Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 March 2016

Wat maak Christene anders?

God is love

As jy ‘n huis bou en nie sement tussen die stene sit nie, sal ‘n stoute en woelige Boerboel die mure kan omspring. Die sement is dit wat alles aanmekaar hou, sodat dit nie soos ‘n huis van kaarte inmekaar tuimel nie.  Net so is liefde die sement wat elke goeie werk, karakter eienskap, en daad van gehoorsaamheid bymekaar hou.  Paulus sê dat liefde alles in ‘n volmaakte eenheid saambind (Kolossense 3:14).  Sonder liefde beteken die grootste dade van opoffering niks nie (1 Korintiërs 13:3).  Dít is dan wat Christene anders maak:  liefde.  Johannes wys dit vir ons in 1 Johannes 4:7-21.

 

God se liefde (v.7-12)

Elisabet en Magda is in graad 3. Elisabet se ouers is lief vir haar, sorg vir haar, is daar as sy hardloop, kom na haar prysuitdeling toe, help haar met haar huiswerk, vat haar jeug en Sondagskool toe, ry saam met haar fiets, koop vir haar roomys, swem saam met haar in die see, lees vir haar stories voor sy gaan slaap, ens.  Magda se pa is afwesig.  Haar ma sê sy haat haar en wou haar nie hê nie.  Haar ma stel nie belang in haar sport nie, los haar om self met haar skoolwerk te sukkel, laat haar heel Saterdag voor die TV sit, het mans wat by haar oorbly, sê vir Magda om drank aan te dra by partytjies, laat haar tot 19:00 by die naskool wag, ens.  ‘n Mens kan in die meisies se optrede sien wie uit ‘n goeie ouerhuis kom en wie nie.  Elisabet is vrolik, sprankelend, werk netjies, is gesond, en het dissipline.  Magda se werk is agter, haar kop hang, sy het kwaad in haar, sy baklei, en sy luister nie vir die juffrou nie.  In die geestelike realm kan jy sien wie ‘n goeie en liefdevolle hemelse Vader het, en wie die duiwel as sy vader het.  ‘n Gelowige weet God is liefde en het Hom lief.  Hierdie liefde vul sy hart en spoel oor in ‘n liefde vir ander.

 

Ons moet vals lering uitken (v.1-6). Maar dit help nie jy ken dit uit, en het nie liefde in jou hart nie (v.7, Openbaring 2:2, 4).  Iemand wat God ken en uit Hom gebore is, kan nie anders as om die broers lief te hê nie, want liefde kom van God af en Hy is liefde (v.7-8).  God is liefde in sy wese en die Fontein waaruit al die strome van liefde vloei (v.8, Johannes 17:24, 3:35, Romeine 15:30).  Iemand wat dan nie die broers liefhet nie, ken Hom nie (v.8).

 

God het sy liefde vir ons gewys toe Hy sy enigste Seun aarde toe gestuur het, sodat ons nie in die hel sou sterf nie, maar vir ewig kan lewe (v.9). God se liefde is duidelik in Jesus wat sy vyande se verdiende straf op Homself geneem het aan die kruis (v.10, 2:2, Romeine 3:25).  Liefde vir die broers ontspring nie uit onsself nie, maar stroom in ‘n rivier uit Jesus se kruiswonde (v.10, 19).  Die kruis moet ons harte verander sodat ons die broers sal liefhê (v.7).  Die kruis is ook die bloudruk en voorbeeld van ons liefde vir die broers (v.7, 3:16).

 

God het ons gered, vergewe, en verwelkom (v.11). Hoe kan ons mekaar dan nié liefhê nie (Matteus 18:21-35)?  Al kan ons Hom nie sien nie (v.12, 1 Timoteus 6:16), sal mense Hom en sy liefde in ons sien as ons mekaar liefhet (v.12, Johannes 13:34-35).

