Romeine 14:13-23
Ek het in die vorige preek gesê dat ‘n grys area iets is wat die Bybel ons nie beveel, of verbied nie. M.b.t. hierdie dinge is gelowiges vry om hulle eie oortuigings te hê. Een gelowige glo dat dit verkeerd is om Oosterse vegkunste soos karate en judo te doen, terwyl ‘n ander een se gewete hom nie pla as hy dit doen nie. Volgens Paulus is hierdie dinge grys areas. Hy is egter haastig om by te voeg dat grys areas maklik in swart en wit areas kan verander. Dit kan m.a.w. sonde word. Hoe weet ‘n mens wanneer dít gebeur? Rom. 14:13-23 en ander tekste in die Bybel sê vir ons.
- As dit jou broer se gewete pla (v.13, 15, 19-21)
Ek het verlede jaar ‘n leraar ontmoet wat glo dat dromme in ‘n kerk aan sonde grens en dat die King James Version die enigste Engelse vertaling is waaruit ‘n mens moet lees en preek. Omdat hierdie leraar se gemeente nie ‘n doopbad het nie, het ek aangebied dat hulle hulle mense by ons kan doop. Hy het gehuiwer. Toe ek hom vra wat fout is, toe noem hy die twee kwessies waarna ek sopas verwys het.
Ek het aangebied om die dromme bêre as hulle saam met ons ‘n diens wil hou, asook om uit die King James Version te lees en te preek. Ek wou m.a.w. hierdie verse in Romeine toepas. Ek probeer myself nie as ‘n voorbeeld ophou nie, maar wil eerder ‘n praktiese voorbeeld gee van wat Paulus bedoel.
Omdat God die Regter is (v.10-12), moet ons nie sy rol probeer inneem om mekaar te oordeel nie (v.13). Jy kan die Bybel gebruik om swart en wit areas te oordeel, maar as dit by grys areas kom, is dit nie jou plek om jou medegelowiges te oordeel nie (v.13). Dit is bv. nie jou plek om ‘n medegelowige as ongered of wêrelds te veroordeel, net omdat hy tabak kou of wyn drink nie.
Die gelowiges in Rome het mekaar veroordeel en Paulus wou hê dit moes ophou (v.13). Hoe moes hulle dit stopsit? Die gelowiges met ‘n sterk gewete moes ‘n beginselbesluit neem om nie dié wat ‘n swakker gewete het, te laat struikel nie (v.13). Hulle moes bv. nie varktjops eet voor ‘n jong Joodse Christen wat gedink het dat dit ‘n oortreding van Lev. 11 se voedselwette is nie.
Die gelowige wat dít gedoen het, sou die nuwe bekeerling se gewete beskadig, sodat laasgenoemde begin dink het: ‘Hoe kan hy sê hy is ‘n Christen as hy onrein kosse eet? Sy blatante ongehoorsaamheid wys moontlik dat hy nie gered is nie. Maar miskien is ék verkeerd en moet ek ook maar ‘n tjoppie eet’ (vgl. 1Kor. 8:10-12).
So sou die nuwe bekeerling iets doen wat sy gewete pla. Hy sou dit nie doen, omdat hy gedink het dit is reg nie, maar omdat hy gesien het hoe sy broer dit sonder ‘n gewetensbeswaar doen. As hy ná die ete op sy kameel huistoe gery het, sou sy gewete hom aankla dat hy sonde gedoen het. Dit sou gemaak het dat hy geestelik struikel (v.13, 1Kor. 8:13).
Moet dan nie opsetlik iets doen wat jy wéét ‘n ander gelowige se gewete sal pla nie. Moet hom nie deur jou optrede grief nie, want as jy dít doen oortree jy die nuwe gebod van liefde deurdat jy jou broer se gewete vernietig (v.15, Matt. 22:39, Joh. 13:34-35, 1Kor. 8:11). En as jy liefdeloos optree teenoor jou broer, het jou grys area sonde geword.
