Miga 5:1-4a
Die Moslems glo dat Jesus uit die maagd Maria gebore is, maar sê dat Hy nie die Seun van God is nie. Maar wat leer die Bybel? Miga 5:1-4a is een uit vele tekste wat die vraag beantwoord.
- Hy is die Koning (v.1)
Tydens die slag van Bloedrivier op 16 Des. 1838, het 470 Voortrekkers teen meer as 10 000 Zoeloes baklei. Die Voortrekkers het gebid en die Here vir beskerming en oorwinning gevra. Hulle het belowe om 16 Des. as ‘n Sabbat te hou en hulle kinders so te leer. Die Here het hulle gebed beantwoord. Meer as 3000 Zoeloes het gesterf, terwyl net 3 Voortrekkers liggies gewond is.
God gebruik dikwels dit wat klein en swak is, sodat ons nie in onsself sal roem nie maar in Hóm. Let op die volgende voorbeelde:
- God het die 17-jarige Josef gekies om sy familie se lewens te red (Gen. 37-50).
- Hy het klein en onbelangrike Israel gekies om sy volk te wees (Deut. 7:7).
- Hy het Gideon en 300 soldate gekies om die Midianitiese weermag te verslaan (Rigt. 6-8).
- Hy het ‘n jong herder in Betlehem gekies om die koning te wees en ‘n reus dood te maak (1Sam. 16-17).
- Hy het ‘n arm en onbekende maagd gekies om die Messias in die wêreld te bring (Matt. 1-2, Luk. 1-2).
- Hy het eenvoudige vissermanne gekies om sy apostels te wees (Matt. 4).
- Hy het jou en my gekies om sy kinders te wees (1Kor. 1:26-31).
Net so het Hy nie populêre Jerusalem as die Messias se geboorteplek gekies nie, maar klein Betlehem 9 km na suide (v.1). Betlehem was onbelangrik en word nie eers saam met die dorpe van Juda genoem in Jos. 15 nie. Miga praat van Betlehem Efrata om dit te onderskei van die ander Betlehem naby die See van Galilea, omtrent 8 km Noord-Wes van Nasaret (Jos. 19:15). Efrata was Betlehem se pa (1Kron. 4:4). Sy naam beteken ‘vrugbaarheid’, terwyl Betlehem ‘huis van brood’ beteken
Betlehem het ‘n ryk geskiedenis in die Bybel. Ragel het naby Betlehem gesterf (Gen. 35:19). Rut het Betlehem toe getrek (Rut 1:19, 22, 2:4, 4:11). Rut se agterkleinseun Dawid is daar gebore (Rut 4:21-22, 1Sam. 16). Jesus is ook daar gebore (Matt. 2, Luk. 2, Joh. 7:42). In mense se oë was Hy onbelangrik, maar volgens Miga is Hy die Messias uit die stam van Juda en die geslag van Dawid (v.1, Gen. 49:8-12, Ps. 132:11-12, Matt. 1, Heb. 7:14, Op. 5:5). God het Hom as die regmatige Koning, Messias en Here gestuur om oor Israel te regeer (v.1, Ps. 2:6, 110:1, Luk. 1:32-33, Op. 19:16). Hy is die Koning van Israel en die nasies (Ps. 22:29, Joh. 1:50, 19:19-22).
Hy is ook jou Koning. Erken jy Hom as sulks? Onderwerp jy jouself aan sy lering in die Skrif (Matt. 28:19-20)? Of sê jy net dat Hy jou Koning is, terwyl jy m.b.t. die kerk, die huwelik, seks, vermaaklikheid, jou vriende en gewoontes leef soos jý wil en nie soos Hý sê nie? Moet dan nie jok en Hom Here noem nie (Luk. 6:46). Sê eerder: ‘Ek weet dat die Bybel waar is, maar ek wil dit nie doen nie.’ Wees eerlik soos die oom wat gesê het dat hy die Bybel verstaan, maar dit nie gaan doen nie. Sy predikant het vir hom gebid. Toe die oom sy oë toemaak, toe sê die predikant: ‘Here, U het gehoor dat oom X die Bybel verstaan, maar dat Hy nie vir U wil luister nie. Amen.’
