Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 January 2015

Wat sal jy met die evangelie doen?

Hand stretched out

[youtube=http://youtu.be/0kU2dgkQXaw]

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika.  Kort na hy by ‘n nuwe gemeente begin het, het hy sy vriend Ernest Reisinger, besoek.  ‘Ek weet nie wat om te doen nie,’ het Beeke gesê.  ‘Niemand in die gemeente staan neutraal teenoor my nie.  ‘n Paar mense is mal oor my en die res haat my.’  Reisinger het sy hand op Beeke se bo-been geklap:  ‘Dis wonderlik!’ het hy gesê, ‘dit beteken jy is besig om deur te dring!’  Presies dít is wat die evangelie vereis:  wees lief daarvoor en verdedig dit, of haat en verwerp dit.  Handelinge 28:17-31 illustreer dit.

 

Paulus verdedig die evangelie (v.17-23)

In 1988 het John MacArthur The Gospel According to Jesus geskryf.  Die boek was ‘n poging om die oppervlakkige evangelie van die Amerikaanse kerk reg te stel.  Baie predikers en teoloë het gesê dat Jesus jou Verlosser kan wees sonder dat Hy jou Here is:  jy kan gered wees sonder dat jou hart verander is; in sonde volhard en nogsteeds oppad wees hemel toe.  MacArthur wou dié dwaling regstel.  Toe die boek sy verskyning maak, het baie dit aangeval.  Baie jare later het MacArthur in ‘n onderhoud met Iain Murray gesê:  ‘I never dreamed that I would spend a great deal of my ministry protecting the gospel from evangelicals.’ (vry aanhaling).  Dis tragies dat Paulus die evangelie teen God se volk Israel moes verdedig.

Toe Paulus in Rome kom het hy die Joose leiers na hom toe geroep.  Volgens gewoonte het hy die evangelie eerste aan die Jode verkondig (Romeine 1:16).  Hy het aangeneem dat die Jerusalem-Jode se klagtes teen hom hulle ore bereik het, en wou dit regstel.  ‘Die hof het my onskuldig bevind,’ het hy gesê.  ‘Omdat die Jode beswaar aangeteken het móés ek my op die keiser beroep – ek het nie ‘n ander keuse gehad nie.  Ek is nie hier omdat ek iets teen my volk het nie, maar omdat hulle iets teen mý het.  Ek het geen begeerte om wraak te neem nie.  Die ware rede hoekom ek in boeie is, is omdat ek die hoop van Israel – die Messias en die opstanding van die liggaam – verwag.’[1]

Wou Paulus homself verdedig?  Of het hy opgestaan vir die evangelie?  Die Jode het vir hom gesê:  “Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.  Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.” (v.21-22, vgl. 24:5).  Paulus se lewe was rein.  “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Petrus 2:12).

Paulus het met die Jode afgespreek om op ‘n sekere dag na hom toe te kom. Hulle het in groot getalle opgedaag.  Van die môre tot die aand het hy die evangelie van die Koninkryk verkondig en uit die Wet en Profete bewys dat Jesus die Messias is.[2]

Moenie met jou hande in jou sakke staan en toekyk hoe mense die evangelie aanval nie.  Doen iets; verdedig dit!  Hoe moet jy dit doen?  Jy kan nie lojaal wees aan ‘n evangelie waaraan jy geen waarde heg nie.  Eers as jy vir jouself gesmaak het dat die evangelie goed is, sal jy dit verdedig.  Sorg dat jy die feite van die evangelie ken, sodat jy dit kan verdedig.  Kry Galasiërs onder die knie en memoriseer Paulus se opsomming van die evangelie in 1 Korintiërs 15:3-4:  “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte”.

