Lukas 3:1-14
Lorette se man vergeet om vir haar te sê dat die skoonfamilie kom kuier. Sy hoor dit drie ure voor die tyd. Sy is omgekrap en jaag om die huis op te ruim, beddegoed te was en kos voor te berei. Haar man koop blomme om jammer te sê dat hy haar nie laat weet het nie. Na ’n lang gesprek sorteer hulle dinge uit.
Ongelukkig is die Messias se koms nie dieselfde as jou skoonfamilie wat kom kuier nie. Hiervoor kan jy nie onvoorbereid wees nie. Wees daarom gereed om jou God te ontmoet (Amos 4:12). In Luk. 3 het Israel die Messias se eerste koms verwag, terwyl ons sy tweede koms verwag.
1. Die tyd van sy koms (v.1-2)
In 2010 het iemand my ’n video van ’n prediker gewys wat sê dat Jesus in 2013 kom. Natuurlik het dit nie gebeur nie. Volgens die Bybel weet niemand wanneer Jesus weer kom nie (Matt. 24:36, Hand. 1:7). Met ‘die tyd van sy koms’ verwys ek dus na Jesus se eerste koms eerder as na sy tweede koms.
Lukas is pynlik noukeurig en sy deeglike navorsing is deur die Heilige Gees geïnspireer (Luk. 1:1-4, 10:7, 1Tim. 5:18). Ons sien byvoorbeeld sy akkuraatheid met betrekking tot die tyd van Jesus se eerste koms in v.1-2. Jesus en Johannes se bedienings het begin in die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius (v.1). Dit was omtrent in die jaar 26 n.C., omdat Tiberius reeds van 11 n.C. af saam met sy stiefpa Augustus regeer het (alhoewel Tiberius se heerskappy amptelik eers in 14 n.C. begin het).1
Onder die keiser was daar ’n klomp amptenare wat hy aangestel het om namens hom oor verskeie provinsies te regeer. Pontius Pilatus was die goewerneur van Judea in die Suide van Israel (v.1). Die Nuwe Testament en die geskiedenis beskryf hom as wispelturig en wreed (Luk. 13:1, asook die kruisgebeure in die vier Evangelies).2
Lukas noem verder die name van ’n paar tetrargs, of viervorse. ’n Tetrarg is iemand wat oor een deel van ’n streek regeer wat in vier verdeel is. Herodes Antipas was tetrarg van Galilea in die Noorde van Israel (v.1). Hy was die seun van Herodes die Grote by ’n Samaritaanse vrou genaamd Malthace. Hy was seksueel losbandig, boos, moordlustig, agterbaks, bygelowig, en het ’n slegte invloed op ander gehad (v.18-20, Mark. 6:14-29, 8:15, Luk. 13:31-32, 9:7-9).3 Sy broer Filippus was tetrarg van Iturea en Tragonitis in Sirië, Noord-Oos van die See van Galilea (v.1). Van die verskillende Herodesse het hy die beste karakter gehad.4
Lisanias het oor Abilene—’n streek Noord van Damaskus in Sirië—regeer (v.1). Sy voorvader genaamd Lisanias het ook oor Abilene regeer, maar het in 36 v.C. onder Mark Antony en Cleopatra van Egipte gesterf.5 Die Lisanias van ons teks was een van daardie Lisanias se nasate.
Annas en sy skoonseun Kajafas het as hoëpriesters gedien (v.2). In 15 n.C. het ’n Romeinse amptenaar genaamd Valerius Gratus, Annas uit sy hoëpriesterlike amp verwyder.6 Omdat die Jode hom egter nog erken het, het Annas en Kajafas saam as hoëpriesters gedien (v.2, Matt. 27:57-68, Joh. 18:13, 19, 22, 24, Hand. 4:6).7 Dit was in hiérdie tyd wat die Woord van die Here in die woestyn tot Johannes, die seun van Sagaria gekom het (v.2, Luk. 1:80). Hy was die laaste Ou Testamentiese profeet en het God se volk na die Nuwe Testament in Jesus gewys (Luk. 16:16).
Wat is die punt van hierdie twee verse? Selfs in die donkerste tye waar bose leiers oor die wêreld regeer, is daar hoop. J.C. Ryle (1816-1900) het gesê: ‘The darkest hour of the night is often that which just precedes the day... In a moment [Christ] can turn his church’s midnight into the blaze of noonday.’8 Moet dan nie wanhopig wees oor wat tans in die wêreld gebeur nie, maar onthou Psalm 2:
1 Waarom is die volke rusteloos
en maak die nasies nuttelose planne?
2 Die konings van die aarde
neem stelling in
en die heersers span saam
teen die Here en sy Gesalfde:
3 “Kom ons breek hulle boeie stukkend,
kom ons gooi hulle bande van ons af.”
