Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 December 2017

Wie is hierdie baba in die krip?

Baby in manger

Twee maande gelede het ‘n Jehova’s Getuie vir my gesê:  ‘Nêrens in die Bybel het Jesus gesê dat Hy God is nie.’  Omtrent 5 jaar gelede het ‘n Jehova’s Getuie vir my gesê dat Jesus die Seun van God is, maar nie God nie.

 

Volgens my Moslem haarkapper is Jesus uit ‘n maagd gebore, het Hy wonderwerke gedoen, sal Hy na die aarde toe terugkeer, maar is Hy net ‘n belangrike profeet en nie God nie.  Tydens ‘n vergadering oor die nuwe Afrikaanse Bybel het ek langs ‘n liberale teoloog gesit.  Hy het gesê dat Jesus nie die God van die Ou Testament is nie.

 

‘n Sionis (ZCC) het vir my gesê dat Jesus nie die enigste weg na God toe is nie.  ‘n Katoliek het dit ook vir my gesê.  Volgens TV predikers soos Kenneth Copeland en Benny Hinn is Jesus ‘n geestelike Kersvader wat bestaan om ons gelukkig te maak.

 

In 2003 het Dan Brown gesê dat Jesus met Maria Magdalena getrou het, en dat hulle in Indië gaan woon het.  ‘n Oud predikant het in ‘n tydskrif artikel gesê dat Jesus so mitologies soos die tandemuis is, en dat Hy nie bestaan het nie.

 

‘n Seuntjie in Australië het vir sy ouers gesê dat godsdienstige mense by sy skool kom praat het.  ‘Wat het hulle gesê?’ wou die ouers weet.  ‘Hulle het gevloek,’ het hy geantwoord.  Al wat hy van Jesus geweet het, is dat dit ‘n vloekwoord is.

 

Toe ek studeer het, het ons ‘n video oor die Mormone gekyk.  Hulle glo dat Jesus en Satan eens op ‘n tyd geestelike broers was.  Talle van hulle glo ook dat Jesus uit ‘n seksuele verhouding tussen God die Vader en Maria gebore is.

 

Vir die Hindoes is Jesus een van baie gode; vir Boeddhiste is Hy ‘n wyse leermeester.  Volgens die Jode is Hy ‘n vals Messias.  Ek het ‘n DVD gekyk waarin liberale professors sy maagdelike geboorte en opstanding ontken het.  Ateïste glo dieselfde.

 

C.S. Lewis het die volgende oor mense se verdraaide idees van Jesus gesê:  ‘...people often say...“I’m ready to accept Jesus as a great moral teacher, but I don’t accept His claim to be God.”  That is the one thing we must not say.  A man who was merely a man and said the sort of things Jesus said would not a be a great moral teacher.  He would either be a lunatic - on a level with the man who says he is a poached egg - or else he would be the Devil of Hell.

 

‘You must make your choice.  Either this man was, and is, the Son of God:  or else a madman or something worse.  You can shut Him up for a fool, you can spit at Him and kill Him as a demon; or you can fall at His feet and call Him Lord and God.  But let us not come with any patronising nonsense about His being a great human teacher.  He has not left that open to us.  He did not intend to.’[1]

 

Christene het nog altyd geglo dat Jesus volkome God en volkome mens is.  Sy Goddelike natuur is nie mens nie, en sy menslike natuur is nie God nie.  Hy het twee nature, maar is een Persoon.  Iemand wat dit verwerp is nie ‘n Christen nie.  In Joh. 8:24 het Jesus vir die Jode gesê:  “as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” (Nuwe Vertaling, vgl. Eks. 3:14).  In 1Joh. 4:3 lees ons:  “elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie”.

 

Jesus se twee nature in een Persoon beteken dat die titel van John MacArthur se boek reg is wanneer hy Jesus as ‘God in a Manger’ beskryf.  Heb. 1:6 bevestig dat die baba in die krip die ewige God is, en dat Hy ons en die engele se aanbidding verdien.  Kom ons bekyk hierdie vers van nader.

 

Jesus se Persoon

Iemand het eenkeer vir my sussie gesê om Johannes Evangelie te lees en te sien dat Jesus nie God is nie.  Maar Johannes wil juis die teendeel bewys, naamlik dat Jesus volkome God is.  Die Hebreër skrywer doen dieselfde.  Reeds in die eerste hoofstuk sê Hy oor Jesus:

 

[1] Hy is die finale Profeet deur wie God gespreek het (v.1).  Noudat die Nuwe Testament voltooi is, soek ons nie meer profete, drome en visioene om ons te lei nie.  Wat Jesus vir ons wou sê het Hy in die Bybel laat opteken.

