Ek weet nie of jy al die Hugenote monument en museum in die Kaap besoek het nie. Sommige mense stel baie daarin belang om hulle Franse familie-geskiedenis na te slaan. Dit is nogal interessant om te lees oor waar ‘n mens se familie vandaan kom. En tog sê die name in ‘n mens voorgeslagte nie regtig vir jou iets oor jou as persoon nie.
Maar met Jesus se geslagsregister is dit anders. Jy sal verbaas wees oor hoe baie ‘n mens van Hom kan leer deur net sy geslagsregister te bestudeer. Maak asb. jou Bybel oop by Lk.3:23-38.
Voordat ons by die teks kom, is dit nodig vir ‘n bietjie agtergrond. Mt.1 en Lk.1 leer vir ons dat Jesus gebore is deur die kragtige werking van die Heilige Gees in Maria se baarmoeder, en nie uit die seksuele verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie.
Die mense was dus verkeerd om aan te neem dat Hy die seun van Josef was (v.23, 4:22, Mt.13:55, Jh.1:46, 6:42). Josef sou Hom natuurlik as sy eie aangeneem het, maar biologies was Jesus net die maagd Maria se seun. Omdat Hy op dié manier gebore is, kan ons sê dat Hy volkome God en volkome mens is: twee nature in een Persoon (Lk.1:31-32, 35, Gal.4:4, Fil.2:6-8).
Die feit dat Hy ‘n geslagsregister het, wys vir ons dat Hy nie maar net soos ‘n mens gelyk het nie, maar dat Hy regtig een was. Maar hoe moet ons die verskille tussen Mt.1 en Lk.3 se weergawe van Jesus se stamboom met mekaar versoen?
Volgens v.23 was Eli Jesus se oupa, en volgens Mt.1:16 was dit Jakob. Net so verskil die name van Dawid af tot by Josef in die twee rekords. Lukas volg die bloedlyn van Dawid af deur Natan (v.23-31), terwyl Matteus dit van Dawid af deur Salomo volg (Mt.1:6-16, 2 Sm.5:14, 1 Kron.3:5). Hoe moet ‘n mens hierdie verskille verstaan?
In sy boek, The Virgin Birth of Christ (pp.202-209), het J. Gresham Machen ‘n baie goeie oplossing vir hierdie ‘probleem’ gegee. Ek gaan op twee van die moontlikhede fokus.
[1] Moses het gesê: ‘As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ‘n seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ‘n vreemde man s’n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit; en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie.’ (Dt.25:5-6).
Hierdie reël mag miskien die rede wees hoekom die name in Matteus en Lukas se rekords verskil. In een of meer gevalle het iemand met sy broer se weduwee getrou en kinders in sy naam gehad. Lukas sou dan bv. die biologiese pa’s se name weergee het, terwyl Matteus die oorlede broers se name opgeteken het.
[2] Dit mag ook wees dat Matteus vir ons Josef se stamboom gee, terwyl Lukas op Maria s’n fokus. Kom ons gestel dat Eli Maria se pa was (v.23). Kom ons gestel verder dat hy nie seuns gehad het nie, maar net dogters (Jh.19:25). In daardie geval sou sy dogters dalk met iemand uit ‘n ander stam getrou het, en dan het hy sy familie-erfenis verloor. Om dit te verhoed het die Here ‘n wet gemaak: indien ‘n man net dogters gehad het, kon hulle nie buite hulle eie stam getrou het nie (Nm.36, 27:1-11). Sodoende sou hulle pa nie sy familie-erfenis verloor het nie.
Die pa sou ook heel waarskynlik sy skoonseun as sy eie aangeneem het, sodat sy familienaam nie uitsterf nie. As dít die geval was, dan was Josef Eli se skoonseun en ook sy aangenome seun, en nie sy biologiese seun nie. Jakob en nie Eli nie, was dan Josef se regte pa (Mt.1:16), terwyl Eli Maria se pa was (v.23). Die implikasie is dat Lk.3 Maria se stamboom is, terwyl Mt.1 Josef s’n is.
