Genesis 39
John MacArthur vertel van ’n vrou wat hom eenkeer ’n brief by die deur gegee het. Toe hy die brief oopmaak, toe staan daar dat sy hom graag alleen by haar huis wil sien. Hy het onmiddellik iemand agter haar aangestuur en gevra dat hulle haar van die perseel af moet verwyder en vir haar moet sê dat nie kan terugkom nie.
’n Ander predikant vertel dat hy een aand ’n man en vrou by hulle huis besoek het. Toe hy daar aankom, was die man nie tuis nie. ‘Waar is jou man?’ het hy gevra. ‘Hy kom nou,’ het sy vrou gesê. Na 15 mintue het hy weer gevra waar die man is. ‘Hy sal nou hier wees,’ het sy hom verseker. Na nóg 15 minute toe begin dit donker word. Die vrou het nie die lig aangesit nie. Die predikant het besef wat aangaan. Hy het gesê: ‘Ek sal maar ’n ander keer weer kom. Kom ons bid.’ Toe hy klaar gebid het en sy oë oopmaak, toe staan die vrou met haar gesig teen syne. Hy het vir sy lewe gevlug.
Nóg ’n leraar vertel dat hy eenkeer ’n vrou by haar huis besoek het. Haar kinders was daar. Een van hulle was al 13. Die vrou het voor haar kinders vir die leraar gesê: ‘Ek soek jou.’
Almal van ons word in die werkplek versoek. Ons word ook vervolg. Kom ek gee jou ’n voorbeeld. In 1979 het John MacArthur ’n moeilike jaar by sy gemeente beleef.1 Na een van sy preke uit Titus 2, het die Los Angeles Times gesê dat die gemeente vyf of ses van hulle administratiewe personeel (almal vroue) afgedank het. Dit was ’n leuen. Die vroue het self besluit om te bedank, omdat hulle meer aandag aan hulle kinders wou gee.
In dieselfde jaar het MacArthur een oggend by ’n ouderlingvergadering ingestap en vir die leiers gesê: ‘Ek wil net sê dat ek julle baie waardeer.’ Een man het gereageer: ‘As jy dink dat ons jou vriende is, maak jy ’n fout.’ Die leiers het agteraf teen MacArthur gekonkel.
Daar was nóg ’n groot beproewing op pad. MacArthur het ’n jong lidmaat vir depressie beraad. Die man se naam was Kenneth Nally. Na ’n paar weke het die man sy eie lewe geneem. Die koerante het hiervan geskryf en die gemeente begin beskuldig. Een vrou het in die koerant geskryf: ‘I can understand why that fellow killed himself. I went to that church once and three days later tried to kill myself!’2
Op 30 Maart 1980 het Kenneth Nally se pa MacArthur vir $1 miljoen gedagvaar. Die hof het die saak uitgegooi, maar mnr. Nally het geapelleer. Die beskuldiging was dat die kerk Kenneth verbied het om professionele hulp te soek en dat hulle gesê het dat selfmoord ’n moontlike oplossing vir depressie is. Beide klagtes was egter ’n leuen. Die saak het vir agt jaar voortgeduur en is eers in November 1988 afgehandel.
Versoeking en vervolging in die werkplek is ’n realiteit. Jy kan dit nie keer nie. Die vraag is hoe jy dit hanteer. Genesis 39 help ons hiermee.
1. Versoeking (v.1-12)
Josef was die tweede jongste van tien broers. Sy broers was jaloers op hom en het hom gehaat. Uiteindelik het hulle hom as ’n slaaf verkoop. Die Midianitiese, of Ismaelitiese slawehandelaars het hom Egipte toe gevat. Daar het hulle hom aan Potifar, die kaptein van Farao se lyfwag verkoop (v.1, 37:36). Die Here was met Josef, sodat hy voorspoedig was (v.2-6a, 21-23, Hand. 7:9). Potifar het dit raakgesien en aan hom guns bewys. Hy het alles in Josef se hande gelos; hy moes net die kos in sy mond sit (v.3-4, 6a). Josef het alles gedoen. Die Here het Potifar en sy huis ter wille van Josef geseën (v.5).
Wat leer ons hieruit?
[a] Sukses en guns in die werkplek kom van die Here af (vgl. Eks. 11:3, 12:36, Spr. 16:7, Dan. 1:9). Gee daarom die eer aan die Here as jy suksesvol is. Maak ook seker dat jy nie terugsit as jy sukses behaal het en guns ontvang nie, maar doen jou bes om nóg beter te dien (v.4).
