
Romeine 12:2
Hierdie is ’n relevante onderwerp. Dit is nie net skoliere en studente wat beroepskeuses moet maak nie. As gevolg van die onlangse grendelstaat sit baie Suid-Afrikaners sonder werk. Dit mag selfs wees dat vir een of ander goeie rede besluit het om jou werk te bedank. Hoe kies ’n mens ’n nuwe werk? Wat volg is vier beginsels wat jou sal help om die regte werk, of beroep te kies.
1. Moenie soos die wêreld dink nie
Ek het ’n video gesien van ’n skaap wat groot geword het saam met honde. Hy hardloop, spring en speel soos ’n hond. Party Christene is so: hulle glo die waarheid van die evangelie en lewe heilig. As dit egter by beroepskeuses kom, dink hulle soos die wêreld. Hulle Christenskap is met ander woorde geestelik, maar nie prakties nie. Maar as Jesus vir jou gesterf het en jou verlos het, behoort jou hele lewe aan Hom (v.1). Moet dan nie in enige area van jou lewe soos die wêreld dink, of lewe nie; ook as dit by beroepskeuses kom nie.
Hoe kies ongelowiges werk? Wat is die faktore wat hulle besluite beïnvloed? Hulle jaag geld. Hulle wil soveel as moontlik geld hê vir so min as moontlik werk. Of hulle soek ’n maatskappy wat nie harde werk vereis nie. Hulle wil min werk—punt. Party van hulle soek ’n beroep waar hulle soveel as moontlik af het. Ander soek ’n werk as sekuriteit. Party wys ’n sekere werk van die hand, omdat hulle blykbaar meer werd is as dit. Hulle sal eerder by die huis sit en niks doen nie, as om ’n werk te doen wat benede hulle is. Of hulle soek ’n werk waar hulle status en aansien sal hê. Of wat van ’n werk wat hulle goeie voordele soos ’n mooi kar bied? Sulke mense wil bybly met die rykes. ‘Sal hierdie werk my suksesvol laat lyk?’ is die vraag wat hulle hulleself afvra.
Ander wil weet of ’n sekere beroep hulle droom beroep is. Ander maak staat op hulle emosies en sê: ‘Ek het net gevoel dat dit die regte werk is.’ Party het ’n slegte huwelik en soek ’n werk wat sal verseker dat hulle soveel as moontlik weg is van die huis af. Party wil hê dat die maatskappy hulle opleiding, graad, of CV moet waardeer, sodat hulle dadelik in ’n bestuurspos kan begin. Party kies ’n werk op grond van groepsdruk: ‘Wat verwag ander mense van my? Sal hulle op my neerkyk as ek ’n sekere werk doen?’ Party soek ’n werk wat lekker lyk, selfs al raai sewe wyse mense hulle af (Spr. 26:16). Party soek ’n werk met die grootste moontlike pensioenplan in gedagte. Party vra hoe gou hulle die korporatiewe leer kan klim.
Party wil weet: ‘Kan ek 16 gaatjies in my liggaam hê en swart lipstiffie dra?’ Indien die werk dit nie toelaat nie, vat hulle dit nie, want: ‘Ek gaan nie vir húlle verander nie.’ Party soek ’n werk waar hulle nie onder iemand hoef te werk nie, omdat hulle hulle eie baas wil wees. Party kies ’n werk, omdat hulle twee keer in ’n ry dieselfde advertensie gesien het en dit as ’n teken beskou dat hulle die werk moet vat. Party glo dat ’n sekere werk nie vir hulle bedoel is nie, omdat hulle al vier keer probeer het en onsuksesvol was.
Nie al die bogenoemde faktore is verkeerd nie, maar as dit die belangrikste faktore is, dink jy soos die wêreld (v.2). Hoe verhoed ’n mens dat die wêreld se denkpatrone jou beïnvloed? Moenie jou gedagtes met hulle raad, propaganda, en lering vul nie: die radio, die televisie, die koerant, tydskrifte, sosiale media, blogs, gesprekke om die braaivleisvuur, gesprekke by die werk, onderwysers, dosente, handboeke, en ongelowige beroepsielkundiges (Ps. 1:1). Hoe móét jy dan ’n beroep kies?
2. Dink Bybels
Almal het ’n wêreld beskouing; ’n uitkyk op lewe. ’n Ongelowige wat Gen. 1-3 verwerp en in evolusie glo, sal sê dat gay huwelike en aborsie nie verkeerd is nie. ’n Christen wat die Bybel glo, sal sê dit is sonde. Dit is asof jy ’n gekleurde bril dra wat alles waarna jy kyk, inkleur. Rom. 12:2 sê basies dat jy die bril van die wêreld moet weggooi en dat jy die lewe deur die bril van die Bybel moet beskou. Dit is moeilik om die wêreld se manier van dink af te skud as dit oral om jou is en as jy self op ’n tyd daarin gelewe het.
