[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]
“...die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser” (Titus 3:5-6).
In die middeleeue het daar 'n skeuring in die kerk gekom as gevolg van 'n enkele byvoeging by 'n belangrike belydenisskrif. 'n Belydenisskrif uit die vierde eeu het gesê dat die Heilige Gees uit die Vader voortgaan. In die sesde eeu het die kerk in die weste die Latynse woord filioque bygevoeg. Dié Latynse woord beteken ‘en die Seun’. Met ander woorde, hulle het gesê dat die Heilige Gees nie net uit die Vader voortgaan nie, maar ook uit die Seun. Die woorde wat bygevoeg is, is heeltemal Bybels. Die Vader stort die Gees uit deur Christus (v.6). En Christus stort die Gees uit wat Hy van die Vader ontvang. Let op na die beskrywing van die Vader en die Seun wat die Gees gee in die volgende Skrifgedeeltes.
Die Seun: “En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.” (Johannes 1:33).
Die Vader en die Seun: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16).
Die Vader en die Seun: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:26). Die Vader gee die Gees in Jesus se Naam.
Die Vader en die Seun: “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” (Johannes 15:26).
Die Seun: “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur” (Johannes 16:7).
Die Vader en die Seun: “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” (Handelinge 2:33).
Daar is dan ook baie verse wat na die Heilige Gees verwys as die Gees van God, en ander verse wat praat van die Heilige Gees as die Gees van Jesus (sien Handelinge 16:6-7, Romeine 8:9, Filippense 1:19, 1 Petrus 1:11 vir laasgenoemde). As die Gees dan die Gees van God en die Gees van Jesus is, was die kerkvaders reg om te sê dat die Gees uit die Vader en die Seun voortgaan. Die implikasie hier is nie dat die Gees net ’n krag van God is nie. Die implikasie is glad nie dat die Heilige Gees minder God is as die Vader en die Seun nie. Die Heilige Gees is in alle opsigte gelyk met die Vader en die Seun. Hy is volkome God. En Hy is ’n Persoon in sy eie identiteit. Die feit dat ’n mens teen die Heilige Gees kan sondig wys dat Hy ’n Persoon is (Markus 3:29). Die Heilige Gees het intellek en kan ons leer (Johannes 14:26). ’n Krag kan nie iemand leer nie, en weereens bewys dit vir ons dat die Gees ’n Persoon is. Die Heilige Gees oortuig mense van sonde, geregtigheid, en oordeel (Johannes 16:8). Iets wat bloot ‘n krag is kan nie dit doen nie. 'n Mens kan vir die Heilige Gees lieg (Handelinge 5:3-4). Nóg 'n bewys dat Hy 'n Persoon is. Die feit dat die Gees weerstaan kan word wys Hy’s 'n Persoon (Handelinge 7:51). Hy kan vir ons intree by die Vader omdat Hy 'n Persoon is (Romeine 8:26-27). Hy het 'n wil, kan hartseer word, en kan afgesit word (1 Korintiërs 12:11, Efesiërs 4:30, 1 Tessalonisense 5:19). Al hierdie dinge wys mos dat Hy 'n Persoon is.
Dat die Heilige Gees God is word baie duidelik selfs met 'n oorsigtelike lees van die Bybel. Die feit dat Hy vir mense nuwe lewe kan gee (v.5) wys dit. Hy deel dieselfde Naam met die Vader en die Seun (Matteus.28:19). Saam met die Vader en die Seun gee Hy gawes aan die kerk (1 Korintiërs 12:4-6). Paulus plaas die Heilige Gees gelyk met die Vader en die Seun in sy bekende seëngroet in 2 Korintiërs 13:13. In Efesiërs 1:3-14 is die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun betrokke in ons verlossing. In 4:4-6 van dieselfde brief lees ons van die Vader, die Seun, en die Heilige Gees wat een is. Soos Paulus maak Petrus melding van die Heilige Gees wat saam met die Vader en die Seun betrokke is in ons verlossing (1 Petrus 1:2). Judas praat ook van die Heilige Gees op gelyke vlak met die Vader en die Seun (Judas 20-21). As jy vir die Heilige Gees lieg dan lieg jy vir God (Handelinge 5:3-4). Die Skrif sê ons is 'n tempel van God en 'n tempel van die Heilige Gees (1 Korintiërs 3:16-17, 6:19-20). Die gevolgtrekking is nie moeilik om te maak nie: om 'n tempel van God te wees IS om 'n tempel van die Heilige Gees te wees. Die Heilige Gees is God.
Die Heilige Gees is alomteenwoordig, alwetend, soewerein, en ewig (Psalm 139:7-8, 1 Korintiërs 2:10-11, Johannes 3:8, Hebreërs 9:14). Al hierdie dinge is attribute van God. Net God kan skep. En tog leer die Skrif vir ons dat die Heilige Gees betrokke was in die skepping en self ook skep (Genesis 1:2, Job 33:4, Psalm 104:30). Die Heilige Gees het vir Jesus uit die dood opgewek en wys so sy Goddelike krag (Romeine 8:11). Om uit die Gees gebore te wees en uit God gebore te wees is dieselfde ding (vergelyk Johannes 3:5-8 en 1 Johannes 3:9). Die vorige stelling maak weereens duidelik dat die Heilige Gees God is. 2 Timoteus 3:16 sê God het die Skrifte geïnspireer. 2 Petrus 1:19-21 sê dat die Heilige Gees die Skrif geïnspireer het. Ons logiese en veilige afleiding is dus dat die Heilige Gees God is.
Omdat die Heilige Gees God is kan ons tot Hom bid. Die normale patroon in die Bybel is dat ons tot die Vader bid, deur die Seun, in die Heilige Gees (sien Efesiërs 2:18). Maar tog sou dit nie verkeerd wees om ons gebede te rig tot die Seun of die Heilige Gees nie (sien hoe Stefanus sy gebede tot Jesus rig in Handelinge 7:59). Verder impliseer die feit dat die Heilige Gees 'n Persoon is dat ons Hom kan liefhê en 'n persoonlike verhouding met Hom kan hê. Hy is God en daarom moet ons Hom aanbid en eer. Nog 'n praktiese implikasie van hierdie waarheid oor die Heilige Gees is dat ons nooit hoef te voel dat God ver van ons af is nie. Ons hoef nooit in versoeking te dink God is nie met ons nie. Ons hoef in beproewing te wonder: “Waar is die Here?” nie. Ons hoef nie in gebed te voel asof God nie met ons is of dat Hy nie ons gebede hoor nie. Ons hoef nie te dink dat intimiteit met God net vir super-heilige mense soos Moses is nie. Buitendien moet ons nie wag vir 'n gevoel om aan te dui of God naby is nie. Ons moet lewe volgens die waarheid van wat Hy in sy Woord gesê het. In Martin Luther se woorde: “The Holy Spirit is a Person to be loved – not a buzz to be felt.” Deur die Heilige Gees is God nader aan ons as wat Hy was in sy vleeswording. Tydens sy vleeswording was Jesus Immanuel, God met ons. Maar nou het die Gees gekom en is God in ons (sien Johannes 14:16, Efesiërs 3:14-19). En dis eers wanneer ons weergebore is en die Gees in ons woon, wat ons kan begin praat van goeie werke in verlossing.
[/column]