Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 January 2022

Wat het van evangelisasie geword?

Lukas 10:1-12

Omrent ’n maand gelede toe dink ek: ‘Ek moet vanoggend evangelisasie gaan doen.’ Ek het nagelaat om dit te doen en vir myself gesê: ‘Ek kan nie nou uitgaan nie; ek het baie voorbereiding oor vir môre.’ My voorbereiding het vrot gegaan. Ek het van 08:00 tot 21:00 gewerk (gewoonlik sou ek 15:00 klaar wees). Ek het my vrek gesukkel.

Die volgende oggend toe lees ek Spr. 12:10 in my stiltetyd: “’n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed.”1 ‘Hoekom is hierdie vers in die Bybel?’ het ek gewonder. ‘Seker om te wys dat die Here vir diere omgee. Aan die einde van Jona 4 sê die Here dat Hy meer vir die diere omgee as wat Jona vir die mense van Nineve omgee.’ Later daardie middag toe tref dit my: ‘Jy gee meer om vir jou twee honde as vir die verlore mense in jou woonbuurt.’

Ek het John MacArthur in ’n preek hoor sê dat evangelisasie die groot rede is hoekom ons nog op aarde is. As lering en lofprysing ons missie was, sou ons in die hemel gewees het, omdat ons dit daar volmaak kan doen. Die vroeë Afrikaanse Baptiste het dit besef. Hulle het Jesus se groot sendingopdrag verstaan en die aandag op evangelisasie en kerkplanting gefokus.2 Êrens het dit verlore gegaan en het die fokus na teologie en lering verskuif. Lering is goed, maar nie ten koste van evangelisasie nie. In Jesus se bediening was evangelisasie ’n prioriteit. By ons moet dit nie anders wees nie.

 

1. Werk as ’n span (v.1)

Ek verpes die Jehovas Getuies. Maar iets wat hulle reg doen, is dat hulle uitgaan en in spanne werk. Jesus het dieselfde gedoen toe Hy die twaalf dissipel in spanne van twee gestuur het (Mark. 6:7). In Lukas 10 het Hy dit met die 70 of 72 gedoen (v.1).3 Jesus se 70 dissipels is die Nuwe Testamentiese eweknie van die 70 nasies in Genesis 10. Lukas se punt is dat die evangelie vir die wêreld bedoel is. Dit mag ook wees dat hy die 70 ouderlinge van Israel in gedagte het. Omdat Eldad en Medad in die kamp geprofeteer het, bring dit die getal uit op 72 (Num. 11:16-17, 24-29). Indien dit in Lukas se gedagtes was, bedoel hy dat Jesus die 72 uitgestuur het om vir Hom ’n nuwe volk te bou (Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).

Die spanne het vooruitgegaan om te saai en nat te lei. Jesus sou later kom om groei te veroorsaak (v.1, 1Kor. 3:6-7).

Om twee dissipels per span uit te stuur, is ’n goeie idee. Paulus het dit besef en daarom het hy helpers saamgevat (vgl. Hand. 15:40, 16:3, 20:4). Soos twee trokdrywers mekaar aflos, kan twee evangeliste mekaar help. Terwyl die een praat, kan die ander een saggies bid. As die een vashak, kan die ander een inspring en help. Die jonger gelowige kan by die ouer een leer. Dit is veiliger met twee mense (Pred. 4:9-12). Laastens kan daar op die oordeelsdag twee getuies wees, indien die hoorders hulle nie wil bekeer nie (v.10-12, Deut. 19:15).

 

2. Bid vir helpers (v.2)

Deur middel van ernstige gebed en evangelisasie het Archibald Brown se gemeente tussen 1867 en 1872 van 76 tot 650 lidmate gegroei. Sowat 500 van hulle was uit die wêreld.4

Dit is wat Jesus in v.2 bedoel wanneer Hy van ’n groot oes praat: daar is baie bekeerlinge wat moet inkom (3:17, Joh. 4:35, 41, 1Kor. 3:9, Ps. 126:5-6). Indien dit so is, onstaan die vraag hoekom ons nie baie bekerings sien nie. Die rede is, omdat ons nie bid nie en omdat daar min arbeiders in die oes is (v.2). Ek glo dat die Here sy uitverkorenes sal red (Hand. 13:48), maar glo ook dat Hy dit deur evangeliste doen (Hand. 13:47). Volgens God se bepaling moet ons vir arbeiders en die verspreiding van die Koninkryk bid, en moet ons die evangelie deel, sodat die uitverkorenes gered kan word (sien v.2, 11:2, Hand. 18:9-10, Rom. 10:13-15, 17, 2Tim. 2:10).