Daar is nog name in Lk.3 wat met die Ou Testament rekord verskil. Sommige van die name word net anders gespel, terwyl ander nie met die geslagsregisters in 1 Kronieke ooreenstem nie. Enige goeie kommentaar kan vir jou ‘n oplossing vir hierdie ‘probleme’ gee.
Ek twyfel dan nie in die minste dat Mt.1 en Lk.3 100% akkuraat is nie. Lukas sê tog vir ons dat hy hierdie dinge noukeurig ondersoek het (1:3). En Matteus was een van Jesus se apostels wat by Hom geleer het (Mt.10:3). Verder is die woorde van beide outeurs deur die Heilige Gees geïnspireer en daarom ook foutloos.
Maar ons doel is nie om só op mense se name te fokus dat ons die les mis nie. Buitendien leer die Bybel vir ons om nie oor die detail van geslagsregisters te stry nie (1 Tm.1:4, Tit.3:9).
Wat is dan die lesse wat die Here in hierdie hoofstuk vir ons wil leer? Daar is seker ‘n paar lesse wat ons kan leer, maar vandag wil ek op vier fokus.
Jesus is God
Ek het eenkeer ‘n storie gelees van ‘n universiteitstudent wat vir baie dae lank ‘n vis moes bestudeer. Hy het sy observasies neergeskryf. In die begin het hy nie baie gesien nie. Maar hy het opgelet en uiteindelik bladsye vol geskryf. En so is dit ook met geslagsregisters: om iets daaruit te kry moet ons fyn oplet.
Wat sien jy in Lk.3:23-38? Almal in hierdie geslagsregister het ‘n pa gehad – almal behalwe Jesus in v.23 en God in v.38. Die punt is dan dat niemand die Here gemaak het nie, maar dat Hy die mens gemaak het. Die punt is ook dat Jesus in sy Goddelikheid nie ‘n begin gehad het nie (v.38, Jh.1:1, 8:58, Ps.90:2), maar dat Hy as mens deur die krag van die Heilige Gees uit ‘n maagd gebore is (v.23, 1:35). Hy is die God wat vir Adam gemaak het (v.38), maar ook die mens wat uit Adam se nageslag gebore is (v.23).
Adam was die seun van God deur direkte skepping: God het hom na sy beeld gemaak (v.38, Gn.5:1). Jesus was egter van ewigheid af die Seun van God (Ps.2:7). Adam was ‘n seun wat teen die Here gesondig het, maar Jesus ‘n Seun wat God se hart bly gemaak het (v.22). Selfs die duiwel en sy trawante het geweet dat Jesus die sondelose Seun van God is (4:3, 9, 4:41). Die Jode het dit egter ontken (Lk.22:70-71), en vandag nog ontken mense dit.
Maar as Jesus nie God is nie, kan jy nie tot Hom bid nie, kan Hy jou nie help nie, en is jy besig om sonde te doen as jy Hom aanbid. Hy kan ook nie die Middelaar tussen jou en God wees nie, omdat ‘n mens nie na God toe kan kom nie: ons het iemand nodig wat God en mens is, sodat Hy die Een by die ander een kan verteenwoordig (Job 9:32-33, 1 Tm.2:5).
As Jesus nie God is nie kan Hy jou ook nie red nie, omdat geen mens ‘n ander een se siel uit die hel kan loskoop nie – net God kan dit doen (Ps.49:8-10, 16). As Hy nie God is nie het Hy gelieg toe Hy Homself in Jh.5 gelyk gestel het met die Vader. Sien jy dan dat dit belangrik is om te glo dat Jesus volkome God is? Sonder dit kan jy nie gered word nie.
Jesus is mens
Een van my gunsteling Puriteine het gesê: ‘Life begins with a cry, and ends with a groan’.[1] Dit is seker die fokuspunt van die mens se bestaan. Kyk gerus na die koerant-opskrifte. Daar gaan seker nie ‘n week (dag!) verby wat daar nie nuus is oor iemand se dood nie. Jesus se geslagsregister sê vir ons waar dit alles begin het, en gee ook vir ons die oplossing.
Volgens die rekord en getalle wat ons in Gn.5, 11, 1 Kronieke, Lk.3 en die res van die Bybel het, was daar omtrent 77 geslagte en sowat 4000 jaar van Adam af tot by Jesus. Die frase wat deurlopend in hierdie geslagsregisters voorkom is ‘die seun van’.