 

[2] God het die wêreld deur Hom geskep (v.2, Joh. 1:1-3, Kol. 1:16-17).  Omdat Hy dan die Skepper is, kan Hy nie ook ‘n skepsel wees soos die Jehova’s Getuies sê nie.  Volgens Rom. 1:25 is daar net twee kategorieë:  Skepper en skepsel.  Jesus is die Skepper, en daarom moet ons Hom aanbid.

 

[3] Hy is die Erfgenaam van alle dinge (v.2).  In Hom behoort alles ook aan ons (Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23).  Moet dan nie vir TBN se predikers en die wêreld luister, en aardse rykdom najaag nie.  Werk vir skatte in die hemel.  Gaar dit op deur vir die armes en sendelinge te gee (Luk. 12:33, Fil. 4:17).

 

[4] Hy is die helder glans van God se heerlikheid (v.3, vgl. Jes. 48:11, Joh. 17:5).  Sonde en die duiwel keer dat jy hierdie heerlikheid sien, en maak dat Jesus vervelig voorkom (Rom. 3:23, 2Kor. 4:4).  Maar as die Here jou oë oopgemaak het om sy heerlikheid te sien, sal jy nie anders kan as om Hom te bewonder en soos Hy te wil wees nie (2Kor. 3:18, 4:6, 1Pet. 1:8).

 

Eendag sal jy sy heerlikheid sien.  Dit sal helderder as ‘n hele week se sonskyn wees (Jes. 24:23, 30:26).  Wanneer jy dit sien sal jou blydskap dieper en wyer as die Stille- en Atlantiese Oseaan wees (Joh. 17:24, 2Tess. 1:10).

 

[5] Hy is die spieëlbeeld van God (v.3, Kol. 1:15).  Wil jy weet hoe Jesus is?  Kyk na die Vader.  Wil jy weet hoe die Vader is?  Kyk na Jesus.  Moet hulle asb. nie teen mekaar afspeel nie.  “Ek en die Vader is een ... Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (Joh. 10:30, 14:9).  Jesus is so heilig soos die Vader, en die Vader is so liefdevol soos Jesus.  Dit tel ook vir die Heilige Gees.

 

[6] Hy hou die heelal in stand deur die Woord van sy krag (v.3, vgl. Kol. 1:17).  Hy beveel die aarde om op niks te hang (Job 26:7).  Alle dinge is sy diensknegte (Ps. 119:90-91, 148:8, Jona 1:17, 2:10, 4:6-8).  Hy sal sorg dat die wêreld nie deur globale verhitting of ‘n vloed vergaan nie.  Hy sal ook sê wanneer dit in die Wes-Kaap moet reën.  Dus moet ons Hom in gebed vertrou.

 

[7] Hy reinig ons van sonde (v.3).  Volgens Ps. 49:8-10, 16 en Mark. 2:7, 10 kan geen mens dit doen nie; net die Here kan.  Dit bewys weereens dat Jesus God is.  Het jy al gedink dat Hy nie jóú sonde kan wegvat nie, omdat dit te groot is en jy te veel gesondig het?

 

‘n Moordenaar in die tronk het so gedink.  Toe die Christen hom vra of hy al van Jesus gehoor het, het hy ‘ja’ geantwoord.  ‘Weet jy wat Hy gedoen het?’ het die Christen gevra.  ‘Hy het vir sondaars aan die kruis gesterf,’ het die moordenaar geantwoord.  ‘En volgens jou het Hy ‘n groot gemors gemaak,’ het die Christen gesê.

 

‘Nee, ek sê dit nie,’ het die moordenaar vies geantwoord.  ‘Ja, jy sê dit.  Na jou mening kan Hy jou nie vergewe nie.  Hy het m.a.w. net vir klein sondes gesterf, en nie vir groot sondes soos moord nie.’  Die man het begin huil:  ‘Bedoel jy Hy kan my vergewe vir die moord wat ek gepleeg het?’  ‘Hy kan verseker,’ het die Christen geantwoord.  Die moordenaar kon dit nie glo nie, en het na ‘n tydperk tot bekering gekom.  Hy dien vandag nog die Here.

 

Kan Jesus jou van jou sonde reinig?  “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde...As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1Joh. 1:7, 9).

