Coram Deo Cover Image

Coming soon...

4 September 2021

Waarvoor bestaan die kerk?

Lukas 9:1-17

’n Jaar of twee gelede, toe vra een van ons lidmate my: ‘Hoekom bestaan ons assosiasie (denominasie)? As ons nie kerke plant nie, moet ons ons deure toemaak.’ As ons nie Matt. 28:19-20 se groot sendingopdrag uitvoer nie, doen ons nie waarvoor Jesus ons geroep het nie en sal Hy ons lig uitdoof. Dit is wat Op. 2:4-5 beteken. ’n Vriend en kollega het dit vir my uitgewys. Jesus sê vir die gemeente in Efese: “Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het. Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het. Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom, en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder.”1

Wat is hierdie eerste liefde wat die gemeente van Efese versaak het? In die verlede het ek gedink dit beteken hulle was nie meer so ywerig soos kort na hulle bekering nie. ‘Dis nie wat dit beteken nie,’ het my vriend gesê. ‘Gaan lees Hand. 19:10, 20 en kyk wat in Efese gebeur het: die evangelie het van Efese af deur die hele streek versprei. Dít is die eerste liefde wat hulle verlaat het, naamlik dat hulle nie meer vir mense van Jesus vertel het nie—hulle het opgehou om evangelisasie te doen. Dit is hoekom Jesus gesê het Hy gaan hulle kandelaar verwyder. Hulle het nie meer die lig geskyn en die doel gedien waarvoor die Here hulle geroep het nie.’

 

1. Om die evangelie te preek (v.1-6)

Alexander Duff het gesê: ‘The church that ceases to be evangelistic will soon cease to be evangelical.’2 In eenvoudige Afrikaans: as ons nie die evangelie na buite deel nie sal ons binnekort nie meer evangelies wees nie. Laat ons dan die evangelie preek soos die twaalf apostels gedoen het toe Jesus hulle uitstuur (v.1). Jesus het mag oor demone en siekte gehad en dit aan die apostels gegee (v.1, 8:26-56). Die apostels moes wys dat Jesus die gevolge van die sondeval kan omkeer en dat Hy ’n nuwe skepping bring.

Beteken dit elke Christen kan siekes genees en demone uitdryf? Nee (1Kor. 12:29-30). Jesus het spesifiek sy gesag aan die twaalf gegee (v.1). Tog kan elke Christen teen die duiwel se werke bid en vra dat God siek mense genees (Matt. 6:13, 2Tess. 3:2-3, Jak. 5:16). Deur te bid wys ons dat die krag nie in onsself lê nie, maar in Jesus (v.1, Matt. 28:18). Die punt is dit: as ons effektief wil bedien en mense vir Jesus wil bereik, het ons sy krag nodig. Dit kry ons deur gebed. ’n Biddelose gemeente is ’n swak gemeente. Dus wil ek jou uitnooi om op Woensdae en Sondae saam met ons te bid. Ons moet onder andere vir mense bid om die evangelie te verkondig (Matt. 9:37-38). Jesus sal ons gebede verhoor en mense uitstuur. Dit is wat Hy in v.2 gedoen het toe Hy die apostels gestuur het om die Koninkryk van God te verkondig en siekes te genees (v.2).

Die apostels moes preek dat die Koning hier is, dat sy volk in Hom moes glo, die knie voor Hom moes buig, Hom moes gehoorsaam en aanbid (1:32-33). Deur hierdie prediking sou Jesus mense van hulle sonde en die duiwel se mag red (v.1-2, Hand. 26:18). Hiervan is liggaamlike genesing ’n gelykenis (v.2). Dit wys wie die ware apostels is, asook dat hulle die ware boodskap van verlossing deur Jesus se gesag verkondig het (v.1-2, Hand. 3:12, 16, 4:29-31, 33, 2Kor. 12:12, Heb. 2:3-4).

Soms genees die Here mense as hulle tot bekering kom. Dit gebeur gewoonlik as die persoon se siekte die gevolg van demoniese mag of sonde is (8:48, Gk. sōzō, 13:11-13, Ps. 38:4, 19, Spr. 14:30). ’n Vrou wat onder Martyn Lloyd-Jones se bediening tot bekering gekom het, is terselfdertyd van demoniese invoede gered. ’n Ander vrou wat ’n psigosomatiese siekte gehad het, is onmiddellik genees toe sy onder Lloyd-Jones se prediking tot bekering gekom het.3

Ek probeer nie sê dat elke siek persoon ongered of onder die mag van die bose is nie (sien Joh. 9:1-3). Partykeer is siekte egter die gevolg van sonde. In baie gevalle weet mense dit, omdat hulle siek word direk nadat hulle ’n spesifieke sonde gedoen het. In sulke gevalle is Jak. 5:14-16 die oplossing: “As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.”