Die les is dat die geslagte kom en gaan: ons word gebore en ons sterf weer. Die mens se geboorte en dood is onder ‘n vervloeking (Gn.3:16, 19). Juis daarom het Jesus aarde toe gekom om as ‘n mens gebore te word en weer dood te gaan. Hy het as mens gekom om ons van hierdie vervloekte bestaan te verlos.
Dié wat in Hom glo hoef nie onder sy vloek te lewe en dood te gaan nie. Vir hulle is die dood ‘n wins (Fil.1:21) en het dit nie meer ‘n angel om hulle te steek nie (1 Kor.15:55). Hulle hoef nie die dood te vrees nie, omdat Jesus dit deur sy kruisdood en opstanding oorwin het (Heb.2:15, Op.1:18). Wanneer dit húlle beurt is om dood te gaan sal Jesus by hulle wees (Ps.23:4). Hy is die opstanding en die lewe. Wie dan in Hom glo sal lewe al het hy ook gesterf (Jh.11:25-26). Wanneer Jesus weer terugkom sal Hy ook hierdie mense se liggame uit die dood uit opwek (1 Kor.15).
Jesus is die Messias
Ons lewe in ‘n land en era wat daar baie bedrog plaasvind. Daarom moet jy alewig jou ID-boekie met jou saamdra, dokumente sertifiseer, vewysings kry, ‘n bewys van adres hê en so aan. En so was dit ook met die geslagsregisters in die Bybel. As ons nie Jesus se stamboom gehad het nie, kon mense maklik gesê het dat Hy nie regtig die Messias is nie.
Lukas het reeds in 1:32-33 gesê dat Jesus die Koninklike Messias is: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”
Ook in die stamboom van hfst.3 het hy gesê dat koning Dawid een van Jesus se voorvaders was (v.31). Vir Matteus was dit die fokus van Jesus se stamboom, dat Hy die Seun van Dawid en dus ook die Koninklike Messias was (Mt.1:1).
Dawid het sy koningskap op 30 begin (2 Sm.5:4); sy groter Seun het ook begin bedien toe Hy omtrent 30 jaar oud was (v.23). Is Jesus se Koninklike Messiaskap nie ook die rede hoekom Juda se naam as een van sy voorvaders gelys word nie (v.33)? Jesus is tog die Leeu uit die stam van Juda (Gn.49:8-10, Op.5:5).
Hy is ook die langverwagte nageslag van Adam en Eva wat gekom het om die slang se kop te vermorsel (v.38, Gn.3:15). Hy het reeds in 4:1-13, 33-36 begin om die duiwel te oorwin en het dit aan die kruis voltooi (Jh.12:31, Kol.2:15, 1 Jh.3:8).
Omdat Jesus dan die Messias is moet ons nie saam met die Jode vir iemand anders wag, of soos Johannes die Doper twyfel dat Hy die een is nie (Mt.11:2-3). Omdat Hy die Koning is, moet jy die knie voor Hom buig. Moenie opsetlik met jou sonde aanhou, of dink dat jy die koning van jou eie lewe is nie.
As jy nie nou voor Hom wil buig nie, sal jy Hom eendag met jou eie oë sien. Jy sal op jou knieë gedwing word soos iemand wat ‘n aardbewing beleef en nie anders kán as om te buig nie (Fil.2:10). Jou knieë sal lam word en onder jou meegee.
Maar as jy nou voor Hom buig, sal jy agterkom dat Hy eintlik ‘n baie goeie Koning is. Hy sal sy genade en liefde oor jou uitstort soos die somer reën wat ‘n paar maande gelede Suid-Arika se droë grond deurdrenk het. Hy sal vir jou veg en jou teen jou vyande beskerm. Hy sal tot jou beswil regeer en jou uiteindelik aanstel om saam en namens Hom te regeer (Op.5:10).
