Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 March 2023

Wees bly in beproewings

Jakobus 1:1-4

Soms hanteer ons beproewing soos die man van wie John Newton skryf: ‘Suppose a man was going to New York to take possession of a large estate, and his [carriage] should break down a mile before he got to the city, which obliged him to walk the rest of the way; what a fool we should think him, if we saw him wringing his hands, and blubbering out all the remaining mile, “My [carriage] is broken! My [carriage] is broken!” ’1 As Christene kan ons ten spyte van ons beproewings bly wees. Jakobus gee twee redes:

 

1. Jou Meester is goed (v.1)

Jakobus wat die brief geskryf het (v.1), is nie Jakobus die broer van Johannes nie. Hy is Jakobus, Jesus se halfbroer; ’n apostel en leier van die kerk in Jerusalem (Matt. 13:55, Joh. 7:5, 1Kor. 15:7, Gal. 1:19, 2:9, Hand. 12:17, 15:13, 21:18). Te midde van sy belangrike posisie, beskou hy homself as ’n bondslaaf (Gk. doulos) van God en die Here Jesus Christus (v.1). Sy status as bondslaaf beteken God en Christus is sy Meester (v.1).2

God is ’n goeie Meester. Dit wond sy hart om ons te beproef; Hy beproef ons uit liefde, nie nyd nie (Ps. 103:13-14, Klaagl. 3:32-33, Heb. 12:6).

God is ’n wyse Meester. Jerry Bridges sê: ‘He [God] never puts too much of the “salt” of adversity into the recipe of our lives. His blending of adversity and blessing is always exactly right for us.’3 Die Here weet wat elke gelowige nodig het; ons beproewing is handgemaak. God is soos die boer in Jes. 28:23-29: “Gee aandag en luister na my stem! Gee ag en luister na my woorde! Sal ’n boer die hele tyd ploeg om te saai? Sal hy aanhou voortjies maak en sy grond gelyk werk? Sal hy nie, as hy die oppervlakte gelyk gemaak het, swartkomyn strooi en komyn uitsaai, koring in rye plant, en gars waar dit hoort, en spelt aan die kant nie? Sy God het hom die regte manier geleer, hom onderrig. Swartkomyn word tog nie met ’n dorsplank gedors nie; en die wiel van ’n wa word nie oor komyn gerol nie. Nee, swartkomyn word met ’n stok uitgeklop, en komyn met ’n staf. Broodkoring word fyngestamp—daar word nie vir ewig aangehou om dit uit te trap nie. As iemand sy wawiel en perde daaroor laat gaan, laat hy dit tog nie fyn trap nie. Ook dit het sy oorsprong by die Here, Heerser oor alle magte. Hy voer ’n plan wonderbaarlik uit, Hy doen dit met groot vindingrykheid.”

Dit beteken nie die Here verduidelik altyd hoekom Hy spesifieke beproewings in ons lewe toelaat nie. Baie dinge is vir ons verborge (Deut. 29:29, Ps. 131:1). Ons moet eenvoudig glo God is wys; ons beproewings is nie nodeloos nie. God stuur dit met ’n rede: “Ja, Hy sal wat vir my bestem is, volbring. Hy het baie dinge soos hierdie in gedagte.” (Job 23:14). Hy toets ons om aan ons goed te doen (Deut. 8:16). Hy wil ons soos goud suiwer, ons soos Jesus heilig maak, sodat ons goeie vrugte voortbring (Job 23:10, Rom. 8:28-29, Heb. 12:10-11). Die feit dat Hy ons beproef beteken nie Hy haat ons nie; dit wys Hy het ons lief. Thomas Watson sê: ‘If a man should throw a bag of money at another, and it should bruise him a little, and raise the skin, he would not be offended, but take it as a fruit of love; so, when God bruises us with affliction, it is to enrich us with the golden graces of his Spirit, and all is in love’.4

Buiten dat Hy ’n goeie en wyse Meester is, is God ’n soewereine Meester. Die duiwel en slegte mense beheer nie ons beproewings nie; God beheer dit (Ps. 103:19, 115:3, Job 42:2, Jes. 46:9-10, Dan. 4:35). Al het Satan en mense ’n hand in die saak, werk hulle (sonder om dit te besef) God se goeie plan uit. Nadat Josef se broers hom as ’n slaaf na Egipte verkoop het, het hy gesê: “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur—om ’n groot volk aan die lewe te hou.” (Gen. 50:20). Die mense wat Jesus gekruisig het, het kwaad bedoel. God het dit vir die goeie uitgewerk. God beheer siekte (Eks. 4:11, Job 2:6-10), onvrugbaarheid (1Sam. 1:5-6), armoede (1Sam. 2:7), kritiek (2Sam. 16:10-11), rampe (Jes. 45:7, Klaagl. 3:37-38, Amos 3:6), finansiële verlies, die dood (Job 1:12-22, 1Sam. 2:6, 2Sam. 12:14-15), en elke ander beproewing (Ef. 1:11).