[b] Moenie omkoopgeskenke gee om sukses te kry nie. Raak eerder suksesvol, omdat jy hard en getrou werk. As jy getrou is in klein dinge sal die Here jou aanstel oor groot dinge (Luk. 16:10). Josef was so: hy was getrou by Potifar en toe later oor die hele Egipte.
[c] Christene moet bekend wees vir hulle betroubare werk en nie net vir geestelike dinge nie (v.3-4, 6). Christene moenie ’n slegte reputasie hê, omdat hulle swak werk lewer nie.
[d] Die Here seën dikwels ongelowiges a.g.v. en deur die goeie werk van Christene (v.5, Gen. 18:22-33, 30:27, Hand. 27:24). ’n Christen moet daarna streef om sy maatskappy deur sy uitstekende werk te bevoordeel. Jy moet dit soveel meer doen as jou baas ’n Christen is, omdat jy besig is om ’n broer te bevoordeel (1Tim. 6:2). Om kwaliteit werk te lewer, is ’n goeie advertensie vir die evangelie (Tit. 2:9-10).
[e] Moenie net goed werk wanneer die baas kyk nie. Doen altyd jou beste, omdat jy die Here vrees (v.6, 9, Kol. 3:22-23).
Dit is lekker om suksesvol te wees by die werk. Maar dit sal nie altyd so wees nie. Dit het nie vir Josef so gebly nie. Daar was ’n versoeking. Mev. Potifar het gesien dat hy aantreklik en mooi gebou is (v.6-7). Hy het sy aantreklike voorkoms by sy ma, ouma en oumagrootjie geerf (Gen. 29:17, 12:11, 24:16). Hy was ook goed gebou, omdat hy hard gewerk het.
Mev. Potifar was wellustig en wou met Josef slaap (v.7). Hy het geweier (v.8). Potifar het hom vertrou (v.8). Josef was ’n man van integriteit; selfs toe Potifar nie gekyk het nie (v.8). Hy wou nie ’n ander man se vrou vat nie (v.9). Hy het dit as ’n ernstige oortreding beskou (v.9). Hy het God gevrees en wou nie teen Hom sondig nie (v.9, Ps. 51:6). Mev. Potifar het egter nie ‘nee’ vir ’n antwoord gevat het. Sy was soos ’n kraan wat aanhou drup (v.10). ’n Emmer water kan nie ’n rots laat erodeer nie, maar ’n aanhoudende gedrup kan. Daarom het Josef bankvas gestaan en geweier om met haar te slaap (v.10). Hy het selfs moeite gedoen om haar te vermy (v.10, Hebreeus).
Op ’n dag het sy hom onverwags betrap toe hy in die huis wou werk en daar niemand anders was nie (v.11). Sy het hom aan die kleed gegryp en gesê hy moet met haar slaap (v.12). Josef het homself losgeruk en na buite gehardloop (v.12). Dit was die tweede keer wat hy sy kleed verloor het (Gen. 37, 39).
Vandag nog het Christene sulke versoekings by die werk. Mense trek onbeskeie aan: lae halse, stywe klere, kort rokkies. Mense ‘flirt’. Daar is vieslike advertensieborde langs die snelweg as jy werk toe ry. Mans en vroue raak emosioneel geheg aan mekaar, omdat hulle hulle diep probleme (byvoorbeeld huweliksprobleme) met mekaar deel. Hierdie dinge lei maklik tot seksuele sonde. Hoe stry ’n mens daarteen? Volg Josef se voorbeeld:
- Kry ’n groot Godsbeeld (v.9). Herinner jouself daaraan dat God alles sien, dat Hy oral is, dat Hy heilig is, dat Hy jou liefhet en dat Hy sonde sal straf.
- Vermy die persoon wat jou wil verlei. Moenie alleen saam die persoon in ’n kar, of agter toe deure wees nie. Moenie alleen saam met die persoon koffie drink, of middagete hê nie. Moenie die persoon WhatsApp nie. Hou jou afstand en vermy die persoon sover jy kan (v.10, Spr. 5:8).
- Moenie jou huweliksprobleme, of jou lewensmaat met iemand van die teenoorgestelde geslag bespreek nie.