 

Verstaan God se liefde vir jou. God het jou nie lief vir wie jy is, maar ten spyte daarvan (Romeine 5:8).  Hy is lief vir die wêreld wat Hom haat en verwerp (Matteus 5:45, Markus 10:21, Lukas 6:35, Johannes 3:16).  As jy dink jy is lieflik en Hy kon jou nie weerstaan nie, sal jy jouself liefhê eerder as vir Hom.  As jy in sonde leef en dink:  ‘Hy is lief vir my net soos ek is,’ sal jy versoek wees om te bly soos jy is.

 

Pasop dat jy nie in die ander sloot val en sy liefde betwyfel nie. Dit gebeur veral as jy ly, onseker is oor jou redding, in sonde val, of alleen is in jou oudag.  Maar in hierdie tye is God se liefde juis die anker wat moet keer dat jy sink.  Hy het jou liefgehad met ‘n ewige liefde (Jeremia 31:3).  Uit liefde het Hy jou voor die grondlegging van die wêreld gekies om sy eiendom te wees (Efesiërs 1:4-5).  Dit is onnodig dat jy twyfel.

 

Charles Spurgeon vertel van ‘n vrou wat so getwyfel het.[1]  Sy het gesê dat sy geen hoop het nie, en dat sy skynheilig is.  Die gesprek het so geklink:

 

Spurgeon: Moet dan asseblief nie meer kerk toe kom nie, want ons soek nie skynheiliges daar nie.  Hoekom kom jy?

 

Vrou: Ek kan nie wegbly nie.  Ek is lief vir God se kinders, lief vir sy huis, en wil Hom graag aanbid.

 

Spurgeon: Wel, jy is ‘n snaakse tipe skynheilige; ‘n vreemde soort ongelowige.

 

Vrou: Jy kan sê wat jy wil, ek het geen hoop om gered te word nie.

 

Spurgeon: Wel, volgende Sondag sal ek jou vra om in die kansel te staan, sodat jy vir almal kan sê Jesus Christus is ‘n leuenaar en jy kan Hom nie vertrou nie.

 

Vrou: O!  My hart sal in twee skeur voordat ek so iets sê.  Hy kan nie jok nie.  Al sy woorde is waar.

 

Spurgeon: Hoekom glo jy dit dan nie?

 

Vrou: Ek glo dit, maar glo nie dat dit vir my is nie.

 

Spurgeon: Het jy geen hoop nie?

 

Vrou: Nee.

 

Spurgeon: Hier is vir jou £5.  Dis al wat ek het, maar ek sal dit vir jou gee as jy jou hoop aan my verkoop.

 

Vrou: Ek sal dit nie vir ‘n duisend wêrelde verkoop nie!

 

Hou op twyfel Christen. God is lief vir jou en niks kan jou van sy liefde skei nie – ook nie ouderdom of siekte nie (Romeine 8:35, 37-39).  Bid en peins oor die kruis, sodat jy sy onmeetbare liefde kan ken (Efesiërs 3:18-19).  R.A. Torrey was eenkeer so oorweldig deur God se liefde, sodat hy vir ‘n lang tyd gehuil het.  Op die einde het hy gevra dat God dit nie verder aan hom moes openbaar nie, omdat hy dit nie kon dra nie.[2]  Op 15 Maart 2014 het ek ‘n soortgelyke ervaring gehad.  Dit was onvergeetlik.  God se liefde is nie soos ‘n man wat sy vrou los of ‘n ma wat haar kind weggooi nie (Jesaja 49:14-16).  Sy liefde duur vir ewig (Psalm 136).

 

Hoekom moet jy sy liefde vir jou verstaan? Want eers dan kan jy liefhê (v.7, 19).  As jy sy liefde verstaan sal jy ook uitsien na die hemel, ‘n wêreld van liefde.  Hoe sal ‘n wêreld lyk waarin jy God en jou naaste altyd volmaak liefhet?