Hoe sal dit wees as God nie in beheer was nie; as Hy ons wou help, maar nie kon nie? Ek is bly God en nie die duiwel nie, is in beheer ons beproewings. Dit gee berusting en troos, en help dat jy nie met mense en God baklei nie. Soos Josef kan jy weet God en nie mense nie, is die eerste oorsaak van jou beproewing (Gen. 45:5, 7). Dit moet maak dat jy Hom vrees en tot Hom bid (Job 23:13, 15-17). Stort jou hart voor Hom uit en wag op Hom (Ps. 27:14, 62:9, Jes. 8:17, Klaagl. 3:26). Vra Hom om die verborge dinge in jou hart uit te wys (Job 34:32). Verneder jou onder sy kragtige hand en werp jou sorge op Hom (1Pet. 5:7). Vertrou Hom en vra ander mense om vir jou te bid (2Kor. 1:8-11).

Hierdie gedagtes sou die twaalf stamme in die Diaspora help (v.1). Diaspora beteken verstrooiing. In die Ou Testament het God sy volk meer as eenkeer uit hulle land verstrooi (deur die Babiloniërs, die Assiriërs en Antiochus Epifanes). Dit het Hy gedoen, omdat hulle afgode gedien het (Deut. 4:25-28, 28:64, Joh. 7:35, Hand. 2:5). Soos die Israeliete het God die Joodse Christene uit Jerusalem verstrooi (v.1, 1Pet. 1:1). Dit was nie vir hulle sonde nie. Hy het vervolging toegelaat om die evangelie ver en wyd te versprei (Hand. 8:1-4, 11:19). Jakobus noem die gelowiges die twaalf stamme in die verstrooiing (v.1). Gelowige Jode en heidene is die ware Israel (Rom. 2:28-29, 9:6-8, 11:17, Gal. 3:7-9, 16, 29, 4:28, 6:16, Ef. 2:11-22, Op. 3:9). Hierdie waarheid sou Jakobus se lesers bemoedig. Hulle het huise, geliefdes, hulle vryheid, land, werk en besittings verloor. Nou herinner die Here hulle aan de feit dat hulle sy ware volk is en Hy hulle God. Al moes hulle sonder ’n vaste huis rondswerf, was hulle ’n ware huis in die hemel (Heb. 10:34, 11:10, 13-16, 13:14). Terwyl hulle so rondswerf, het God hulle deur Jakobus se brief bemoedig. Net so bemoedig sy Woord ons in beproewing (Ps. 119:19, 50, 81-82, 157, 161, Rom. 15:4). Dit is jammer dat party Christene in beproewing die Bybel afskeep. Hulle lees dit nie en versuim om dit by die kerk te hoor. As jy hulle hierin aanmoedig, sê hulle: ‘Dit gaan moeilik op die oomblik. My lewe voel onderstebo. Ek sal weer kerk toe gaan as my omstandighede verbeter.’ Om so te sê, maak nie sin nie. Dit is soos as ’n siek mens sê: ‘Ek gaan nie dokter toe nie. Ek sal gaan as ek beter is.’ Jy het juis nou die dokter nodig. Jy moet juis nou by die gepredikte Woord uitkom.

