Ek het al voorheen verwys na twee karakters in John Bunyan se Pilgrim’s Progress: Passion en Patience. Passion wou dadelik al sy speelgoed hê. Hy het dit gekry en vir Patience gelag, omdat hy niks gehad het nie. Patience het geduldig gewag, omdat hy geweet het dat hy ‘n erfenis in die hemel het. Kort voor lank was Patience se speelgoed gebreek en sy klere geskeur. Hy het niks oorgehad nie. Genesis 35:16-37:1 leer vir ons dieselfde les.
Jakob (hfst.35)
Toe Jakob klaar sy belofte nagekom het, het hy weggetrek uit Bet-el. Naby Efrat (Betlehem) het Ragel in kraam gegaan. God het haar gebed vir nog ‘n seun beantwoord (30:24). Sy het moeilik geboorte gegee, en net voordat sy dood is, het sy die kind Ben-Oni genoem: seun van my smarte (Benoni is na hóm vernoem). Vir Jakob was hierdie kind spesiaal. Van al sy kinders is net Benjamin in Kanaän gebore. Benjamin is die naam wat Jakob hom gegee het. Benjamin beteken ‘seun van my regterhand’. Hy is ‘n tipe van Christus. Jesus is ook by Betlehem gebore en is die Seun van sy Vader se regterhand (Matteus 2:1, Psalm 110:1). Jakob het vir Ragel naby Betlehem begrawe (v.16-20).
Jakob het verder gereis tot by die Migdal-Eder (toring van Eder). Hierdie was seker ‘n tipe wagtoring waaruit hulle veediewe kon raaksien. Toe hulle daar gebly het, het Ruben met sy pa se byvrou geslaap. Hy het dit gedoen omdat hy wellustig was, maar het ook probeer om só sy pa se hoofskap oor te neem – hy was immers die eersgeborene (v.21-22). Soos in 34:5, 13 het Jakob sy hoofskap versuim en stilgebly. Hy het eers op sy sterfbed die saak met Ruben opgeneem: “Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag! Opbruising soos van waters—jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.” (49:3-4). Hy het ook sy tweede en derde oudste seuns aangespreek, omdat hulle in 34:25-26 ‘n hele stad se mans uitgemoor het: “Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld. Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink. Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.” (49:5-7). Die vierde oudste seun, Juda, het dus die belangrikste geword (49:8-12, 1 Kronieke 5:1-2). So het God hulle sonde gebruik om sy planne te volbring, want uit Juda se nageslag moes die Messias gebore word.
Moses (die outeur) het eers nuus oor die jongste en oudste seun gegee, en daarna ‘n volledige lys van Jakob se twaalf seuns gegee:
“En die seuns van Jakob was twaalf. Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Sébulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali. En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.” (v.22-26).
Jakob het Hebron toe getrek om sy pa te gaan sien (v.27, 13:18). In 28:21 het God belowe om hom na sy pa se huis toe terug te bring, en in 31:18 was dit sy eie voorneme. Isak was 180 toe hy dood is (v.28). Sy twee seuns, Jakob en Esau, het hom begrawe (v.29, 25:9). Hulle was 120 jaar oud (25:26). Dit is ironies hoe begrafnisse dikwels vervreemde geliefdes met mekaar herenig. Noudat Isak dood was, het Jakob oorgeneem as hoof van die aardsvaders.
Esau (hfst.36-37)
Hierdie hoofstuk wys op die verskille tussen Jakob en Esau.
Hulle vroue
[1] Esau het sy vroue by die Kanaäniete gekry (v.2-3). Sy een vrou was Ismael se dogter. Alhoewel die Horiete sy vyande was, het hy en sy seun Elifas met hulle dogters getrou (v.12, 20, 22, 25).
[2] Soos sy pa, het Jakob met familie getrou en sy vroue uit Haran gekry (hfst.24, 28:1). Hy het nie, soos Esau, met die Kanaäniete ondertrou nie (34:9).
Hulle kinders
[1] Esau het vyf seuns en tien kleinseuns gehad (v.4-5, 9-13). Elifas was die oudste en sý seun was Teman (v.10-11). In Job 2:11 lees ons van Elifas die Temaniet. Hy het dus van hier af gekom. Us was ook ‘n inwoner van Seïr (v.28). Volgens Job 1:1 was Job uit die land Us. Amalek was ook een van Elifas se seuns (v.12). Die Amalekiete het later vir Israel probleme veroorsaak (Eksodus 17).