Die oplossing vir min bekerings is nie beter bemarking, bosberade, doeltreffende organisering of een vasdag per jaar nie. Volgens Jesus moet ons Hom smeek om arbeiders in sy oes uit te stuur: teologiese studente, predikante, sendelinge, evangeliste, jeugwerkers, leraars vir vakante gemeentes en kerkplanters. Hoekom doen ons dit nie? In ons gemeente bid ons arbeiders wat op die oomblik in die veld is, maar nie vir nuwe werkers nie. Wat sal word van die duisende verlore mense in ons kerk se woonbuurt? Die feit dat ons al vir baie jare onder ’n honderd mense is, wys dat ons hulle nie bereik nie. Twee of drie mense is nie genoeg om ons woonbuurt te bereik nie. Laat ons met groot ywer vir arbeiders bid (v.2). Dit sal eers gebeur as ons die erns van die saak besef:

Die oes is groot en daar is nie genoeg hande om dit in te bring nie (v.2).

Die verlore massas is soos skape sonder ’n herder (Matt. 9:36).

Die meeste mense voel ’n veer vir Jesus. Hulle aanvaar Hom nie, maar ignoreer Hom soos ’n stopstraat (Joh. 1:10-11).

Kyk na die verlore mense in jou familie, skool, werkplek, woonbuurt, plaaslike winkelsentrum, land, kontinent en wêreld. Die taak is astronomies. Hoe sal ons dit ooit afhandel? Jesus het die oplossing: bid vir nog arbeiders (v.2). Vertrou die krag van die Heilige Gees en die Woord van God (24:49, Eseg. 37:1-14, Sag. 4:6, Hand. 1:5, 8). Vra die Here om jou met sy liefde te vul, sodat dit jou dryf om die evangelie met verlorenes te deel (2Kor. 5:14).

Verder moet ons besef dat die arbeiders en die oes aan die Here behoort (v.2, Op. 7:9). Hy stuur wie Hy wil en red wie Hy wil (v.1-2, Joh. 3:8, 6:65, 15:16). Ons taak is om hiervoor te bid (v.2, Rom. 10:1, Ef. 6:19-20, Kol. 4:3-4, 1Tess. 5:25, 2Tess. 3:1). Sonder gebed is my en jou evangelisasie pogings so oneffektief soos ’n kar sonder petrol. Maar deur gebed is alle dinge moontlik: “Jesus het hulle geantwoord: ‘Amen, Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê, ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.’” (Matt. 21:21-22).

Archibald Brown se gemeente het dit ervaar. In 1876 alleen het hulle 14 000 traktaatjies en 16 000 preke in hulle woonbuurt uitgedeel.5 Hoekom kan dit nie by ons gebeur nie? Hoekom kan ons nie baie mense vir die Here bereik nie? Kom bid op Woensdae (19:00) en Sondae (08:15 & 16:15) saam met ons hiervoor. Jy is welkom om aanlyn in te skakel. Ons het selfs mense van ander dorpe wat op hierdie manier saam met ons bid.

Dalk kan jy nie saam hiervoor bid nie, omdat jy self nog ongered is. Jy gee nie eers om vir jou eie siel nie—hoekom sal jy dan oor ander se siele bekommerd wees? Mag die Heilige Gees jou van jou verlorenheid en sonde oortuig (Joh. 16:8). Mag Hy sy Woord deur jou hart sny, sodat jy soos die Jode in Hand. 2:37 sê: “Wat moet ons doen, broers?”