- Hy is die Oue van Dae (v.1)
Ek het jare gelede vir my Sondagskoolklas gevra: ‘Waar was jy voor jy gebore is?’ Een van die kinders het geantwoord: ‘In die hemel.’ Ek het uit die Bybel vir haar verduidelik dat sy nie voor haar geboorte in die hemel bestaan het nie. Volgens die Mormone was ons geestelike wesens in die hemel voor ons gebore is. Die Hindoes glo dat ons in ‘n ander vorm hier was voordat ons gebore is.
Volgens die Bybel is hulle verkeerd. Net Jesus het voor sy geboorte in die hemel bestaan (v.1). Hy is uit die Vader en is deur Hom verwek (v.1, Ps. 2:7, Joh. 3:16, 5:26, 6:57). Dit beteken nie dat die Vader voor Hom bestaan het nie. Dit is soos ewige sonstrale wat uit ‘n ewige son skyn: die sonstrale ontstaan uit die son, maar die son het nie bestaan voor die strale nie. Net so is Jesus ewig soos die Vader (v.1, Eks. 3:14, Ps. 90:2, Jes. 9:5, Dan. 7:9, Joh. 1:1-3, 8:58, 17:5, Heb. 1:10-12, 1Joh. 1:2, 5:20).
So het die kerk dit van die begin af verstaan . Die Geloofsbelydenis van Nicea is in 325 n.C. saamgestel. Dit sê: ‘Ons glo...in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.’
Hoe verduidelik jy dit vir ‘n kind? Hoe sê jy vir hulle dat Jesus die Oue van Dae is; die ewige God wat mens geword het in Betlehem? Sê vir hulle dat Hy sy ma se melk nodig gehad het om te leef, terwyl Hy terselfdertyd sy ma geskep het en haar hart en longe aan die gang gehou het; terwyl sy ma Hom vasgehou het, het Hy die aarde laat draai en die sterre in die hemel gehou (Joh. 1:2-3, Kol. 1:16-17, Heb. 1:2-3).
Ons kinders moenie ‘n klein beeld van Jesus hê nie, maar ‘n groot een. Hulle moet weet dat Hy hoogverhewe is, maar ook dat Hy die Verlosser is wat aarde toe gekom het om ons te red en in ons lewens betrokke te wees: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jes. 57:15).
Hoe jy jou kinders leer, sal bepaal of hulle die Here liefhet, vrees, bewonder en aanbid, en of hulle Hom bloot beskou as ‘n oulike baba in die krip. Jou voorbeeld speel ook ‘n rol. Sien jou kinders dat Jesus nr. 1 is in jou lewe? Wys jy dit in jou huwelik, hoe jy jou probleme oplos, wanneer jy bestuur, as mense jou kritiseer, in jou sosiale lewe, in jou betrokkenheid by die kerk, hoe jy jou tong gebruik, ens.?
Wanneer laas het hulle jou op jou knieë met ‘n oop Bybel voor jou gesien? Sien hulle dat jy berou het en om vergifnis vra as jy sonde gedoen het? Sien hulle dat jy Jesus meer wil liefhê, eer en aanbid? Sien hulle dat jy Hom as die Oue van Dae ken, eer en vrees? Indien wel, sal dit die uitsondering wees as hulle nié in jou voetspore volg en die Here saam met die herders, wyse manne en engele aanbid nie.
- Hy is God en mens (v.2)
- ‘n Meermin is half-vis, half-mens. Jesus is nie half-God, half-mens nie, maar volkome God en volkome mens.
- As ‘n demoon ‘n mens beset, is daar twee persone in een liggaam. Jesus is nie twee persone in een liggaam nie, maar twee nature in een Persoon.
