Toe John Paton op Tanna was, het drie van die eiland se Heilige Manne gesê dat hulle nie in sy God glo of sy hulp nodig het nie. ‘Ons het mag oor lewe en dood, siekte en gesondheid, droogte en reën. As ons ‘n stukkie kos kan kry wat jy geëet het, kan ons jou deur towery doodmaak,’ het hulle gesê. Hy het drie pruime gevra van die vrou wat langs hom gestaan het. Hy het ‘n hap uit elke pruim gevat, dit vir die Heilige Manne gegee, en voor almal gesê dat hulle hom deur towery moes probeer doodmaak. ‘I deny that they have any power against me, or against any one, by their Sorcery,’ het hy gesê.
Die inboorlinge het weggehardloop. Paton het bly staan om hulle bygelowige rituele dop te hou. Soos wat hulle aangegaan het, het Paton uitgeroep: ‘Be quick! Stir up your gods to help you! I am not killed yet; I am perfectly well!’ Toe hulle na ‘n lang tyd niks kon regkry nie, het hulle gesê dat hulle al hulle Heilige Manne nodig het, en dat hulle hom teen die volgende Sondag deur hulle towery sou doodmaak. Paton het ingestem. Die volgende Sondag het hy in perfekte gesondheid na hulle toe gekom. Die Heilige Manne het erken dat hulle hom nie deur hulle towery kon doodmaak nie, maar het gesê dat hy ook ‘n Heilige Man was, en dat sy God sterker was as hulle gode. Paton het die geleentheid gebruik om vir hulle te sê dat syne die ware en lewende God is, en dat Hy die gebede hoor van almal wat Hom dien en liefhet.[1]
Is dit nie die les van die tien plae (Eksodus 7-12) nie: Jahwe is die ware God?
Die eerste plaag: Bloed (7:14-25)
Op 16 Desember 1838 het 464 Voortrekkers, gelei deur Andries Pretorius, 3000 Zoeloes by die Ncomerivier in Natal, doodgemaak. Geen boere is dood nie. Die Zoeloes se bloed het die water rooi gevlek, sodat die plek bekend geraak het as Bloedrivier.
In Moses se tyd het die Nylrivier rooi geword, maar dit was nie deur mense se bloed nie (soos wat die nuwe Exodus film valslik uitbeeld). God het die rivier in bloed verander om te wys dat Hy vir Farao, die Egiptenare, en hulle gode sou doodmaak. Hulle het die bloed van God se volk vergiet (1:22), en daarom sou Hy húlle bloed vergiet.
Moses het die staf in sy hand geneem om die verharde koning by die rivierwal te ontmoet. Hy was seker daar om vir Hapi, die Nyl-god, te aanbid. Dis nie per toeval dat Moses hom by die Nyl moes ontmoet nie. God het dit so beplan, sodat Farao kon sien hoe sy ‘god’ in bloed verander. Die Egiptenare het geglo dat Hapi die bron van alle lewe was. Vir hulle was die god Khnum die beskermer van die Nyl. In hulle gedagtes was die Nylrivier Osiris se bloed en are. God het die Nyl in bloed verander en so gewys dat hierdie gode geen mag teen Hom het nie. Die vis – ‘n hoof voedselbron in Egipte – sou doodgaan en stink (is daar iets wat so sleg ruik soos vrot vis!?). Dit sou vlieë lok en siektes veroorsaak. Hathor en Neith was veronderstel om die vis te beskerm, maar kon nie voor Jahwe se mag stand hou nie. Die Egiptenare sou nie die water kon drink nie. Selfs die water in die klip en hout kruike sou in bloed verander. Dit bewys vir ons dat dit regte bloed was, en nie maar net alge of rooi modder wat gemaak het dat die rivier soos bloed lyk nie.