 

3. Verwag vervolging (v.3)

Martin Luther het ’n man vir Katie gesoek. Op die einde het hy self met haar getrou. So was dit met die 72. Hulle moes vir arbeiders in die oes bid en op die einde het hulle die arbeiders geword (v.3, vgl. Matt. 9:38-10:1). Wees bereid om dieselfde te doen (v.3). Dit sal nie maklik wees nie. Om met ongelowiges die evangelie te deel is soos vir lammers om tussen wolwe in te gaan (v.3). Party ongelowiges sal jou ignoreer, uitskel of aanval. Moenie dat dit jou afskrik nie. Die Here sal jou krag gee om vir Hom te ly (2Tim. 1:8). Hy kan ook die vervolgers red (Luk. 23:34, 43, 47, Hand. 6:7, 7:58-60, 9:1-18). Jou bereidheid om vir Jesus te ly, wys sy waarde (Fil. 3:7). Hoekom sal iemand vir iets ly wat nie kosbaar of waardevol is nie?

Jou gewilligheid om te ly, is ook ’n lewende illustrasie van Jesus wat sy lewe gegee het om ons te red (2Kor. 4:10-11, Gal. 6:17, Kol. 1:24). In baie gevalle trek die Here ongelowiges na Hom toe as hulle sien dat iemand bereid is om te ly, sodat hulle gered kan word.

’n Masai krysman genaamd Joseph is ’n goeie voorbeeld hiervan. Op ’n dag het iemand die evangelie met hom gedeel. Hy het tot bekering gekom en dadelik die evangelie met die mense in sy dorpie gaan deel. Die mense wou dit nie hoor nie. Die mans het hom vasgehou, terwyl die vroue hom met doringdraad geslaan het. Hulle het hom in die veld gelos om te sterf. Hy het na ’n watergat toe gekruip en vir ’n paar dae bewussyn verloor. Toe hy sterk genoeg was om op te staan, het hy vir homself gesê: ‘Miskien ek het die evangelie verkeerd verduidelik.’ Hy het teruggegaan en weer probeer, maar weereens het die mans hom vasgepen en die vroue hom met doringdraad bygekom. Hulle het hom weer weggesleep in die hoop dat hy hierdie keer sou sterf. Dae later het Joseph opgestaan en teruggekeer. Hierdie keer het hulle hom nie ’n kans gegee om te praat nie. Terwyl hulle besig was om hom te slaan, het hy met hulle oor Jesus gepraat. Die vroue het begin huil. Toe Joseph later bykom, was hy in sy eie bed. Nou het die mense probeer om sy lewe te red. Die hele dorpie het tot bekering gekom.6

 

4. Vertrou die Here (v.4a, 7-8)

’n Man in die Oos-Kaap se dogter het besluit om haar studies te staak en ’n sendeling te word. Toe sy dit vir haar ryk pa vertel, toe sê hy: ‘Dan onttrek ek my finansiële steun. Sendelinge moet in die geloof lewe. Jy kan die Here vertrou om vir jou te voorsien.’

Dit is nie wat Lukas 10 beteken nie. Natuurlik moet jy die Here vertrou as Hy jou uitstuur (v.4a, 22:35). Maar jy moet ook weet dat Hy deur mense voorsien (v.7-8, 1Kor. 9:7-14, Fil. 4:14-16, 1Tim. 5:17-18, 3Joh. 8). As gemeentes moet ons vir ons sendelinge genoeg gee, sodat hulle sorgeloos op evangelisasie kan fokus en nie oor geld hoef te stres nie (v.7-8). Werk dit in jou begroting om by te dra vir sending. Moenie gee omdat jy gedwing voel nie; gee blymoedig soos jy in jou hart voorneem en soos die Here jou voorspoedig maak (1Kor. 16:2, 2Kor. 9:7). As jy so vir die Here se werk bydra, sal Hy in jou behoeftes voorsien (Matt. 6:33, Fil. 4:19). “Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes.” (2Kor. 9:6).