4 Hy wat in die hemel sit, lag;
my Heer dryf die spot met hulle.
5 Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan,
met sy woede verskrik Hy hulle:
6 “Ek self het my Koning gesalf op Sion,
my heilige berg.”
7 Ek wil die vaste besluit bekend maak:
Die Here het vir My gesê:
“Jy is my Seun,
vandag het Ek jou verwek.
8 Vra dit van My
en Ek sal volke gee as jou erfdeel,
die uithoeke van die aarde
as jou eiendom.
9 Jy sal hulle verpletter
met ’n ystersepter,
soos erdewerke
sal Jy hulle stukkend slaan.”
10 Daarom, konings, wees verstandig;
wees gewaarsku, regters van die aarde.
11 Dien die Here met ontsag
en juig Hom toe met bewing!
12 Soen die Seun,
sodat Hy nie toornig word,
en julle op die pad omkom nie,
want sy toorn vlam maklik op.
Gelukkig is almal wat by Hom skuil.9
Die bose kan nie wen nie—die stryd is die Here s’n. Martyn Lloyd-Jones (1899-1981) het gesê: ‘How often have people thought that Christianity was defeated! When you look back you will see that people have said, “This is the end.” Then a revival has come.’10
2. Die rede vir sy koms (v.3-6)
Toe ek nog in Nelspruit gebly het, het ’n vrou eenkeer vir my gesê: ‘We need more hellfire-and-brimstone preaching.’ Die hel is ’n realiteit en tog verkondig ons Jesus Christus wat mense van die hel red eerder as net die hel self (Joh. 3:16-17). Johannes het so gepreek. Hy het nie net oor sonde gepreek om mense te laat skuldig voel nie, maar het bekering en vergifnis van sonde deur die Messias verkondig (v.3, Luk. 1:77). Om hierdie bekering en vergifnis uit te beeld, moes mense hulle laat doop (v.3). Dit was asof die bruid haarself vir die Bruidegom moes reinig. Is jy ’n rein bruid? Of noem jy jouself ’n Christen, terwyl jy nie eintlik ’n wit trourok dra nie, aangesien jou lewe met die modder van sonde besoedel is? Draai na die Here toe en bekeer jou, sodat Hy jou kan vergewe (v.3, Luk. 24:47, 1Joh. 1:9). Miskien weet jy nie hoe om jou te bekeer nie. Vra Hom om jou bekering te skenk (Hand. 5:31, 11:18, 2Tim. 2:25). Word gedoop as jy jou bekeer het. Daardeur illustreer jy dat die Here jou skoongewas het (v.3, Hand. 22:16, 1Kor. 6:11).
En tog fokus ons nie op die doop nie, maar op die evangelie (1Kor. 1:17). Saam met Johannes sê ons: ‘Maak gereed om jou God te ontmoet!’ (v.4-6, Jes. 40:3-5, Mal. 3:1, Luk. 1:76). In die ou dae sou ’n boodskapper voor die koning se geselskap uitloop om klippe en stompe uit die pad te skuif en om slaggate op te vul. Hy moes seker maak dat die koning ’n gemaklike reis het. Dit is die gedagte in v.4-5: “Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit! Elke kloof sal opgevul en elke berg en heuwel sal platgemaak word. Maak die krom paaie reguit, en die hobbelrige paaie gelyk!”
Wat is die hindernisse tussen jou en die Here; die dinge wat jy moet verwyder om gereed te wees vir sy koms? Is daar krom paaie in jou lewe wat reguit gemaak moet word; dinge wat die Heilige Gees vir jou uitwys (v.4-5, Hand. 2:40)? Lê dit aan die Here se voete. Bekeer jou daarvan en vra vergifnis (v.3). Dan sal God sy heerlikheid en verlossing in Christus aan jou openbaar (v.6, Jes. 40:5, 2Kor. 4:6). En as jy dit gesien het, sal jy meer wil hê. Sonde sal nie meer vir jou aantreklik wees nie en jy sal by Jesus wil wees. Jy sal wonder hoe jy ooit gedink het die hemel kan vervelig wees. Jy sal uitsien om Jesus se heerlikheid saam met mense van alle nasies te bewonder (v.6, Joh. 17:24, Op. 5:9).