Moses het die wonderwerk voor Farao en sy diensknegte gedoen. Almal moes weet dat Gód hierdie wonderwerk gedoen het. Die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen. Maar as hulle regtig so magtig was, hoekom het hulle die probleem vererger en nie weggevat nie? Waar het hulle buitendien water gekry as Moses reeds al die water in bloed verander het? Die koning se hart is verhard. Hy het ‘n veer gevoel en in sy paleis ingestap. Die Egiptenare het langs die rivier gegrawe om ondergrondse water te soek. Indien die water nie regtig bloed was nie, maar net deur rooi alge of modder gekleur was, kon die Egiptenare met kruike water geskep het, en gewag het tot die modder na onder sak. Dis duidelik dat die water regtig in bloed verander het. Hulle het vir sewe dae nie water gehad nie. Kan jy jou indink hoe dit moes voel in die warm Egiptiese son?
Sien die goedheid en strengheid van God raak in hierdie rivier van bloed. Die ware God sal geregtigheid laat geskied en verligting bring vir sy kinders wat doodgemaak word deur Moslems, Kommuniste, en ander. Hulle wat die bloed van sy kinders vergiet se bloed sal vergiet word. In die boek Openbaring lees ons die volgende:
- “En hulle [die martelare] het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (6:10).
- “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.” (17:6).
- “hulle [die twee olyfbome] het mag oor die waters, om dit in bloed te verander” (11:6).
- “En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.” (16:4-6).
Dalk maak jy nie Christene dood nie, maar as jy teen Jesus rebelleer sal Hy jou bloed vergiet. Weer sê Openbaring:
- “En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver.” (14:20).
- “En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God... En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.” (19:13, 15).
Laat die bebloede Nylrivier jou waarsku om nie te rebelleer en jou hart te verhard nie. Bekeer jou. Vertrou op Hom wie se bloed soos ‘n rivier gestroom het aan die kruis, sodat jou bloed nie hoef te vloei nie. As jy die waarskuwing van jou gewete ignoreer, sal God jou hart verhard, sodat jy geen kans meer het om jou te bekeer nie.
Die tweede plaag: Paddas (8:1-15)
In Nelspruit het ek by ‘n oom gekuier. Hy het vir my gesê: ‘As ‘n padda by daardie deur inkom en ‘n slang by die ander een, dan hardloop ek verby die slang om weg te kom van die padda.’ Nie almal is só bang vir paddas nie, maar baie mense is bang vir hulle en deel die oom se sentiment.
Vir ‘n volk wat bygelowig was oor paddas, moes ‘n plaag van paddas baie erg gewees het. Dink net daaraan: slymerige paddas in jou bed, oond, klere, en kosbakke. Die paddas het seker in die riete en modder geskuil toe die Nyl in bloed verander het. Nou was hulle oral. Dit moes aaklig wees om op paddas te trap of deur party soorte paddas gebyt te word (brulpaddas kan byt). Deur hulle toorkunste het die towenaars dieselfde gedoen, maar weereens het hulle net die probleem vererger, en kon hulle nie die plaag wegvat nie. Farao het belowe om Israel te laat gaan indien Moses vir God sou vra om die paddas weg te vat. Toe Moses vir hom ‘n tyd vra, toe sê hy: ‘Môre.’ Hy het in sy hart gehoop dat die paddas intussen self sou weggaan. Die godin Heqt, die vrou van Khnum, was veronderstel om die paddas onder beheer te hou. Maar sy kon nie teen Jahwe staan nie. “Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie.” (Psalm 86:8).
God het Moses se gebed verhoor en die volgende oggend al die paddas wat op die land was doodgemaak. Net die paddas wat in die rivier was, het oorgebly. Wat is erger: ‘n lewende padda of ‘n dooie een in jou bed en kos bakke? Die Egiptenare het die paddas in hope versamel. Die land het gestink. Dit het seker swerms vlieë gelok. Toe Farao sien dat die plaag weg was, het hy sy hart verhard en sy belofte gebreek. Hy het nie die volk laat gaan nie. God het dit so bewerk, sodat Hy nog plae kon bring en sy Naam in die hele aarde kon verheerlik (9:16).