- Spiderman was nie altyd ‘n supermens nie, maar het so geword toe ‘n spinnekop hom byt. Jesus het nie God geword toe die Heilige Gees in die Jordaanrivier op Hom kom, of toe Hy uit die graf uit opstaan nie. Hy is van ewig af God (v.1).
- Waar engele in die Bybel verskyn,lyk hulle soos mense maar hulle is dit Jesus lyk nie net soos ‘n mens nie, maar is ten volle mens.
- As jy ‘n leeu en ‘n tier kruis, kry jy ‘n nuwe spesie. Jesus se Goddelike en menslike nature meng nie, en tog is Hy een Persoon. Hy is nie ‘n mengsel tussen God en mens nie, maar is waarlik God en waarlik mens.
Tekste soos Joh. 1:1, 20:28, Rom. 9:5, Fil. 2:6, Tit. 2:13, 2Pet. 1:1, 1Joh. 5:20 wys vir ons dat Jesus God is. Ja, die Messias van v.1 is die God van Israel wat sy volk oorgegee het aan die vyand (v.2). Terselfdertyd is Hy uit ‘n vrou gebore en is Hy ten volle mens (v.2, Gal. 4:4). Hy is Israel se God, maar het ‘n Jood geword en was hulle broer (v.2, Matt. 1, Rom. 8:29, 9:4-5, Heb. 2:17).
Die feit dat Hy dit geword het, impliseer dat Hy dit nie altyd was nie. Hy het soms in die Ou Testament in ‘n menslike liggaam verskyn (Gen. 18, Rigt. 6, 13), maar dit was eers in Betlehem wat Hy ‘n permanente menslike liggaam aangeneem het (Joh. 1:14, Fil. 2:7). Hy is vandag nog God en mens en sal dit vir ewig bly (Dan. 7:13, Luk. 24:39, Hand. 1:9-11, 7:55-56, 17:31, 1Tim. 2:5, Op. 1:7).
Party mense glo in ‘n ander Jesus as die Een wat ek sopas beskryf het. Maar die Jesus in wie hulle glo is nie die Jesus van die Bybel nie. Hy is ‘n Jesus wat nie kan red nie. Net as Jesus God en mens is, kan Hy red. As God kan Hy ons sondes vergewe, ‘n ewige straf binne 6 ure aan die kruis neem en ons van die hel red (Ps. 49:8-10, 16, Mark. 2:1-12). Maar God kan nie sterf nie (1Tim. 1:17, 6:16). Daarom moes Jesus ook mens wees om vir ons sondes aan die kruis te sterf.
Is Hy jóú Verlosser? Dink mooi voordat jy antwoord. Om te sê dat Jesus jou Verlosser is, beteken jy is nie meer ‘n slaaf van sonde nie; jy is verlos en vry (Joh. 8:32, 34, 36). Sonde is nie meer jou baas nie. Alhoewel jy soms nog struikel, is sonde nie jou leefstyl nie. Dit oorheers nie jou gedagtes, begeertes, emosies, woorde, dade en verhoudings nie.
Vir Jesus om jou Verlosser te wees, beteken meer as net om ‘n gebed op te sê en ‘jou hart vir Hom te gee’. As Jesus jou Verlosser is, is Hy dit nie net op ‘n spesifieke dag en datum in jou lewe nie. Hy is elke dag jou Verlosser. Jy leef in ‘n verhouding met Hom; jy keer gedurig terug vir sy vergifnis en genade. Maar dit gaan nie net oor wat jy by Hom kan kry nie. Dit is ook vir jou lekker om net by Hom te wees (Ps. 131:2). Daar is dae wat jy ‘n stukkie van die hemel in jou siel ervaar. Jy is soos Paulus in Fil. 1:23 en begeer om by Jesus te wees.
