is om in sonde te lewe nie. Leer dan om deur die krag van die Heilige Gees die nuwe normaal na te streef, naamlik om soos Jesus te wees (Kol. 3:10, 1Joh. 2:6, 3:3). Omdat jy nog nie in hemel is nie, sal jy dit nie altyd regkry nie. Sê egter vir die Here dankie dat Jesus as Eersgeborene in jou plek staan (v.23, 7, Rom. 8:29). Hiervan was die eersgeborenes in die Ou Testament ’n voorskou. Hulle ouers het hulle aan die Here gewy om te sê dat die res van die gesin ook aan Hom behoort (v.23, Eks. 13:2, 12). So was elke gesin die Here s’n, asook die hele volk.

In die Nuwe Testament word dit in Jesus vervul. As Eersgeborene het God Hom in ons plek aanvaar. So maak Hy ons deel van sy huisgesin as ons in Jesus glo (Joh. 1:12, Gal. 3:26, 4:5, Ef. 1:5). Dit het ’n prys gekos. In die Ou Testament het ouers vyf sikkels silwer betaal om hulle eersgeborenes los te koop (Num. 18:15-16). In die Nuwe Testament betaal Jesus nie met goud, of silwer om sy Eersgebore regte met ons te deel nie (1Pet. 1:18). Hy betaal met sy bloed, sodat ons mede-erfgename van God en sy Koninkryk kan word (Matt. 25:34, Rom. 8:17, 1Pet. 1:19). Om dit reg te kry, het Hy arm geword, sodat ons deur sy armoede ryk kan word (2Kor. 8:9). Hy het sy hemelse rykdom verlaat om mens te word. Hy is nie as ’n ryk mens in ’n paleis gebore nie, maar het ’n arm man en vrou gekies om sy ouers te wees. Hulle kon nie eers die voorgeskrewe lam bekostig om dit saam met die duif te offer nie, maar hulle het twee duiwe geoffer (v.24, Lev. 12:8).

Jesus het deur sy lewe arm gebly. Hy het nie sy eie huis gehad nie (Luk. 9:58). Hy moes alles leen: ’n boot, ’n donkie, ’n muntstuk, ’n bovertrek, en ’n graf (Matt. 22:19, 27:59-60, Mark. 11:1-6, 14:13-15, Luk. 5:3). Toe Hy aan die kruis sterf, het Hy nie eers klere gehad nie (Joh. 19:23-24). Maar nou besit Hy alles en bied Hy jou ’n skat wat groter is as enigiets wat die wêreld jou kan bied (Ef. 2:7, 3:8). Hy bied jou nie rykdom wat vergaan nie, maar ’n skat wat vir ewig duur (Matt. 6:19-20, 19:21).

Dit is nie net vir die rykes bedoel nie, maar vir almal. Dalk is dit juis vir die armes, omdat die meeste ryk mense dink hulle het alles en benodig nie Jesus se rykdom nie. As hulle maar net geweet het, sou hulle nie twee keer dink om alles prys te gee om Jesus te kry nie (Matt. 13:44). Dit is hartseer dat die meeste van hulle dit nie doen nie, maar dat hulle soos iemand is wat aan sy goud vasklou, terwyl die skip besig is om te sink (Luk. 12:16-20, 18:18-25).

2. Vir Simeon (v.25-28)

Hennie se oupa is dood toe hy sewe is. Voor sy oupa dood is, het hy R750 000 vir Hennie belê. Hy kan egter eers die geld kry as hy 30 is. Kan jy jou indink hoe Hennie sal voel as hy uiteindelik 30 word en die erfgeld kry? Dit is seker hoe Simeon en die getroue Israeliete gevoel het, nadat hulle die Messias vir eeue verwag het (v.25).

Wie was Simeon? Buiten vir die verse voor ons, weet ons niks van hom nie. Hy is net belangrik as gevolg van sy verbintenis met Jesus. Die les is dat ons lewens nie veel tel sonder Jesus nie. As jy sonder Jesus doodgaan, sal jy dit agterkom. Is dit dan nie beter dat jy soos Simeon is: onbekend en onbelangrik, maar opreg en toegewy aan Jesus (v.25)? Hoe word ’n mens so? Jy maak soos Simeon wat vir die Trooster gewag het om Israel te herstel en te verlos (v.25, 38, Jes. 40:1-2). Omdat hy op die Messias fokus het, was die Heilige Gees aanhoudend op hom (Gk.) en het sy begeerte na die Messias brandend gebly (v.25, Joh. 16:14).

