Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 March 2020

Wat leer die Koronavirus ons van God?

Is Coronavirus A Plague from the Bible Book of Revelation?1Samuel 5:1-7:2

Ek het hierdie week ’n WhatsApp gekry wat sê: ‘Ons moenie die idee kry dat die Koronavirus van God af kom nie.’ Is dit waar?

 

1. Hy is die enigste God (5:1-12)

My haarkapper is oortuig dat Allah die ware God is. Ek het vir hom gesê dat ek in die Drie-Enige God van die Bybel glo. Hy het aangedring dat Jahwe ’n vals God is. Maar wie van ons is reg?

In 1Samuel 4 het die Israeliete en die Filistyne teen mekaar baklei. Die Israeliete het die eerste veldslag verloor. Hulle het die ark gaan haal in die hoop dat die Here hulle daardeur sou beskerm. Maar dit het nie gewerk nie. Die Filistyne het hulle oorwin en die ark gesteel. Hulle het dit van Ebenhaeser in Israel na Asdod in Filistia gebring (5:1). Hulle het dit in hulle afgod Dagon se tempel gebêre om te wys dat hy Jahwe oorwin het (5:2).

Dagon was die hoofgod van die Filistyne (Rigt. 16:23). Hy was die god van vrugbaarheid. Sommige geleerdes meen dat hy ’n vis se stert met ’n mens se bo-lyf en gesig gehad het. Dit lei hulle af uit die Hebreeuse woord dāḡ wat vis beteken.1 Argeologiese navorsing wys egter dat hy die Semitiese koring-god was wat van Mesopotamië (Irak) af gekom het. Die Hebreeuse woord vir koring is dāḡān. Volgens die Ras Shamra tablette was Dagon die vader van Baäl.2

Voor Jahwe was Dagon niks. Hy het op sy gesig voor die ark gelê (5:3). Hy kon homself nie help nie en daarom moes die Filistyne hom optel (5:3)! Die volgende dag het hy weer op sy gesig voor die ark gelê. Hierdie keer het hy sonder ’n kop, of hande op die drumpel van sy eie tempel gelê (5:4). Die feit dat sy kop en hande afgebreek het, het gewys dat hy ‘dood’ is (vgl. 1Sam. 4:12). Voortaan het die bygelowige priesters van die Filistyne nie meer op sy tempel se drumpel getrap nie (5:5).

God se hand was teen die mense van Asdod en die omgewing (5:6). Hy het hulle met swere getref. Soos met moderne mense en die Koronavirus was die Filistyne vreesbevange (5:6). Hulle het geweet dat die Here teen hulle en hulle god Dagon is (5:7). Soos die Wêreldgesondheidsorganisasie tydens die Koronavirus het die vyf konings van Filistia se hoofstede ’n vergadering gehou (5:8, 6:18). Hulle het besluit om die ark na Gat in Filistia te stuur (5:8). Hulle het geglo dat hulle Jahwe saam met die ark kon wegstuur (5:7-8). Hulle het ook gedink dat dit miskien nie Jahwe is wat hulle getref het nie, maar dat dit toevallig gebeur het.

God se se hand was teen almal in Gat, sodat die swere op klein en groot gekom het (5:9). Dit het groot konsternasie en verwarring veroorsaak (5:9). Hulle het die ark na Ekron in Filistia gestuur (5:10). Die mense van Ekron het geskreeu en doodbenoud geraak (5:10). God se hand was swaar op hulle, sodat baie van hulle swere gekry het en gesterf het (5:11-12). Die konings het weer ’n vergadering gehou en besluit om die ark terug te stuur Israel toe (5:11). Hulle het tot die God van Israel geroep en nie meer tot Dagon nie (5:12). Hulle het oorgegee. Die Israeliete kon hulle nie oorwin nie (1Sam. 4), maar die God van Israel het (1Sam. 5)!

Op dieselfde manier skud die Koronavirus baie mense wakker om te besef wie die ware God is. Dit is asof die Here die ander gode voor sy hof daag en sê: ‘Toe, toe! Stel julle saak. Voorspel ’n bietjie vir ons die toekoms. Doen goed, of kwaad, sodat almal kan weet dat julle gode is. Gee vir die mense hoop tydens die Koronavirus!’ (Jes. 41:21-23).