 

God se Gees (v.13-16)

‘n Bejaarde predikant het vir ons vertel hoe hy in sy jongdae by ‘n slaghuis gewerk het, en in hierdie tyd tot bekering gekom het. Op ‘n dag het hy vir sy kollegas gesê:  ‘Julle sê daar is nie ‘n Christus nie, en God bestaan nie.  Maar sê vir my: Wie het my verander?’  Hulle het hulle koppe laat sak en nie ‘n woord gesê nie.  Dis die Heilige Gees wat maak dat ons Jesus se liefde ervaar, verstaan, en daarop reageer sodat ons mekaar liefhet (Romeine 5:5, Galasiërs 5:22).  Dit is basies Johannes se punt in v.13-16.

 

Hoe kan jy verseker wees God woon in jou en jy in Hom (v.12-13)? Die Gees oortuig jou dit is so (v.13).  Maar hoe weet jy dit is God se Gees en nie ‘n vals gees nie?  ‘n Vals gees sal jou nie help om die broers lief te hê nie (v.12).  Soos die Gees getuig dat jy gered is, getuig die apostels ook in die Skrif daarvan (v.14, 1:1, Johannes 15:26-27).  Jesus is die Verlosser van die Jode, maar ook van die wêreld (v.14, Johannes 4:42).  As jy bely dat Hy die Seun van God is, is sy Gees in jou en behoort jy aan God (v.15).  Deur sy kruisdood en die Heilige Gees, kan jy God se liefde ken en glo dit is vir jou (v.16).  God is liefde (v.16).  As jy liefhet wys dit jy is in God en sy Gees in jou (v.16).

 

Die Heilige Gees is die waarborg en seël dat jy in die hemel sal ingaan (Efesiërs 1:13-14, 4:30). Sonder die Heilige Gees in jou, is jy voor die hemelpoorte soos ‘n seuntjie wat hoop om met ‘n ou fliek kaartjie die wêreldbeker op Loftus te kyk.  Maak dan seker Hy is in jou.  Jy kan Hom nie kry deur die broers lief te hê nie, maar as Hy in jou is sal jy die broers liefhê.  Hoe kan jy Hom kry?  Hy sal net in jou woon as jy die strydbyl van sonde neerlê, as jy die wit vlag waai en erken Jesus is die Seun van God, die Here en Verlosser van sondaars (v.15).  ’n Nuwe en opregte liefde vir God en ander sal wys dat die Gees in jou is.  Bid vir meer van die Gees, gehoorsaam Hom volgens die Skrif (Lukas 11:13, Efesiërs 5:18, Galasiërs 5:16).  Die mense rondom jou sal weet dat jy nie net jou sokkies opgetrek het nie, maar dat iets in jou gebeur het, dat iets binne-in jou anders is.  Sendelinge soos Robert Moffat en John Paton sal vir jou sê dat daar ’n wêreldse verskil is tussen ‘n inboorling wat die Gees in sy hart het, en die onbeskaafde barbaar wat nie die Naam van Jesus ken nie.

 

God se wet (v.17-21)

Wat sê dit van ‘n land en haar regering se gesondheid as dwelms, aborsie, poligamie, prostitusie, en pornografie wettig is; as tugtelose en rebelse kinders regte het wat deur die grondwet beskerm word? Wat sê dit van ‘n volk en haar Koning as daar ‘n wet van ware en opregte liefde in hulle harte gebrand is; as hierdie wet nie net ‘n eksterne wet is wat afgedwing word nie, maar ‘n diep geestelike drang in hulle om te doen wat die Koning wil hê; ‘n wet wat in hulle harte gegraveer is sodat hulle gesag respekteer, asook ander mense se lewens, reinheid, eiendom, en reputasie?

 

Die Skrif sê: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê:  Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk... En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronomium 4:6, 8).

 

Geen volk of godsdiens het sulke wyse en wonderlike wette soos God s’n nie. Jesus se wet van liefde maak dat ons anders is as die res (v.17-21).