Dalk sê jy: ‘Ek gaan nie mý vryheid prysgee vir iemand wat ‘n swak gewete het nie.’ Om só te redeneer, wys nie eintlik hoe geestelik onvolwasse jou broer is om te dink dat ‘n grys area sonde is nie. Dit wys eerder hoe min jy van Bybelse liefde verstaan. Jy maak meer van ‘n glas gegiste druiwe as van ‘n mens wat na God se beeld gemaak is. Sies vir jou! Jou optrede wys dat jy liewer vir jouself is as vir die Here en jou naaste.
God wil hê dat jy daarna moet streef om in vrede met ander te lewe (v.19, Heb. 12:14, 1Pet. 3:11). Jaag die vrede na soos wat ‘n polisieman ‘n oortreder vervolg. Onthou asb. dat dit nie hier oor swart en wit areas gaan nie. Jy kan m.a.w. nie sê dat ons swart en wit waarhede soos Jesus se opstanding moet prysgee, sodat ons vrede met die Moslems kan hê nie.’ Nee. Hiér gaan dit oor vrede tussen gelowiges en nie oor vrede met die wêreld se vals godsdienste en sonde nie. Die punt van v.19 is dat jy moet doen wat nodig is om vrede met jou broer te hê, selfs al beteken dit dat jy wyn of varkvleis moet prysgee. Maak dit jou doel om ander op te bou, eerder as om jou persoonlike vryheid te geniet (v.19). Moenie die gemeente ter wille van ‘n stukkie vleis of ‘n glasie wyn verdeel nie (v.20).
Prakties beteken dit dat jy jou glasie wyn by die huis kan drink (ek het nie gesê jy kan dronk word nie!) as jou gewete dit toelaat. Dit is tussen jou en die Here. Waar ons egter as ‘n gemeente bymekaarkom, moet jy asb. jou wyn by die huis los en liewer ‘n koppie koffie of ‘n glas Coke drink. Wees sensitief teenoor jou broers en susters wat nie soos jy glo nie. Moenie jou bier bo die eenheid, die geestelike welstand, of die groei van die gemeente plaas nie.
Dalk krap dit jou om dat ek dít sê, maar dan is daar ‘n probleem met jou gesindheid. Wees eerder soos Jesus en stel ander se belange bo jou eie (Rom. 15:1-3, Fil. 2:3-5). Jy sal nie doodgaan as jy vir ‘n dag of drie nie ‘n glasie wyn kan drink nie, of hoe? As jy nie eers vir ‘n dag of ‘n naweek sonder alkohol kan gaan nie, wys dit dat jou grys area sonde geword het.
Ek probeer nie sê dat dit sonde is om wyn te drink of cabanossi te eet nie, maar dat dit verkeerd is om jou broer se gewete te beskadig (v.14, 20). Dit sal goed wees as jy níks doen wat jou broer se gewete pla nie (v.21). Preek dan maar uit die King James Version en bêre jou wyn as dit jou broer grief.
- As dit jóúgewete pla (v.14, 22-23)
Party mense dink dat ‘n onrein gees in jou kan kom as jou kos deur ‘n sangoma getoor is. Baie pa’s en ma’s glo dat prente van feetjies bose geeste in hulle huise kan laat inkom. Ek het al mense ontmoet wat glo dat seepsteen beeldjies uit Zimbabwe ‘n deur vir demone oopmaak om in jou huis in te kom.
Maar volgens Jesus se lering deur Paulus is niks op sigself onrein nie (v.14, Hand. 10:15, 28, Tit. 1:15). Paulus was daarvan oortuig dat niks wat by jou mond ingaan jou onrein maak nie; dit is eerder wat uit jou hart uit kom (v.14, Mark. 7). Om F.F. Bruce se woorde te gebruik: ‘Defilement is located in people’s minds, not in material objects.’
En tog is iets onrein as jy dit so beskou (v.14). Pla jou gewete jou as jy Paaseiers koop, Halaal kos eet, tydens ‘n politieke verkiesing stem, of sonder ‘n das by die nagmaaltafel aansit? Moet dit dan nie doen nie. Is jy gemaklik om hierdie dinge te doen? Hou die geloofsoortuiging wat jy m.b.t. die grys areas het tussen jou en die Here. Ons is nie ‘n kultus nie. Daarom moet jy nie jou oortuigings op ander mense se gewetens afdwing nie (v.22). Almal hoef nie te weet wat jy oor hierdie en ander grys areas glo nie. Hulle hoef ook nie te glo dat die gebruik van alkohol toelaatbaar is, of dat dit reg is om Geloftedag te vier, net omdat jý dit glo nie.