[1] Moenie die ware God en afgode aanbid nie. Die God wat kan skep, verlos, die toekoms voorspel, gebed beantwoord, praat, wonderwerke doen, ander gode oorwin, en Homself verdedig is die ware God. Aanbid Hóm. Die Skrif sê:
- “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” (Deuteronomium 6:4). Daar is net een God.
- “Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly? Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het? Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie... daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.” (Deuteronomium 4:33-35, 39). Die ware God praat met sy volk, oorwin die ander gode, doen wonderwerke, oordeel die nasies, en verlos sy volk.
- “Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.” (Jesaja 41:23). Die ware God kan die toekoms voorspel.
- “Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.” (Jesaja 43:11).
- “So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.... Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar ‘n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.” (Jesaja 44:6, 8).
- “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie” (Jesaja 45:5-6).
- “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God! —wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie. “ (Jesaja 45:18).
- “Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: ‘n regverdige en reddende God is daar buiten My nie. Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.” (Jesaja 45:21-22).
- “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).
- “Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy ‘n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.” (Rigters 6:31). Hoekom moet die Moslems vir Allah veg as iemand hom sleggesê het? As hy ‘n god is, kan hy mos vir homself veg, nie waar nie?
- “En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie... ...En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.” (1 Konings 18:26-29, 36-38).
- “Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit—Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.” (Jeremia 10:11-12).
[2] Moenie praat asof daar ander verlossers is wat gelyk is met Jesus nie. Hy is die enigste Verlosser (Johannes 14:6, Handelinge 4:12).
[3] Begrawe jou afgode (Genesis 35:2-4). Raak ontslae van dit wat vir jou belangriker geword het as Jesus: geld, besittings, seks, kos, familie, sport of watookal. Naas Hom moet jy geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2). Hoe lank sal jy aanhou om God en jou afgode te dien? Besluit wie jy wil dien (Josua 24:14-15, 1 Konings 18:21). Jy kan nie God en jou afgode dien nie; “want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag.” (Matteus 6:24).
In die vierde eeu na Christus het was daar ‘n biskop genaamd Arius. Hy het nie geglo dat Jesus volkome God is nie. Hy het voor keiser Konstantyn gekom en onder eed gelieg deur te sê dat hy nie aan enige vals leringe vashou nie; dat Alexander nie rede gehad het om hom uit die kerk uit te sit nie. Die keiser het vir hom gesê: ‘As dit wat jy glo ortodoks[2] is, het jy ‘n ware eed afgelê; maar as dit wat jy glo vals is en jy valslik gesweer het – mag die God van die hemel jou oordeel.’
Eusebius, die biskop van Nicomedia, wou met geweld vir Arius terugbring in die kerk in. Maar as gevolg van Arius se dwaling het Alexander geweier. Eusebius het gesê dat hulle die keiser se toestemming verkry het, en dat Arius die volgende dag in Alexander se gemeente aan die nagmaal sou deelneem. Alexander het in die kerk ingegaan en tot die Here uitgeroep:
‘Laat my sterf eerder as wat Arius môre in die kerk verwelkom gaan word… Sal U asseblief U kerk spaar en nie U erfenis aan verwoesting en skande oorlaat nie? Verwyder vir Arius, sodat hy en sy dwaling nie in die kerk sal inkom en onheiligheid later as heiligheid beskou word nie.’
In groot angs het Alexander by die kerk uitgestap. Arius het dwase toesprake voor verskeie mense gelewer. Skielik het hy dood neergeslaan. Niemand kon ontken dat Jesus die ware God is nie.[3]
[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, pp.140-142
[2] In ooreenstemming met die lering van die Bybel
[3] http://www.ccel.org/ccel/schaff/npnf203.iv.viii.i.xiv.html?highlight=athanasius,serapion#highlight