Openbaring 2:1-7
Buite ’n groot huis staan ’n nuwe Rolls Royce Phantom. Die kar is gepoleer en blink in die son. Binne is die kar luukser as baie mense se huise. Die klankstelsel kos meer as die gemiddelde mens se kar. Die enjin is in ’n uitmuntende toestand. Jy hou so baie van die kar, jy klim binne-in. Pure luuksheid en gemak. Maar dit is waar dit bly. Jy gaan nêrens nie, want die kar het nie petrol in nie. En wat help ’n kar sonder petrol? Jy is soos ’n kleuter wat in sy pa se kar speel. ’n Ou skedonk wat kan ry is beter as jou Rolls Royce Phantom.
Efese was soos jy. Binne die gemeente was alles reg, maar hulle het sonder petrol gestaan. Die gemeente se eerste liefde het verflou—hulle het hulle missie om Jesus se liefde na buite toe uit te dra, versaak.
1. Jesus se ondersoek (v.1)
Johannes was ’n gevangene op die eiland Patmos (1:9). Die Romeine was ontevrede dat hy die evangelie gepreek het. Terwyl hy op die eiland was, het Jesus aan hom verskyn (1:12-16). Johannes moes Jesus se woorde aan die sewe gemeentes van Asië of Wes-Turkye stuur (1:4, 10-11). Die engel van gemeente moes dit aan hulle voorlees (v.1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14). Dit beteken nie elke gemeente het sy eie beskerm-engel of engel wat hom verteenwoordig nie. Die Grieks vir engel is aggelos en beteken boodskapper. In Matt. 11:10, Luk. 9:52 verwys dit na menslike boodskappers. Elke gemeente se leraar was die boodskapper wat namens God met die gemeente moes spreek. Hy het nie sy eie woorde nie, maar God s’n met die gemeente gepraat (v.1, 2Tim. 3:16, 4:2).
Om namens God te praat is ’n verantwoordelikheid, veral omdat v.1b sê die leraar is in Jesus se hande. Jesus vergelyk die sewe leraars of boodskappers met sewe sterre (v.1b, 1:16, 20). Soos sterre in die nag skyn, skyn die leraars Jesus se lig vir die wêreld (Dan. 12:3, Fil. 2:15, Hand. 13:47). Ongelukkig laat baie predikante dit na. Een dominee is ’n akademikus. ’n Ander een is ’n CEO, trustee, bemarker, sosiale werker, akteur, wonderwerker of god op ’n troon (kontra 1Kor. 4:9). Hy is ’n vermaaklikheidster eerder as ’n ster vir Jesus (v.1). Hy beïndruk mense met sy kennis, persona en gawes. Buite die kansel lewe hy in die donker. En hoe skyn jy Jesus se lig as jy in die donker lewe?
Lewe jy so? Dan moet jy jou sonde bely (1Joh. 1:9). Laat Jesus jou met sy bloed was sodat jy nie meer in die donker lewe nie, maar in die lig (1Joh. 1:6-7). Jesus kan enigiemand red. In 1960 het hy ’n leraar in die ou Oos-Transvaal gered. Op Sondae het die man uitstekend gepreek. Die kerk was stampvol. Maar die dominee was ongered. Hy het in egbreuk gelewe. Toe die Here sy geheime lewe aan die lig bring, het dit sy bediening gekos. Hy het voor die Here gebreek en tot bekering gekom. Jesus kan selfs predikante red!
Dalk lewe jy nie in sonde nie, maar deel jy die evangelie in die kansel; doen jy die werk van ’n evangelis (2Tim. 4:5)? Of gee jy life-coaching sonder die evangelie; Skrifuitleg sonder Christus; ’n lesing; ’n politieke toespraak; ’n motiverende rede oor voorspoed en gesondheid? Bekeer jou. Sonder bekering sal die oordeelsdag vir jou nag wees. Jy sal ’n strenger oordeel as mnr. en mev. gemiddelde lidmaat ondergaan (Jak. 3:1). Jy gaan vir mense se siele rekenskap gee (Heb. 13:17).
Onthou, jy is in Jesus se regterhand (v.1). Dit is ’n troos as jy getrou is. As jy egter ontrou is, jou plig versuim en die reguit paaie van die Here krom maak, is dit ’n verskrikking.
Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God!