As dit vir jou klink of ek ‘n ander taal praat en jy nie daarmee kan assosieer nie, is dit nog nie te laat nie. Net soos wat Jesus die verstrooide Jode en die heidene teruggebring het na die Vader toe (v.2), kan Hy jou ook terugbring. Dit maak nie saak hoe ver jy gedwaal het of hoe erg jy gesondig het nie: sy genade is groter as jou sonde. Bely dat jy gesondig het en dat jy jouself nie kan red nie. Net Hy kan jou red. As jy in Hom glo sal Hy jou nie teleurstel nie (Rom. 9:33).
- Hy is die Groot Herder (v.3)
Een aand het ek vrou gehoor skreeu. Ek kon hoor dit is ernstig. Ek het my rifrug aan ‘n leiband gesit en in die straat opgehardloop. Met my hond langs my het ek veilig gevoel.
Net so kan ons veilig voel met die Messias as die Groot Herder wat ons beskerm. Hy is die Here en Herder van Ps. 23:1-2, 95:7, 100:3 wat sy skape laat wei. Hy is Jer. 23:1-6, Eseg. 34 se Herder: Hy is nie een van die slegte herders nie, maar Hy pas sy skape op. Hy is die Goeie Herder van Joh. 10. Hy is die Groot Herder van Heb. 13:21.
Hy is die Herder wat sy skape met die Here se krag laat wei en hulle beskerm (v.3, Matt. 28:18). Die Vader het Hom deur die Gees bekragtig om sy taak te volbring (Matt. 3:16-17). As Hy dan die Almagtige en Groot Herder is, sal geen wolf dit waag om een van sy skape te vang nie.
Is jy in ‘n twis betrokke met een van die Here se skape? Jy is in die moeilikheid. Jesus is teen jou. Vra sy vergifnis en maak dinge reg. Word jy in jou familie, by die werkplek of by die skool uitgeskuif omdat jy ‘n Christen is? Jesus is jou Herder (v.3). Niemand kan jou uit sy hand ruk nie (Joh. 10:28-29). Gee jou probleme vir Hom en wees rustig; Hy sal jou beskerm (v.3). As Koning het Hy die majesteit en heerlikheid van God (v.3, Joh. 17:5, Fil. 2:6, Heb. 1:3). Moet dan nie gedurig oor jou vyande top en bang wees asof Hy jou nie kan help nie.
Eendag sal selfs Jesus se grootste vyand, die duiwel, erken dat Hy groot is tot aan die einde van die aarde (v.3). Deur die kerk wat die evangelie verkondig (Matt. 28:19-20, Hand. 1:8), is Jesus reeds groot in elke land op aarde. In die toekoms sal die mees radikale Moslem en die ateïs wat Jesus die meeste haat, voor Hom buig en erken dat Hy die Here is tot heerlikheid van God die Vader (Ps. 22:28, 72:8-11, 17-19, 86:9, Mal. 1:11, Fil. 2:10-11, Op. 5:9).
- Hy is ons Vrede (v.4a)
Het jy al ooit iemand ontmoet wat, wanneer die persoon opdaag, jy rustig en gemaklik voel? Jesus is so. Hoekom? Hy is die Prins van Vrede (Jes. 9:5). Deur die kruis het Hy ons sonde weggevat en vir ons vrede met God bewerk (Rom. 5:1, Ef. 2:14, 16, Kol. 1:20). Gevolglik kan jy ook innerlik rus en vrede in jou hart hê (Fil. 4:7, 9).
Dalk soek jy hierdie vrede, maar jy kry dit nie. En hoekom kry jy dit nie? Jy soek dit op die verkeerde plek: in geld, seks, vriende, verhoudings, verslawings, iets anders. Of jy soek vrede vir vrede se onthalwe. God sal nie sy geskenke vir gee as dit jou van Hom af gaan weglei nie. As jy vrede soek, sal jy dit nie kry nie. Maar as jy Jesus soos ‘n kosbare skat kos, sal jy ook sy vrede kry. Dit is soos Verimark-produkte: as jy die groot item koop, kry jy ‘n klomp ekstras gratis. Natuurlik is Jesus net oneindig keer beter as dit.