Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 May 2020

Werkverwante Probleme: Werkloosheid

[youtube https://www.youtube.com/watch?v=dbQcxi61nBM&w=560&h=315]

Verskeie Tekste

Die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is in die top twintig ter wêreld. Omtrent 29% van ons land se bevolking is werkloos. Dit is byna 17 miljoen mense (Suid-Afrika se totale bevolking is net onder die 58 miljoen). Eintlik is die syfers hoër, omdat die statistiek nie mense insluit wat in die laaste vier weke nié werk gesoek het nie. As gevolg van Covid-19 en die ekonomie sal die getalle nog klim. Ons sien reeds die effek hiervan in ons gemeente. Daarom is hierdie nie ’n saak wat ons ligtelik kan opneem nie. Hoe moet ons die situasie hanteer? Daar is meer as een antwoord op hierdie vraag, omdat dit afhang van hóékom ’n mens werkloos is.

 

1. Ongeldige redes

[a] ’n Onbybelse beskouing van werk

Wyle Martin Holdt het vertel dat hy voor sy bekering lui was. Hy het gedink dat werk ’n noodsaaklike euwel is. Baie mense dink so en glo dat werk ’n gevolg van die sondeval is. Natuurlik is hulle verkeerd, omdat God vóór die sondeval reeds vir Adam gesê het om te werk (Gen. 1:28, 2:15). Wat die sondeval gedoen het, is om ons werk moeiliker te maak (Gen. 3:17-19).

Dit is God se wil dat ons hard moet werk (Eks. 20:9, Ps. 104:23). Jesus het hard gewerk. Hy was nooit haastig nie, maar Hy was ook nooit ledig nie. Hy het die werk gedoen wat die Vader Hom gegee het (Joh. 4:34, 17:4). Soos sy Meester het Paulus hard gewerk (2Tess. 3:7-8). Elke toegewyde Christen in die geskiedenis sal hard werk. Vat Martin Luther as ’n voorbeeld. Hy het gepreek, boeke geskryf, by ’n universiteit gedoseer, gekatkiseer, die Bybel in Duits vertaal, gesange geskryf, en debatte gehou.1

Soos Jesus, Luther en Paulus, moet ook óns hard werk (2Tess. 3:9). Ons moet dit doen om God te verheerlik (Kol. 3:22-23). Ons moet ook uitsien na ’n hemel en ’n nuwe aarde waar ons sal werk net, soos wat Adam in die tuin van Eden gewerk het. Ons werk sal wees om die Here te dien (Op. 7:15, 22:3).

Laat ons dan nie werk as ’n noodsaaklike euwel beskou nie. God het dit gegee, sodat ons vervulling kan beleef. Dit verskaf satisfaksie as jy ’n ete maak, ’n huis bou of verf, ’n brug bou, ’n kar ontwerp, ’n preek voorberei, ’n skildery verf, klere maak, ’n kas regpak, ’n kantoor opruim, meubels maak, ’n skooltaak doen, mielies plant, ensovoorts.

Harde werk is ook nodig vir ’n gesonde liggaam en verstand. Iemand wat hard werk is moeg en slaap goed (Pred. 5:11), terwyl iemand wat nie hard werk nie onvergenoeg, angstig, bitter en kwaad is. As gevolg hiervan raak sy spiere spasties. Dit ontlaai nie deur harde werk nie. Dit maak dat hy verder gefrustreerd voel. As hy so gaan slaap, voel hy doodmoeg as hy in die oggend opstaan, omdat sy liggaam nie ontspan het nie.2 Harde werk is met ander woorde terapeuties. Dit is nie net goed vir die liggaam nie, maar ook vir die gees. Dit help dat jy nie neerslagtig voel nie. Dit hou jou ook uit die kwaad (2Tess. 3:11). Basil van Cesarea (330-379 n.C.) het gesê dat dit jou verstand besig hou, sodat jy nie aan slegte dinge dink nie.3 Dit gee jou ook ’n sin van menswaardigheid. Jy voel goed as jy jou kop in die aand neerlê en weet dat jy hard gewerk het. Dit geld of jy nou 8 ure in ’n kantoor werk vir ’n salaris, en of in die tuin werk vir jouself.