Die Gees het hom ook gewys dat hy nie sou sterf voor hy God se Gesalfde—die Messias, of Christus—gesien het nie (v.26). Op ’n dag toe lei die Heilige Gees hom tempel toe om die Messias te ontmoet (v.27). Hy het daar aangekom toe Josef en Maria met Jesus daar was om te doen wat die wet vereis (v.27). God het hom die begeerte van sy hart gegee toe hy die Messias in sy arms vat en God prys (v.28).

Hoe lyk jou persoonlike toewyding langs Simeon s’n? Sy toewyding was sigbaar in sy begeerte na die Messias. Is dit waar van jou? Sug jy as jy Hom nie naby voel in jou stiltetyd nie? Sug jy as jy teen Hom gesondig het? Sug jy, omdat jy meer tyd aan Hom wil wy, maar dit nie doen nie? Sal jy enigiets opsy skuif om sy Woord te hoor, saam met ander gelowiges te wees, tot Hom te bid, en sy lof te besing? Sug jy, omdat jy by Hom in die hemel wil wees? Sug jy, omdat jy wil hê Hy moet weer kom?

Daar is genoeg mense wat sug, omdat die wêreld sleg is en hulle nie meer hier wil wees nie. Party van hulle neem selfs hulle eie lewens. Ander sug, omdat hul oud is en die lewe nie meer lekker is nie. Ander sug, omdat hulle deur beproewings gaan. En tog het baie van hulle nie ’n begeerte na Jesus nie. Wat van jou? Is Jesus vir jou wat Hy vir Simeon was? Sug en verlang jy na Hom soos wat ’n jong bruid na haar bruidegom verlang? Wys jou toewyding aan Jesus dat Hy die begeerte van jou hart is?

3. Vir die wêreld (v.29-35)

In die Bybel het die woord ‘wêreld’ meer as een betekenis. Soms verwys dit na die planeet. Maar dit verwys ook na mense uit alle nasies, of na die bose sisteem wat teen God is. In v.29-35 gebruik Simeon die tweede definisie, naamlik dat die Messias gekom het om die nasies te red. Dit het hom bly gemaak, alhoewel hy nie daar sou wees om dit te sien nie. Die Gees het immers aan hom bekend gemaak dat hy eers sou sterf as hy die Messias gesien het (v.26, 29). En tog was hy nie bang om te sterf nie, maar vol vrede, omdat hy sopas God se verlossing in sy arms gehou het; die Baba wat God in Maria se baarmoeder voorberei het om die Verlosser te wees (v.29-30, 3:6, Jes. 52:10, Matt. 1:21).

Wil jy soos Simeon in vrede sterf? Maak dan seker dat Jesus jóú Verlosser is. Bid dit ook vir ander—nie net vir jou familie nie, maar vir die EFF, die Moslems en die Jode. Jesus het gekom as ’n lig vir alle nasies om God se heerlikheid aan hulle te openbaar (v.31-32, Ps. 98:2, Jes. 42:6, 49:6, Luk. 24:47, Joh. 1:4-5, 9, 14, 8:12, Hand. 26:23, 2Kor. 3:18, 4:6).

Dalk sê jy: ‘Hierdie verlossing is nie vir Julius Malema en die EFF nie. Ek weier om vir hulle te bid. Ek sal die evangelie van hulle terughou, sodat hulle kan hel toe gaan.’ As die Here dit met jóú moes doen, was jy saam met hulle in die hel. Bekeer jou daarom van jou verkeerde gesindheid en bid vir jou vyande se redding soos Jesus vir jou gebid het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34).

Verwonder jou oor sy genade en oor wie Hy is. Dit is wat sy ma en stiefpa gedoen het (v.33, 19). As jy dieselfde doen, sal die Here jou seën soos Simeon Jesus se ouers geseën het (v.34, Ef. 1:3). Hierdie seën is nie vir almal bedoel nie, maar vir dié wat gebroke voor Hom neerval en erken dat hulle sondaars is. Hy sal hulle uit die graf van hulle sonde opwek en saam Hom in die hemel laat sit (v.34, Ef. 2:5-6).

Baie neem aanstoot oor Jesus. Volgens hulle het hulle nie ’n kruk nodig om in die hemel te kom nie. In hulle oë benodig hulle nie ’n gekruisigde Messias om hulle te red nie (v.34, 1Kor. 1:23). Hulle is tevrede met leiers soos Mohammed, Boeddha, Ghandi, moeder Theresa, die Pous, en die Dalai Lama wat sê dat jy jouself kan red. Hulle haat egter vir Jesus wat sê dat Hy die enigste Een is wat ons kan red en dat ons sonder Hom verlore is. Om dieselfde rede haat en vloek hulle sý Naam in films en los hulle die ander godsdienste uit. Hulle is nie veel gepla oor Baba Jesus in die krip nie. Maar Hy moenie groot word en radikale dinge sê nie:

  • “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (Matt. 5:48).
  • “Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” (Matt. 19:9).
  • “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Luk. 9:23).
  • “...vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!” (Luk. 12:5).
  • “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” (Luk. 14:26).
  • “...verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My.” (Luk. 18:22).
  • “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh. 6:44).
  • “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6).

