Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 March 2020

Werkverwante Probleme: Stres en Uitbranding

Image result for work stress and burnout

2Korintiërs 4:7-18

Die meeste mense werk vandat hulle in hulle vroeë 20’s is, totdat hul 65 is. Dit beteken dat jy vir ’n goeie 40 tot 45 jaar van jou lewe werk. Gevolglik is baie van die probleme waarmee jy sukkel ook werkverwant. Een van daardie probleme is stres en uitbranding. Volgens Spr. 18:14 is dit erger as om siek te wees. Daarom sal dit help om te weet hoe ’n mens stres op ’n Bybelse manier moet hanteer, sodat jy nie uitbrand.

Voor ek daarby kom, wil ek eers ’n paar inleidende gedagtes met jou deel. Uitbranding vind gewoonlik plaas wanneer iemand meer werk het as wat daar ure in die dag is. Hoekom werk mense so? Daar is verskeie redes.  

  1. In party gevalle werk mense soos slawe, omdat hulle geldgierig en materialisties is. Hulle kán ’n werk met normale ure kry, maar hulle soek dit nie. Hullle wil immers nie in ’n normale huis ry en ’n gewone kar ry nie.
  2. Ander laai te veel hooi op hulle vurke, omdat hulle nie weet hoe om ‘nee’ te sê nie. Hulle is ‘people pleasers’ wat almal tevrede wil stel.
  3. Party mense sukkel om ‘nee’ te sê, omdat hulle te veel van hulleself dink. Hulle dink dat niemand die werk so goed soos hulle kan doen nie.
  4. Ander dink weer: ‘As ék dit nie doen nie, sal niemand dit doen nie.’ Maar miskien doen niemand dit nie, omdat hulle weet jý sal dit doen. As jy dit los, sal die mense wat eintlik daarvoor verantwoordelik is, wakker skrik en dit doen.
  5. Soms is jy oorwerk, omdat dit nou maar net die eis van die omstandighede is (Mark. 1:32-34). In so ’n geval moet jy deurdruk en elke dag jou krag by die Here kry (Mark. 1:35). Dit sal ook help as jy êrens ’n kansie kan kry om te rus (Mark. 6:31).
  6. Dalk is jy oorwerk, omdat jy jou werk verafgod. Niemand verwag dit van jou nie, maar jy wil goed lyk voor ander, of van jou probleme of jou sonde vergeet.
  7. Dalk beleef jy frustrasie, omdat jy te veel van jou werk verwag. Jy wil hê dat jou werk jou absolute vervulling moet gee, terwyl net Jesus dit kan doen.
  8. Of dalk voel jy uitgebrand, omdat jou werkgewer ’n slawedrywer is. Jy beleef reeds een of meer van die volgende simptome van uitbranding:
      • Jy voel fisies en emosioneel uitgeput.
      • Jy sukkel om te konsentreer en te onthou.
      • Jy slaap sleg (dalk omdat jy laat moet werk om die werk klaar te kry).
      • Jou immuniteit is laag, sodat jy maklik siek raak (bv. maagswere, spanningshoofpyne, of griep).
      • Jy begin jouself isoleer en vermy ander mense.
      • Jy wend jou tot pille, drank, dwelms, energie drankies—enigiets wat jou sal help om te ‘cope’.
      • Jou produktiwiteit is laag.
      • Jy vind geen vervulling in jou werk nie.
      • Jy is agterdogtig oor mense se motiewe.
      • Jy raak gou geïrriteerd.
      • Jy is meer vatbaar vir die duiwel se versoekings en beland makliker in verkeerde verhoudings, veral as die persoon na jou sorge luister en vir jou omgee.

 Omdat die gevolge so ernstig is, is dit belangrik om jou stres reg te hanteer. Hoe doen ’n mens dit?

 

1. Ken jouself en die Here (v.7-9)

Henry is 3 jaar oud. Hy sien hoe sy pa ’n sak meel dra en wil ook probeer. Sy pa verseker hom dat die meel te swaar is, maar hy oorskat sy eie vermoëns. Toe hy die sak vat, toe besef hy skielik dat hy dit nie kan dra nie. Ons is soms soos Henry: ons maak te veel staat op onsself. Ons dink bv. ons kan 15 ure ’n dag werk en met min slaap wegkom, maar ons kan nie. Ons het die Here se krag nodig.

