1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Here, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, Here, U ken dit geheel en al.” (Psalm 139:1-4).
Party Christene sal dadelik antwoord: “Natuurlik weet God alles – hoekom doen jy eers die moeite om so iets te vra?” Wel, vir sommige kerkmense is dit níé so voor die hand liggend nie. Daar is groot teoloë wat anders dink; teoloë wat sê dat God nie noodwendig weet wat ons volgende aksie gaan wees nie. God kan raai, maar Hy kan nie met enige sekerheid wéét nie. Maar wat sê die Bybel?
In sy boek oor prediking, vertel John MacArthur van 'n student wat graag 'n insekdeskundige wou word. In een van sy eerste klasse het 'n professor van igtiologie ('n visdeskundige) gesê dat hy vir 'n uur lank 'n dooie vis moes bestudeer, en alles neerskryf wat hy raakgesien het. 'n Uur! hoe sou hy dit ooit regkry? Nadat hy sy obeservasies neergeskryf het, het die professor daarna gekyk en gesê: “Ek sal oor vyf ure terug wees – skryf alles neer wat jy raaksien.” Sjoe! Hy het dit gedoen. En toe die volgende dag weer. En toe weer. Na 'n week het hy folios vol geskryf. Hy het nooit gedink dat hy so baie dinge sou kon opmerk nie.
Maar die student se kennis van daardie vis is niks in vergelyking met God se kennis van jou nie (v.1). So te sê al die werkwoorde in v.1-4 staan in 'n perfektum – 'n afgehandelde aksie in die verlede. God se kennis van jou is nie soos 'n rekenaar se ‘kennis’ van 'n moeilike formule nie. Die rekenaar moet eers deur sy geheue soek (al gebeur dit blitsvinnig) om die antwoord te kry. God weet alles dadelik en gelyk. Sy kennis van jou is 'n afgehandelde aksie in die ewige verlede. Hy weet in 'n enkele oomblik alles van jou, hoeveel sandkorrels daar in die wêreld is, hoeveel sterre daar in die hemel is, en alles anders wat moontlik geweet kán word. Die Psalmis sê: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (Psalm 147:4-5). Met ander woorde, die getal van die sterre hét 'n einde; God se gedagtes het nie. Jesus het gesê: “En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.” (Matteus 10:30). 'n Beter vertaling sou sê dat ons hare genommer is. Dis nie asof die Here moes tel om te weet hoeveel daar is nie. Hy het in een oomblik 'n nommer vir elke haar gegee, en weet as nommer 9476 in die stort wegspoel. Wat 'n duisend jaar terug gebeur het is vir God so helder soos gister: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.” (2 Petrus 3:8). Moenie 'n fout maak om te dink dat God se kennis van jou lewe abstrak is nie. Hy het 'n liefdevolle kennis van die mens, en in besonder van sy kinders: “U...ken my.” (v.1) en nie net die dinge aangaande my nie. Maar beste van alles is dít: God ken elke detail van jou, en tog het Hy jou lief. (John MacArthur, God – Coming Face to Face with his Majesty, Victor Books, WHEATON, 1993, p.53).
Toe Hagar in trane onder 'n boom sit, het God haar gesien en vertroos (Genesis 21:16-17). Toe die Israeliete deur die Egiptenare verdruk is, het God dit gesien en Moses gestuur om hulle te verlos (Eksodus 2:23-25). God sien en weet ook alles van jou. In Psalm 139:1-4 lig Dawid vier areas van ons lewens uit om dit te wys:
[1] God stel baie belang in jou lewe en is betrokke in elke aksie (v.2a). In Psalm 91:11-12 lees ons dat God selfs sy engele stuur om te keer dat jy jou voet teen 'n klip sal stamp. Hulle sal jou bewaar in al jou weë. God sien as jy moeg is en gaan sit, of as jy uitgerus voel en opstaan (v.2a). Jy kan nie sê dat God nie weet of omgee wat jy deurmaak nie, want Hy weet alles van jou. Laat v.2a vir jou 'n troos wees, maar laat dit ook dien as 'n teenvoeter vir sonde. God het vir heilige koning Hiskia se vyand gesê: “Maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas.” (2 Konings 19:27). Om te sorg dat hy nie egbreuk sou pleeg nie, het Job gesê: “Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?” (Job 31:4).
[2] God ken jou gedagtes van ver af (v.2b) – of jy in Kaapstad of Beijing is, of jy in 3700 v.C. of 2013 n.C. leef. In Matteus 9:4 staan daar: “En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?” Jesus het geweet wat die Fariseërs dink, en dit bevestig natuurlik dat Hy die God van Psalm 139:2b is. Ons gedagtes is vir God so duidelik dat Thomas Watson sê: “Thoughts speak as loud in God’s ears as words do in ours.” (A Body of Divinity, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1970, 1974, p.55). Omdat God selfs jou gedagtes ken, moet jy troos vind dat Hy jou gebede kan ‘hoor’ selfs wanneer jy nie 'n woord uiter nie. Maar hier moet die goddelose mens vrees. God sal Hom oordeel vir die sondige dinge wat Hy dink. Niks kan vir God se oë weggesteek word nie: “in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.” (Romeine 2:16). Hierdie waarheid moet jou wegdryf van sonde af. Om wellustig te wees, is soos om egbreuk te pleeg voor God se aangesig. Om bitter te wees, is soos om moord te pleeg voor Hom. Onthou dit.
