Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 February 2016

Wat glo Christene oor Jesus?

Jesus the Word

In Roland Bainton se biografie oor Martin Luther is daar ‘n prentjie van ‘n kwaai Jesus op ‘n troon.[1]  A.g.v. hulle verdraaide beeld van Jesus, wou die Katolieke ekstra middelaars tussen hulle en Jesus hê.  Hulle sou dus nie direk deur Jesus tot die Vader bid nie, maar het vir Maria gevra om by Jesus te pleit.  En omdat hulle gevoel het Maria is te heilig, het Martin Luther bv. tot Maria se ma gebid en gevra sý moet by Maria pleit.  Eers toe Luther tot bekering gekom het, het hy ‘n Bybelse beskouing van Jesus gekry.  Hy het besef dat Jesus ‘n goeie God is wat sondaars liefhet en aarde toe gekom het om hulle te red.  Wat hy voorheen oor Jesus geglo het, was heeltemal verkeerd.  Johannes 1:1-18 wys vir ons wat Christene vandag en deur al die eeue nog oor Jesus geglo het.

 

Sy ewigheid (v.1-2)

In Desember was daar ‘n Jehova’s Getuie by my hek. Hy het probeer om my te oortuig dat Jesus nie God is nie.  Hy het ‘n boek by my gelos wat sê dat Jesus die eerste en sterkste geestelike wese is wat deur God geskep is.  Maar volgens Johannes is Jesus die ewige God self.

 

Jesus is die Woord (v.1, 14), en was reeds daar toe God in die begin van Genesis 1 tyd geskep het. Omdat Hy voor tyd daar was, is Hy die ewige God (v.1-2).  “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (Psalm 90:2).  “En Hy is voor alle dinge” (Kolossense 1:17).

 

Hy is die Woord [Gk. logos] wat God se denke en Persoon aan ons bekend maak (v.1, 18). is die Woord wat gespreek het om alles tot stand te bring, wat met Adam en Eva gepraat het, wat met Abraham, Isak, en Jakob gepraat het, wat met Moses in die brandende bos gepraat het, wat op Sinaï gepraat het, wat deur al die Ou Testament profete gepraat het.

 

Die Woord is God en is een met Hom (v.1). Hy is die lofwaardige God (Romeine 9:5), die Een wat op God-gelyke wyse bestaan het (Filippense 2:6), en die Een in wie die volheid van God beliggaam is (Kolossense 1:19, 2:9).  Maar omdat Hy ook by God is, is Hy ‘n aparte Persoon (v.1-2).  Die Jehova’s se Bybel sê dat die Woord’n god was.  Dit kan egter nie wees nie, want Hy is voor tyd en dus ewig.  Verder het Hy alles geskep, en volgens Jeremia 10:11-12 en Psalm 96:5 kan net die ware God skep – ’n god kan nie skep nie en bestaan buitendien nie.

 

Ons moet weet hoe om Jesus se ewigheid en Godheid te verdedig as die Jehova’s aan ons deure klop. Lees weer die punt oor Jesus as God in my preek op die blog:  ‘Wie is hierdie Jesus?’  Jesus het nie ‘n begin of einde nie, maar alles begin en eindig in Hom.  In Openbaring 1:8, 21:6, Jesaja 44:6 sê God Hy is die Alfa en die Omega (die a en z van die Griekse alfabet), die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste.  Openbaring 1:17, 2:8, 22:13 noem Jesus by hierdie name.  Dit wys dat Jesus die ewige God is.  As Hy die logika en Woord van God is [logos], moet Hy ook ewig wees soos die God wat hierdie gedagtes dink en hierdie Woord praat.

 

Moenie met die Jehova’s stry asof jy hulle met jou intellek kan oortuig nie. Ken egter die Skrif, sodat jy jouself en ander gelowiges teen hulle valsheid en verwarring kan beskerm.  God sal dalk ook jou woorde gebruik om die Jehova’s te laat dink.

 

Sy skeppingswerk (v.3-5)

Oor die Kersseisoen het ‘n boemelaar by my hek kom bedel. Hy was aggressief en arrogant.  Hy was op dwelms of demoon-besete, en het geglo hy is een of ander super-mens.  Op ‘n stadium het hy God se Naam gelaster en het ek hom vasgevat.  Hy het o.a. gesê dat hý vir Jesus geskep het.  Die Skrif is duidelik dat Jesus nie geskep is nie, maar dat Hy self die Skepper van alles is.

