Numeri 8:23-26
Hoe dink die wêreld oor aftrede? Vir hulle is die ideaal om vir die laaste 15, of 20 jaar van jou lewe gholf te speel, vakansie te hou, TV te kyk, by mense te kuier, met jou kleinkinders te speel, en jou stokperdjies te beoefen. Ek het byvoorbeeld mense by ’n vakansie-oord ontmoet wat hulle huis in Pretoria uitverhuur het en vir drie jaar met hulle karavaan op die kampterrein gestaan het.
In ons tyd het baie mense die begeerte om gou ryk te word en af te tree as hulle 45, of 50 is. Hulle wil so ryk wees dat hulle vir baie jare nie hoef te werk nie, maar net kan ontspan. Dit is egter ’n onchristelike idee. Ek stem heelhartig saam met die volgende aanhalings:
‘Retirement (when interpreted as cessation from work, and a time to indulge in loafing, the sole pursuit of hobbies, sports and other self-interests) is a non-Christian concept.’ (Jay Adams).1
‘Is there any biblical warrant for the modern, Western assumption that old age or retirement years are to be years of coasting or easing up or playing? I am not aware of such a principle in the Bible.’ (John Piper).2
‘O God, don’t let me waste my final years! Don’t let me buy the American dream of retirement—month after month of leisure and play and hobbies and putzing around in the garage and rearranging the furniture and golfing and fishing and sitting and watching television. Lord, please have mercy on me. Spare me this curse.’ (John Piper).3
‘Where in the Bible do [you] see [retirement]? Did Moses retire? Did Paul retire? Peter? John? Do military officers retire in the middle of a war?’ (Ralph Winter).4
God wil hê dat jy moet werk totdat jou kragte begin kwyn. Selfs dan moet jy nie ophou werk nie, maar eerder ’n ander tipe werk doen.
1. Die Leviete se diens (v.23-24)
Toe ek in my 20’s was, het ek gedurig deur die nag gewerk. Nou en dan werk ek nog tot middernag, maar ek verkies om te slaap. God weet dat jonger mense meer energie het as ouer mense (Spr. 20:29). Dus het Hy vir die jonger Leviete swaarder werk gegee as vir dié wat oor 50 was (v.23-25).
Wie was die Leviete? Hulle was uit die stam van Levi, een van Jakob se twaalf seuns. Die priesters was ook uit die stam van Levi. Hulle was egter uit die bloedlyn van Aäron. Alle priesters was Leviete, maar nie alle Leviete was priesters nie. Die priesters het offers gebring en vir die volk gebid, terwyl die Leviete hulle assistente was. Wat het hulle gedoen? Hulle is in drie groepe verdeel: Gerson, Merari en Kehat (Num. 3:17).
Die Leviete uit Gerson was verantwoordelik vir die materiaal, gordyne, seile en tentkoorde van die tabernakel (Num. 3:25-26). Hulle moes dit afslaan, op twee ossewa’s (getrek deur vier osse) vervoer en dit weer opslaan (Num. 7:7). Die Leviete uit Merari was verantwoordelik vir die tabernakel se balke, voetstukke, pilare, penne en koorde (Num. 3:36-37). Hulle moes dit met vier wa’s vervoer wat deur agt osse getrek is (Num. 7:8). Die Leviete uit Kehat het geen wa’s ontvang nie, omdat hulle die heilige meubels van die tabernakel op hulle skouers moes dra (Num. 3:31, 7:9). Robert Murray M’Cheyne som die Leviete se take op as volg:
The Kohathites upon their shoulder bear
The holy vessels, covered with all care;
The Gershonites receive an easier charge,
Two waggons full of cords and curtains large;
Merari’s sons four ponderous waggons load
With boards and pillars of the house of God.5
Die Leviete het hulle diens begin toe hulle 25 was (v.24). In Dawid se tyd is die ouderdom vervroeg na 20 (1Kron. 23:24, 27, Esra 3:8). Dit blyk dat hulle eers vir vyf jaar moes waghou, voordat hulle op 30-jarige ouderdom kon begin om die tabernakel op te slaan, dit op die waens te laai en om dit te vervoer (Num. 3:6-8, 28, 4:3). Hoekom kon hulle dit eers doen hulle 30 is? Dalk het dit iets te doen met die feit 30-jariges oor die algemeen meer verantwoordelik is as iemand wat 20, of 25 is.
