Wanneer die jaar tot ‘n einde kom, is almal moeg. Maar die jaar-einde speel nie saam nie, want hoe nader jy daaraan kom, hoe besiger raak dit. Kerke hou Kersetes en Kerssangdienste, jou kinders skryf eksamens, besighede hou hulle jaarafsluiting funksies, jy moet werk klaarmaak, onderwysers merk hope vraestelle, almal wil goed regkry voor vakansie, jy moet reëlings tref vir mense om jou honde te voer, ander mense moet vir jou instaan, ens.
Hoekom byt ons vas? Want in jou kop is daar ook ‘n prentjie van die strand, die see, ‘n vakansiehuis of karavaanpark, familie, lekker eet, kuier met vriende, en kersgeskenke. Die hoop op wat kom hou jou staande.
En so is dit die hoop op die nuwe liggaam wat Christene help om te volhard deur siekte, lyding, pyn, versoeking, hartseer en dood. Dit is Paulus se les in 1 Korintiërs 15:35-49.
Twee illustrasies (v.35-42a)
In Louis Trichardt het ons ten minste tien groot bome in ons erf gehad. Elke boom se saad het anders gelyk. Die koraalbome se saad was ‘n klein rooi saadjie met ‘n swart kol op. Die flambojant se sade was bruin met ‘n dik grys streep. Die jakarandaboom se saadjies was plat met ryspapier-tipe vlerkies. Die kapokboom se sade was swart, en die Australiese flamboom s’n het gelyk of dit fyn hare op het. Dit is verbasend om te dink hoe hierdie reuse koeltebome ontstaan het uit sulke klein saadjies wat in die grond ‘sterf’. Paulus gebruik hierdie illustrasie om die waarheid van die opstandingsliggaam te verdedig.
In v.1-34 het Paulus die opstanding van die dooies op grond van Jesus se opstanding verdedig. Hy het geweet iemand sal die beswaar aanteken: ‘Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam het hulle as mense dan tot stof vergaan? As die liggaam vergaan, kan jy mos nie weer dieselfde liggaam hê nie? Jesus se opstanding kan ons nog verstaan, want sy liggaam was slegs vir drie dae in die graf en kon nie vergaan nie. Maar iemand wat vir dekades, eeue, of millenia in die graf lê, se liggaam gaan heeltemal tot niet. Hoe kan hierdie liggaam weer opgewek word?’ (sien v.35).
Volgens Paulus is dit ‘n dom vraag of beskuldiging (v.36). Die Korintiërs weet dat ‘n saadjie eers ‘begrawe’ moet word en ‘sterf’, voordat dit weer kan opkom (v.36, Johannes 12:24). Die saadjie wat begrawe word (koring of ander soorte graan) en die plant wat opkom is aan mekaar verwant, maar die plant lyk ook baie anders as die saadjie (v.37). God gee vir elke soort saadjie ‘n ‘liggaam’ soos Hy gekies het (v.38). So is dit ook met die opstandingsliggaam.
God het verskillende skepsels gemaak. Mense, visse, voëls, en diere lyk nie dieselfde nie – God het elkeen na sy soort gemaak (v.39, Genesis 1). Ook lyk hemelse en aardse liggame nie dieselfde nie (v.40). Gerubs, serafs, en ander hemelwesens het ‘n heerlikheid wat pas by die hemel, terwyl mense ‘n tipe liggaam het wat by die aarde pas (v.40). Net so sal God ‘n opstandingsliggaam gee wat by die nuwe aarde pas.
Die son het sy eie soort heerlikheid (v.41). Dink maar aan die helder Suid-Afrikaanse middagson, of ‘n pragtige sonsopkoms of -ondergang. Die maan het ook sy eie heerlikheid: ‘n groot volmaan wat ligte geel, vuil pienk, rooi, of roomkleurig is. Die sterre in ons melkweg het hulle eie heerlikheid (v.41). Elke ster het ook sy unieke heerlikheid (v.41).
So is dit met die opstandingsliggaam: elke liggaam is uniek en pragtig (v.41). As God soveel verskillende ‘liggame’ kan maak vir beeste, visse, sterre, bome, en mense, kan Hy sekerlik ook ons sterflike liggame opwek en verheerlik (v.42a).