Paulus het dit besef. Hy het geweet dat hy ’n kleipot is waarin die Here die skat van die evangelie bêre om dit aan die wêreld te vertoon (v.7, Gen. 2:7, Job 33:6, Ps. 2:9, Rom. 9:21). Sy bekwaamheid om mense vir die Here te wen het nie in homself gelê nie, maar in die Here (v.7, 2:16, 3:5). As dit nié so was nie en hy die geringste mate van sukses geniet het, sou hy in homself geroem het eerder as in die Here (kontra 1Kor. 4:7). Dit sou wees soos as Gideon met 32 000 manne, of selfs met 10 000 teen die Midianiete gaan veg het. As hy hulle met so ’n groot weermag oorwin het, sou hy in homself geroem het. Toe hy hulle egter met 300 manne—gewapen met kleipotte [v.7!] en vakkels—oorwin het, toe kry Gód die eer.

Dít is dan wie God is en wie jy is. Omdat ons brose en breekbare kleipotte is, sál die lewe, jou omstandighede, die duiwel en die wêreld jou op een of ander stadium verdruk, verwar, vervolg en teen die grond slaan (v.8-9, 1:8-9, 6:4-10, 7:5, 10:10, 11:23-28, 12:7, 12:21). Jy kan dit nie keer nie. En tog is die Here met jou, sodat die huidige beproewings wat jy by die werk, of in ander areas van jou lewe beleef jou nie hóéf te verpletter, te vernietig, of te maak dat jy in wanhoop verval nie (v.9, 1:9-11, 12:9-10, Ps. 37:24, Spr. 24:16, Miga 7:8, Matt. 10:28, Heb. 13:5). Om totaal wanhopig te raak, is buitendien nie Christelik nie. Dit is onchristelik om so wanhopig te voel dat jy nie meer wil lewe nie, of dat jy probeer om jou eie lewe te neem. Om so te reageer gee vir die wêreld die idee dat die Here nie vir sy kinders sorg nie, dat ons Hom nie kan vertrou nie, dat Hy nie die mag het om ons deur ons probleme te help nie, en dat dit nie die moeite werd is om Hom te dien nie. Ek verstaan dat baie van ons mense onder stresvolle omstandighede moet werk:

      • Lang ure sonder ekstra betaling.
      • Jou salaris word teruggehou.
      • 'n Swaar werkslas.
      • Baie ure op die pad.
      • Oneerlike kollegas en kliënte.
      • Groepsdruk en vervolging as jy nie saam met die res sondig nie.
      • ’n Gesukkel met mense wat nie hulle werk doen nie.
      • Onbevoegde werkgewers en werknemers.
      • Jou werk wat nie vervullend is nie.
      • ’n Onredelike baas.
      • BEE en regstellende aksie wat jou frustreer.
      • Werknemers wat jou vir die geringste rede CCMA toe vat.
      • ’n Geskinder in die kantoor.
      • Mense wat die maatskappy se toerusting, of voertuie vir eie gewin misbruik.
      • Loadshedding wat effektiwiteit vertraag.
      • Mense wat jou boelie.
      • Vrees dat jy a.g.v. die swak ekonomie jou werk sal verloor.
      • Min tyd met die Here en jou familie, omdat jy sulke lang ure moet werk.
      • Bekommernis of jy genoeg geld sal hê vir die dag van jou aftrede.

Maar t.s.v. hierdie probleme, kan jy nog steeds die Here vertrou. Geen baas, kollega, kliënt, of regering kan die Here van sy troon afgooi nie. As die Here wil, kan Hy binne ’n oomblik jou baas, of enigiemand anders se hart verander (Spr. 21:1). Onthou ook dat die Here mét jou is net soos wat Hy met Josef was toe dinge by sý werk skeefgeloop het (v.9, Gen. 39:7-23). Erken dat jy maar net ’n kleipot is en dat jy nie die kapasiteit het om hierdie dinge te hanteer nie. Gee dit daagliks, of selfs uurliks vir die Here in gebed (Ps. 55:23, Fil. 4:6-7, 1Pet. 5:7).