 

[8] Hy is die Koning en Here van Ps. 110:1 wat aan die regterhand van God sit (v.3).  Hy is besig om vir jou te bid en sal nie ophou nie (Rom. 8:34, Heb. 7:25).  Hy sit ook as Koning om jou teen jou vyande te beskerm.  Pla jou sonde, die duiwel of die wêreld jou?  Sê vir die Here.

 

[9] Hy is verhewe bo die engele (v.4).  Sy Naam - die openbaring van wie en wat Hy is - is voortrefliker as hulle s’n (v.4).  Hy is van ewigheid af die unieke Seun van God; kan ons dit van enige engel sê (v.5)?  Die engele moet Hom aanbid (v.6).  Hy sit as God op die troon; die engele is maar net diensknegte (v.7-8).

 

Hy is die Here wat alles gemaak het (v.10).  Hy het ook die engele gemaak (Kol. 1:16).  Hy is nie soos die engele wat ‘n begin het nie, maar is ewig (v.10-12).  Die ereplek langs die Vader is syne; geen engel het hierdie voorreg nie (v.13).

 

Alhoewel jy ‘n bietjie minder as die engele is, sal jy a.g.v. jou eenheid met Christus eendag bo hulle wees (Ps. 8, Heb. 2).  Die engele is nie so naby aan Jesus soos jy nie.  Hy het nie ‘n engel geword nie, maar ‘n mens.  Die engele ken nie die vreugde van verlossing soos jy nie (Heb. 2:16, 1Pet. 1:12).  Hulle is Christus se dienaars; jy is sy kind, bruid, liggaam, broer en vriend (Joh. 15:15, Ef. 1:22-23, 5:25, Heb. 2:12-13, 1Joh. 3:1).  Jy het die Gees van Christus in jou, en daarom is Hy nader aan jou as wat jy aan jouself is.  Besef jy hoe bevoorreg jy is?

 

Jesus se posisie

Toe ons kinders klein was het ons eenkeer in Warmbad (Bela-Bela) gaan vakansie hou.  Daar het ek ‘n Jehova’s Getuie raakgeloop.  Volgens hom het Jesus se posisie as die Eersgeborene bewys dat Hy geskep is (voor enigiets of iemand anders), en dat Hy nie God is nie.

 

Maar Jesus se posisie as die Eersgeborene (Heb. 1:6, Rom. 8:29) beteken nie dat Hy eerste geskep of gebore is nie.  Dit beteken eerder dat Hy die Erfgenaam is:  Hy is die belangrikste (1Kron. 5:1-2, Ps. 89:28).  Omdat Hy alles gemaak het is Hy ook die Eersgebore Erfgenaam van alles (v.2, 6, Kol. 1:15-16).

 

Omtrent 2000 jaar gelede het Jesus Maria se Eersgeborene geword (Luk. 2:7), maar Hy is nog altyd die Eersgeborene van God (Heb. 1:6).  Joh. 3:16 noem Hom die Eniggebore Seun van God.  Daar is niemand soos Hy nie; Hy is uniek [Gk. monogenēs].  Die engele is seuns van God deur skepping (Job 1:6, 38:7); ons is dit deur verlossing (Gal. 3:26, Ef. 1:5, Op. 21:7).

 

Maar met Jesus is dit anders.  Sy maagdelike geboorte, wonderwerke, doop, verheerliking en opstanding het Hom nie die Seun van God gemaak nie, maar dit bevestig (Matt. 3:16-17, Luk. 1:35, Joh. 10:36, 38, Rom. 1:4, 2Pet. 1:17).  Hy was nog altyd die een-van-‘n-soort Seun van God; niemand is soos Hy nie.  Hy is die Heilige van God, en daarom in ‘n klas van sy eie.  Niks in die skepping kan met Hom vergelyk nie.

 

Wat John Piper van die Vader sê, geld ook vir die Seun:  ‘God is holy in His absolute uniqueness.  Everything else belongs to a class.  We are human; Rover is a dog; the oak is a tree; Earth is a planet; the Milky Way is one of a billion galaxies; Gabriel is an angel; Satan is a demon.  But only God is God.  And therefore He is holy, utterly different, distinct, unique.’[2]

 

Jesus is nie die aartsengel Migael soos wat die Jehova’s Getuies glo nie.  Hy is nie maar net ‘n supermens nie, en daarom kan ons Hom nie met fiktiewe karakters soos Superman vergelyk nie.  Hy is meer as net ‘n goeie profeet.  Ons moet Hom nie in dieselfde asem as Boeddha of Mohammed noem nie (bv. Hos. 2:15-16).  Hy is nie ‘n sub-god nie, maar is gelyk met die Vader (Joh. 5:17-18).  Alles wat die Vader is is Hy ook, en alles wat die Vader doen kan Hy doen (dit geld ook vir die Heilige Gees).