- Wees beleefd teenoor alle mense. Moenie net beleefd wees teenoor iemand van die teenoorgestelde geslag, terwyl jy dit nie by die huis vir jou lewensmaat doen nie. Werk ook hard aan jou eie huwelik.
- Verwyder jouself uit die situasie (1Kor. 6:18). Sê vir jou baas as iemand die maatskappy se reëls oortree en jou seksueel teister. Soek selfs ’n ander werk as dit sal help.
Dalk is jou versoeking nie seksueel van aard nie. Maar wat is dit? Is dit groepsdruk, omdat jy aanvaarding soek? Is dit om te skinder? Raak jy versoek om die tyd te misbruik: om te veel koffie breke te vat, om in die kantoor te kuier, om te slaap terwyl jy moet werk, om tyd te mors op jou selfoon en sosiale media?
Word jy versoek om oneerlike besigheid te bedryf, om vir jou baas en vir kliënte te lieg? Om omkoopgeld te gee, of te aanvaar? Om kortaf te wees met kollegas, of kliënte? Om terug te praat met jou baas, of om nie te doen wat hy vir jou sê nie (Tit. 2:9)? Om lui te wees, om laat in te kom, of om vroeg te loop? Om dronk te word, te vloek, of pervers te wees? Om die maatskappy se voertuig, of brandstof vir jou eie gewin te misbruik? Om jaloers te wees en in ’n kompetisie betrokke te raak m.b.t. jou kar, jou klere, die baas se guns, of bevordering?
Om nie jou beste werk te lewer nie, maar kort paaie te vat? Om skaam te wees dat jy ’n Christen is? Om jou Christelike waardes prys te gee, omdat jy mense se guns wil wen? Om by jou maatskappy te steel: skryfbehoeftes, geld, of iets anders (Tit. 2:10)? Om bedrog te pleeg? Om ander mense se sonde weg te steek en dit nie te rapporteer nie, omdat jy bang is hulle sal jou haat? Om geld te jaag? Om verslaaf te wees aan werk, ten koste van jou verhouding met die Here, jou lewensmaat, jou gesin en die kerk? Om jou werkers soos slawe te laat werk, al weet jy dat dit hulle huwelike en huisgesinne benadeel?
Versoeking op sy eie is erg. Maar as dit aanhou is dit erger (v.10). Waak daarom teen jou vyand. Memoriseer en gebruik die gepaste verse om dit te weerstaan. Bid oor die saak en vra ander mense om saam met jou te bid. Staan vas. Wees sterk in die Here en in die heerlikheid van sy sterkte (Ef. 6:10-18).
2. Vervolging (v.13-23)
Mev. Potifar het geskreeu toe Josef buitentoe vlug (v.13). Sy het hóm beskuldig van die sonde wat sý wou doen (v.13). Sy het haar huisgenote—haar slawe—laat roep en ’n leuen vertel (v.14-15). Sy het gesê dat Josef haar wou verkrag. Sy het neerhalend van haar eie man gepraat, omdat hy ’n Hebreeuse slaaf gekoop het en hom bo die Egiptiese slawe bevorder het (v.14). Sy het geweet dat die Egiptiese slawe Josef hiervoor sou haat, aangesien die Egiptenare die Hebreërs nie voor hulle oë kon verdra nie (Gen. 43:32). Sy het Josef se kleed as ’n ‘bewys’ gehou en gewag dat haar man huistoe kom. Sy het hom dieselfde storie vertel as wat sy die slawe vertel het en het in soveel woorde vir hom gesê dat hý skuldig is (v.16-18). En tog het sy geen bewyse gelewer dat Josef haar wou verkrag nie. Daar was geen merke aan haar liggaam nie en haar klere was ook nie geskeur nie.
Vandag nog vervolg ongelowiges Christene by die werk, veral as jou heilige optrede die sonde in húlle harte blootlê. Hulle sal jou haat en leuens teen jou vertel soos hulle met Jesus gedoen het (Matt. 26:60, Joh. 3:19-20, 7:7). Hulle sal jou op verskillende maniere vervolg: jy kry nie bevordering nie, jy word uitgeskuif, jy word bespreek en uitgelag, die baas hou jou geld terug, hy stel onredelike vereistes aan jou, hy behandel jou onregverdig, jy kry nie die tender nie, jy verloor jou werk, of iets anders (Dan. 6).