Beskerm die evangelie teen evolusie.  Evolusie sê dat dood voor sonde in die wêreld was; dat dood nie ‘n straf op die mens se sonde is nie.  Dit peuter met die evangelie:  was Jesus se dood God se straf op ons sonde of nie?  Veg om die evangelie teen liberale teologie te beskerm.  Liberale teoloë ontken Jesus se dood in ons plek[3] en sy liggaamlike opstanding uit die dood.  Verdedig die evangelie teen TBN se Prosperity predikers en hulle volgelinge.  Dié mense sê dat Jesus aarde toe gekom het sodat ons ryk, voorspoedig en gesond kan wees.  Vir hulle gaan die goeie nuus oor geld en nie oor die vergifnis van sonde nie.  Beskerm die evangelie teen kultusse; teen dié wat ‘n ander Jesus verkondig.  Dié groepe sê ons gaan hemel toe as ons in Jesus glo plus sekere reëls volg.  Hulle verwerp die evangelie van verlossing uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen.  Moenie bang wees om op te staan by die werk, skool en in jou familie nie.  Moet ook nie bang wees as jou opponent slim argumente en antwoorde het nie.  God is aan jóú kant.  Die meeste mense wat die evangelie verwerp het dit nog nooit vir hulleself getoets nie, maar verwerp dit op grond van ander se getuienis (v.22).

As jy die evangelie verdedig moet jy nie net jou opponente se valsheid uitwys of aanspreek nie.  Bevorder ook die waarheid.  Jou krag om ander te oortuig lê nie daarin dat jy ander weerlê nie, maar in die evangelie self:  dít is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.[4]

Hoekom is dit belangrik om die evangelie te verdedig?  Jesus antwoord:  “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 10:32-33).

 

Die Jode verwerp die evangelie (v.24-31)

Adolf Hitler was ‘n Duitse diktator.  Hoe het mense teenoor sy diktatorskap gereageer?  Dink jy enigiemand het ‘n traak-my-nie-agtige houding ingeneem?  Die wêreld het hom, òf gehaat en teëgestaan (soos Engeland en Amerika), òf hulle lojaliteit aan hom bewys (soos Italië en Japan).  So is dit met Jesus en die evangelie:  jy moet Hom haat of liefhê.  Jy kan nie onpartydig wees of Hom ignoreer nie.  As jy nie vir Hom is nie is jy teen Hom.[5]

Toe Paulus klaar gepreek het was daar twee reaksies:  “sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.” (v.24).  Hoekom het party geglo en ander nie?  In v.25-27 antwoord Paulus uit Jesaja 6:9-10:

“Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê:

‘Gaan na hierdie volk en sê:

Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie,

en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Want die hart van hierdie volk het stomp geword,

en met die ore het hulle beswaarlik gehoor,

en hulle oë het hulle toegesluit,

sodat hulle nie miskien met die oë sou sien

en met die ore hoor

en met die hart verstaan

en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.’”

Met ander woorde, hulle het hulle harte verhard.  Daarom het God ook hulle harte verhard en die evangelie van hulle weggevat (Matteus 21:43).  Voortaan sou Hy na die heidene toe gaan (v.28, Johannes 10:16).  Sondaars glo of verwerp die evangelie, omdat Gód hulle oë oopmaak of aan die hardheid van hulle harte oorgee.  Lukas skryf:  “Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê:  Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene... En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (13:46, 48).  Jesus het gesê:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).

Vir twee volle jare het Paulus rustig in Rome gewoon.  Hy het tente gemaak en geskenke ontvang en homself só onderhou (18:3, Filippense 4:18).  Hy het nie tyd gemors nie, maar die twee jaar goed benut “en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.” (v.30-31).  Hy was nou wel in boeie, maar die evangelie was nie (2 Timoteus 2:9).  In dié tyd het hy Filippense, Efesiërs, Kolossense en Filemon geskryf.[6]  Na die twee jaar in Rome is hy vrygelaat[7], het hy nog kerke besoek, en 1 Timoteus en Titus geskryf.  Jesus se opdrag was dat die evangelie tot aan die eindes van die aarde verkondig moet word (1:8).  Deur Paulus het die evangelie Rome bereik.  In Romeine 16:26 kon hy skryf:  “[The gospel] has been made known to all nations” (ESV).  Hy is weer gevange geneem.  Uit ‘n koue tronksel het hy 2 Timoteus (sy laaste brief) geskryf.  Volgens oorlewering het keiser Nero hom onthoof.