2. Die Leviete se aftrede (v.25-26)
Mense oor 50 is meer geneig om operasies te kry op hulle knieë, skouers, heupe, nekke en rûe as dié wat onder 50 is. Omdat mense se liggame ouer raak, kon die Leviete geen swaar diens doen ná 50 nie (v.25). In ’n wêreld sonder gevorderde mediese hulp, sou die Leviete langer gevat het om te herstel na ’n besering.
Vandag tree mense af op 55, 60, 63, of 65. Dit beteken egter nie jy is nutteloos nie. Die Here gooi jou nie weg wanneer jy kragte taan nie. Baie mense in die wêreld doen dit: sodra jy aftree, vergeet hulle van jou. Die Here is nie so nie, maar Hy onthou jou nadat jy afgetree het en as jy oud is. Ps. 71:9, 18 sê: “Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie... En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.”
Moet dan nie bekommer oor hoe jy sal oorleef as jy afgetree het nie. Ek bedoel nie jy moet roekeloos wees, of dat jy nie geld mag wegsit nie. Die punt is eerder dat jy nie op jou eie planne vir die toekoms moet staatmaak nie. Vertrou eerder die Here om vir jou te sorg nadat jy afgetree het en as jy oud is. God se Woord sê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie... en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red... Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” (Ps. 37:25, Jes. 46:4, Matt. 6:34).
Dink verder as jou aftrede en jou oudag. Bêre vir jou skatte in die hemel (Matt. 6:19-21, Luk. 16:1-13, 1Tim. 6:17-19). Wat help dit jy het genoeg vir jou aftrede, maar jy verloor alles wanneer jy jou asem uitblaas (Mark. 8:36, Luk. 12:16-21, 16:19-31)? Maak daarom seker dat jy geestelik ryk is (Matt. 13:44-46). Hoe word ’n mens geestelik ryk en wat beteken dit? Geestelike rykdom is iets wat nie kan opraak nie. Dit is meer waardevol as al die skatte op aarde. As jy dit het, sal jy vir ewig lewe. Ek praat nie hier van die lang misrabele lewe van biljoenêrs wat alewig meer soek, omdat R10 bijoen, R20 biljoen en R100 biljoen nie die leemte in hulle siele vul nie. Hulle het alles wat hulle begeer, maar dit kan nie gesondheid, liefde, ’n goeie nagrus, vrede, ’n stil gewete, en ’n gelukkige gesin koop nie.
Geestelike rykdom is anders en word geniet in ’n lewe vol vrede, liefde, blydskap, dankbaarheid, goedheid, en omgee vir ander. Dit is ’n lewe waar ons in verwondering staan oor iets wat oneindig keer meer asemrowend en waardevol as ’n Rolls Royce, die Cullunian diamant, ’n seiljag, die duurste huise in Bel Air, Buckingham paleis, die Switserse Alpe, die Stille Oseaan, die Melkweg, biljoene engele, die heelal en alles daarin. Ek praat van hier Jesus Christus en sy heerlikheid (Joh. 17:5, 24, 2Tess. 1:10). Die ewige lewe en die rykdom waarna ek verwys, kan gevind word in Hom, omdat Hy self die lewe is (Joh. 14:6, 17:3, 1Joh. 1:2, 5:11-12, 20).