Miskien sê jy: ‘Ek kan dit nie bekostig om te gee nie.’ Regtig? ’n Sekere gemeente het gesê hulle kan nie ’n leraar bekostig nie. ’n Ervare predikant het met hulle oor die situasie kom praat. Hy het ’n sakrekenaar uitgehaal, ’n papiertjie oor die skerm geplak en vir die leiers gesê: ‘Laat elkeen sy salaris intik, “+” druk en dit vir die persoon langs hom gee.’ Aan die einde van die oefening het die predikant die totaal deur tien gedeel. ‘Daar het julle die oplossing,’ het hy gesê. ‘As selfs net die leiers ’n tiende van hulle inkomste gee, het julle genoeg geld om ’n leraar te bekostig.’ Moenie sê jy kan nie bekostig om te gee as jy ’n kar, slimfoon of DSTV het nie.

Maar dalk kry jy regtig swaar. Laat die Christene van Macedonië vir jou ’n voorbeeld wees. Paulus sê “dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in ’n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af. Ek getuig dat hulle na vermoë, ja, selfs bo vermoë, bereidwillig was. Hulle het pleitend by ons aangedring om deel te kan hê aan die genadewerk van hulpverlening aan die heiliges.” (2Kor. 8:2-4). Selfs al kan jy net R20 gee en jy bedoel dit uit jou hart, sal die Here jou seën.

Wat van die sendeling? Verdien jou brood (v.7). Moenie nie lui wees en op mense teer nie (Hand. 20:34, 1Tess. 4:12, 2Tess. 3:7-8, 10). Moenie ontevrede wees met wat jy het en luukser omstandighede soek nie (v.7). Eet wat die mense jou voorsit (v.8). Vir die 72 was dit belangrik, omdat hulle binnekort onder die heidene moes preek en onrein kos sou eet (Hand. 10:9-16, 28, 11:3-18). Die punt is eenvoudig dat jy bereid moet wees om jou gemak prys te gee as jy mense vir die Here wil wen (1Kor. 9:19-23).

 

5. Wees dringend (v.4b)

Om in die Midde-Ooste iemand te groet, beteken nie net dat jy ‘hello’ sê nie. Jy vra oor die persoon se welvaart. Jy vra oor sy familie en sy werk. Jy vra hom oor sy buurman. Uiteindelik verander jou ‘groet’ in ’n verlengde kuier (Eks. 18:7-8, Rigt. 19:1-9). Volgens Jesus moes die 72 nie so groet nie (v.4b, 2Kon. 4:29). Hierdie was ’n sendingreis en nie ’n sosiale geleentheid nie. Jesus se kruisdood het nader gekom en daarom was daar min tyd (9:51).

Wat van ons? Hoeveel tyd is daar voordat die verlorenes rondom jou sterf, voor jy sterf en voor Jesus weer kom? Ons weet nie. Jesus het gesê: “Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.” (Joh. 9:4). Gee traktaatjies, praat met verlorenes, bid vir arbeiders in die oes en vir geleenthede om met mense te praat. Wees doelbewus. Evangelisasie gaan nie vanself gebeur nie.

 

6. Verkondig vrede (v.5-6)

Voordat my vriend ’n predikant in Parys geword het, was hy in die bediening in Boksburg. Hy ken die verskille tussen ’n stadsbediening en ’n plattelandse bediening. In die platteland in mense baie meer openhartig en gasvry; hulle val sommer by jou huis in. In die Midde-Ooste is dit nog meer so. Selfs vreemdelinge het jou in hulle huis verwelkom (v.5, Rigt. 19:10-21).

In die stad kom jy moeilik in mense se huise in. Vra die Here dus vir wysheid om mense te bereik (Jak. 1:5, Spr. 11:30). Maak vriende met iemand. Nooi hulle vir koffie. Koop vir hulle ’n goeie Christelike boek of DVD. Moet hulle nie aanval nie, maar kondig vrede aan (v.5). Vertel hulle van die vrede wat God deur Jesus se kruisdood kom maak het (Jes. 40:1-2, Kol. 1:20). Vir elkeen wat in Hom glo, is daar vrede met God en nie vyandskap nie. God se vrede rus op elke uitverkorene of man van vrede (v.6).

Is jy ’n mens van vrede; iemand wat vrede met God soek? Hoor wat sê die Here vir jou:

“Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie boodskap wat vir die hele volk ’n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.” (2:10-11).

“Eer aan God in die hoogste,

en vrede op aarde vir die mense

in wie God ’n welbehae het!” (2:14).

“Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.” (Rom. 5:1).