3. Die voorbereiding vir sy koms (v.7-14)
Iemand het die doel van prediking as volg beskryf: ‘To disturb the comfortable and to comfort the disturbed.’ Alhoewel dit nie die hoofdoel van prediking is nie, is dit heeltemal Bybels (Amos 6:1, Matt. 12:20). Johannes het beide gedoen. Hy het mense eers ongemaklik gemaak en hulle daarna vertroos. Hy het niemand gevrees nie, maar het mense aangespreek toe hulle uit die Judea-streek en Jerusalem gekom het om gedoop te word (v.7, Matt. 3:5). Hy het hulle ’n addergeslag genoem en basies gesê dat hulle kinders van Satan, of die slang is (v.7, Gen. 3:15, Matt. 12:34, 23:33, Joh. 8:44). ‘Waar het julle gehoor dat julle God se vurige oordeel kan vryspring deur gedoop te word sonder bekering (v.7)?’ het hy hulle gevra. Wat help dit tog dat jy die teken van bekering en vergifnis het as jy nie bekering en vergifnis self het nie? Hoekom wil jy dan gedoop word as jy in sonde lewe? Dra vrugte wat by die bekering pas (v.8, Hand. 26:20, Gal. 5:22-33). Eers dán kan jy gedoop word en met ’n rein gewete sê dat jy jou bekeer het en vergewe is.
Dalk sê jy: ‘Omdat my ouers gelowig is, hoef ek my nie te bekeer voor ek my laat doop nie.’ Die Jode het ook so gedink: ‘Ons is reg met God, omdat ons die nageslag van Abraham is’ (v.8, Joh. 8:39). Maar sonder bekering het hulle verbondenheid met Abraham niks beteken nie (v.8). As God wou, kon Hy die klippe in kinders van Abraham verander het (v.8, Luk. 4:3, 19:40). Hy sou met ander woorde die heidene se klipharte uithaal en hulle nuwe harte gee, sodat hulle kinders van Abraham kon word (Eseg. 36:26, Gal. 3:7-9, 14, 16, 29).
Is jy ’n kind van Abraham deur die geloof in Jesus? Of maak jy staat op jou ouers se geloof? Onthou asseblief dat God nie kleinkinders het nie en dat jy daarom nie op jou ouers se rug kan ry om in die hemel te kom nie. Jou ouers kan jou die weg na die hemel wys (Joh. 14:6), maar hulle kan hulle nie namens jou bekeer nie. Jý moet dit doen as ’n persoonlike saak tussen jou en die Here: “Bekeer julle en glo die evangelie.” (Mark. 1:15). Totdat jy dit nie gedoen het nie, help dit nie jy word gedoop nie, al het jou ouers ook opregte bedoelings gehad (sien v.7-8, Hand. 2:38).
Iemand sal sê: ‘Maar ek is godsdienstig en het ’n graad in teologie; ek was ook vir baie jare ’n ouderling.’ Jou godsdienstigheid beteken niks nie, veral as dit jou nie eers help om te sien dat jy nie daardeur in die hemel kan kom nie. Jy is verlore en ’n kind van Satan. Jou verbondsteologie beteken niks nie, veral as jy selfgeregverdig is soos die Fariseërs. Bekeer jou tot die Here en word vergewe, sodat Hy jou nie mét jou graad in teologie in die hel werp nie (Matt. 3:7-10).
In Suid-Afrika staan die Here met ’n byl in sy hand soos Hy dit in 70 n.C. met Israel gedoen het toe Hy Jerusalem en die tempel verwoes het (v.9). Deur die geskiedenis het Hy nasies wat hulleself bo sy Woord verhef het soos bome afgekap (v.9, Jes. 10:33-34, Eseg. 17:24, 31:1-18, Dan. 4, Luk. 13:6-9). En sal Hy dit nie met Suid-Afrika doen nie? Sal Hy nie die siek wortels van ons samelewing, die kerk, en ons persoonlike lewens uitkap as ons die slegte vrugte van ’n verrotte moraliteit dra, omdat ons die wêreld se wysheid bo sy Woord gekies het nie (v.9)?
Jy beter glo Hy sal. En as jy jou nie bekeer nie sal Hy jou in die helse vuur werp (v.9, Matt. 7:19, Joh. 15:2, 6). Maak ek jou gevoelens seer? Dit help nie om jouself te bejammer nie. Bekeer jou tot die Here, omdat die byl reeds teen die boom se wortels lê (v.9). Roep saam met die skare: ‘Wat moet ek doen?’ (v.10, 12, 14, Hand. 2:37, 16:30). Johannes se antwoord op hulle vraag was nie bloot dat jy jou oor die algemeen moet bekeer nie, maar dat daar spesifieke bekering moet wees van sondes wat jy in jou hart koester en waarop die Heilige Gees sy vinger lê (v.11-14). Vir die skare was dit om nie materialisties te wees nie, maar om met die armes te deel (v.11, Luk. 6:30, 12:33, 14:12-14, 16:9, 18:22, Jes. 58:7, Ef. 4:28, Jak. 2:15-16, 1Joh. 3:17). Vir die tollenaars was dit om nie méér belasting te vra as wat die regering vereis nie (v.12-13, Luk. 19:8). Vir Herodes se soldate was dit om nie mense af te pers, te dreig en valslik te beskuldig om geld te kry nie, maar om tevrede te wees met hulle salaris (v.14).