Weë jou as jy die evangelie nie verkondig nie!
Dit geld nie net vir predikante nie. Elke gelowige moet Jesus se lig soos ’n lamp skyn (v.1). In die Ou Testament was daar ’n kandelaar in die tabernakel (Eksodus 25). Dit was simbolies van God wat sy lig deur Israel vir die nasies skyn (Psalm 67, 96). Ongelukkilg het Israel haar plig versuim.
In die Nuwe Testament het Jesus volgens God se ewige plan die lig kom skyn. Hy is die lig vir die wêreld (Joh. 8:12). Hy skyn sy lig deur die kerk wat die sewe goue kandelare is (v.1, 1:20, Matt. 5:14). Ons moet sy lig deur evangelisasie skyn (Matt. 28:19-20, Hand. 1:8). Jesus loop tussen die kandelare of gemeentes om te sien of ons die lig skyn (v.1, 1:12-13).
Skyn jy jou lig deur goeie werke (Matt. 5:16)? Of doen jy dinge in die donker; dinge waaroor jy jou moet skaam? Bekeer jou en laat Jesus se lig in jou skyn (Ef. 5:8-14)? Laat dit deur jou op ongelowiges skyn. Vertel hulle van Jesus, ondersteun sendelinge en bid vir die verspreiding van die evangelie (Rom. 10:13-17, Hand. 8:4, 3Joh. 8, 2Tess. 3:1-2). Doen dit by die huis, in jou woonbuurt, by die skool, by die werk, oor sosiale media, in die straat en waar jy gaan. Moet dit nie as ’n lone ranger doen nie. Volgens Op. 1:20, 2:1 is die gemeente eerder as ’n individu die kandelaar wat Jesus se lig moet skyn. Wie ’n evangelis of sendeling sonder ’n gemeente wil wees, oortree God se Woord.
2. Jesus se getuigskrif (v.2-3, 6)
Jesus sien alles in die kerk (v.2, 2:23). Hy kon sien die Efesiërs het tot op die punt van uitputting vir Hom gewerk (v.2, Gk. kopos). Baie predikante werk so. Hulle spandeer ure in voorbereiding, prediking, besoeke, berading, gemeente Bybelstudies en bidure. Baie lidmate doen dieselfde. Hulle dien getrou agter die skerms en is ’n paar keer per week die kerk.
Is jy een van hulle? Volhard jy te midde van teenkanting en vervolging eerder as wat jy weghardloop of bedank? Jesus sien dit en sal jou beloon (v.2-3). Standvastigheid is nodig teen die aanslae van buite en die dwaling van binne (v.2). In Hand. 20:29-31 het Paulus die Efesiër-ouderlinge teen wolwe gewaarsku. Terwyl Timoteus daar was, het hulle die ketters uitgesnuffel (v.2, 1Tim. 1:3-4, 20, 4:1-3, 6:3-10, 2Tim. 2:17-18, 3:1-9, 13, 4:3-4). Deur leraars soos Paulus, Apollos, Timoteus en Johannes het hulle goeie lering ontvang en onderskeiding geleer (v.1, Handelinge 18-19, Efesiërs 1-6, 1Tim. 1:3). Hulle het die vals apostels getoets en hulle uitgeken (v.2). Hulle het geweet ’n ware apostel is deur Jesus self gekies en opgelei; ’n ooggetuie van die opstanding wat die ware evangelie verkondig, sodat mense se lewens verander; iemand wat soos Jesus wonderwerke doen (Hand. 1:21-22, 24, 1Kor. 9:2, 2Kor. 12:12).
Soos Jesus het die Efesiërs ook die Nikolaïete se lering en werke gehaat (v.6, 15, Ps. 97:10). Wie was die Nikolaïete en wat was hulle boodskap? Volgens die kerkvaders Ireneus (130-202 n.C.) en Hippolytus (170-235 n.C.) het die dwaling by een van Hand. 6:5 se sewe diakens—Nikolaus—begin. Sy volgelinge het ’n vorm van Gnosticisme verkondig.1 Laasgenoemde het gesê die liggaam is onrein, terwyl die siel of die gees rein is. Wat jy met jou liggaam doen, maak nie saak nie. By ’n afgodsfees kan jy seksueel losbandig wees en die offervleis eet; dit kan jou siel niks maak nie (v.14-15).