***

Jesus wou nie hê dat die apostels op materiële dinge moes fokus of daaroor moes bekommer nie (v.3). Om hierdie vers toe te pas, kan ons sê dat Bybelse predikers en sendelinge nie rondgaan en mense vir geld vra nie. Hulle doen hulle werk, fokus op die Koninkryk en ’n heilige lewe, en vertrou die Here om vir hulle te sorg (v.3, Matt. 6:33, 2Tess. 3:10). Hulle fokus nie soos prosperity predikers op geld en besittings nie. Hulle gebruik geld om in hulle behoeftes te voorsien en die goeie nuus by mense uit te kry.

Waar kry hulle hierdie geld? Die Here voorsien dit deur gelowiges wat die evangelie finansier (10:7, 1Kor. 9:14, Gal. 6:6, 1Tim. 5:17-18). As iemand se hart vir Jesus oopgaan, gaan sy beursie oop vir die verspreiding van God se Koninkryk. God se kinders dra met ander woorde by vir sending. Ek bedoel nie enigiets wat sending genoem word nie, maar praat van die verspreiding van die evangelie.

Christene stel ook hulle huis oop vir sendelinge as die geleentheid hom voordoen (v.4, Rom. 12:13, Heb. 13:2, 1Pet. 4:9, 2Joh. 10). Dit is nie altyd gemaklik of geleë nie, maar dit verheerlik die Here. In die konteks van Lukas 9 beteken ’n oop huis nie net dat jy die sendeling verwelkom nie, maar dat jy sy boodskap aanvaar. Aanvaar mense jou boodskap? Hoe reageer jou familie, kollegas en mede-skoliere as jy die evangelie met hulle deel? Stry en spot hulle aanhoudend? ’n Man in Nelspruit het dit gedoen. Hy wou met my oor die Bybel praat, maar het nie in Jesus belanggestel nie. Hy wou net stry en wys hoe belaglik die Bybel in sy opinie is. In so ’n geval moet jy die stof van jou voete afskud (v.5, Matt. 10:4). Steve Lawson het dit gedoen. Toe ’n gemeente nie sy boodskap wou aanvaar nie, toe skud hy letterlik die stof van sy skoene af toe hy daar wegry.

Die Jode het dit gedoen as hulle in ’n heidense streek was. Deur die stof van jou skoene af te skud, sê jy dat mense onrein is en nie deel van die ware Israel nie (Mark. 6:11, Hand. 13:51, 18:6).4 Met so iemand moet jy nie jou asem mors nie (Matt. 7:6). Skuif aan na die volgende persoon net soos wat die apostels deur die dorpe gegaan het om die evangelie te preek en mense te genees (v.6). Hulle het die evangelie van die Koninkryk verkondig (v.6, 2). Party mense glo dat dit ’n ander boodskap as Paulus s’n was. ‘Daar is die evangelie van die Koninkryk en die evangelie van verlossing,’ sê hulle. Om egter so te sê, is verkeerd, omdat daar net een evangelie is (Gal. 1:8-9). Op. 14:6 praat van ’n ewige evangelie wat beteken dat die evangelie nog nooit verander het nie.

Vandag nog verkondig ons hierdie evangelie; die evangelie van die Koninkryk en die Naam van Jesus Christus (Hand. 8:12). Dit is die evangelie van 1Kor. 15:3-4: “Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte”.

Glo jy dit?

Is jy lief vir hierdie evangelie?

Is dit jou lewe?

Vertel jy ander daarvan?

 

2. Om Jesus te ken (v.7-9)

’n Banier wat in ons kerk gehang het, sê: Ken Christus, maak Christus bekend. Dit is waarvoor die kerk bestaan en waarvoor Paulus gelewe het: “Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde... Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid

daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ’n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry” (1Kor. 2:2, Fil. 3:8).

Voor die Here hom gered het, was Paulus soos die res van die volk—hy het nie geweet wie Jesus is nie: “Wie is U, Here?” (Hand. 9:5). Die meeste mense weet nie wie Jesus is nie, al het hulle van Hom gehoor. Herodes was so. Toe hy van Jesus se wonderwerke hoor, was hy verward (v.7). Die Grieks (diaporeō) impliseer dat hy deur ’n lys van opsies gegaan het sonder om ’n oplossing te vind. Party mense het gesê dat Jesus Johannes die Doper is wat uit die dood opgestaan het (v.7). Ander het gesê Hy is Elia van Mal. 4:5, omdat Jesus soos Elia wonderwerke gedoen het (v.8, vgl. 1:17, Matt. 11:13-14, 17:12-13). Ander het gesê Hy is ’n Ou Testamentiese profeet wat opgewek is (v.8).