[2] Jakob het twaalf seuns gehad en nog geen kleinseuns nie. Sy nageslag moes baie vermeerder voordat hulle soos die sterre van die hemel en die stof van die aarde kon wees. In hfst.35 het hy drie geliefdes aan die dood afgestaan: Debora (sy ma se oppasser), Ragel (sy geliefde vrou), en Isak (sy pa).
Hulle lande
[1] Daar was te min weiding in Kanaän vir Jakob en Esau se baie vee (v.7, 13:6). Esau het Seïr toe getrek. Die Here het vir Seïr die Horiet voor Esau verdryf (Deuteronomium 2:22). Hy het sy gesin in die land gevestig (v.6-8). Esau het sy broer se juk afgegooi (27:40). Die Here het hom laat trek, omdat Hy die land Kanaän aan Jakob belowe het.
[2] God het wel die land aan Jakob en sy nageslag belowe (35:12), maar hy was nog ‘n vreemdeling in die land (37:1).
Hulle konings
[1] Esau het stamhoofde gehad (v.15-19, 40-43). Daar was ook reeds konings in Edom. Daar was nie ‘n koninklike familie nie; die konings is deur stamhoofde ingestem (v.31-39).
[2] Al het God vir Jakob belowe dat konings uit hom sou voortkom (35:11), was daar nog geen koning in Israel nie (v.31).
Hulle nasies
[1] God het belowe dat Jakob en Esau twee nasies sou word (25:23). Esau was reeds ‘n nasie: Edom (v.43). Edom het vir Israel gehaat (Obadja).
[2] Jakob was maar twaalf seuns en nog nie ‘n nasie nie (35:11, 22-26). God het die Israeliete beveel om gaaf te wees met Edom (Deuteronomium 2:4-5, 23:7).
Soms lyk dit of Esau beter af is as Jakob, of die wêreld beter af is as God se kinders (Psalm 73):
- Duisende mense daag op vir Michael Jackson se begrafnis. ‘n Paar hartseer gelowiges vergader om ‘n ou sendeling se graf. Niemand onthou die sendeling nie en daar is nie eers geld vir ‘n grafsteen nie.
- ‘n Oneerlike Moslem-sakeman se besigheid gaan vooruit en hy word skatryk. Jy werk eerlik en probeer om die Here te verheerlik, maar jou besigheid sukkel.
- Ons president en party parlementslede word ryk deur korrupsie. Twee vroue in ons gemeente sukkel om kop bo water te hou (Prosperity predikers is eenvoudig nie eerlik of realisties met die lewe nie!).
- Benny Hinn en Joel Osteen het tienduisende mense in hulle kerke. Baie kerke wat die waarheid preek bestaan maar uit ‘n handjievol mense.
- Die Mormone en Vatikaan het hope geld. Baie kerke wat ernstig is met die waarheid werk op ‘n stywe begroting.
Dit laat jou wonder of God sy kinders vergeet en verlaat het. Dalk sê jy soos Asaf dat jy tevergeefs jou hart rein en jou hande skoon gehou het (Psalm 73:17). Dis amper of die Here nie eers raaksien dat jy probeer om heilig te lewe nie.
Moenie so dink nie. Jy mag dalk nie in hierdie wêreld voorspoedig wees nie. Maar jy kan seker wees dat jy in die hemel voorspoedig sal wees – vir ewig. Moenie soos Esau wees wat vir die hier-en-die-nou gelewe het nie (25:29-34, Hebreërs 12:16-17). Onthou liewer wat die Bybel sê:
“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” (Lukas 9:23-25).
“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” (Lukas 16:25).
“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:16-18).
Soms lyk dit vir ons of die koninkryke van hierdie wêreld in beheer is. Maar die Here sê: “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.” (Obadja 21). Ons het ‘n vaste hoop dat die Here eendag dinge gaan omkeer, sodat ons voorspoedig mag wees. Hierdie hoop help ons om te volhard en geduldig te wag op die Here: “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” (Romeine 8:24-25). Vir die gelowige is die lyding van hierdie wêreld die naaste wat hy aan die hel sal kom. Vir die ongelowige is die vreugdes van hierdie wêreld die naaste wat hy aan die hemel sal kom. Laat dít jou help om nie bitter te word, jouself te bejammer, te kla, selfmoord te oorweeg, of te wens jy’s dood wanneer ongelowiges voorspoed geniet, terwyl dit met jou sleg gaan nie. Matthew Henry was reg:
“The children of this world have their all in hand, and nothing in hope (Luke 16:25); while the children of God have their all in hope, and next to nothing in hand. But, all things considered, it is better to have Canaan in promise than Mount Seir in possession.”