 

Alles wat bestaan is Skepper of skepsel, en kan nie beide wees nie. Jesus is die Skepper en nie ‘n skepsel soos wat die Jehova’s en Gnostici sê nie (v.3).  “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” (Kolossense 1:16). “tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” (1 Korintiërs 8:6). Geen skepsel bestaan immers sonder Hom nie (v.3).  As Hy self ‘n skepsel is, beteken dit Hy het Homself geskep (v.3).  Om so te redeneer is onsin.

 

Johannes sê dat Jesus die Bron van alle lewe is (v.4, 14:6, 5:26). Alle lewe in die skepping begin by Hom (Genesis 1:20-25).  Adam en elke mens se lewe kom van Hom af (5:21, Genesis 2:7).  Dit is ook Hy wat die ewige lewe gee, omdat Hy self die ewige lewe is (1 Johannes 5:20).

 

Soos wat lig lewe gee, leef ons in en deur sy lig (v.4, Psalm 36:10). Sy lig skyn in die duisternis van die skepping en in ons donker harte (v.5, 8:12, Genesis 1:5, 1 Johannes 1:5, 2 Korintiërs 4:6).  Sy lig is nie ‘n lig wat jy kan afsit of ‘n kers wat jy kan doodblaas nie:  sy lig oorwin die duisternis (v.5).

 

Weereens moet jy uit die Woord vir die Jehova’s kan wys dat Jesus die Skepper-God is. Volgens hulle is Jesus dieselfde as die tandarts se assistent wat die instrumente vir hom aangee:  Hy is nie self die Skepper nie, maar help net die Vader (nie dat ek verstaan hoe Hy kan help om te skep, sonder dat Hy ook die Skepper is nie!).

 

Beide die Ou- en Nuwe Testament sê dat die Woord alles geskep het (v.1, 3, Psalm 33:6, Hebreërs 11:3).  ‘n Vergelyking tussen Johannes 1 en Genesis 1 wys dat Jesus die God is wat alles geskep het.

Table

Iemand wat twyfel dat Jesus die Skepper-God is, kan nie sy verlossing reg verstaan nie. Hoe kan Jesus ‘n nuwe skepping in ons harte maak (2 Korintiërs 5:17), as Hy nie eers die heelal kon skep nie?

Sy voorganger (v.6-8)

As ‘n bekende persoonlikheid optree, is daar gewoonlik ‘n minder bekende persoon wat ‘n paar liede sing en dan die sanger voorstel. Dit is basies wat Johannes die Doper vir Jesus was.  Hy was die slaaf wat ‘n paar honderd kilometer vooruit moes hardloop om die gate in die pad op te vul, klippe uit die pad te rol, en hobbels gelyk te maak.  As die Koning daar verby kom, moes alles reg wees.  So sien die Ou Testament vir Johannes (Jesaja 40:3), en so het hy homself beskou (v.19-23).

 

God het vir Johannes die Doper gestuur om van die lig te getuig, sodat die volk deur sy boodskap kon glo (v.6-7). Soos wat die Ou Testament vereis het, was hy nie die enigste getuie nie, maar een van vele (v.7):  die Vader (5:36-37), die Skrif (5:39), en die Heilige Gees deur die apostels (15:26-27).  Johannes self was nie die lig nie, en wou ook nie sy roem steel nie.  Hy wou mense na die lig toe wys (v.8) en het vir hulle gesê:  “Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Lukas 3:16).

 

Beskou jouself as die maan in Jesus se helder sonlig. Iemand wat vir Jesus minder as God wil maak, doen dit omdat hullle hulself meer wil maak.  As die Jehova’s sê Jesus is ’n god, is dit nie lank voordat hulle 10:34-36 verdraai en sê ons is ook gode nie.  Hulle is soos die Mormone wat sê dat goeie mense eendag gode sal word.  Dit was Satan sonde:  hy wou soos God wees (Jesaja 14:14).  In Genesis 3:5 het hy die mens versoek om soos God te wil wees.  Dit is beter dat jy soos Johannes is wat mense na Jesus toe wys en sê:  “Hy moet meer word, maar ek minder.” (3:30).  God deel sy eer met niemand nie (Jesaja 48:11).