Watse hoop gee die ander gode en godsdienste ons? Waar is die ateïste? Volgens húlle moet alles beter word deur evolusie en los die wetenskap alles op. Wel, hulle is oorverdowend stil in hierdie tyd. Hulle gee ons geen hoop nie. Wat van die Hindoes? Volgens húlle kan die mense wat sterf, terugkom as ’n heilige koei. Miskien kom jy terug as ’n heilige rot wat die volgende plaag sal versprei? Ook húlle gee vir ons geen hoop nie.

Wat van die Moslems? Hulle plant bomme, bevorder terrorisme, maak oorlog (ISIS), vervolg Christene, en lewe in bouvallige lande. Hulle gee vir ons geen hoop nie. Wat van die Jode? Hulle verwerp Jesus as die Messias en wag vir iemand anders om te kom. Hulle druk hulle voorkoppe teen ’n klaagmuur. Hulle baklei voortdurend oor hulle land. Ag, hoe hopeloos!

Wat van die Jehova’s Getuies en ander kultusse? ‘Werk, werk, werk om in die hemel te kom!’ is wat hulle sê. Hulle bly egter onseker oor hulle eie redding. Watse hoop is dit? Wat van die Katolieke? Watse hoop bied die Pous en die Katoliekekerk die Italianers gedurende hierdie tyd? ‘Gee geld vir die kerk en doen genoeg goeie werke om die vagevuur vry te spring!’ Dit klink vir my na geen hoop nie.

Wat van animistiese godsdienste soos die Afrika-godsdiens? Hulle vra hulle dooie voorvaders om die lewendes teen die Koronavirus te beskerm. Hulle godsdiens bied so min hoop as die godsdienste wat ek hierbo genoem het. Wat van die Boeddhiste en die New Age Beweging? ‘Vind die antwoord in jouself,’ sê hulle vir die mense wat besig is om dood te gaan. Klink dit vir jou na hoop? Vir my ook nie.

Wat van Christian Science en die Word of Faith beweging? Volgens hulle teologie is die Koronavirus ’n illusie en kan jy dit weg ‘spreek’. Dié wat wel siek word het nie genoeg geloof nie. Wat vir ’n hoop is dit? Wat van sogenaamde ‘liberale Christene’? Hulle glo nie in Jesus se opstanding nie. Ek wonder hoe hulle dooie Jesus enigiemand kan help? Hulle bied geen hoop nie. Wat van die wêreld se afgode van geld, mag, kennis, of enigiets anders? Het hulle regtig gedink dat dit die Koronavirus gaan oplos (Spr. 11:4)? Hulle afgode laat ons met geen hoop nie.

Die Drie-Enige God van die Bybel is die ware God. Omdat die mensdom teen Hom rebeleer, het Hy die Koronavirus gestuur om ons te straf (Eks. 9:8-11, Deut. 28:27, 35, 1Sam. 5, 2Sam. 24:15, Rom. 1:18 e.v.). Maar in dieselfde asem bied Hy ook vir ons hoop wat die ander gode en godsdienste nie kan doen nie.

Hoe gee jou god, of godsdiens jou hoop en vrede in die gesig van die Koronavirus en die dood (5:10-11)? Jesus alleen bied die hoop van vergifnis, verlossing van die hel, ’n herstelde verhouding met God en vrede met Hom, vrede in jou hart, ’n skoon gewete, vrede wanneer jy sterf, die hoop van die ewige lewe, en vrede ná die dood (Ps. 23:4, Rom. 5:1, 1Kor. 15:55, Ef. 1:7, Fil. 1:23, Kol. 1:27, Tit. 1:2, Heb. 9:14, 10:22). Dit doen Hy deur sy kruisdood en opstanding. Toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy die vervloekte dood gesterf wat ons verdien. Deur sy opstanding Hy het die dood oorwin, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan elkeen wat in Hom glo.

Bekeer jou van jou afgode en ander sondes. Aanbid Hom as die enigste, lewende en ware God (Deut. 6:4, 1Kor. 8:6). Roep om hulp tydens die Koronavirus: nie net vir beskerming teen die siekte nie, maar dat Hy jou van jou sonde sal red. Moenie vir wetenskap die krediet gee as daar ’n oplossing gevind word nie. Eer, dien en aanbid die God van die Bybel en lewe vir Hom.

 

2. Hy is soewerein (6:1-18)

Die HAT definieer ‘soewerein’ as volg: ‘Gebieder met die hoogste gesag beklee’. Dit spreek van iemand wat Oppermagtig is. In teologie beteken ‘soewerein’ dat God oor alles heers en dat Hy in beheer is van alles wat gebeur. So leer die Bybel ons:

“Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (Ps. 103:19).

“terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.” (Ps. 115:3).

“Alles wat die Here behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.” (Ps. 135:6).

“Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand... want die Here van die leërskare het dit besluit—wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek—wie sal dit kan afkeer?” (Jes. 14:24, 27).

“Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jes. 46:9-10).

“Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagl. 3:37-38).

“En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Dan. 4:35).

“Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.” (Matt. 10:29).

“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Matt. 28:18).

“Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef. 1:11).

“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak... In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” (Jak. 4:13, 15).

God is ook soewerein oor die Koronavirus. Kom ek wys dit vir jou. Die ark was vir sewe maande in Filistia (6:1). Die konings het ’n derde vergadering gehou en die priesters en waarsêers se raad gevra oor hoe hulle die ark na die Israeliete moes terugstuur (6:2). Die raadgewers het geantwoord: ‘Stuur ’n skuldoffer om Jahwe se toorn tot bedaring te bring, sodat die swere kan wyk’ (6:3). Die konings het gevra: ‘Watse skuldoffer moet ons stuur?’ (6:4). ‘Vyf goue swere en vyf goue muise,’ het die raadgewers geantwoord (6:4).

Hoekom het hulle dít voorgestel? Die swere is waarskynlik deur die muise veroorsaak (soos tydens die swart dood, of ‘bubonic plague’). Blykbaar dra die muise vlooie wat húlle byt en daarna die mense byt om die siekte oor te dra.3 Die muise het ook die Filistyne se koring verniel (6:5). Die koring-god Dagon kon hulle nie keer nie! Die Filistyne moes die Here eer en erken dat sy hand swaar op hulle land en hulle god gedruk het (6:5, Eks. 12:12, Num. 33:4). C.S. Lewis sê: ‘God whispers to us in our pleasures, speaks in our conscience, but shouts in our pains: it is his megaphone to rouse a deaf world.’4

Die Koronavirus is God se megafoon. Luister en bekeer jou as jy afgedwaal het, of as jy ’n ongelowige is. Wees soos die 38-jarige ateïstiese dokter in Italië wat a.g.v. die Koronavirus tot bekering gekom het. Moet jouself nie verhard soos die Egiptenare in Moses se tyd nie (6:6, Eks. 7-14). Moet ook nie soos die Filistyne wees wat van God se werke in Egipte geweet het, maar aangehou het om afgode te dien nie (6:6, Eks. 15:14, 1Sam. 17:43). As jy dít doen, sal die Here jou swaarder tref soos Hy met die Egiptenare gedoen het (6:6).

Die Filistyne het dit besef, maar hulle wou dit eers toets voordat hulle gereed was om finaal te glo dat God die swere gestuur het. Hulle het ’n plan gehad. Hulle sou die ark en ’n kissie met die goue swere en muise op ’n nuwe wa sit (6:7-8). Toe die Israeliete die ark op ’n nuwe wa gesit het, het die Here hulle doodgemaak (1Kron. 13, 15). Die Filistyne het nie van beter geweet het, maar die Israeliete het.

Die Filistyne het twee melkkoeie ingespan wat nog nooit ’n wa gesleep het nie (6:7). Hulle het die koeie se kalwers weggevat (6:7). As die koeie die wa gesleep het en reguit Bet-Semes toe geloop het eerder as om terug te draai na hulle kalwers toe, sou die Filistyne weet dat die swere van God af kom. Anders was dit toevallig (6:9).

God beheer ‘toeval’ (1Kon. 22:34, Spr. 16:33). Die koeie het die wa reguit Bet-Semes toe gesleep. Hulle het vir hulle kalwers gebulk, maar hulle het nie teruggedraai nie (6:10-12). Hulle het tot by Bet-Semes geloop, ’n Levitiese stad waar Aäron se nageslag gebly het (6:12, Jos. 21:16, 13). Die mense van Bet-Semes was besig om koring af te sny (6:13). Hoor jy die ironie? Die muise het die Filistyne se koring geëet (6:5), terwyl Jahwe vir Israel koring gegee het (6:13). Duidelik is Dagon nie die ware koring-God nie?