 

2. Sien die glas half vol (v.10-15)

Alhoewel die koronavirus sleg is, gee dit aan Christene die geleentheid om Jesus se liefde te bewys en die evangelie met mense te deel. Dit is ook hoe jy jou stresvolle omstandighede by die werk moet beskou. Dit is wat Paulus gedoen het. Soos Jesus is Paulus se liggaam deur slae, tronkstraf, steniging, koue, skipbreuk, honger, ens. gebreek (v.10a). Maar hy was bereid om dit te dra, omdat hy die boodskap van die ewige lewe by mense wou uitkry (v.10b). As mense sy gebreekte liggaam gesien het, sou hulle hom daaroor uitvra. Dit sou sy geleentheid wees om vir hulle te sê: ‘Die lyding wat ek moes deurmaak om die evangelie by julle te kry, is maar net ’n fraksie van wat Jesus moes deurmaak om ons van ons sonde en die hel te red.’

So sou hy die goeie nuus met mense kon deel. Hy sou hulle vertel het hoe kosbaar Jesus is en dat hy nie soveel lyding sou deurmaak om die evangelie by hulle uit te kry as Jesus nie regtig bestaan het, of as Hy nie regtig uit die dood opgestaan het nie (v.10-14). Dit is juis omdat Paulus die waarheid van die evangelie geglo het, dat hy dit met soveel oortuiging verkondig het en selfs bereid was om daarvoor te ly (v.10-14, Ps. 116:10, Hand. 20:24, 1Kor. 15:31, 2Tim. 2:10).

Wees soos Paulus en sien jou moeilike werksomstandighede as ’n geleentheid om dinge só te hanteer dat mense jou daaroor sal uitvra en jy hulle van die Here kan vertel (1Pet. 3:14-15). Jy sal dit nie met oortuiging kan doen as jy swak is in die Woord nie. Hoe kan jy ander mense van Jesus vertel as jy self wonder of dit waar is? Maak daarom seker dat jy die Woord met jou hele hart glo, sodat dit jóú in die eerste plek kan help om nie uit te brand nie en jy ook ander mense daardeur kan help (v.13). Dit is eintlik waar jou fokus moet wees: nie op jouself en jou omstandighede nie, maar op hoe jy mense vir die Here kan wen, sodat meer en meer mense Hom kan dank en verheerlik (v.15).

Dit beteken nie dat jy jou werk moet afskeep en nét die evangelie met mense moet deel nie. Hoe jy in stresvolle werksomstandighede jou baas eerbiedig, vriendelik optree teenoor kollegas en kliënte, nog steeds eerlike en goeie werk lewer, sal aan jou die reg gee om met mense oor die Here te praat. Hulle sal sien dat jy nie net die antwoorde in jou kop ken nie, maar dat jy dit leef.

 

3. Fokus op die ewigheid (v.14, 16-18)

Ek het al partykeer na ’n Sondagaand gewonder hoekom ek soveel ure in preekvoorbereiding insit, veral as dit binne 40 minute verby is en die meeste mense dit binne 48 uur vergeet het. Dan moet ek myself daaraan herinner dat ek nie vir ’n tydelike beloning werk nie, maar vir ’n ewige beloning (1Kor. 3:12-15). As ons dít net kan onthou, sal ons baie onnodige werkstres uitskakel. Laat ons daarom op die hemel en die wederkoms fokus.

Wat is die ergste ding wat met jou kan gebeur? Jy kan doodgaan. En as jy doodgaan, is jy dadelik by die Here (2Kor. 5:8). Wanneer Jesus weer kom, sal Hy ook jou liggaam opwek en aan jou ’n nuwe liggaam gee (v.14, 1Kor. 15). So sal jy en elke ander gelowige vir altyd in sy liefdevolle, vredevolle en ‘stresvrye’ teenwoordigheid wees (v.14). Jesus se teenwoordigheid sal opmaak vir ’n leeftyd van lyding. As jy dit kan onthou, sal jy nie maklik uitbrand nie (v.16, 1). Ja, jy sal oud word en sterf (v.16). Maar jou gees sal jonk, vol ywer en energiek wees (v.16). Moet daarom nie op ’n gesonde liggaam fokus nie, maar op ’n gesonde gees (v.16, 1Tim. 4:8). Om goed te eet, genoeg te slaap in te kry, te oefen, vakansie te hou en in die natuur te wees, help. Hierdie is egter nie die belangrikste faktore wat uitbranding voorkom nie. Om ’n gesonde verhouding met die Here te hê, is. Daarom moet jy elke dag jou gees vernuwe (v.16).