“Hy is immers ons vrede—Hy wat albei [Jode en heidene] één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was.” (Ef. 2:14-17).

Wat Jesus na sy opstanding vir die dissipels gesê het, sê Hy vir jou: “Vrede vir julle!” (Joh. 20:19, 26). Hy noem jou sy vriend (Joh. 15:15). Nie alleen vergewe Hy jou sonde nie, maar deur sy bloed reinig Hy jou gewete van elke slegte werk (Heb. 9:14, 10:22).

Wat as iemand nie in die evangelie belangstel nie, maar jou uitjou of afjak? Dan is daar vir hulle geen vrede nie (v.6). “‘Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,’ sê my God.” (Jes. 57:21). Moenie jou asem met so iemand mors en met hulle stry nie. “Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie met hulle pote vertrap, en die honde nie omspring en julle verskeur nie.” (Matt. 7:6).

Bid vir die persoon. Miskien stuur die Here iemand anders om met hom te praat of gee Hy jou nog ’n kans met die persoon. Dit het al met my gebeur. ’n Man met wie ek die evangelie gedeel het, was baie kwaad en het op my geskreeu. Toe ek twee weke later in die nag wakker word, toe dink ek: ‘Ek moet weer met die oom gaan praat.’ Hy was op sy sterfbed. Ek het weer met hom oor Jesus gepraat. Hy was so kalm soos ’n lammetjie en het my gevra om vir hom te sê hoe hy weergebore kan word.

 

7. Bid vir genesing (v.9a)

In die mid-1970’s het ’n dodelike adder vir Nason gepik. Nason was die seun van ’n sekere mev. Song van Kambodja. Die pyn was ondraaglik. Sy bure het hom na sy ma se huis toe gedra en onmiddellik die plaaslike toordokter ontbied. Die toordokter het betelneut sap van ’n areca palmboom oor Nason gespoeg, terwyl hy beswerings en towerwoorde gebruik. Mev. Song het die man uitgejaag: ‘Weg hiermee! Ons is Christene. Ons glo in die lewende God.’ Haar bure het kwaad geword. ‘Wil jy hê jou seun moet sterf?’ het hulle gesê. ‘As hy sterf, gaan hy hemel toe. As hy leef, is dit deur die genade en ontferming van God,’ het sy hulle geantwoord.

Nason se vel het swart geword en hy het gebewe. Mev. Song het die hele nag deur langs hom gekniel en vir hom gebid. Intussen het die bure ’n vlak graf gegrawe en die volgende oggend gekom om sy lyk weg te vat. Toe hulle daar aankom, toe glimlag mev. Song. Sy het hulle ingenooi. Nason was kalm, gesond en kon self loop. Mev. Song het van die opgestane Here Jesus, haar Verlosser en Vriend getuig. Na hierdie episode het al hoe meer mense in die aande na mev. Song se huis toe gekom om te hoor hoe sy uit die Bybel lees.7

Juis om hierdie rede het die Here eers die apostels en daarna die 72 beveel om vir siekes te bid (v.9, 9:1). Wanneer die Here wonderwerke doen, spits mense hulle ore vir die evangelie (Mark. 1:27, Hand. 1:8, 3:1-4:4, 33, 8:6-7, 13:12, 15:3, 12). Wonderwerke wys dat Jesus lewe, dat die evangelie bonatuurlik is en dat God mense se siele kan red. Wonderwerke vestig nie die aandag op die tekens self nie, maar op Jesus wat die wonders doen. So het dit in die vroeë kerk gebeur. Beide Irenaeus (130-202 n.C.) en Clemens van Aleksandrië (150-215 n.C.) getuig dat God deur gebed en in die Naam van Jesus wonders gedoen het en siek mense genees het. Die gevolg hiervan was dat ongelowiges die evangelie geglo het en gered is.8

As die Here wil, kan Hy dit nog steeds doen. Hoe doen Hy dit? Jesus het gesê: “Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh. 14:12-14).