Reageer vandag op die evangelie.  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).  Maar voor jy reageer moet jy weet wat Jesus van jou vereis.

[1] Jesus vereis dat jy jou sondige self moet haat.  Jy moet bereid wees om jou lewe vir Hom te gee.  Jy moet Hom elke dag volg en nie net wanneer dit jou pas nie (Lukas 9:23).

[2] Jesus vereis dat jy liewer is vir Hom as vir jou familie.  Wie sal jy kies as jy tussen Jesus en jou familie moet kies (Lukas 14:26)?  As jy Hom wil volg moet jy gewillig wees om alles prys te gee (Lukas 14:33).

[3] Jesus vereis dat jy jou van jou sonde bekeer (17:30).  Is jy bereid om sekere sondes te los, maar nie almal nie?  Is daar één sonde wat jy net nie wil los nie?  Jesus het gesê:  “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.  En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29-30).

[4] Jesus vereis dat jy die evangelie moet glo (Markus 1:15).  Moenie jou eie weergawe van die evangelie glo nie.  Glo die Bybel se Jesus en evangelie.  Die Bybel sê Hy is volkome God en mens.  Hy het geen sonde gedoen nie.  Hy het aan die kruis gesterf vir sondaars.  Hy is begrawe en het liggaamlik opgestaan uit die dood op die derde dag.  Geloof beteken om hierdie feite te aanvaar, te vertrou dat Hy jou kan red van jou sonde, en na Hom toe te kom.

[5] Jesus vereis dat Hy nie net ‘n deel van jou lewe sal wees nie, maar jou hele lewe.  Hy moet alles wees of niks.  Hy moet in jou bly en jy in Hom (Galasiërs 2:20, Johannes 6:53, 15:5).

[6] Jesus vereis dat jy Hom bo alles liefhet en doen wat Hy sê (Johannes 14:15, Lukas 6:46, 10:27).

Pasop vir die dodelike strik waarin baie al beland het.  Hulle skep ‘n Jesus en evangelie waarmee hulle gemaklik is; ‘n Jesus en evangelie wat nie so rigied, radikaal, veeleisend, aanstootlik, en ongemaklik is nie; “...‘n ander Jesus... ‘n ander evangelie” (2 Korintiërs 11:4).  Moenie jou gewete bedrieg en dink Jesus en die evangelie se eise sal weggaan as jy dit ignoreer of sê dit bestaan nie.  As jy sy stem vandag ignoreer en onverskillig is, bestaan die kans dat Hy jou hart verhard (Hebreërs 3:15, 10:26, 29).  Om vir Jesus te sê ‘wag’ is om ‘nee’ te sê, want almal wat nie vir Hom is nie is teen Hom.

John Bunyan het dit geniet om sonde te doen – veral op Sondae.  Toe hy op ‘n dag in die kerk sit, het die predikant hierteen gepreek.  Bunyan was oortuig dat dié preek voorberei was om sy boosheid uit te wys.  Hy het skuldig gevoel en met ‘n swaar gemoed by die kerk uitgestap.  Hy het probeer om van die preek te vergeet, sodat hy weer sy sonde kon doen.  Dieselfde dag nog, terwyl hy sonde doen, het daar ‘n stem in sy siel gesê:  ‘Will you leave your sins and go to heaven or have your sins and go to hell?’[8]  Dít is die vraag wat Jesus en die evangelie vandag voor jou stel.  Wat sal jy daarmee doen?

 

[1] Sien v.17-20, 24:15, 26:6-8.

[2] Genesis 3:15, Eksodus 12, Deuteronomium 18:15-19, Psalm 16, 22, 69, Jesaja 11, 53, ensovoorts.

[3] In teologie noem ons dit sy plaasvervangende soendood.

[4] Romeine 1:16

[5] Matteus 12:30

[6] Efesiërs 6:20, Filippense 1:13-14, Kolossense 4:18, Filemon 23

[7] Filippense 1:19, Filemon 22

[8] John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners, p.13

Kategorieë