Harde werk is ook nodig om jou gesin te versorg en sodat jy ander mense kan help (Ef. 4:28, 1Tim. 5:8). Dit help ook die ekonomie (Jer. 29:7). Dit is byna soos wanneer ’n boer sy skape goed versorg en op die einde wol by hulle kry (Spr. 27:23-27). Kan jy dus sien dat ’n Bybelse beskouing van werk goeie en harde werk bevorder, terwyl ’n onbybelse werketiek luiheid en werkloosheid aanmoedig?

 

[b] ’n Ongeestelike beskouing van werk

’n Besorgde bakker het een Sondagaand by Martyn Lloyd-Jones aangeklop. Hy was angstig. Hy kon baie mooi sing en het gereeld in sy kerk gesing. Toe hy eendag by ’n Christelike byeenkoms sing, het ’n evangelis vir hom gesê: ‘Jy moet in die bediening ingaan.’ Hy was onseker, maar die evangelis het hom aangemoedig. Hy het begin studeer, maar kon nie die mas opkom nie. Hy Martyn Lloyd-Jones vir raad gevra. Na ’n bietjie ondervraging, het Lloyd-Jones het hom aangemoedig om nié in die bediening in te gaan nie, maar om ’n bakker te wees. Die man het sy raad gevolg en het soos voorheen in sy gemeente gesing. Hy het berusting en vrede gevind.4

Party mense dink dat sekulêre werk ongeestelik is en dat hulle predikante, of sendelinge moet word. Jy moet egter net ’n predikant, of ’n sendeling word as die Here jou geroep het en as jy nie anders kan nie (Jer. 20:9). Wees baie versigtig vir die vals onderskeid wat uit die Middeleeue kom. Mense het geglo dat daar ’n priesterlike klas en ’n gewone klas is. Volgens die Bybel egter is elke Christen ’n priester en is werk deel van ons aanbidding en diens aan die Here (Rom. 12:1, 1Kor. 7:17, 20-24, 10:31, 1Pet. 2:5, 9). Werk is ook nodig, sodat Jesus sy lig deur ons kan skyn (Matt. 5:16). Hoe sal ons die wêreld bereik as almal predikante en sendeling is? Ons benodig Christen ingenieurs, dokters, onderwysers, studente, tuiniers, huishulpe, werktuigkundiges, prokureurs, rekenmeesters, sakemanne, restaurant eienaars, ensovoorts. Laat ons deur evangelisasie in die werkplek getuig, maar ook deur ons goeie karakter en uitstekende werk (1Tim. 6:1-2, Tit. 2:9-10). Indien jy só werk, sal mense jou daaroor uitvra en kan jy verder van die Here getuig (1Pet. 3:15).

 

[c] ’n Oorskatting van jou vermoëns

Ek ken ’n geleerde man wat al vir jare nie werk het nie. Die rede is dat hy nie wíl werk nie. En hoekom wil hy nie werk nie? Want hy is ’n hoogsgeleerde man wat nie vir ’n klein salaris wil werk nie.

Luister: jy is nie onmisbaar nie. As jy bedank, of doodgaan, sal die wêreld se besighede en maatskappye aangaan. Moet daarom nie te veel van jouself dink nie (Rom. 12:3). Moenie dink jy kan hied en gebied nie. Moenie dink dat die kliënte jóú ’n guns bewys as hulle van jou diens gebruik maak nie. Moenie soos die vrou wees wat by ’n tolhek in die Vrystaat werk nie. Toe ons by haar venstertjie stop, toe sê sy: ‘Ons het nie kleingeld nie.’ Martin Holdt het haar daaroor vasgetrap: ‘Why don’t you have change? You are here to serve the public.’ Haar reaksie was: ‘No, we are here to serve each other.’