Volgens Clemens van Aleksandrië (150-215 n.C.) en Eusebius van Cesarea (260-339 n.C.) het Nikolaus nie die dwaling begin nie. Hy was ’n man vol van die Heilige Gees en wysheid (Hand. 6:3). Die Nikolaïete het sy naam gebruik om hulle dwaling te verdedig en dit kredietwaardig te maak. Nikolaus het niks daarmee te doen gehad nie.2
Die Efesiërs kon deur die Nikolaïete se mooi naam sien en het geweet hulle is vals (v.2, 6). ’n Gesonde gemeente sien deur mense se maskers. Hulle deel die evangelie na buite, maar sorg ook dat dit binne gesond is.
Wat is dan belangriker: gesonde lering of evangelisasie? Dit is soos om te vra: wat is belangriker; dat jy inasem of uitasem. Albei is belangrik. Sommige kerke verstaan dit nie. Toe ek in my vroeë twintigs was, was ek op ’n gemeente se kortlys om beroep te word. Tydens die onderhoud toe vra hulle my: ‘As ons jou beroep, sal jy op die gemeente of op sending fokus?’ Die vorige leraar het baie na buite uitgereik. Die mense het gevoel hy skeep hulle af. Hulle wou iemand hê wat minder op sending fokus en meer op die gemeente. Maar ’n gesonde gemeente doen albei—hulle speel die twee nie teen mekaar af nie.
3. Jesus se vermaning (v.4-5, 7a)
Toe ’n bekende Afrikaanse sangeres skei, toe sê sy: ‘Ek en my man het geen rede om te skei nie. Ons is baie lief vir mekaar en sal altyd goeie vriende bly. Maar dit is tyd om aan te beweeg.’ Hoe vermetel! Ons is nog lief vir mekaar, maar het besluit om te skei!
Die Efesiërs was so. Soos Israel in Jer. 2:2 het hulle die Here liefgehad, maar Hy was nie meer eerste nie (v.4). Die Efesiërs het hulle eerste liefde verlaat (v.5, Gk. aphiēmi) soos ’n getroude man en vrou mekaar verlaat (1Kor. 7:11-13, Gk. aphiēmi). Dit was nie altyd so nie. Toe die Here die Efesiërs red, het hulle hart van liefde oorgeloop. Hulle kon die liefde nie inhou nie, maar moes vir almal vertel. Vanuit Efese het die evangelie deur die hele Wes-Turkye of Asië versprei (Hand. 19:10, 20, 1Kor. 16:8-9). Dit beteken die sewe gemeentes van Asië in Openbaring 2-3 het uit Efese ontstaan. Die Efesiërs het hulle eerste liefde vir Jesus deur evangelisasie uitgedruk.
Maar toe gebeur iets. Hulle het inwaarts begin fokus. Suiwer lering en volharding deur swaarkry het evangelisasie op die agtergrond geskuif (v.2-4, 6). Hulle sou binnekort uitvind ’n gemeente sonder ’n uitlaat word soos die Dooie See: alles vrek. Ons eie assosiasie van kerke (die Afrikaanse Baptistekerke of ABK) het so geword. Aggressiewe evangelisasie en kerkplanting is deel van ons herkoms. Toe ons meer as 130 jaar gelede begin het, sou ’n leraar ’n gemeente plant en dit vir ’n paar jaar bedien. Gedurende hierdie tyd, het hy by die omliggende plase gepreek. Gou het daar ’n nuwe werkie ontstaan. So het die proses homself herhaal en is baie gemeentes geplant. Na meer as ’n halwe eeu het die ABK nie meer so baie gemeentes geplant nie. Tog wou die meeste leraars soos kerkplanters bedien. Hulle het vir ’n jaar of drie op ’n plek gebly voor hulle ’n beroep na ’n ander gemeente toe aanvaar het. Daar was geen kontinuïteit in hulle bediening nie. Die gemeente het hom skaars leer ken of hy het aanbeweeg. Geestelike diepte het ontbreek. Die manne se lering was nie onbybels nie, maar teologiese diepte het ontbreek. ‘Vuur sonder lig’ is hoe ek dit sal opsom.