Ek het nie tyd om alles te verduidelik nie, maar laat ek die volgende sê: die groter werk vind plaas deur gebed in die Naam van Jesus. Jesus se volgelinge sal groter wonders doen, omdat Hy na die Vader toe gaan. Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy die Heilige Gees uitgestort. Dit is deur die Gees wat Jesus se volgelinge groter wonders doen. Die groter wonders kan nie beteken dat hulle meer of meer indrukwekkende wonders gedoen het nie (bv. Joh. 10:18, 21:25). Watter van die apostels het meer of meer indrukwekkende wonderwerke as Jesus gedoen?

Waarna verwys die groter werke dan? Min wonderwerke is so groot soos wedergeboorte, naamlik dat iemand wat geestelik dood is, weer lewe en ’n nuwe skepping word. Tydens sy bediening op aarde het Jesus min hiervan gesien. Nadat Hy die Gees uitgestort het, het Petrus op Pinksterdag 3000 bekerings gesien. In hierdie opsig was Petrus en die ander apostels se werke groter as Jesus s’n.

Dit het nie by die apostels gestop nie. In antwoord op ons gebede genees die Here nog steeds siek mense en red Hy verlorenes. Laat ons dan volgens Hand. 4:29-31 bid: “‘En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.’ Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.”

 

8. Waarsku mense (v.9b-12)

As jou kind in die huis lê en slaap, sal jy hom nie los nie. Jy sal skreeu dat hy moet uitkom voor dit te laat is. Liefde waarsku. Dit geld ook in die geval van mense wat verlore is. Sê vir hulle: ‘Die Koning kom! Deur die evangelie, wonders en verlossing het sy koninkryk naby gekom!’ (v.1, 9, 11, 11:20, 17:20-21).

Skud die stof van jou voete af as hulle nie luister nie (v.10-11, 9:5, Hand. 13:51, 18:6). Hierdie aksie is simbolies van God se oordeel (Neh. 5:13). Sy oordeel oor Suid-Afrika sal erger wees as sy oordeel oor Sodom wat twee keer vir hulle sonde gebrand het: eers met vuur uit die hemel en toe in die hel (v.12, Gen. 19, Jud. 7). Die mense van Sodom het nie die evangelie gehoor soos ons nie (Matt. 11:23-24). Daarom sal hulle straf ligter as ons s’n wees (12:47-48). Ons het die Bybel in Afrikaans en honderde kerke om van te kies. In ons gemeente hoor jy elke week die evangelie. As jy jou kanse verbrou, sal jou gewete jou in die hel kasty: ‘Hoekom het ek die geleentheid laat verbygaan en die Here Jesus weggewys?’

***

Hoor die woorde van Charles Spurgeon:

‘The world is dying, the grave is filling, hell is boasting, and yet you have the gospel; can it be that you do not care to win souls, do not care whether men are damned or saved! The Lord wake us from this stony-hearted barbarity to our fellow-men, and make us yearn over them, care about them, and pray about them, and work for them, till the Lord shall arise and send forth labourers into His harvest!’9

Almal sal nie soos my vriend Seth Meyers voltyds evangelisasie doen nie. Maar kan jy nie altyd ’n traktaatjie by jou hê en dit gee vir die mense met wie jy elke dag in aanraking kom nie?


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  J.D. Odendaal, So het God ons Skredes Gelei (Geen uitgewer, datum of plek aangedui nie.)

3  Sommige Griekse manuskripte sê dat Jesus 70 dissipels uitgestuur het, terwyl ander van 72 praat.

4  Iain H. Murray, Archibald G. Brown: Spurgeon’s Successor (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011), 48, 54, 59-60, 66

5  Ibid., 85

6  John Piper, Let the Nations Be Glad: Second Edition (Grand Rapids, Michigan: Baker Academic, 2003, 1993), 93-4

7  Don Cormack, Killing Fields, Living Fields (Grand Rapids, Michigan: Monarch Books, 1997), 200-1

8  Irenaeus, Against Heresies, Book II, ch. 32, par. 4-5 (verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0103232.htm). Clement of Alexandria, The Stromata or Miscellanies, Book IV, ch. 3, par. 1 (verkry by https://www.newadvent.org/fathers/02106.htm).

9  C.H. Spurgeon, The Treasury of the Bible: New Testament—Vol. 1 (London: Marshall, Morgan & Scott, 1962), 160

Kategorieë