Mense soek nie hierdie Jesus nie. Hulle soek nie ’n Jesus wat algehele lojaliteit vereis nie. Hulle soek nie ’n Jesus wat gesinne en gemeenskappe verdeel, omdat party van hulle in Hom glo en ander nie (v.34, Luk. 12:51-53, Joh. 7:12, 40-52, 9:16, 10:19-21). Dít is die Jesus oor wie hulle struikel (v.34, Jes. 8:14, Matt. 21:44, 1Kor. 1:23-24, 2Kor. 2:16, 1Pet. 2:6-9).

Hoe voel jý oor Hom? Jou reaksie teen Hom sal wys wie jy regtig is (v.35). Niemand staan neutraal voor die Jesus van die Bybel nie. As jy Hom nie liefhet, gehoorsaam, dien, en volg nie, dan staan jy aan die kant van dié wat Hom ignoreer, verwerp, en haat.

Wie is Hy vir jóú? Voel jy pyn as mense Hom vloek, of die koue skouer gee? Voel jy soos Maria gevoel het toe hulle vir Jesus kruisig: asof iemand ’n swaard deur jou siel dryf (v.35, Joh. 19:25)?

4. Vir Anna (v.36-38)

Elke toegewyde Christen gaan voluit solank as wat sy gesondheid dit toelaat. Ek dink byvoorbeeld aan John MacArthur wat 81 is en die Here met alles in hom dien. As so iemand siek raak, dien hy nóg die Here deur bemoediging, lofprysing en gebed. Ek dink hier aan ene Errol Hulse wat op sy siekbed elke dag ure in gebed spandeer het en ander gelowiges bemoedig het.

Ongelukkig is almal nie so nie. Party gelowiges verslap geestelik wanneer hulle naby die einde kom. Dit is hartseer, veral in die lig daarvan dat Jesus tot die einde toe volhard het om húlle te red. Wees dan soos Anna wat die Here nog op haar oudag met toewyding gedien het. Sy was ’n profetes, die dogter van Fanuel uit die stam van Aser (v.36, 2Kron. 30:11). Sy was reeds 84, of dalk al vir 84 jaar ’n weduwee (Gk.), nadat sy eers vir sewe jaar getroud was (v.36-37). Dag en nag het sy in die tempel gevas en gebid met ’n begeerte dat God die Messias sou stuur (v.37, 1Tim. 5:5). Die Here het haar gebed verhoor: sy het die Messias gesien voordat sy dood is (v.38). Sy was so vol blydskap dat sy dié wat God se verlossing verwag het, vertel het dat die Messias gekom het (v.38, Jes. 25:9, Mark. 15:43).

Is Jesus vir jóú wat Hy vir Anna was? Begeer jy sy wederkoms soos sy die Messias se eerste koms begeer het? Indien wel, wil ek jou uitdaag om Hom te dien soos sý dit gedoen het. Ek weet dat almal nie gesond is as hulle oud word nie, maar as jy by die gelowiges kan wees, doen dit. Moenie wegbly nie. God se bome groei, word oud, en dra goeie vrug as hulle in sy huis is (Ps. 92:13-15).

Vir dié van julle wat bejaarde ouers het: onthou asseblief dat hulle in baie gevalle van jou afhanklik is om by die kerk te kom. Net soos die Here van hulle verwag het om jou na Hom toe te bring toe jy jonger was (Luk. 18:16), moet jy húlle nie verhinder om te groei nie. Vir dié van julle wat jonk is: volg die oues se voorbeeld as hulle die Here met toewyding dien. Ou mense: gee die pas aan vir die jonges en wys hulle hoe mens die goeie stryd stry, die geloof behou, en die wedloop voleindig (2Tim. 4:7). Doen dit, sodat hulle nie net sien wie Jesus vir jóú is nie, maar ook wie Hy vir húlle kan wees.

As elke ou mens in die gemeente dit doen, sal ons kinders, kleinkinders, en ’n jonger geslag hê wat die Here met toewyding dien soos Josef, Dawid, Josia, Daniël, sy drie vriende, Maria, Timoteus, en Charles Spurgeon dit gedoen het. En wat ’n verskil sal dit nie in die samelewing maak as ou mense die Here met hulle wysheid dien, terwyl die jong mense dit met hulle ywer doen nie?

Kategorieë