Vier vergelykings (v.42b-44)
Maryke lê op haar sterfbed. Sy is bleek, eet nie, is op suurstof, voel naar a.g.v. die medikasie, weeg net 45 kg, en praat nie. Haar familie is hartseer en bid dat God haar sal genees as dit sy wil is. God antwoord hulle gebede en genees haar. Na agt maande skyn haar gesig, haal sy self asem, eet sy normaal, weeg sy 20 kg swaarder, voel sy goed, en gebruik sy niks meer medisyne nie. Daar is ‘n groot verskil tussen wat sy was en wat sy nou is. Hoeveel groter is die verskil nie as jy in die graf vergaan het, en onsterflik, sterk, heerlik, en sondeloos opstaan nie?
[1] Ons liggame word as verganklik en sterflik in die graf ‘geplant’ (v.42). Ons liggame word stof, as of viskos. Weens die sondeval word ons liggame oud en sterf ons (Genesis 2:16-17, 3:19). Maar God sal ons opwek, sodat ons liggame onverganklik en onsterflik is (v.42). Die opstandingsliggaam kan nie verouder, vergaan, grys word, rimpel, of sterf nie.
[2] Ons liggame word in oneer in die graf ‘geplant’ (v.43a). Lyke is oneerbaar. Ons maak dit toe onder ‘n sak, sit dit in ‘n kis, en bêre dit diep in die grond. Ons probeer om dit ‘n bietjie eerbaar te maak deur dit te balsem, mooi klere aan te trek, en blomme op die kis te sit. Ons liggame is ook oneerbaar, omdat ons weens die sondeval sterf. Ons sit mense in die grond soos diere (Prediker 3:19-20). Maar God sal ons liggame opwek in heerlikheid (v.43a, Kolossense 3:4). Die opstandingsliggaam sal nie bleek en oneerbaar wees soos ‘n lyk nie. Ons nuwe liggame het lewenskrag, glans, vitaliteit, skoonheid, prag, en heerlikheid. Ons sal letterlik skyn soos die son (Daniël 12:2-3, Matteus 13:43, 17:2, Eksodus 34:29-30).
[3] Ons liggame word in swakheid in die graf ‘geplant’ (v.43b). Ons liggame word oud, ly pyn, raak siek, huil, val en kry seer, breek bene, raak moeg en uitgeput, moet gereeld rus en slaap, vergeet, verswak en gee in, is gebreklik, gestremd, en verlam. Deur die sondeval verswak ons liggame. Maar God sal ons opwek in krag (v.43b). Ons opstandingsliggame sal nooit siek word, seerkry, pyn ly, huil, moeg raak, breek of vergeetagtig wees nie. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 21:4).
[4] Ons liggame word as ‘n natuurlike liggaam in die graf ‘geplant’ (v.44). Die Grieks vir ‘natuurlike liggaam’ [psigikos] praat van ‘n liggaam wat deur die sondige natuur beheer word (2:14). Totdat jy sterf sal die sondige vlees jou liggaam pla. Maar God sal ‘n geestelike liggaam opwek (v.44). Dit beteken nie dat jou nuwe liggaam ‘n deursigtige spook is nie. Die Grieks vir ‘geestelike liggaam’ [pneumatikos] praat van ‘n liggaam wat deur die Heilige Gees beheer word (2:15, Galasiërs 6:1). Jy sal dus nooit weer deur die sondige vlees gepla word nie, maar sal altyd deur die Gees gelei word (v.44, Galasiërs 5:16-26,vgl. Matteus 6:10b).
Twee prototipes (v.45-49)
In die wêreld van karre verwys ‘n prototipe na ‘n model wat die nuwe style en tegnologie by ‘n motorskou wys, om te kyk of die publiek gunstig reageer. Indien wel, word hierdie model ‘n produksiekar. Die produksiekar word gebou op die bloudruk van die prototipe. Dit is wat ek bedoel as ek sê dat Adam en Jesus prototipes is. Adam staan in die plek van die mensdom; in hom sterf almal (v.22). Jesus staan in die plek van almal wat in Hom glo; in Hom kry ons nuwe lewe vir die siel en liggaam (v.22). Dit is ook die les in v.45-49.