Weet eenvoudig hoekom jy glo wat jy glo, sorg dat jy dit met ‘n rein gewete voor die Here beoefen en nie ander laat struikel nie. As jy dít doen, sal jou gewete jou nie veroordeel nie (v.22, Hand. 23:1, 24:16). Jy sal nie soos ‘n vraagteken met skuldgevoelens rondloop nie, maar geseënd of gelukkig wees (v.22). As jy egter twyfel of dit reg is om ‘n glas wyn te drink en jy dit in elk geval doen, sal jou gewete jou veroordeel dat jy teen die Here gesondig het (v.23).
Maar hoekom is dit so, veral as dit nie sonde was nie? Jy het dit gedoen, terwyl jy oortuig was dat dit sonde is. Toe die alarm van jou gewete skreeu, het jy dit geïgnoreer. Jy het die ore van jou siel toegestop. Wat sal gebeur as jy dit die tweede keer doen? En dan ‘n derde, vierde, vyfde, tiende en honderste keer? Jy sal jouself leer om jou gewete uit te blok. En as dít gebeur, sal jou gewete jou later teen regte sondes waarsku, maar dit sal jou nie pla nie, omdat jy die alarm van jou gewete afgeskakel het. Jy het die batterye uitgehaal.
Verstaan jy nou hoekom dit ernstig is as iets jou gewete pla, of as jy onseker is of jy iets moet doen? Kan jy sien hoekom dit sonde is as jy jou gewete oortree (v.23)?
Wat moet jy dan doen om te keer dat jy jou gewete skroei, sodat dit nie onsensitief raak soos ‘n eelt nie (1Tim. 4:2)? Die oplossing is nie om vir jouself te sê dat jy vry is om wyn te drink of karate te doen, omdat ‘n ander gelowige dit doen nie. Die oplossing is eerder om die Bybel te lees en in ‘n verhouding met die Here te groei. As jy op ‘n dag tot die oortuiging kom dat dit nie verkeerd is om hierdie dinge te doen nie, kan jy dit met ‘n skoon gewete doen en die Here daardeur verheerlik. Maar as jy nié oortuig is dat dit reg is nie, moet jy dit nie doen nie (v.23).
- As jy jou getuienis weggooi (v.16)
Wat sal die wêreld sê as hulle sien dat Christene Kersfees vier? Niks. Maar wat sal hulle sê as hulle sien hoe Christene onder mekaar baklei oor of dit sonde is om Kersfees te vier of nie? Dit is wat Paulus met v.16 bedoel: “Laat dan van die goeie wat aan julle behoort, nie kwaad gespreek word nie.”
Eet dan maar jou ‘onrein’ kreef en geniet jou glas wyn as jy wil. Moet dit egter nie doen as dit jou broer se gewete pla nie. Moenie jóú grys area op sý gewete afdwing, sodat jy dit op die einde verkrag nie (v.15). As jy dít doen, sal die wêreld sê: ‘Ek is bly ék is nie ‘n Christen nie; kyk net hoe baklei hulle onder mekaar.’
Doen eerder alles in jou vermoë om mense vir die Here te wen, selfs al beteken dit dat jy nooit weer ‘n TV moet besit nie, of dat jy vir die res van jou lewe nie ‘n druppel alkohol oor jou lippe moet neem nie (1Kor. 8:13, 9:19-23, 10:27-33).
- As dit maak dat jy fokus verloor (v.17-18)
TBN se Prosperity predikers maak asof die Koninkryk van God oor materiële voorspoed en rykdom gaan. Maar volgens Paulus gaan die Koninkryk nie primêr oor die dinge wat jy met jou sintuie kan ervaar nie (soos lekker kos en wyn), maar oor geestelike dinge soos geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees (v.17).