As jy hierdie gesindheid het, sal dinge sleg uitdraai. Mense sal nie meer van jou besigheid gebruik maak nie en uiteindelik sal jy jou deure toemaak. Of miskien sal jy gefrustreerd raak, omdat dinge nie gebeur nie soos jý wil nie. Dit sal maak dat jy bedank, of dat jou baas jou vra om te loop. Die gevolg sal wees dat jy werkloos is.

Dit is tragies dat hierdie dinge nie die hoogmoedige mens pla nie. Hy is so selfversekerheid dat hy dink besighede gaan tou staan om hom te nader. Ongelukkig gebeur dit nie so in die regte lewe nie. Dit is jammer dat hierdie mense dit nie kan raaksien nie. Hulle dink dat dit BEE, of die ekonomie se skuld is, terwyl dit eintlik húlle is wat hulle vermoëns oorskat.

Omdat hulle baie van hulleself dink, is hulle nie bereid om vir ’n kleiner salaris te werk nie. Hulle glo dat dit benede hulle is en daarom soek hulle ’n bestuurspos. Hoe anders was die Israeliete se gesindheid nie. In Neh. 3 sien ons hoe goudsmede, leiers, priesters, Leviete, ’n goewerneur en adelikes gehelp het om die mure van Jerusalem te herbou. As almal tog maar net so was. Maar hulle is nie. Baie mense wil ’n hoë lewensgehalte handhaaf en daarom kyk hulle neer op sekere soorte werk. Die ironie is dat hulle sonder werk sal bly en dat hulle uiteindelik sal móét afskaal.

Die ander hartseer is dat húlle nie vir ’n klein salaris wil werk nie, maar dat ander mense daarvoor moet werk om hulle te onderhou. Hulle is hiënas wat die jagluiperds se harde werk kom steel. Hoekom nie liewer laag begin en jouself opwerk nie? Dit is jammer dat baie mense dit nie doen nie, maar dat hulle aan hulle ego’s vashou en werkloos bly.

 

[d] Sonde

Daar is baie sondes wat kan maak dat jy jou werk verloor en dat jy ’n kriminele rekord kry, sodat niemand jou in diens wil neem nie: vuisgevegte by die werk, ’n kort humeur, diefstal, leuens, seksuele teistering, minagting van gesag, en meer. Ek wil egter op een sonde fokus en in die volgende preek meer daaroor sê: luiheid.

Party mense wíl nie werk nie. Hulle sal eerder op die bank lê en TV kyk, veral as iemand anders vir hulle kos aandra. Dit herinner my aan ’n man wat ek geken het toe ek op hoërskool was. Hy was al in sy vroeë 40’s. Hy het ’n graad in wiskunde gehad. In die dag het hy egter op sy ma se rusbank gelê en TV kyk. Hy het aandele gespeel, by die dorpswembad uitgehang, by mense gekuier, en tennis gespeel.

Party mense hét werk, maar hulle verloor dit gou, omdat hulle soveel as moontlik geld soek vir so min as moontlik werk. Hulle kos hulle maatskappy geld en frustreer die baas, totdat hy hulle in die pad steek (Spr. 10:26, 18:9). Twee jaar gelede het so iemand in my tuin gewerk. Die werk was so swak dat ek hom sy geld gegee het en wou hê dat hy moes loop.

Ongelukkig skud selfs afdanking nie hierdie mense wakker nie. Hulle bly lui en vra ander mense om hulle CV’s te tik en dit uit te stuur. Hulle is soos die luiaard wat sy lepel in die bord sit en te lui is om dit terug te bring na sy mond toe (Spr. 19:24, 26:15). Iemand anders moet dit vír hom doen. Ongelukkig moedig sommige regerings dit aan, omdat hulle links en regs toelae uitdeel. Op die einde skep hulle ’n kultuur waar mense in die middel van die dag op die gras lê en slaap, of by ’n robot staan en bedel eerder as om vir ’n paar duisend Rand ’n maand te werk (Tit. 1:12). Na ’n paar jaar hiervan het jy ’n geslag wat steel eerder as om te werk.