 

As God in jou bly en jy in Hom (v.16), groei sy volmaakte liefde in jou soos ‘n dogtertjie wat in ‘n beeldskone vrou verander (v.17, 12, 2:5). Sy liefde wat deur jou na ander toe vloei, wys sy Gees woon in jou en jy is waarlik gered.  Net soos wat Jesus op aarde God se Seun was, is ons dit ook (v.17, 3:1).  Daarom hoef jy nie die oordeelsdag te vrees of te dink jy gaan dit nie maak nie (v.17-18, vgl. 2:28, 3:21).  Die liefde in jou hart bevestig jy is gered.  Hierdie liefde gooi vrees vir die oordeelsdag soos ‘n inbreker by die deur uit (v.18).

 

Maar iemand wat haat moet straf verwag en het rede om te vrees (v.18). As jy straf vrees pla jou gewete jou oor jou liefdelose, bitter, onvergewensgesinde hart en denke (v.18).  Maar as jy God en ander liefhet, is vrees vir die oordeelsdag onnodig (v.18, Romeine 8:15, 2 Timoteus 1:7).  Liefde vir God en die broers wys dat Hy en sy liefde in jou is (v.19-20).  As jy God se sigbare beeld in jou broer haat, kan jy onmoontlik die onsigbare God liefhê – al jy ook jy het Hom lief (v.20, 12, 3:17, Matteus 25:34-46).  Jesus se gebod was dat ons mekaar moet liefhê (v.21).  Wie Hom liefhet sal hierdie gebod uitvoer (v.21, 14:15).

 

Gehoorsaam die groot gebod om God en jou naaste lief te hê (Matteus 22:37-40). Totdat die Gees nie God se liefde op jou hart gestempel het en jy by hierdie fees aansit nie, sal jy nooit vir God of jou naaste lief wees nie (v.19).  M.a.w. om die liefdesgebod uit te voer moet jy gered wees.  ‘n Ongeredde persoon kan ook sy ‘naaste’ liefhê, maar vir hom is sy naaste slegs dié wat hom terug liefhet.  Die gelowige is anders en is lief vir dié wat die lewe vir hom moeilik maak, hom misbruik, en sosiaal in ‘n ander klas is (Lukas 6:27-36, 10:25-37).  Hy weet ook dat dit maklik is om jou skoonma lief te hê as sy in die Kaap of in Kanada bly, en jy haar net elke ses maande sien.  ‘n Ware gelowige is lief vir dié wat elke dag onder sy neus is (v.20-21).  Hy doen dit omdat hy God liefhet (v.19-20), en nie omdat hy die hel vrees nie (v.17-18).

 

Hy besef dat dit nie help hy hou die kleiner gebooie, terwyl hy die grootste een nalaat nie. Hy gee nie geld, kom kerk toe, lees die Bybel, bid, ken vals lering uit, ly geduldig, en volhard, terwyl die gebod om lief te hê op die rak lê en stof vergader nie (Matteus 23:23, Hosea 6:6, Openbaring 2:2-5).  Hy sorg dat alles wat hy doen in liefde geskied, en dat die grootste gebod die kleineres dryf (1 Korintiërs 16:14).  Net ‘n hart van klip kan God se diep liefde verstaan en onaangeraak bly (v.19).

 

‘n Sekere Frederick Lehman (1868-1953) het ‘n bekende gedig oor God se liefde vertaal. Die gedig se laaste vers lui:

 

Could we with ink the ocean fill,

And were the skies of parchment made,

Were every stalk on earth a quill,

And every man a scribe by trade,

To write the love of God above,

Would drain the ocean dry.

Nor could the scroll contain the whole,

Though stretched from sky to sky.

 

Iemand wat hierdie waarheid in sy hart verstaan het, se lewe kan nie dieselfde bly nie. Dit móét verander, nie waar nie?

[1] Autobiography: vol.1, p.202 (vry vertaal)

[2] D.A. Carson, A Call to Spiritual Reformation, pp.193-194

Kategorieë