Moet jy jou van hierdie selfde dinge bekeer? Gaar jy besittings op, sodat daar nie eers meer plek in jou huis is nie, maar jy jou goed in die buitekamer, of garage moet stoor? Is mededeelsaamheid met die armes enigsins deel van jou begroting? Is jy soos die tollenaars, sodat jy mense indoen om meer in jou eie sak te steek? Werk jy dalk vir die regering waar jy jou posisie misbruik om mense af te pers en te dreig? Kla jy oor jou karige salaris? Is jy met ander woorde so geldgierig soos die base vir wie jy werk? Hou jy jou dalk op met iets wat jy in die donker hoeke van jou hart en jou persoonlike lewe wegsteek? Ek is lank genoeg in die bediening om te weet dat jy dit nie vir die Here kan wegsteek nie en dat Hy dit sal uitbring. As jy jou egter daarvan bekeer, sal Hy jou vergewe, ongeag van hoe sleg jou hart is en hoe groot jou sonde is (Spr. 28:13). As die Here korrupte tollenaars en ’n moordlustige Paulus kon vergewe, kan Hy dit vir jou doen (v.12, Matt. 10:3, 21:31-32, Luk. 7:29, 18:13-14, 19:1-10, 1Tim. 1:15). Erken net dat jy teen Hom gesondig het en dat jy Hom nodig het. Dan sal jy gereed wees om Hom te ontmoet wanneer Hy weer kom.
Jy sal soos my sussie en ’n ander jong meisie wees. Die aand voor my sussie se bekering, toe kyk sy The Pilgrim’s Progress. In die film droom iemand dat Jesus weer kom, maar dat sy nie gereed is nie. Volgens die boek was hierdie persoon eintlik ’n man. Hy was geweldig verskrik toe ander mense die Here in die lug ontmoet en hy agterlaat is. Hy was angsbevange toe Jesus stip na hom kyk. Hy het sy sondes van die verlede onthou en sy gewete het hom aangekla.11 Hierdie beeld het my suster so diep geraak dat sy die volgende dag met iemand gaan praat het. Die man het die evangelie met haar gedeel en sy het tot bekering gekom.
Iets soortgelyk het ’n paar weke gelede met ’n jong meisie in die Noord-Kaap gebeur. Vandat sy 8 jaar oud is, het sy drome oor die wederkoms gehad. Sy het gedroom dat Jesus weer kom en dat sy nie gereed is nie. Sy het baie vals oorgawes aan die Here gemaak, maar nooit regtig tot bekering gekom nie. In 2020 het daar ’n groot worsteling in haar hart begin. Sy het die Here gesmeek om haar te red, maar die hemel was stil. Uiteindelik het sy opgegee en gedink dat die Here haar nie gaan red nie.
In Desember het sy angstig geraak toe sy donderweer hoor. Sy het gedink die Here kom weer en dat sy nie saamgaan nie. Sy het die Here aangeroep om haar te red. Nog steeds was daar nie ’n antwoord nie. ’n Paar weke later het sy weer donderweer gehoor en bang geraak. Sy het die Here gesmeek om haar te red. Haar pa het haar uit Joh. 6:37 gewys dat die Here haar nie sal uitwerp as sy na Hom toe kom nie. Sy het besef dat sy op Jesus moet fokus eerder as op haarself en haar geloof. Uiteindelik het die lig deurgebreek, het sy die evangelie geglo en tot bekering gekom. Omdat sy, asook my suster nou in Jesus glo en by Hom skuil, is hulle gereed om die Here te ontmoet. Wat van jou: is jý gereed om Hom in die oë te kyk?
1 James Orr (ed.), International Standard Bible Encyclopedia (1939). Inskrywing onder ‘Tiberius’. Verkry by https://www.internationalstandardbible.com/T/tiberius.html
2 Ibid., inskrywing onder ‘Pilate; Pontius’.
3 Ibid., inskrywing onder ‘Herod’.
4 Ibid.
5 Ibid., inskrywing onder ‘Lysanias’.
6 Ibid., inskrywing onder ‘Annas’.
7 Ibid., inskrywing onder ‘Caiaphas’.
8 J.C. Ryle, Expository Thoughts on the Gospels: Luke: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 65-6
9 Tensy anders vermeld, kom aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Bybel.
10 Martyn Lloyd-Jones, The Life of Joy and Peace (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1999 [1989, 1990]), 157
11 John Bunyan, The Pilgrim’s Progress (Fearn, Ross-Shire: Christian Focus Publications, 2005), 42-3