Om jou te help om reg te dink, moet die Here jou van binne af nuut maak en transformeer deur sy Gees (v.2, Ef. 4:23, Joh. 3:3, 5, 2Kor. 5:17). Hy gee jou ’n hele nuwe uitkyk op die lewe. Nou moet jy leer om elke dag die wêreld se manier van dink af te lê en God se manier op te neem (v.2, Gk. 2Kor. 3:18). As jy dit nie doen nie, sal jy soos ’n ongelowige wees wat sy werk geniet en geld maak, maar dit vir homself doen en nie vir die Here nie. En wat help dit jy lewe lekker op aarde, terwyl jy geestelik brandarm is en vir ewig so sal bly in die hel?
Die ongelowige se grootste probleem is dat hy nie reg dink nie. ‘Wat bedoel jy? Ek is ’n mediese dokter en slim man! Ek dink dieper as die meeste mense wat jy ken!’ Nee, jy dink nie. Jy lewe vir die hier en die nou. Jy dink nie aan wat sal gebeur wanneer jy die dag jou asem uitblaas nie. Jy skryf die Bybel af, omdat National Geographic dit diskrediteer. Jy het egter nog nooit die Bybel vir jouself nagevors nie. Jou verwerping van die Bybel is so onlogies soos ’n regter wat iemand skuldig bevind sonder dat daar ’n hofsaak was.
Om te bewys dat jou verstand nie reg werk nie, kan ek jou wys dat jy moreel dwaas is. Jy weet byvoorbeeld dat drank jou gesin sal benadeel, maar jy suip nog steeds by elke geleentheid wat jy kry. Jy weet dat jy iemand anders se familie sal opbreek en dat jy jou lewensmaat en kinders se harte sal breek as jy egbreuk pleeg, maar jy doen dit in elk geval. En dan sê jy vir my dat jou verstand reg werk? Ek dink nie so nie.
Jesus moet jou in ’n nuwe mens verander. Jy moet besef dat jy verlore is, dat jy teen ’n heilige God gesondig het, en dat jy sy straf in die hel verdien. Bely jou sonde, bekeer jou daarvan, smeek Hom om genade, en glo in Jesus as jou enigste hoop, omdat nét Hy die straf vir sondaars op Homself geneem het aan die kruis. Hy sal jou red as jy Hom aanroep (Rom. 10:13). En as Hy jou gered het, kan jy reg dink oor God, jouself, die lewe, jou werk, en alles (v.2).
Om jou denke verder te vernuwe, moet jy jouself met die Skrif deurdrenk soos wat ’n dronk man met alkohol deurdrenk is: dit moet jou lewe en jou gedagtes beheer. Om net ’n dagstukkie te lees is nie genoeg nie. Jy moet jou gedagtes met die Skrif vul: lees dit, memoriseer dit, bepeins dit, bestudeer dit, en luister na goeie Bybelse prediking. Vra die Heilige Gees om die Bybel vir jou oop te maak (Ps. 119; 143:10, Spr. 3:5-6, Joh. 14:26, 16:13, Kol. 1:9, Jak. 1:5). Lees dit dan met ’n hernude verstand. Soek al die verse op wat oor werk handel (gebruik ’n konkordans op die internet). Bid deurentyd vir die Gees se hulp om te verstaan. Vra ander mense om saam met jou te bid en vra jouself dan die volgende vrae af:
[a] Is jou besluit sonde?
Dit sal sonde wees as jy ’n prostituut, dwelmhandelaar, of uitsmyter in ’n kroeg word. Of miskien versoek die beroep ander mense om te sondig: ’n kroegman, ’n drankwinkel-, of ’n Casino eienaar. Sulke beroepe is buite die kwessie vir ’n Christen. Maar selfs gewone werk kan sonde wees as jy geld en status jaag, of as jy jou gesin moet afskeep om die ure by te bring.
[b] Sal dit jou geestelik bevoordeel en ander mense help?
Om hierdie vraag te beantwoord, moet jy soveel as moontlik feite oor die beroep, of werk hê. Praat met ander mense, doen navraag en lees op. Sal die werk min tyd los vir die Here, jou gesin, die kerk, of jou bejaarde ouers? Sal dit jou versoek om onheilig te lewe (1Tess. 4:3)? Sal dit die samelewing ekonomies bevoordeel (Jer. 29:7)? Sal jy genoeg hê om jou gesin en ander mense mee te help (Ef. 4:28, 1Tim. 5:8)? Sal jy genoeg verdien, sodat jy nie op ander mense hoef te steun om jou te onderhou nie (1Tess. 4:12)?