Jesus is die Verlosser
Daar is ‘n teologie oor die eindtyd wat sê dat God vir Israel uitverkies het, dat die kerk ‘n onderbreking in sy plan is, en dat God in die toekoms weer van die wêreld af gaan wegdraai na die Jode nie. Jesus se geslagregister en die res van die Bybel gee egter vir ons ‘n ander prentjie: God het by die wêreld begin en toe die na die Jode toe gedraai. Hy het toe na die aarde toe gekom om die wêreld te red, Jode sowel as heidene.
Lukas was die enigste nie-Jood wat ‘n boek in die Bybel geskryf het. Hy het sy Evangelie vir ‘n heiden geskryf: Theofilus, ‘n Romeinse hoë-amptenaar (1:3). Om hierdie rede het Lukas sy rekord van Jesus se geslagsregister teruggevat tot by Adam, die eerste mens en die voorvader van die mensdom (v.38). Sy punt was om te wys dat Jesus die Verlosser van alle mense is – ook die Verlosser van heidene soos Theofilus (Jh.3:16, 1 Tm.2:4, 6-7).
Soos alle priesters, het Jesus sy bediening op 30 begin (v.23, Nm.4:3 e.v., Esg.1:1, 3). Dit het Hy o.a. gedoen om te wys dat Hy ons Hoëpriester is, die Een wat gekom het om die finale offer vir ons sondes te bring (Heb.5, 10). Hy is die Hoëpriester wat bid dat dié wat in Hom glo in God se teenwoordigheid kan inkom (Heb.7:25).
Ons sien ook sy verlossing daarin dat Hy die laaste Adam is. Die eerste Adam het ons in die sonde gedompel (v.38, Rm.5:12), maar die laaste Adam het gekom om ons te red (v.23, Rm.5:19, 1 Kor.15:22, 45). Hy red ons nie net van die sondige dinge wat ons dink, doen en sê nie, maar ook van die sondige natuur wat ons by Adam geërf het (2 Kor.5:17, Ef.2:1-10).
As die hele mensdom dan die kinders van Adam is, beteken dit weereens dat Jesus nie net die Verlosser van die Jode is nie, maar ook van die heidene. Daar is immers ‘n hele klomp nie-Jode in sy voorgeslag (v.32, 34-38, Mt.1:5). Die punt is juis om wys dat daar nie net Joodse bloed nie, maar ook heidense bloed aan die kruis gevloei het. Dit het gebeur om te wys dat Jesus die Verlosser van alle mense is – dit is, almal wat in Hom glo (1 Tm.4:10, ESV).
Is daar ‘n sonde wat Hy nie kan vergewe nie, ‘n sondaar so groot dat Jesus hom nie kan red nie? Die mense in hierdie geslagsregister het lelike dinge gedoen.
- Abraham en Tera het afgode gedien (v.34, Jos.24:2).
- Dawid het egbreuk en moord gepleeg (v.31, 2 Sm.11).
- Juda het met sy skoondogter geslaap (v.33, Gn.38).
- Jakob het mense bedrieg (v.34, Gn.27).
- Noag het dronk geword (v.36, Gn.9:20-21).
- Adam het die hele mensdom in sonde laat val en hulle dood veroorsaak (v.38, Gn.3, Rm.5:12).
En wat is jóú sonde dat Jesus dit nie kan vergewe nie? Kyk met die oë van geloof na die spykermerke in sy hande en voete, en na die wond in sy sy. Was dit tevergeefs? Sal jy sê dat Hy lieg toe Hy in die Bybel gesê het dat Hy dit uit liefde vir sondaars gedoen het? Mense het jou weggegooi, maar Jesus het jou lief. Hy wil hê jy moet jou sonde los en na Hom toe kom. As jy dít doen sal jy uitvind dat Hy nie maar net ‘n Verlosser in Naam is nie – Hy verlos regtig.
En as jy deur Hom gered word, sal jou naam ook in sy stamboom verskyn. Daar sal egter nie staan: ‘Karel die seun van Pieter, die seun van Jasper, die seun van P.G., die seun van Harry, die seun van Frederick... die seun van Jesus’ nie. Daar sal eerder staan dat Andries, Japie, Wilna, Hendrik, Nellie, Chantal, Susan, Ernie, Babs, Dewald, Adele, Roelf... almal die kinders van Jesus is.
[1] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.291