Soos Josef sal jy ook op grond van die uiterlike vervolg word. Hy was ’n Hebreër (v.14, 17). Hoe gebeur dit? In die dae van apartheid is nie-blankes sekere werke geweier. Deesdae word blankes, kleurlinge en Indiërs sekere werke geweier a.g.v. regstellende aksie, grondeise en BEE. Indien jy iets hierteen sê, kla hulle jou aan van rassisme. Hulle daag jou ook maklik voor die CCMA, sodat jy jou werk verloor. Die sisteem is teen die onderwyser en die werkgewer. Die skolier en die werknemer word voorgetrek.
Jy kan ook in die moeilikheid kom as jy sê dat jy homoseksualiteit, of transgenderisme as ’n sonde beskou. Dink maar aan Israel Folau. Hier is dit nodig vir ’n woord van waarskuwing. As ’n Christen moet jy nie lelik wees wanneer jy jou geloof verdedig nie. Praat met sagmoedigheid en respek (1Pet. 3:15). Jy is geseënd as mense jou vir jou geloof vervolg (1Pet. 2:19, 4:15). Wees egter versigtig dat jy nie dink jy word vir jou geloof vervolg, terwyl hulle jou eintlik vir jou luiheid, jou slegte gesindheid, of vir ’n ander sonde vervolg nie (1Pet. 2:20, 4:15). Word eerder soos Josef vir die Here vervolg.
Potifar het nie sy kant gehoor nie. Hy het van Josef se goeie rekord en sy karakter vergeet. Hy was kwaad en het Josef in die tronk, of die put laat gooi (v.19-20, 40:15, 41:14). Hierdie was die tweede keer dat Josef in ’n put beland het (Gen. 37:24). Hy het ysterboeie om sy enkels gehad en ’n ysterhals om sy nek (Ps. 105:18). Soos onder die Wet op Seksuele Misdrywe in Suid-Afrika, is Josef in die tronk gegooi sonder ’n verhoor.
Daar was darem ’n ligpunt: Josef was in die tronk waar die koning se gevangenes gehou is (v.20). Hier het hy die koning se skinker ontmoet en so uit die tronk gekom om uiteindelik ’n regeerder in Egipte te word (Gen. 40-41). Sien jy dan hoe die Here selfs hierdie beproewing tot Josef se voordeel uitgewerk het? Die Here sal ook jóú vervolging tot jou voordeel uitwerk (Rom. 8:28).
Selfs in die tronk was die Here met Josef en het Hy goedertierenheid aan hom bewys deur hom voorspoedig te maak (v.21, 23). God het hom guns gegee in tronkbewaarder se oë (v.21). Die tronkbewaarder het Josef se goeie karakter gesien. Hy het hom oor alles aangestel en a.g.v. Josef se goeie karakter was hy niks beskommerd nie (v.22-23, 40:4).
Sien die Here in jou vervolging. Moet jouself nie bejammer, of bitter raak nie. Moenie dink dat die Here jou straf as mense jou vir die evangelie vervolg nie. Weet eerder dat die Here met jou is (Heb. 13:5). As Hy dan met jou is, sal Hy sorg dat jy guns ontvang en suksesvol is (v.3, 23, Gen. 21:22, 26:24, 28, 28:15, 1Sam. 2:26, 16:18, 18:14, 28, 2Kron. 26:5, Ps. 1:3, Spr. 3:4, Luk. 2:52). As Hy nié met jou is nie, kan jy maar al die sukses in die wêreld hê: Hy is teen jou!
Soek daarom God se guns, nie omdat jy sukses soek nie, maar omdat jy Hóm soek. As jy Jesus ken, sal jy sien dat geld en sukses niks is in vergelyking met Hom nie (Matt. 13:44-46, Fil. 3:7-8). Kry Hóm dan as jy ware sukses soek. As jy Jesus het, sal jy sukses hê by die werk en in elke ander area van jou lewe—selfs al word jy versoek en vervolg, of al bevind jy jouself in ’n slegte situasie (Gen. 39).
Jy sal soos Charles Spurgeon wees. Hy was suksesvol, selfs toe jaloerse mense lelike dinge in die koerant teen hom geskryf het. Maak die beginsel op jouself van toepassing: selfs as die honde vir maan die blaf, hou dit aan met skyn. As jy naby Jesus leef, sal jy sy lig vir die mense rondom jou weerkaats.
1 Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011), 46-51
2 Ibid., 49