God het sy lewensasem in Adam se neus ingeblaas (v.45, Genesis 2:7). Die laaste Adam (Jesus) is die God wat hierdie lewensasem in Adam ingeblaas het (v.45). Hy sal ook by sy wederkoms lewe vir ons dooie liggame gee (Johannes 5:21, 6:39-40). Adam het gesondig voordat Jesus ons kom red het (v.46). Dieselfde geld vir die opstanding: die natuurlike liggaam het bestaan voor die geestelike liggaam (v.46).
Adam was uit die stof van die aarde, en het weens sy sonde daarheen teruggekeer (v.47, Genesis 2:7, 3:19). Die tweede mens (Jesus) het uit die hemel na Maria se moederskoot toe gekom (v.47). Hy het uit die dood uit opgestaan en ‘n nuwe liggaam gekry. In Adam is almal stoflik en sterflik (v.48, 22, Prediker 12:7). Deur geloof in Jesus kry ons ‘n nuwe liggaam soos syne (v.48, 22, Filippense 3:20-21). In Adam dra ons sy gevalle beeld (v.49, Genesis 5:3). In Jesus word sy beeld in ons herstel (v.49, 2 Korintiërs 3:18, Romeine 8:29, 1 Johannes 3:2). Ons word nie God soos Hy nie, maar sal wel ‘n volmaakte mens word soos Hy.
Die toepassing uit hierdie hoofstuk is eenvoudig: verstaan wat die Bybel sê oor die opstanding van die liggaam. Wat leer die Skrif hieroor?
[1] Die persoon wat opstaan is dieselfde persoon wat begrawe is (v.37, Johannes 5:28-29, die voorbeeld van Jesus self). Jy het wel ‘n sterker en beter liggaam, maar mense sal jou herken as JY. Jy en jou geliefdes sal mekaar herken (1 Tessalonisense 2:19, 4:13-18, 2 Korintiërs 1:14, vgl. Markus 9:5, Lukas 16:23-24). Jy word nie ‘n engel, gees of spook nie, maar sal vir ewig ‘n mens bly met ‘n siel en ‘n liggaam (vgl. Lukas 24:39).
[2] Elke mens se opstandingsliggaam sal uniek wees (v.38). Soos op aarde, gaan geen twee mense dieselfde lyk nie. Ons gaan nie almal identies lyk met wit rokke en goue harpe nie.
[3] Hoe oud sal ons lyk? Hoe oud het Adam en Eva gelyk toe God hulle gemaak het? Dalk 25 of 30? My kinders kon nie glo toe ek vir hulle sê dat my 90-jarige ouma weer jonk sal lyk nie. Jonathan Edwards sê: ‘In heaven it is the direct reverse of what it is on earth, for there by length of time things become more and more youthful, that is, more vigorous, active, tender, and beautiful.’[1]
Is dit Bybels? Ja. 1 Petrus 1:4 sê ons het ‘n onverwelklike erfenis in die hemel. Sonde het alles laat vergaan. Jesus sal alles herstel en verbeter. As Jesus kom sal alles wees soos ‘n roos wat nooit verlep nie. Die hemel en alles daarin se skoonheid sal nooit vergaan nie. Ons nuwe liggame sal ‘n honderd keer mooier wees as wat enige persoon op aarde ooit was – selfs Adam en Eva. Adam en Eva se liggame was aards en stoflik. Ons sal ‘n verheerlikte liggaam hê.