Toe gebeur daar iets. Sterk en suiwer teologie het ingekom. Een of twee van die ouer manne het dit reeds verkondig, maar nou het dit spoed opgetel. Baie van die jonger manne het hulleself aan die studie van die Woord gewy. Skrifverklaring het onderwerpsprediking vervang. By Jaarvergaderings was teologiese besprekings om die etenstafel algemeen. So te sê elke konferensiespreker het die Skrif getrou uitgelê. Baie van die gemeentes is teologies genees. Maar hulle het op hulleself begin fokus. Evangelisasie en kerkplanting is opsy geskuif. Dit het die vyfde wiel aan die wa geword. Wyle Martin Holdt het dit raakgesien en ons gewaarsku: ‘Die ABK moet gemeentes plant. As ons dit nie doen nie, gaan ons ondergaan.’
Hy was ’n profeet. Ons teologiese opleidingskool bestaan skaars. Die geboue staan nog, maar word aan ’n rugby akademie verhuur. Ons lei skaars predikante op. Van die nuwe manne wat inkom, is twee in hulle twintigs. Die res van ons is veertig en ouer. Daar kom nie nuwe bloed in nie. In die 1950’s en 1960’s was ons naby 60 gemeentes. Vandag is ons 33. Die totale lidmaattal het 3300 na 1500 gekrimp. ’n Mens sou dink ons moes al honderde kerke geplant het en tienduisende mense vir die Here gewen het. Maar ons het nie. Evangelisasie en sending is nie ’n prioriteit nie. Sedert ek in 1998 begin studeer het, het ons nie ’n enkele sendeling opgelei en uitgestuur nie. Nie een nie. Dit is ’n tragedie.
In ons eie gemeente lyk dinge effens beter, maar dit is geensins fantasties nie. Gedurende ons getuienistyd by die aanddienste is evangelisasie getuienisse die uitsondering eerder as die reël. Op Saterdae is daar vier mense wat in die strate uitreik. Ons traktaatjie rak bly vol wat beteken mense vat dit nie. As die rak leeg is, het die vier mense wat uitreik dit gedoen. As die uitreik span die rak nie volmaak nie, bly dit leeg. Twee jaar gelede het ons die vervolgde kerk finansieel ondersteun. Ons doen dit nie meer nie. Die onbereikte bevolkingsgroepe haal nie ons begroting nie.
Ek glo dit lyk beter in die kansel, maar hoeveel leraars kan dieselfde sê? Kan jy Paulus se woorde jou eie maak: “Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1Kor. 2:2)? Vloei jou verkondig van Christus uit ’n intieme gemeenskap met Hom? Kan jy sê jy wil Hom bo alles ken (Fil. 3:8)? Versprei jy die lieflike geur van Christus waar jy gaan (2Kor. 2:14-16)? Kan jy saam met die ou koortjie sê: ‘Elke een behoort te weet wie Jesus is’?
Tot my skande en spyt moet ek sê my liefde vir Jesus is aan die flou kant. Ek verkondig Hom in die kansel, maar wat van buite die kerk? Het die wêreld se goddeloosheid my verhard dat ek nie meer vir verlorenes omgee nie, maar kwaad is vir hulle? Jesus het gesê: “En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel.” (Matt. 24:12).
Wat moet ons doen? Die antwoord lê in v.5: “Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het.” Onthou jou eerste liefde vir Jesus. Onthou hoe jy dit kon inhou nie, maar Jesus met almal wou deel. Onthou hoe jy traktaatjies vir mense gegee het. Onthou hoe jy vir verlorenes se redding gebid het. Onthou hoe jy mense kerk toe genooi het. Onthou hoe jy preke per kaset, CD of WhatsApp vir mense gestuur het.
Leer by die jonges. Hulle is ywerig. Moet hulle nie afsit nie. Moenie sê: ‘Hulle sal nog leer mens kan nie altyd op die bergtop wees nie.’ Volg liewer hulle voorbeeld en stort jou lewe uit vir ander (2Kor. 12:15). Bely as jy jou eerste liefde verlaat het en jou lig onder ’n emmer wegsteek (v.4, Matt. 5:15). Skyn jou lig soos voorheen (v.5). Laat Christus se liefde jou dryf om die goeie nuus met mense te deel (2Kor. 5:14). Bid dat sy liefde jou hart vul (Rom. 5:5, Ef. 3:16-19). Dink oor sy liefde vir jou aan die kruis tot dit so in jou brand dat jy Hom terug liefhet (1Joh. 4:10, 19). Bid vir oop deure om te getuig.