 

Sy vleeswording (v.9-18)

As jy vir ‘n duisend Afrikaners vra waaroor Kersfees gaan, sal 70% of meer vir jou kan sê dat God mens geword het om ons te red. Tog is daar baie Afrikaners wat glo Jesus is ‘n liefdevolle Verlosser, terwyl die Vader ‘n kwaai God is wat altyd wil straf.  Vir Johannes is Jesus en die Vader een (10:30), en wys Jesus presies vir ons hoe en wie die Vader is (v.18).

 

Die ware lig wat die mens se gewete met die kennis van God verlig, was oppad na die wêreld toe (v.9, 8:12, Romeine 1:19-21, 2:14-15). Hy het die wêreld geskep, maar toe Hy aarde toe gekom het, het die wêreld Hom nie as haar Skepper erken nie (v.10).  Die mens wat Hy na sy eie beeld gemaak het, het Hom verwerp (v.11).  Sy uitverkore volk Israel het Hom verwerp, net soos wat hulle in die woestyn en die res van die Ou Testament gedoen het (v.11, Matteus 21:43, Handelinge 4:11, 7:52, 13:45-47, 18:4-6).

 

Daar was egter ‘n paar mense wat Hom as hulle Here, God, en Verlosser ontvang het en in Hom geglo het (v.12, 20:31). Aan hulle het Hy die reg gegee om sy kinders te word (v.12).  Hoe word jy sy kind?

 

[1] Jy is dit nie van nature of bloot omdat jy ‘n Jood of Afikaner is nie (v.13).

 

[2] Jy is dit nie omdat jy dit gekies het nie: asof kinders hulle ouers kan aanneem (v.13)!

 

[3] Jy is dit nie, omdat iemand anders dit vir jou gekies het nie (v.13).  Jy kan nie ‘n kind van God word, omdat jou ouers jou besny of laat doop het nie.

 

[4] Jy is dit omdat God jou wederbaar, en kies om jou as sy kind aan te neem (v.13).  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het” (1 Petrus 1:3).  “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring“ (Jakobus 1:18).  Jy ontvang Hom as jou Vader (v.12), omdat Hy jou as sy kind aangeneem het (v.13, vgl. Galasiërs 4:5-7, Efesiërs 1:5).

 

Voordat Hy ons kon aanneem, moes Hy ‘n mens word om ons te red deur sy lewe, kruisdood, en opstanding (v.14). Die Seun van God het die seun van die mens geword (v.14), sodat die seuns van die mense seuns van God kan word (v.12-13).

 

In die Ou Testament was die tabernakel in midde van die volk vol van God se heerlikheid (Eksodus 40:34). In die Nuwe Testament is Jesus die tabernakel in ons midde, vol van God se heerlikheid (v.14, Gk.).  Voor die skepping en in die Ou Testament was Hy die heerlike God (12:41, 17:5, Hebreërs 1:3).  In die Nuwe Testament het Johannes Jesus se heerlikheid gesien in sy wonderwerke (2:11), op die berg van verheerliking (2 Petrus 1:16-18), en in sy kruisdood (12:23-33).

 

Jesus is vol van genade en vol van die waarheid oor God, die mens, sonde, verlossing, ens. (v.14).  Hy is “groot van goedertierenheid en trou” (Eksodus 34:6).  Alhoewel Johannes voor Jesus gepreek het, het hy geweet Jesus is ewig en groter as hy, Jakob, Moses, Abraham, en almal (v.15, 30, 4:12, 5:46-47, 8:53, 58).  Uit die beker van genade wat oorloop soos wyn (v.14), het ons genade op genade ontvang.  Ons ontvang genade vir redding, lewe, en vir altyd (v.16).  Die Skrif sê:

 

“Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32).

 

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand” (Efesiërs 1:7-8).

 

“sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.” (Efesiërs 2:7).