Die mense van Bet-Semes het die ark vir sewe maande nie gesien nie (6:1). Toe hulle dit sien, het hulle gejuig (6:13). Die Leviete het die ark en die kissie op ’n groot klip neergesit (6:15, Num. 7:9, 3-8). Die vyf goue muise en die vyf goue swere het die Filistyne se vyf hoofstede verteenwoordig (6:17-18). Die Israeliete het die koeie met die hout van die wa en die jukke geoffer (6:14-15). Die vyf konings van Filistia het teruggekeer Ekron toe (6:16). Hulle het besef dat God die swere gestuur het (6:9).

Om koeie te beheer, muise te stuur, swere te stuur, of die Koronavirus te stuur, sodat ’n paar duisend mense doodgaan, is ’n druppel in die emmer en ’n fluistering van God se krag (Job 26:14). Wag totdat Hy die wêreld met ’n vloed uitwis, die heelal met vuur smelt, biljoene dooie mense opwek, en miljoene van hulle onder sy ewige toorn in die hel verwoes—dán sal jy sy krag sien! Vrees Hom. Moenie die Koronavirus vrees nie, maar vrees Hóm wat die Koronavirus beheer. Wees ook gerus as Hy jou Vader is. Net soos wat die koeie geloop het waar God sê, gaan die Koronavirus waarheen Hy dit stuur.

 

3. Hy is heilig (6:19-7:2)

Gestel jy het fyn porselein breekware met soliede goue eetgerei wat R750 000 werd is. Jy haal dit net uit as die koning van Noorweë een keer in 5 jaar by jou huis eet. Dit is afgesonder vir spesiale gebruik. In Bybelse terme kan ons sê dat dit heilig is.

As ’n simbool van God se troon was die ark heilig. Daarom het die Here 70 en 50 000 mense getref toe hulle die ark bekyk (6:19). Uit Num. 4:20 het die volk geweet dat hulle sou sterf as hulle na die ark kyk. Hulle het getreur toe die Here die mense doodslaan. Hulle het Hom gevrees en besef dat Hy heilig is (6:19-20).

Soos die Filistyne in hfst. 5, het die mense van Bet-Semes die ark weggestuur om te verhoed dat nóg mense sterf (6:20). Hulle het dit na die naaste dorp, Kirjat-Jeárim gestuur (6:21). Kirjat-Jeárim was die plek van Baäl-aanbidding (Jos. 15:9, 60), maar nou het die ark daarheen gekom. Hulle het dit in die huis van Abinádab gesit (7:1). Hy het sy seun Eleásar afgesonder om die ark te bewaak, sodat niemand weer daarna sou kyk en sterf nie (7:1). Dit het vir twintig jaar in Kirjat-Jeárim gebly voordat die Israeliete na die Here verlang het en Samuel hulle beveel het om hulle afgode te los (7:2-3).

Hoe lank sal Suid-Afrika vat, voordat die Koronavirus ons laat besef dat God heilig is, dat Hy sonde haat, en dat Hy nie sal toelaat dat ons met Hom spot nie (Jes. 6:3, Hag. 1:13, Gal. 6:7)? Wanneer sal die kerk wat soos die wêreld geword het, dit besef? Wanneer sal ek en jy dit besef (1Pet. 1:15-16)?

Ongelukkig sal die Koronavirus ons nie wakker skud nie. Nie eers die hel sal nie. Om regtig God se heiligheid te verstaan, het ons die kruis nodig. By die kruis moet die Heilige Gees ons oë open, sodat ons kan sien hoe heilig God is en hoe baie Hy sonde haat. Sy haat vir sonde is so groot dat sy Seun Hom dáár gewilliglik onder die Vader se toorn laat verbrysel het en uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). As dít nie jou hart smelt en jou op jou knieë voor God bring nie, sal niks jou verander nie. Ek smeek jou, pleit by jou, en dring by jou aan: bekeer jou en laat jou met God versoen (2Kor. 5:20).

__________________________________________

1  Alfred Edersheim, Old Testament Bible History (Wilmington, Delaware: Associated Publishers and Authors Inc., n. d.), 256 & 602 n. 8-9

2  Arthur E. Cundall & Leon Morris, Tyndale Old Testament Commentaries: Judges & Ruth (London: Inter-Varsity Press, 1968), 179-180. Sien ook D. Guthrie & J.A. Motyer (Ed.), New Bible Commentary: Third Edition (Leicester: Inter-Varsity Press, 1970), 272, 288

3  https://www.nationalgeographic.com/science/health-and-human-body/human-diseases/the-plague/

4  C.S. Lewis, The Problem of Pain (New York: HarperOne, 1940, 1996), 91

[/column]

Kategorieë