Beskou dus enige skat wat die wêreld jou kan bied as hondemis en ontvang Jesus deur die geloof (Fil. 3:7-9). Glo dat sy kruisdood meer waardevol is as Singapoer, Switerland, Dubai, en die heelal se rykdom. As gevolg van Jesus se kruisdood kan Hy jou sonde vergewe, jou red van die hel, jou ’n nuwe mens maak, jou die hemel gee, en joune wéés (Rom. 8:17). En omdat Hy joune is, ontvang jy alles saam met Hom (Rom. 8:32, 1Kor. 3:21-23). Nie dat ons Hom wil misbruik om by ander dinge uit te kom nie. Iemand wat so dink, verstaan nie hoe waardevol Jesus is nie. Dit sou wees soos om ’n koning se paleis te begeer, omdat jy een goue skroef in sy huis wil hê. Iemand wat Jesus het, weet dat Hy meer waardevol is as al die dinge wat Hy kan gee. Daarom soek ons nie eerste na die dinge wat Hy kan gee nie, maar ons soek Hóm. Dit is ook hoekom ons nie die Amerikaanse droom jaag om in luuksheid en gemak af te tree nie. Ons jaag iets beter; iets groter. Ons soek iets wat nie tot ’n einde sal kom as ons die dag sterf nie. Ons soek iets wat volkome sal wees as ons sterf; iets wat vir ewig sal aanhou.
Dit is hoekom jy nie geestelik moet afkoel wanneer jy ouer raak nie. Neem eerder toe in jou liefde en ywer vir die Here. Jy het meer tyd as voorheen. Gebruik dit om die Here beter te leer ken en om Hom beter te dien. Gebruik die lewenservaring, wysheid, en lang pad wat jy met die Here gestap het om die volgende geslag te beïnvloed (Tit. 2:3-5). Dit is wat die Leviete gedoen het. Ná 50 het hulle nie meer swaar diens gedoen nie (v.25). En tog het hulle die jong Leviete gehelp en hulle geleer om die tabernakel te beskerm (v.26, ESV, Heb. lishamar mishmereth). Dit is wat ’n leraar soos Martyn Lloyd-Jones gedoen het. Na sy aftrede uit die pastorale bediening, het hy predikers oor die wêreld gehelp om hulle werk beter te doen. ’n Prediker genaamd Stuart Olyott gebruik sy aftrede om leraars te besoek en hulle te bemoedig.
Om dan af te tree uit jou gewone werk, beteken nie jy raak heeltemal onaktief nie. Jy werk net op ’n ander manier. Jy het ekstra tyd om betrokke te wees in die gemeente. Jy werk ook in jou tuin, in en om die huis, of as ’n vrywillige werker by ’n kinderhuis of oue tehuis. ’n Afgetrede tannie in ons gemeente doen dit. Sy besoek gereeld die ou mense in die tehuis naby haar.
Moet asseblief nie na 65 jou dae op die stoep deurbring en rus totdat jy sterf nie. Hou jouself eerder besig met dit wat die Here oor jou pad bring en doen dit na die beste van jou vermoë (Pred. 9:10). Dra vrug vir die Here, selfs as jy oud is: vertel die volgende geslag van sy groot werke (Ps. 71:18, 92:14-15). Prakties beteken dit dat jy nie jou diens vir die Here moet ophou wanneer jy aftree nie. Moses het in die Here se diens begin toe hy 80 was en het vir 40 jaar aangehou totdat hy dood is (Eks. 7:7, Deut. 34)!
Op grond van sulke voorbeelde, asook ander Bybelse beginsels het ek nie ooghare vir konstitusies en beleide wat sê dat ’n leraar, of sendeling moet dien totdat hy 65 is en dat hy daarna moet aftree nie. Hoekom moet jy aftree as die vlam nog in jou hart brand en jy die vermoë het om te dien? Baie Bybelkarakters het nog gedien toe hulle oud was. Josua (Jos. 13:1-7, 23:1-2), Kaleb (Jos. 14:10-12), Dawid (1Kron. 23:1 e.v.), en Paulus (Hand. 20:24, 2Tim. 4:7) is maar ’n paar voorbeelde. Martin Holdt het sy laaste boodskap gepreek ’n week voordat hy hemel toe is. John MacArthur is 80 en preek nog steeds twee keer op ’n Sondag. R.C. Chapman het sy laaste boodskap gepreek toe hy 98 was. Die preek het ’n uur en ’n kwart geduur.6 Ek ken ’n Baptiste predikant wat 81 is en nog ten volle aktief is in die bediening.