Die kerk moenie sulke mense help nie, veral nie as hulle lidmate is wat op ander mense teer nie. Moenie vir hulle jammer voel nie; hulle het dit oor hulleself gebring (1Pet. 2:20, 4:15). Ons moenie vir hulle geld, of kos gee nie (2Tess. 3:10). Laat ons hulle eerder waarsku, en as hulle nie wil luister nie, hulle afsny (2Tess. 3:6, 11-12, 14-15).

 

[e] Rykdom

Daar is webtuistes wat jou leer hoe om só ryk te word, dat jy op 40 kan aftree. Ek het ’n vriend gehad wat wou aftree op 35. Om egter so te dink is onbybels. Die Bybel sê nie: ‘Sit terug, speel gholf en hou altyd vakansie omdat jy ryk is nie.’ Dit sê nie eers dat jy hierdie dinge op 65 moet doen nie. Dit is God se wil dat jy moet werk, al tree jy af van jou gewone werk. Werk in die tuin, in jou werkskamer, in die huis, of in die Here se diens. Selfs as jy ’n invaliede is, kan jy werk deur briewe vir sendelinge te skryf en vir mense te bid. Ek ken ’n man wat dit gedoen het. Nadat hy ’n beroerte gehad het en nie veel kon doen nie, het hy elke dag vir al die nasies van die wêreld gebid.

 

[f] Onbevoegdheid

Christelle soek werk as ’n aktrise. Almal sê vir haar dat dit nie haar sterkpunt is nie. Omdat sy egter van beter weet en eiewys is, sit sy nou al vir meer as 2 jaar sonder werk. Ek hoef nie veel hieroor te sê nie. Kry wyse raad, kry goeie opleiding, leer by ander mense, en soek werk in ’n ander bedryf.

 

[g] Vrees vir mislukking

Colonel Sanders van KFC het 1009 keer misluk voordat iemand sy resep aanvaar het en hy suksesvol was. Moenie in die bed lê en vrees dat jy sal misluk nie (Spr. 22:13, 2Tim. 1:7). Bid eerder vir ’n werk, hou aan met soek, en vertrou die Here om vir jou te voorsien. “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.” (Pred. 11:4).

 

[h] Gebrek aan vervulling

My werk is moeilik, maar ek is mal daaroor. Ek kan nie glo dat die gemeente my betaal om die Bybel te bestudeer nie! Nie almal hou egter van hulle werk nie. Party mense haat dit, bedank, en is werkloos. Dit is nie altyd verkeerd nie. En tog moet ek sê dat jy nie jou volle vervulling in jou werk moet soek nie. Vind eerder jou volle vervulling in Jesus. Moenie werk vir die brood wat vergaan nie, maar soek die Lewende Brood (Joh. 6:27). Werk hard, maar moenie jou hoop daarop stel nie. Fokus op die hemel eerder as op die aarde (1Kor. 7:30-31).

 

2. Geldige redes

Geldige redes vir werkloosheid is daardie dinge wat jy nie kan help nie, of dinge wat jy teen jou sin moes kies. Mense verloor byvoorbeeld hulle werke as gevolg van Covid-19, oorloë en natuurrampe. Hulle verloor dit as gevolg van die ekonomie. Hulle verloor dit as gevolg van geldgierige base wat meer vir hulleself soek en mense afdank. Ander mense bedank en is werkloos, omdat die baas van hulle vereis om sonde te doen. Ander bedank, omdat hulle geen tyd vir die Here, die kerk en hulle gesinne het nie. Ander is werkloos, omdat rekenaars en ander tegnologie hulle vervang. Ander is werkloos as gevolg van BEE (omgekeerde apartheid). Ander se kontrak het verstryk. In party gevalle het die maatskappy sy deure toegemaak. Ander is te siek, of te oud om voltyds te werk.

As jy een van hierdie mense is, het ek medelye met jou. Ek wil jou egter help om Bybels oor die saak te dink. Jy hoef nie skuldig te voel omdat jy jou werk verloor het nie. Moenie dink dat jy niks beteken, omdat jy nie jou gesin kan versorg, of omdat jou vrou meer as jy verdien nie. Sulke skuldgevoelens is ongeldig en laat my dink aan ’n vrou wat skuldig voel, omdat sy verkrag is. Dit is nie haar skuld nie. Net so is dit nie jou skuld dat jy werkloos is nie.