Dalk soek jy al lank werk en kry jy slegs poste wat min betaal. Dit is nou wel nie die beste nie, maar as ek jy was sou ek dit vir tyd en wyl aanvaar, totdat die Here ’n ander werk voorsien.
Miskien wil jy ’n spesifieke werk afwys, omdat daar te veel ongelowiges is (1Kor. 5:9-10). Maar dit is nie ’n rede om ’n werk van die hand te wys nie. Vra eerder die Here se beskerming teen die duiwel en getuig deur jou woorde en dade van die Here (Matt. 5:16, 6:13, Joh. 17:15).
[c] Pas dit by jou profiel?
Ek ken ’n man wat sy matriek seun uitgevat het vir koffie. ‘Wat wil jy volgende jaar doen?’ het hy hom gevra.
Ek wil I.T. studeer, pa.
Hoekom?
Want ek wil geld maak!
Hoekom?
Want dan kan ek instrumente koop en musiek maak!
Hoekom los jy dan nie die I.T. nie en gaan maak musiek?
Dit is presies wat die seun gedoen het. Die pa het gesien dat sy seun passievol is oor musiek. Ongelukkig sal dit nie altyd so werk nie. Soms moet jy iets doen waarin jy nie belangstel nie (Neh. 3). In daardie geval moet jy nog steeds jou beste doen (Pred. 9:10). Die normale patroon is egter dat die Here ons sekere vaardighede, talente, belangstellings en begeertes gegee het. Dit is goed en reg as jy daarvolgens vir jou ’n werk kies (1Tim. 3:1-2).
As jy nie ’n werk kry nie, kan jy jou vaardigheid gebruik en self iets begin. Ek dink byvoorbeeld aan mense in ons gemeente wat nie op die oomblik hulle besigheid kan bedryf nie. Om ’n inkomste te verdien, het hulle begin om beskuit en pasteie te bak. Miskien werk vaardigheid nommer 1 nie altyd om ’n inkomste te verseker nie. Bid en beplan dan vir alternatiewe opsies.
[d] Wat sê ander gelowiges?
Om te weet wat jy moet doen, kan jy jou ouers vra (Spr. 3:1). Dit geld as jy nog jonk is. As jy ouer is, kan jy volwasse gelowiges vir raad vra (Spr. 11:14, 15:22). Dit is tog een van die maniere waarop die Here sy wil aan ons bekend maak. Ek onthou byvoorbeeld hoe ek graag verder wou studeer. Ek het die ouderlinge hieroor gevra en nadat hulle die saak deeglik ondersoek het, het hulle nee gesê: ‘Die studies waarvoor jy aansoek gedoen het, is te veel. Jy sal nie by jou studies en die gemeentewerk uitkom nie.’ Hulle was heeltemal reg.
3. Neem ’n besluit
Twee weke voor my troue het ek koue voete gekry en wou ek kop uittrek. Dit is heeltemal normaal om angstig te voel wanneer jy groot besluite neem. Dink gerus aan Jesus se angs in die tuin van Getsemane. Die feit dat jy angstig is, beteken dus nie noodwendig dat die Here jou wil keer, of dat dit die verkeerde besluit is nie. As jy bogenoemde stappe reg gevolg het, hoef jy jouself nie te bevraagteken nie. Neem die besluit en voer dit deur.
‘Maar hoe kan ek 100% seker wees dat dit die Here se wil is?’ Meet jou besluit teen God se wil in die Bybel (v.2). As dit daarmee ooreenstem, is dit goed, aanneemlik, en volmaak volgens God se wil (v.2). As jou besluit egter met die Skrif bots, is dit nie die Here wat jou gelei het nie, maar jou emosies, die vlees, jou hormone, te min slaap, die duiwel, die pille wat jy drink, jou siekte, stres, of iets anders.
Moet dan nie twyfel, of angstig wees as jou besluit nie met die Bybel bots nie, as dit nie Bybelse beginsels oortree nie, en as jou gewete rustig is nie (Rom. 14:23). God is nie kwaad vir jou nie. Aanvaar dat die Here vir jou die werk gegee het en doen dit om Hom te verheerlik (Kol. 3:23, 1Kor. 10:31).
4. Onthou dat God soewerein is
Die Here werk gewoonlik deur die punte wat ek hierbo genoem het. Ek ken iemand wat ’n chemiese ingenieur was. Toe haar derde kind gebore is, toe besluit sy dat haar kinders se lewens belangriker as ’n suksesvolle loopbaan is (sien Tit. 2:4-5). Sy het haar werk bedank om haar kinders groot te maak.