 

Om ons sonde uit te wys, het God ‘n streng wet gegee deur Moses (v.17). Deur Jesus het God genade gegee:  Jesus het die wet namens ons onderhou, en die straf vir ons wetsoortreding op Homself geneem aan die kruis (v.17).  Die waarheid van die evangelie het ook deur Hom gekom (v.17).  Hoekom het Hy ons gered?  Dit het Hy gedoen, sodat ons die onsigbare God kan sien en Hom vir altyd kan geniet (v.18).  Jesus het gekom om hierdie God te openbaar (v.18).  “Hy is die Beeld van die onsienlike God” (Kolossense 1:15).  Hy is die presiese afdruksel van God se wese en die afskynsel van sy heerlikheid (Hebreërs 1:3).

 

Ontvang Hom as die Een wat jou gemaak het, die enigste Verlosser van sondaars, die volmaakte openbaring van die Vader. Baie Afrikaners is goeie kerkmense wat Hom so erken, maar hulle verwerp Hom deur hulle dade.  Hulle weet dat Hy hulle geskep het, maar hulle gebruik hulle asem in sonde teen Hom.  Hulle sê dat Hy hulle van sonde red, en tog leef hulle daarin.  Hulle weet Hy is die openbaring van die Vader, en tog het hulle nie regtig ‘n goeie of ware kennis van Hom of sy Vader nie (8:19, 14:7).  Om die Vader reg te ken, moet jy in die vier Evangelies na Jesus kyk, want “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (14:9).

 

  • In Jesus wat die Fariseërs aanvat en mense uit die tempel uitdryf, sien jy die Vader wat vals godsdiens haat (2:15, Matteus 23).
  • In Jesus wat slegte vroue red en vergewe, sien jy die Vader wat sondaars liefhet en ‘n hart het vir uitgeworpenes (4:7, 18, 8:11).
  • In Jesus wat sy dissipels se voete was en op ‘n donkie ry, sien jy die Vader wat nederig is (13:14, Matteus 21:5).
  • In Jesus wat vir sy ma voorsorg tref en ‘n weduwee se seun opwek, sien jy die Vader wat omgee vir weduwees (19:26-27, Lukas 7:13).
  • In Jesus wat vir Tomas nader roep, sien jy die Vader wat geduldig is met gelowiges wat twyfel (20:26-29).
  • In Jesus wat vir Petrus herstel, sien jy die Vader wat afgedwaaldes na Homself toe terugbring (21:15-19).
  • In Jesus wat siekes genees, sien jy die Vader wat jammer voel vir siek mense en bly is om hulle gesond te maak.
  • In Jesus wat skelm tollenaars soos Matteus en Saggeus red, sien jy die Vader wat daarvan hou om sondaars te red (Matteus 9:9-13, Lukas 19:1-10).
  • In Jesus wat arbeiders in die oes uitstuur, sien jy die Vader wat ‘n hart het vir die verlore wêreld (Matteus 9:37-10:15).
  • In Jesus wat kinders optel, sien jy die Vader wat lief is vir klein kindertjies (Matteus 19:13-15).
  • In Jesus wat oor Jerusalem huil, sien jy die Vader wat hartseer is as sondaars Hom verwerp en Hy hulle in die hel moet straf (Matteus 23:37-38).
  • In Jesus wat vir Maria onderrig, sien jy die Vader wat nie te besig of te kwaai is om ons te help nie (Lukas 10:38-42).
  • In Jesus wat mense op die Sabbat genees, sien jy die Vader wat nie godsdiens vereis nie, maar liefde vir God en jou naaste (Lukas 13:10-17).

 

Om Jesus as die ware God-mens en Verlosser te ontvang, is ‘n saak van lewe en dood. Buite Hom is daar nie verlossing nie (Handelinge 4:12).  Sonder Hom kan jy nie die Vader ken of na Hom toe kom nie (14:6-7).

 

Vir ‘n blom om as ‘n roos geklassifiseer te word, moet dit sekere kenmerke hê. Dit kan met of sonder dorings wees, in ‘n verskeidenheid van kleure voorkom, ‘n bos of ‘n boompie wees, ‘n groot oop blom of ‘n klein knop wees, lekker ruik of geen reuk hê nie.  Maar dit kan nie ‘n varkoor of lelie se kenmerke hê, en nogsteeds ‘n roos wees nie.  Net so kan mense verskil oor die geestelike gawes, die eindtyd, die uitverkiesing, die doop, en nogsteeds Christene wees.  Iemand wat egter nie Johannes 1:1-18 glo nie, kan glad nie ‘n Christen wees nie.

[1] Here I Stand, p.23

Kategorieë