Paulus bedoel nie dat die hemel nie ‘n letterlike plek is, of dat daar nie eet- en drinkgoed op die nuwe aarde sal wees nie (Jes. 25:6). Sy punt is eerder dat ‘n regte verhouding met die Here, vrede met Hom en ‘n hart vol blydskap belangriker is as ‘n paar repies spek en ‘n glas wyn (v.17).
Selfs ‘n ongelowige kan vark eet en wyn drink. Net ‘n gelowige kan egter God se geregtigheid, vrede en blydskap deur Jesus en die Heilige Gees geniet (v.17, 15:13, 1Kor. 6:11, Gal. 5:22). Daarom maak dit nie vir die Here saak dat jy vry is om wyn te drink sonder dat jou gewete jou nie pla nie. Die vraag is eerder of jy op Christus vertrou vir jou redding. Het jy vrede met God? Het jy ‘n skoon gewete? Het jy die vreugde van die Heilige Gees in jou? Kan jy die Here eerlik dank vir jou verlossing en bly wees dat Hy jou vergewe het? Is jy vry van jou sonde?
Indien nie, beteken jou sogenaamde vryheid niks. Dit is tog nie die vryheid van jou gewete—die vryheid om pyp te rook of TV te kyk sonder dat jy skuldig voel—wat jou vir die Here aanneemlik maak nie (1Kor. 8:8). Jy is eerder vir die Here aanneemlik, omdat jy in ‘n regte verhouding met Hom staan deur Jesus Christus in die krag van die Heilige Gees (v.17-18).
As jy reg lewe in God se Koninkryk, sal die wêreld nie ‘n vinger na jou kan wys nie (v.16). Hulle sal eerder sien dat jy nie vir jouself die belangrikste is nie, maar dat jy ander bo jouself stel (v.18, 1Sam. 2:26, Spr. 3:4, Matt. 5:16, Luk. 2:52, 2Kor. 8:21, 1Pet. 2:12).
Laat ek nou uit Rom. 14 en die res van die Bybel opsom wanneer ‘n grys area sonde word. Dit word sonde as:
[a] Jy met ander begin vassit daaroor (v.3).
[b] Jy nie met ‘n skoon gewete die Here daarvoor kan dank nie (v.6, Ef. 5:20, 1Kor. 10:30, 1Tim. 4:3-5).
[c] Jy net aan jou eie plesier dink en dit nie jou mikpunt maak om die Here te verheerlik nie (v.6-8, 1Kor. 10:31).
[d] Jy twyfel of dit wat jy doen, reg is (v.23). Dit word m.a.w. sonde as jou gewete jou pla.
[e] Jy jou broer se gewete beskadig (v.21). Sal jou aksie jou broer in die versoeking lei (Matt. 18:7)?
[f] Jy ‘n slaaf daarvan word (1Kor. 6:12). Party mense sal sê dat hulle maklik wyn of sigarette kan los, maar hulle kom nooit so ver nie. Die waarheid is dat dit hulle baas is.
[g] Dit jou verhinder om geestelik te groei (1Kor. 6:12). Jy kom bv. nie by jou Bybelstudie en gebed uit nie, omdat jy te veel op Twitter of Facebook is.
[h] Jy jou getuienis weggooi (v.16). Jy gaan moeilik teenoor ‘n ongelowige getuig as hy jou altyd met ‘n bier in jou hand sien (1Kor. 10:31-33).
[i] Jy onseker is of Jesus dit sou doen (1Kor. 11:1, 1Joh. 2:6).
[j] Jy ongehoorsaam is aan die gesag wat God oor jou aangestel het (Rom. 13:1-2). Jy mag dus bv. nie wyn drink as jy onder 18 is, of ‘n tatoeëermerk kry as jou ouers jou verbied nie.
Toe ek 11 was, het ek my eerste toespraak voor die skool gedoen. Die tema wat hulle vir my gekies het, was: ‘Alles wat té is...’ Die slotsom van my toespraak was dat alles wat té is, sonde is. Dit geld ook vir die grys areas van ons Geloof.