Maar selfs al volg ons bogenoemde beginsels om besluite te neem, moet ons dit aan die Here oorlaat om te besluit hóé Hy ons gebede wil antwoord (Spr. 16:1, 3, 9). Soms gebeur dit dat die Here jou planne omkeer en dat Hy jou op ’n ander manier antwoord as wat jy verwag het.1 Kom ek noem ’n paar voorbeelde.
Johannes Calvyn wou die rustige lewe van ’n Bybelstudent in Strasbourg geniet. Toe hy van Noyon na Strasbourg vertrek het, het Karel V en Francis I se troepe die pad beset. Gevolglik moes hy ’n ompad via Geneve neem. Toe hy daar aankom, het Willem Farel hom gevra om te bly en die evangelie te preek. Hy wou nie. Farel het kwaad geword en gesê: ‘As jy hierdie geleentheid van die hand wys, sal die Here jou studies vervloek!’ Calvyn het geglo dat die Here deur Farel met hom praat. Hy het in Geneve gebly en ’n groot werk vir die Here gedoen (vgl. Hand. 16:6-10, Jak. 4:13-15).2
Martyn Lloyd-Jones het ’n belowende mediese loopbaan voor hom gehad. Die Here het hom egter swaar belas om die evangelie te preek. Hy het sy mediese loopbaan gelos en een van die mees invloedryke predikers in die 20ste eeu geword.3
My vriend Jannie Vosloo wou ’n dierkundige word. Alles was in plek, maar toe keer die Here hom. Hy het my vriend tot die bediening geroep, sodat hy vandag ’n predikant is.
As gevolg van baie lang ure by SASOL het my broer sy werk bedank. Hy was vir sewe maande sonder werk. Hy het aansoek gedoen by verskeie plekke, maar nie werk gekry nie. Op sy verjaarsdag, toe stuur ’n eks-kollega vir hom ’n boodskap. My broer het sewe jaar laas van hom gehoor. ‘Baie geluk met jou verjaarsdag,’ het hy gesê. ‘Bly jy nog in Secunda? Werk jy nog vir SASOL?’ ‘Baie dankie,’ het my broer geantwoord. ‘Ek bly nog in Secunda, maar werk nie op die oomblik nie.’ ‘Ons soek iemand by Hatch in Secunda,’ het die man gesê. Hatch was besig om mense te retrench. Te midde daarvan het hulle ’n pos vir my broer geskep!
Willie Black was ’n prediker in die noorde van Skotland. Op ’n dag het ’n sendeling by sy gemeente kom preek. Die sendeling het oor die Here se werk in Korea gepraat. Dit het Willie se hart aangegryp. ‘Wil die Here hê ek moet Korea toe gaan?’ het hy gewonder. Hy het die volgende dag met vakansie gegaan. ‘Here! As U wil hê ek moet Korea toe gaan, laat iemand asseblief vandag die woord “Korea” sê.’ Omdat hy oppad was met vakansie, het hy geweet dat hy niemand van die gemeente sou raakloop nie.
Die eerste nag het hy by ’n vriend se huis oorgeslaap. Hy het sy vriend van die vorige dag se diens vertel, maar het nie die land se naam genoem nie. Sy vriend het gelag en gesê: ‘Dalk wil die Here hê jy moet Korea toe gaan!’ Willie het Korea toe gegaan. Toe hy daar kom, toe vra die Koreane hom om hulle te leer om eksposerend te preek (Skrifuitleg). Toe hulle verder daaroor praat, toe sê een van die Koreane: ‘Ons het verlede in X maand hiervoor begin bid.’ Die tyd waarna hulle verwys het, was die presiese maand waarin die Here ’n las vir Korea op Willie Black se hart gelê het!4
Om tekens van die Here te vra, is gewoonlik ’n uitdrukking van kleingeloof soos in die geval van Gideon en Tomas (Rigt. 6, Joh. 20). Die feit dat die Here geduldig en genadig is, moenie maak dat ons Hom vir bewyse vra dat die Bybel waar is nie. Ons moet eenvoudig glo dat die Bybel God se lig vir ons pad en sy lamp vir ons voet is (Ps. 119:105). Laat ons met ander woorde deur die geloof lewe en nie deur aanskoue nie (2Kor. 5:7).
1 Vir ’n goeie en gebalanseerde hoofstuk oor besluitneming, sien Stuart Olyott, Something Must Be Known & Felt (Bridgend, Wales: Evangelical Movement of Wales, 2014), 89-112
2 N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 3 (London: Grace Publications Trust, 2004), 214-215
3 Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 80-110
4 Doulgas Kelley, If God Already Knows—Why Pray? (Fearn, Ross-Shire: Chrsitian Focus Publications, 1995), 73-76