Hoe doen mens dit? Maak seker dat jy elke dag tyd in die Woord en gebed deurbring om jouself in die Here te versterk (1Sam. 30:6, Ps. 1:2, Jes. 50:4, Mark. 1:35). Verkwik jouself verder deur nie op Sondae te werk as jy dit kan help nie, maar om die dag saam met die Here en medegelowiges deur te bring (Heb. 10:25). Sodoende sal jy jou batterye herlaai, sodat jy nie so maklik uitbrand nie.

Moenie die bediening van medegelowiges onderskat nie. Hulle kan vir jou bid, jou raad gee, jou bemoedig en jou in die Here versterk (1Sam. 23:16). As jy gereeld by ander gelowiges is, sal jy ook onthou dat jy op pad hemel toe is, dat die probleme van hierdie lewe tydelik is, dat die onsigbare dinge van die hemel vaster is as die stresvolle dinge wat jy met jou oë kan sien en dat dít wat jy tans by die werk beleef so lig soos ’n veer is in vergelyking met die onmeetbare massa van heerlikheid wat op ons wag (v.17-18, 5:17, Rom. 8:18, 1Joh. 2:17).

Eintlik berei die swaarkry jou voor vir die heerlikheid wat kom. Paulus bedoel nie dat ons die hemel kan verdien deur swaar te kry nie (v.17). Sy punt is eerder dat die hemel soveel soeter sal wees ná al die swaarkry wat ons op aarde beleef. Dit beteken ook dat daar ’n beloning op jou wag as jy t.s.v. die swaarkry aangehou het om die Here te dien (v.17, Matt. 5:10-12).

‘Beteken dit dat ek, t.s.v. stresvolle werksomstandighede, op my pos moet bly en dat ek nie ’n ander werk mag soek nie?’ Dit is nie wat ek sê nie. Wat ek probeer sê, is dat jy eers vir jouself moet vra of jý nie miskien die een is wat dinge vir jouself moeilik maak nie: dalk omdat jy verslaaf is aan werk, omdat jy bitter is teen iemand, omdat jy oor die algemeen nie ’n goeie verhouding met die Here en met ander mense het nie, ens. As die probleem in jou eie hart is, help dit nie jy kry ’n nuwe werk nie, omdat jy na ’n paar maande wéér ongelukkig sal wees. Sorteer daarom eers dinge met die Here uit en bly waar jy is.

Indien jy egter getrou dien en jou baas jou oorlaai, sodat jy nie tyd kry vir stiltetyd, jou gesin, of die kerk nie, moet jy met hom praat. Praat met die Here en ander volwasse Christene voor jy met hom praat (Spr. 11:14, Matt. 7:7, Jak. 1:5). Sorg dat jy die regte gesindheid het as jy met hom praat. Verduidelik die situasie aan hom. Maak seker van wat hy van jou verwag: wat móét jy doen en wat is nié deel van jou werksomskrywing nie. Stel ook vir jou ’n rooster op van wat jy moet doen, wat jy eerste moet doen, wanneer jy dit moet doen, ens. ’n Bietjie beplanning kan jou help om meer doeltreffend te werk.

Indien jou baas onredelik is en nie jou werklading wil verminder nie, kan jy die Here vra om vir jou ’n ander werk te gee. Vra Hom vir nuwe krag, terwyl jy wag (Jes. 40:30-31). Glo dat Hy vir jou die uitkoms sal gee, dat Hy die situasie tot jou voordeel sal uitwerk, dat Hy jou karakter sal vorm en jou meer soos Jesus sal maak, en dat Hy besig is om jou voor te berei om ander te help wat soortgelyke omstandighede beleef (1:4, Rom. 8:28-29, 1Kor. 10:13, Jak. 1:2-4).

Dit is nie nodig dat jy uitbrand nie. Dis nie nodig dat jy in die hospitaal, of in ’n psigiatriese inrigting beland, of dat jy ’n senuwee ineenstorting by die werk kry nie. Met die hulp en genade van die Here kán jy jou werkstres op ’n Bybelse manier hanteer.

Kategorieë