Jou gehoor, sig, reuk, breinkrag, fisiese krag, en alles sal beter wees. Dalk sal jy sterk wees soos ‘n beer, skerp sig hê soos ‘n arend, hoor soos ‘n wolf, ruik soos ‘n bloedhond, vinnig wees soos ‘n jagluiperd. Jonathan Edwards sê: ‘It is probable that... [we] may distinctly see the beauty of one another’s countenances and smiles, and hold a delightful and most intimate conversation at a thousand miles distance.’[2]
Jou opstandingsliggaam sal geen letsels van ou ongelukke oorhou nie. Slegs Jesus se opstandingsliggaam sal die merke van sy kruisdood oorhou om ons vir ewig te herinner aan sy groot verlossing vir ons (Johannes 20:27, Openbaring 1:7, 5:6). Maar wat van Openbaring 22:2 wat sê dat die Boom van die Lewe se blare genesing is vir die nasies? Impliseer dit nie ons sal siek word, seerkry, en wonde moet genees nie? Nee. Dit sê eenvoudig ons sal al die nodige medisyne, vitamines, minerale, en kruie hê om vir ewig gesond te bly, om vir ewig vitaliteit en krag te hê.
Maar vir my is krag en gesondheid nie die beste nuus van ons nuwe liggame nie. Vir my is die beste nuus dat ons nooit weer versoek sal word of eers instaat sal wees om te sondig nie. Nooit weer sal ons sondige dinge begeer, dink, voel, sê of doen nie, want die Heilige Gees sal ons vir altyd lei (v.44). Jy hoef dus nie bang te wees dat God jou uit die hemel sal skop, soos Hy met Satan gedoen het nie.
As jy twyfel of geraamtes en mummies regtig so getransformeer kan word, moet jy nie God se krag vergeet nie (Handelinge 26:8). God kan elke stofdeeltjie van jou liggaam weer bymekaar bring, selfs al het die wind dit weggewaai (Esegiël 37:7, Genesis 2:7).
As jy ongered is sal jy ‘n afgryslike liggaam kry wat by die hel pas (Daniël 12:2, Jesaja 66:24). Ongelowiges se opstandingsliggaam sal vir ewig al die effekte van die sondeval beleef in die ergste graad: gout, athritis, kanker, tandpyn, migraine, trane, naarheid, beroertes, hartaanvalle, honger, dors, haat, ‘n skuldige gewete, eensaamheid, hopeloosheid, depressie, angs, vrees, bitterheid, verlorenheid, dood, ens.
Ek dring by jou aan om jou te bekeer. Hou op om te vertrou op jouself en jou eie pogings. Glo in Jesus se kruisdood en opstanding vir sondaars. Vertrou dat Hy jou enigste hoop is vir redding en vergifnis. Weet dat Hy sondaars met ope arms verwelkom en liefhet, al is jy die ergste sondaar en het jy Hom gehaat en gelaster (Johannes 6:37, 1 Timoteus 1:13-16). Hy sal vir jou ‘n nuwe hart en begeertes gee, jou sondige rekord voor God vergewe, en jou nuut maak (2 Korintiërs 5:17, 21). Eendag sal Hy ook vir jou ‘n nuwe liggaam gee. Hoekom wil jy nóg uitstel; hoekom wil jy wag? “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).
As jy Skrif se lering oor die opstandingsliggaam verstaan, sal jy hoop hê...
- In siekte
- As gelowiges sterf
- As jy pyn het
- As jou gehoor of sig verswak
- As jou liggaam verouder
- As jou brein begin vergeet
- As jy op jou sterfbed lê
- As jy met sonde stry en wens dit is vir altyd weg
- As versoeking intens raak
- As jy ‘n gebrek het in jou liggaam
- As jy moeg is en nie meer kans sien vir die lewe nie
Joni Eareckson Tada het ‘n duikongeluk gehad toe sy 14 was. Sy het haar nek gebreek en is al vir 48 van die nek af ondertoe verlam. In 2013 het sy by John MacArthur se Strange Fire konferensie haar getuienis gedeel. Op ‘n stadium het sy gesê dat haar grootste begeerte nie is om haar opstandingsliggaam te kry nie, maar om ‘n sondelose hart te hê wat vir God sal verheerlik.
Ek hou van wat sy gesê het, maar is dit nie uiteindelik ook die rede hoekom God vir ons nuwe liggame gaan gee nie: sodat ons Hom met alles in ons kan verheerlik en liefhê? Ja, jy sal Hom liefhê met jou hele hart en jou hele siel. Maar jy sal Hom ook liefhê met al jou krag en met jou hele verstand; met ander woorde met jou opstandingsliggaam.
[1] Works, vol.2, p.619
[2] Ibid