 

  • Die Vader is God en die Seun ook (1Kor. 8:6, Joh. 20:28, Kol. 2:9).
  • Die Vader is Here en die Seun ook (Ps. 110:1, Matt. 22:41-45, 1Kor. 2:8, Fil. 2:11).
  • Die Vader is Skepper en die Seun ook ( 1:1, Ps. 96:5, Jer. 10:11-12, Kol. 1:16).
  • Die Vader is die Rots en die Seun ook (Dt.32:4, 1 Kor.10:4).
  • Die Vader is Koning en die Seun ook ( 47:8, Op. 19:16).
  • Die Vader is die Verlosser en die Seun ook (Jes. 43:11, Luk. 2:11).
  • Die Vader is die Eerste en die Laaste en die Seun ook (Jes. 44:6, 48:12, Op. 1:17, 2:8).
  • Die Vader is die Alfa en die Omega en die Seun ook (Op. 1:8, 22:13).
  • Die Vader is die Herder en die Seun ook (Ps. 23, Joh. 10).
  • Die Vader is almagtig en die Seun ook (Matt. 19:26, 8:27, Joh. 5:19, 21).
  • Die Vader moet aanbid word en die Seun ook (Joh. 4:23, 5:23, Heb. 1:6).
  • Die Vader het lewe in Homself en die Seun ook (Joh. 5:26).
  • Die Vader is ewig en die Seun ook (Ps. 90:2, Joh. 8:58, Gk.).
  • Die Vader weet alles en die Seun ook (Matt. 6:8, Joh. 16:30).
  • Die Vader is alomteenwoordig en die Seun ook (Jer. 23:24, Matt. 18:20).
  • Die Vader is onveranderlik en die Seun ook (Jak. 1:17, Heb. 13:8).
  • Die Vader is heilig en die Seun ook (Ps. 99:9, Luk. 1:35).
  • Die Vader kan sonde vergewe en die Seun ook (Matt. 6:14, Mark. 2:5-12).

 

Jou eerste reaksie hierop moet wees om nooit (weer?) te twyfel dat die baba in die krip volkome God is nie, maar om saam met gelowiges uit die 4de eeu te bely:  ‘...[Ons glo] in een Here Jesus Christus, die Eniggebore Seun van God.  Hy is voor al die eeue uit die Vader verwek.  Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God.  Hy is verwek, nie gemaak nie.  Hy is een in wese met die Vader...’[3]

 

Tweedens moet jy Hom saam met die engele, wyse manne, blinde man, dissipels, vroue en die ganse skepping aanbid (v.6, Matt. 2:11, 14:33, 28:9, 17, Luk. 2:13-14, 24:52, Joh. 9:38, Op. 5:11-14).  Maak tyd om Hom in jou stiltetyd en saam met ander gelowiges te aanbid.  Bely jou sonde as jy afvallig geraak het.  Vra die Heilige Gees om jou te help om weer vurig en getrou te wees in jou aanbidding.

 

Derdens en laastens moet jy rotsvas staan wanneer vals leraars jou oor Jesus wil verwar.  Moenie soos die Korintiërs in ‘n ander Jesus glo nie (2Kor. 11:4).  Die Jesus van die Bybel is volkome God en volkome mens, twee nature in een Persoon.  Maak seker dat jy Hom nie net in jou kop ken nie, maar dat jy deur die Woord, gebed en die kerk in ‘n persoonlike verhouding met Hom lewe.

 

Aanbid die baba in die krip, maar moenie daar stop nie.  Jy kan nie een keer per jaar Jesus se geboorte herdenk, en dink dis genoeg nie.  Dink aan sy begrafnis en opstanding wanneer iemand gedoop word.  Dank Hom vir sy vergifnis wanneer jy die nagmaal gebruik.  Geniet sy lewe in jou wanneer jy by ander gelowiges is, die Woord hoor, bid en sien hoe Hy jou gebede beantwoord.  Prys Hom dat Hy jou oë oopgemaak het om meer as net ‘n baba in ‘n krip te sien.

 

[1] C.S. Lewis, Mere Christianity, HarperCollinsPublishers, London: England, 1942, 1943, 1944, p. 52

[2] John Piper, Brothers, We Are NOT Professionals, Broadman & Holman Publishers, Nashville: Tennessee, 2002, p. 12

[3] Vry vertaal uit Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1994, 2000, 2007, p.1169

Kategorieë