Maar wat as jy geestelik moeg is? In so ’n geval is die oplossing nie om af te tree nie, maar om op die Here te wag: “Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jes. 40:28-31).
Maar wat as jou liggaam nie meer wil saamwerk nie? Die Here sal jou nie verkwalik as jy nie meer so baie kan werk, of stadiger werk nie. Doen egter wat jy kan, al is dit net om vir sendelinge briewe te skryf, om bemoedigende WhatsApp’s vir gelowiges te stuur, of om vir mense te bid (1Sam. 12:2, 23, Luk. 2:36-37, 1Tim. 5:5, Filem. 9-10). Ek het ’n prediker ontmoet wat na sy beroerte nie meer kon werk nie. In sy siekte het hy sy dae deurgebring om vir mense te bid. Dit is ’n baie goeie en effektiewe bediening om te hê.
Indien jy ’n vermoënde ou mens is, kan jy die Here se werk finansieel ondersteun. Dink byvoorbeeld aan Barsilai in 2Sam. 17:27-29, 19:32. Selfs toe hy 80 jaar oud was, het hy sy rykdom gebruik om vir koning Dawid te ondersteun toe hy vir sy seun Absalom moes vlug.
My punt is eenvoudig dat jy nie die wenstreep bereik het, omdat jy 65 is nie. Jy moet jou gawes, vermoëns, en ervaring gebruik om die Here te verheerlik totdat jy die dag doodgaan. Hiermee bedoel ek nie dat die Here teen rus is nie. In die Ou Testament het Hy sy volk baie tyd gegee om te rus: die Sabbatdag, Sabbatdae by die verskillende Feeste, ’n hele jaar van rus vir die land elke 7 jaar, en ’n jubeljaar elke 49 jaar. In die Nuwe Testament is daar ook ’n beginsel van rus. Ons sien byvoorbeeld hoe Jesus vir die dissipels gesê het: “Kom julle self in die eensaamheid na ’n verlate plek en rus ’n bietjie.” (Mark. 6:31).
Om hard te werk en genoeg te rus is goed. Maar om nét te rus nadat jy 65 bereik het, is onbybels. Moet dan nie inkoop op die wêreld se manier van aftree nie, maar tree áán vir verdere diens as jy die dag van jou gewone werk aftree. Moenie soos die paartjie wees wat op vervroegde pensioen gegaan het toe hy 59 was en sy 51 nie. Volgens die Februarie 1998 uitgawe van Reader’s Digest het die paartjie afgetree in die ryk woonbuurt van Punta Gorda, Florida. Hulle het die res van hulle lewens deurgebring om sagtebal te speel, om op hulle 10 meter treiler (’n tipe boot) te vaar, en om skulpe op te tel. Toe John Piper die artikel lees, was sy reaksie die volgende:
‘Picture them before Christ at the great day of judgment: “Look, Lord. See my shells.” That is a tragedy. And people today are spending billions of dollars to persuade you to embrace that tragic dream. Over against that, I put my protest: Don’t buy it. Don’t waste your life.’ 7
Laat ons eerder leer om volgens die wysheid van C.T. Studd (1860-1931) se woorde te lewe:
Only one life,
’Twill soon be past;
Only what’s done
for Christ will last.
1 Jay Adams, A Theology of Christian Counseling (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 1979), 136
2 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 312-3
3 John Piper, Rethinking Retirement (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2008), 27-8. Gratis beskikbaar by https://document.desiringgod.org/rethinking-retirement-en.pdf?ts=1446648026
4 Ralph Winter, The Retirement Booby Trap, Mission Frontiers 7 (July 1985): 25. Aangehaal in Piper, Rethinking Retirement, 24
5 Andrew Bonar, Robert Murray M’Cheyne (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 2012 [1844]), 140
6 Robert L. Peterson, Robert Chapman (Neptune, New Jersey: Loizeaux, 1995), 182
7 John Piper, Don’t Waste Your Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2003), 45-6