 

2. Die uitkoms is goed (v.2-4)

Jy kan jou oor ’n pynlike pynlike operasie verbly, omdat jy weet dit bring genesing. So kan jy die Here vir jou beproewing dank, omdat die uitkoms goed is (v.2-4, Ef. 5:20, 1Tess. 5:16, 18, Heb. 12:2). Dank die Here vir die goeie dinge in beproewing: die duiwel kan net doen wat die Here toelaat (Job 1:12), jy kan ander bemoedig soos die Here jou bemoedig (2Kor. 1:4), die Here se genade en krag is genoeg (2Kor. 12:7-10), die Vader maak jou soos Christus (Rom. 8:29), jou beproewing is nie God se oordeel nie (Rom. 8:1), God het medelye en verstaan wat jy deurgaan (Heb. 4:15). Wie dit onthou sal hom nie teen die Here en mense verbitter nie. Hy sal die Here vir elke soort beproewing dank: kort en lang beproewings, intense en hangende beproewings, ’n enkel of veelvoudige beproewings (v.2). Dankbaarheid vat nie die beproewing weg nie, maar dit verlig jou belewenis daarvan. Leer dit gouer as later, want beproewings is deel van die lewe (Hand. 14:22, 1Tess. 3:3, 1Pet. 2:21).

Wie blydskap in beproewings wil hê, kan nie soos ’n riet in die wind volgens sy gevoel lewe nie. Jou hart is bedrieglik; jy kan dit nie vertrou nie (Jer. 17:9). Leef volgens wat jy weet en nie volgens wat jy voel nie (v.3). Wat weet jy? Jy weet beproewings is ’n toets (v.3). Die Here toets jou soos goud in ’n smeltoond om te sien wat in jou hart is (Spr. 17:3, 1Pet. 1:6-7). Die vals gelowige val weg in beproewing (Matt. 13:20-21). Sy beproewings sit hom af. Hy dink die Here doen hom in. Toe hy sy hand opsteek om Jesus te volg, het hy nie vir beproewings aangeteken nie. Sy reaksie wys hy het in die eerste plek nie die Here gesoek nie. Hy wou Jesus vir sekere voordele hê: ’n vredevolle gewete, wonderwerke, hulp in ’n krisis, liefde, die ewige lewe. Sy beproewing het hom ontmasker en gewys hy voel ’n veer vir die Here. Hy lewe vir homself. Beskryf dit jou lewe? Wees dankbaar die Here het jou nie uitgewis nie. As Hy al jou onsuiwerhede moes verwyder, sou Hy jou herhaaldelik soos silwer moes louter en jou vernietig (Jes. 48:9-10). Vra vergifnis dat jy die Here soos ’n prostituut behandel; dat jy iets uit Hom wil hê en Hom nie vir Homself dien nie. Dank Hom dat Jesus vir jou gesterf het toe jy ’n goddelose sondaar en vyand van God was (Rom. 5:6, 8, 10). Pleit dat Hy jou nie volgens jou sonde moet vergeld nie (Ps. 130:3-4). Vra Hom om jou van binne af te verander, sodat jy Hom met suiwer motiewe sal liefhê (2Kor. 5:17).

Is jy reeds gered? Beproewing toets nie net die egtheid van jou geloof nie, maar die suiwerheid daarvan (v.3). As alles goed gaan, dink ons maklik ons geloof is suiwer. Beproewing laat die onsuiwerhede soos metaalskuim opkom. Skielik raak jy ongeduldig, bitter, jaloers, geïrriteerd en kwaad. Jy wonder waar dit vandaan kom. Jou geloof is nie so suiwer soos jy gedink het nie. Maar dit is genade dat die Here jou sonde uitwys. Jy kan jou tog nie bekeer van sonde wat onsigbaar is nie.

Sit die Here jou in die smeltoond van beproewing? Wat sien jy in jou hart wat voorheen onsigbaar was? Herinner die Heilige Gees jou deur die Woord en jou gewete aan sonde van die verlede? Bely jou sonde. Hernu jou toewyding aan die Here. Waak net dat jy nie beloftes maak wat jy nie gaan nakom nie: “Wanneer jy ’n gelofte teenoor God aflê, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie, want Hy hou nie van dwase nie. Wat jy ook al beloof—betaal dit! Dit is beter dat jy nie beloof nie

as dat jy beloof en nie betaal nie. Moenie jou mond toelaat om jou liggaam te laat sondig nie. Moenie voor die boodskapper van God sê dat dit ’n onopsetlike fout was nie. Waarom moet God vertoornd word oor jou woorde en jou handewerk vernietig?” (Pred. 5:3-5). Farao het ’n verskeie kere vir Moses gesê: ‘Vra die Here om die plae weg te vat, dan sal ek die Israeliete vrylaat’ (vgl. Eksodus 8-10). Toe die Here die plae wegvat, het Farao sy belofte gebreek. Israel het dieselfde gedoen. ‘Help ons uit dan dien ons U!’ het hulle vir die Here gesê. Hulle het nie hulle belofte gehou nie (Ps. 78:34-37). Lank gelede was ’n man in ’n groot krisis. Hy het vir die Here gesê: ‘As U my uithelp, sal ek...’ Toe die Here hom uithelp, het hy sy belofte gebreek. Toe ek hom daaroor aanspreek, toe sê hy: ‘Ag, jy weet mos; as ’n man in die moeilikheid is, sal hy enigiets sê om daar uit te kom.’