Party mense sal nie, want hulle is geestelik doof (v.7a, Mark. 4:9, 11-12). Hulle slaan nie ag op Jesus se woorde nie. Hulle gee nie eers om vir hulle eie siele nie; hoekom sal hulle vir iemand anders se siel omgee? Is jy so? Ek wens jy wil sien jy sit tussen die varke. Jou sonde het plesier belowe, maar dit het jou kaal uitgetrek en met niks gelos (Luk. 15:14-16). Sien jou verlorenheid raak. Wend jou tot Christus. Hy sal jou omhels, jou hartlik verwelkom en jou vergewe (Luk. 15:17-20a, Sag. 13:1).
Dit geld vir elke gelowige wat sy eerste liefde verlaat het: bekeer jou en die Here sal jou vergewe. As jy dit nie doen nie, sal Hy jou kandelaar verwyder; jy sal nie meer die lig vir Hom skyn nie (v.5b). Dit geld vir elke gemeente wat nalaat om die evangelie uit te dra. Hulle het nie bestaansreg nie. Hoekom moet die Here hulle met bekerings seën? Hoekom moet Hy ’n assosiasie of denominasie laat groei as hulle nie uitreik en gemeentes plant nie? Hoekom moet hy teologiese studente stuur as ons hulle nie vir evangelisasie en kerkplanting gaan toerus nie? Dit is beter dat Jesus ons deure sluit.
Dink jy Hy sal nie? Waar is Efese vandag? Dit bestaan nie meer nie. Meer as 97% van Turkye se bevolking is Moslems. Laat ons ons bekeer om te keer dat dieselfde met ons gebeur.
4. Jesus se belofte (v.7b)
Na die sondeval het God Adam en Eva se toegang tot die boom van die lewe afgesny (Gen. 3:24). Jesus het aan ’n vervloekte boom gesterf dat jy deur sy bloed toegang tot die boom van die lewe kan hê (7:14, 22:14, 1Pet. 2:24). Deur sy kruisdood kan jy jou sonde oorwin, jou eerste liefde herwin, by Hom in die paradys wees en van die boom van die lewe eet (7b, 22:2, Luk. 23:43).
Die alternatief is ontnugterend. Wie sy eerste liefde versaak en nie terugwen nie, het Jesus nie bo alles lief nie. Hy verloor sy getuienis en mis die boom van die lewe in God se paradys (v.5b, 7b, 22:19). Dit is geen klein saak as ’n gemeente die groot sendingopdrag afskeep nie. As jy jou voor mense vir Jesus skaam, sal Hy Hom voor sy Vader en die engele vir jou skaam (Luk. 12:9).
Laat Christus se liefde ons vul en soos riviere uit ons binneste vloei (Joh. 7:38). Nie almal sal ’n sendeling wees nie, maar almal van ons kan Jesus se liefde met iemand deel, al is dit met ’n kind of ’n kar wag. Maak Charles Spurgeon se gebed jou eie:
‘Lord, arouse us to a deep concern for all with whom we come in contact from day to day. Make us all missionaries at home or in the street, or in our workshop, wherever Providence has cast our lot, may we there shine as lights in the world... Let us have an intense agony of spirit concerning the many who are going down to the everlasting fire of which our Master spoke. Lord, save them! LORD, SAVE THEM!... Oh! that the day were come when the name of Jesus shall be a household word, when everybody knew of His love, and of His death, and of His blood, and of its cleansing power. Lord, save men, gather out the company of the redeemed people; let those whom the Father gave to Christ be brought out from among the ruins of the fall to be His joy and crown. “Let the people praise Thee, O God, yea, let all the people praise Thee.” Let the ends of the earth fear Him who died to save them. Let the whole earth be filled with the glory of God...Amen.’3
1 Irenaeus, Against Heresies, 1:26:3, 3:11:1 en Hippolytus, Refutation of all Heresies, 7:24.
2 Clement of Alexandria, The Stromata, 2:20 en Eusebius, Ecclesiastical History, 3:29:1-3.
3 C.H. Spurgeon, Spurgeon’s Prayers (Fearn, Ross-shire: Christian Focus, 1993, 2017), 51.