Onthou dat jou identiteit nie lê in watse werk jy doen, of eers daarin dat jy ’n werk het nie. Jou identiteit lê in Christus. Hý bepaal wie en wat jy is (sien Ef. 1:3-14). Moet daarom nie depressief raak nie. Vermy ook alle dinge wat daartoe kan aanleiding gee dat jy depressief raak. Moet byvoorbeeld nie laat slaap, tot 11:00 AM in jou nagklere bly, vir ure voor die TV sit, speletjies speel, of die hele dag lê en boek lees net omdat jy werkloos is nie. Staan eerder op en trek aan vir werk. Spandeer 8 ure ’n dag, 5 dae ’n week om werk te soek. Werk ook hard in en om die huis. Die Bybel sê nie jy dat vir ’n salaris moet werk nie, maar eenvoudig dat jy moet werk (Pred. 9:10, 11:6).

Glo ook dat die Here sy beloftes sal nakom. Ek dink aan beloftes soos:

“en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33).

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Rom. 8:28-29).

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:20).

“Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee... En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Fil. 4:11-13, 19).

“Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Heb. 13:5).

Moenie dink dat die Here gebind word deur jou ouderdom, geslag, velkleur, of deur die feit dat jy geen papiere, of min ervaring het nie. Wat was die kanse dat Josef tweede in bevel sou wees in Egipte? En tog het dit gebeur! Doen jy net jou beste en vertrou die Here vir die res. “Sien jy 'n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie.” (Spr. 22:29).

Terwyl jy werkloos is, kan jy ook probeer om aan jou uitgawes te sny en goed te verkoop wat jy nie nodig het nie. Kyk ’n bietjie in jou buitekamer: is daar iets wat jy nie gebruik nie? Verkoop dit. Dalk kan jy jouself ook leer om jou kar te diens, om jou tuin in stand te hou, om elektriese werk te doen, of om klere te maak. Sodoende kan jy jou uitgawes sny. Raak ook ontslae van luukshede soos DSTV, of onbeperkte WiFi. Koop goedkoper produkte. Jy hoef byvoorbeeld nie Jacobs koffie te drink nie. Oorweeg dit dalk om jou kinders te tuisskool as jy ’n huisvrou is.

Bid vir wysheid wat jy nog kan doen (Jak. 1:5). Vra selfs vir wysheid om nuwe dinge te doen wat jy nie voorheen probeer het nie. Wyle Martin Holdt het byvoorbeeld vir ’n werklose lidmaat gevra: ‘Wat kán jy doen?’ ‘Ek kan koeke versier,’ het die man geantwoord. Hy het dit gedoen. Sy besigheid het so groot geword, dat hy twee winkels moes oopmaak.

’n Laaste belangrike wenk: wees aktief deel van ’n gemeente. As jy op jou eie is, gaan jy sink. Jy het bemoediging, gebed en die Woord nodig. Die gemeente kan jou ook finansieel help terwyl jy werkloos is. Dit mag ook wees dat sommige van die lidmate kontakte het, sodat jy uiteindelik op hierdie manier werk kan kry.

Dit is egter nie die belangrikste deel van my preek nie, omdat werkloosheid nie die grootste probleem in ons land is nie (al dink Google so). Die grootste probleem is sonde. Jy kan dit nie vir ewig ontken nie. Die dood is besig om jou te in te haal. Jy het ’n Verlosser nodig voordat jy sterf. Jesus is die enigste Verlosser, omdat net Hý die straf vir sondaars aan die kruis gedra het. Glo in Hom, sodat jy sy vergifnis en die ewige lewe kan ontvang. As jy Hom ignoreer, gaan jy hel toe, selfs al het jy die beste werk in die wêreld: “Want wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?” (Mark. 8:36).

Looking-For-A-Job-998x665


1  John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 66-91

2  Jay Adams, A Theology of Christian Counseling (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 1979), 135-136

3  Aangehaal in Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 197

4  Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House, 1971), 112-114

Kategorieë