Mense wat dit doen, beskou die Here as ’n kruk. Hulle gebruik Hom as hulle ’n krisis het en as die krisis verby is, draai hulle weg. As die volgende krisis kom, soek hulle Hom weer. Moet die Here nie so hanteer nie. Bekeer jou as Hy jou sonde uitwys. Dien Hom as die krisis verby is. Vertel vir ander hoe Hy jou krisis vir die goeie uitgewerk het; hoe Hy heuning uit die dooie leeu gebring het. ’n Man en vrou in ons gemeente het dit gedoen. Hulle het deur ’n geweldige beproewing gegaan. Die Here het dit gebruik om die man te red en die vrou te herstel. Hulle het voor die gemeente van God se goedheid getuig. Dit is nou drie jaar later en hulle dien nog steeds die Here.

Beproewings leer ons geduldige volharding (v.3). Jy kan nie die omstandighede verander nie en moet op die Here wag. Die vraag is hoe jy dit doen? Skop en skreeu jy; is jy dikbek en bitter; vra jy die Here om die beproewing so gou as moontlik weg te vat? Of wag jy geduldig onder die Here se hand; berbly jy jou in Hom; vra jy die Here wat Hy jou wil leer (v.3, 1Pet. 5:6, Kol. 1:11)? God sal sy volmaakte doel van geestelike volwassenheid in jou bereik as jy reg reageer (v.4, Gk. ergon teleion). Jy is die atleet en die Here die afrigter. Beproewing is die strawwe oefenprogram. Die Here sit gewigte om jou enkels en ’n kar se buiteband aan jou middel. Dit is moeilik om so te oefen. Jy wil opgee, maar dit maak jou sterk en fiks vir die geestelike wedloop. Omdat jy hard geoefen het, sal jy nie soos party uitsak nie, maar volhard en ’n medalje wen. Op die einde sal jy in elke opsig geestelik volwasse wees en in niks kortkom nie (v.4, Joh. 15:2, Gal. 5:22-23).

Beteken dit noodwendig die gelowige wat die meeste beproef word is die mees volwasse? Nee. Party gelowiges gooi geestelike tantrums. Jy sal net groei as jy jou aan die Here onderwerp. Soek Hom in gebed. Leer uit sy Woord en wees gehoorsaam. Dan sal jy geestelik volwasse word en Christus se nabyheid ervaar (v.3-4, Ps. 119:67, 71, Fil. 3:10). Die volwasse gelowige verkies die vuuroond saam met Christus bo ’n gemaklike lewe sonder Hom. Hy verkies ’n lewe in die woestyn bo die Beloofde Land sonder Hom. Hy verkies ’n storm op see saam met Jesus bo droë grond en sonskyn sonder Hom. Hy verkies boeie in die tronk saam met Jesus bo vryheid sonder Hom. Hy verkies ’n marteldood saam met Jesus bo die hemel sonder Hom. Solank hy Christus het, maak dit nie saak hoe lank sy beproewing duur nie. Hy weet gelowiges sien dikwels Christus se heerlikheid in beproewings op maniere wat hulle nie andersins sou nie (Job 42:5, Rom. 5:3-5, Hand. 7:55-56). Nie elke gelowige ervaar dit nie. Party mense trek die gordyne toe en kruip onder die bed weg as die storm opsteek. Wie biddend en geduldig op die Here wag, sal ’n reënboog sien.


1  John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 292.

2  God en Christus is een Meester, nie twee nie. Jesus het gesê: “Ek en die Vader is een.” (Joh. 10:30). Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  Jerry Bridges, Trusting God (Colorado Springs, CO: NAVPRESS, 1988, 2008), 127.

4  Thomas Watson, The Lord’s Prayer (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1965 [1692, 1890]), 307.

Kategorieë