[3] God ken al jou weë: jou daaglikse roetine en gewoontes (v.3). “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebreërs 4:13). God se oë deursoek waar jy loop en lê soos 'n boer wat die kaf van die koring skei – Hy weet presies watse goeie en slegte dinge jy doen. Omdat dít waar is, hoef jy nie slapeloos wakker te lê nie. Jy hoef nie te bang te wees as jy in die nag gaan slaap of in die dag rondgaan nie. Maar jy moet ook nie in 'n bed klim om te sondig nie, want God sien jou (v.3). Die kinderliedjie waarsku: “O, be careful little feet where you go...For the Father up above, is looking down in love.” God sien wat jy doen en waar jy gaan. Moet dan nie skynheilig wees en voor ander wil maak asof jy iemand anders is nie. Wees opreg en deursigtig, want die Here sien wie en wat jy regtig is.
[4] God ken jou woorde voordat jy hulle sê (v.4). God weet selfs wat jy wóú gesê en gedoen het: “Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? Here, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die Here: Hy sal afkom. Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die Here antwoord: Hulle sal uitlewer. En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent ses honderd man—hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.” (1 Samuel 23:11-13). God het geweet wat die inwoners van hierdie stad sóú gedoen het. Kort voor Elisa dood is, het koning Joas hom besoek. Die profeet het vir die koning gesê om pyle in die grond in te skiet. Joas het dit gedoen, maar ná die derde keer opgehou. 2 Konings 13:19 wys vir ons Elisa se reaksie: “Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.” Jesus het eenkeer gesê: “Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.” (Matteus 11:21).
Astronome ontdek gereeld nuwe sterre stelsels. In die 1930’s het wetenskaplikes uitgevind dat die coelacanth vis nie uitgesterf het nie. God is nie so nie. Hy weet alles en leer nooit iets nuut nie. Hy vergeet ook niks nie, en is nooit verward, teleurgesteld, of verras nie.
Miskien teken jy beswaar aan: “Hoekom sê God dan in Genesis 6 dat Hy berou gehad het dat Hy die mens gemaak het? As God geweet het die mens gaan sondig, sou Hy mos nie jammer gewees het dat Hy hom gemaak het nie?” God is 'n Persoon en nie 'n masjien nie. Hy het ware emosies. Die feit dat jy weet jou babaseun sal oud word en doodgaan, beteken nie dat jou hartseer ‘fake’ is wanneer jy by sy graf huil nie.
Hoor ek nóg 'n beswaar: “Maar as God alles vooruit weet is dit nie mý skuld as ek sonde doen nie – Hý het geweet ek gaan sondig en is die outeur van sonde.”? 'n Trein kan net op die spore ry wat die ingeneur gebou het. Maar dit is die drywer se eie keuse as hy Kaapstad toe wil ry. Net so het God alles vir ons lewens uitgelê (die spore), maar dit is nie sy skuld as ons kies om sonde te doen nie (Kaapstad toe te ry). Petrus sê dit só: “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Handelinge 2:23). God het geweet en beplan dat Jesus gekruisig sal word, maar tog was die Jode (en nie God nie) skuldig aan die moord. God het die treinspoor ontwerp en gebou waarbuite hulle nie kon beweeg nie. En tog het hulle self gekies om die spoor op 'n verkeerde roete te volg.[1] Moenie God se kennis wil uitdaag en bevraagteken nie. Laat dit eerder vir jou 'n bron van vrede en troos word.
Dalk is jy baie bewus van jou sonde, en maak God se alwetendheid jou bang. Dan moet jy jou bekeer. Jy moet die evangelie glo: God is heilig en haat jou sonde. Jy verdien sy oordeel en straf. God het 'n plan gemaak om sondaars van die straf te verlos. Hy het 'n mens geword en perfek gelewe. Hy het die straf namens helverdiende sondaars op Homself geneem aan die kruis. Hy het gesterf en weer opgestaan uit die dood. As jy jou van jou sonde bekeer, die waarheid van die evangelie glo, en volkome op Christus vertrou vir verlossing, dan sal jy gered word.
[1] Ek probeer ’n eenvoudige punt uitlig, en daarom moet my illustrasie nie op elke punt deurgetrek word nie. ’n Mens kan sê dat die ingeneur geweet en beplan het dat die spoor tot in Kaapstad moet loop, en daarom is hý verantwoordelik as mense daarheen wil reis. Geen illustrasie kan God se absolute soewereiniteit én die volkome verantwoordelikheid van die mens 100% verduidelik nie.