Vandag nog dink die Moslems Jesus is net ’n groot profeet. Hulle weet nie dat Hy dié Profeet is van wie Moses gepraat het nie (Deut. 18:15, 18). Jesus is groter as al die profete; Hy is die finale openbaring van die Vader (Heb. 1:1-2). Hy is die Een deur wie die Vader Homself aan ons bekend maak (Joh. 1:18).

Moet nooit dink jy ken Jesus genoeg nie. Hy is die God wat van ewig af bestaan en is oneindig (Joh. 1:1, 8:58). Die Vader alleen ken Hom in sy totaliteit (10:22). Ek en jy kan altyd iets nuut van Jesus leer. Groei daarom deur die Woord en gebed in jou kennis van Hom (2Pet. 3:18). Ek wil voorstel dat jy Mark Jones se boek, Knowing Christ in die hande kry en dit deurwerk. Dit sal jou hart warm maak en maak dat jy Jesus bewonder. Jy sal dinge van Jesus leer wat jy nie geweet het nie. Jy sal sê: ‘Ek wonder nie meer wat my doel is nie. Ek weet hoekom God my gemaak het, naamlik sodat ek Hom deur sy Seun Jesus kan ken (Joh. 17:3).’ As jy Jesus ontmoet, sal jou hart ophou soek en sal jy rus vind.

Herodes het dit nie verstaan nie: ‘Miskien is die skare reg; Johannes wat ek laat onthoof het, het opgestaan! Ek wil sy wonderwerke sien (v.7, 9, 23:8)!’ Dit is ’n subtiele plaasvervanger vir die ware kennis van Jesus as jy net sy wonderwerke wil sien (v.9, Matt. 12:38, 16:1, Joh. 6:14, 26, 30). Jare gelede het ’n ongeredde man dit vir my gesê: ‘As jy van byeenkomste weet waar daar wonderwerke plaasvind, moet jy my asseblief sê.’

Miskien sê jy vir jouself jy is nie so nie, maar dien jy die Here Jesus konstant of soek jy Hom net as jy ’n krisis het? Jy vra die gemeente om vir jou te bid en soek berading, maar jy dien die Here nie konstant nie. Hou jy aan om Jesus te dien as Hy jou probleme oplos of bly jy weg tot die volgende krisis opduik? Draai jy jou rug op Hom en raak jy kwaad as Hy nie jou krisis oplos nie?

Hoe jy hierdie vrae antwoord, sal wys of jy soos Herodes is en of jy regtig vir Jesus wil ken.

 

3. Om mense se honger te stil (v.10-17)

Ek was by ’n leraarsbyeenkoms waar iemand gesê het: ‘Kom ons maak ’n verskil in Kemptonpark deur kos en komberse vir mense te gee.’ Dit is nie verkeerd nie, maar die fokus is misplaas. Luk. 9:10-17 gaan nie oor honger mense wat kos benodig nie, maar oor sondaars wat Jesus benodig: “Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.” (Jes. 55:2). “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” (Joh. 6:27).

Dit is wat die dissipels moes leer: mense benodig nie net wat Jesus vir hulle kan doen nie (v.10, 10:17)—hulle benodig Hóm. Hulle benodig Hom selfs vir basiese dinge soos kos en rus (v.10, 11-17, Mark. 6:31, Ps. 145:15-16).

***

Jesus het die dissipels Betsaida toe gevat (v.10). Dit was aan die noordelike oewer van die See van Galilea. Dit was Filippus se tuisdorp (Joh. 1:44, 12:21). Toe die skare Jesus en sy dissipels oor die meer sien vaar, toe volg hulle Hom te voet (v.11, Mark. 6:32-33). Hulle wou hê dat Hy hulle siekes genees (Joh. 6:2). Hy het hulle verwelkom (v.11). Dit wys dat Jesus nie te besig is om jou te help nie. Jy is nooit ’n oorlas nie. Hy het altyd tyd vir jou. Jy is altyd welkom. Werp jou sorge op Hom, want Hy sorg vir jou (Heb. 4:15-16, 7:25-26, 1Pet. 5:7).

Toe Jesus die skare sien aankom, toe besef Hy dat hulle soos skape sonder ’n herder is (Mark. 6:34). Hy het hulle van God se Koninkryk vertel en hulle siekes genees (v.11, 2). Toe dit skemer raak, toe sê die dissipels vir Jesus: “Stuur die skare weg na die dorpies en plase in die omgewing om slaapplek en kos te gaan soek, want ons is hier op ’n verlate plek.” (v.12). Jesus het geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” (v.13). Hy het spesifiek met Filippus gepraat. ‘Jý ken die plek,’ het Hy gesê. ‘Waar kan ons kos koop (Joh. 6:5)?’ Jesus het geweet wat Hy gaan doen, maar het vir Filippus getoets (Joh. 6:6). Filippus se reaksie was dat 200 denarius (een denarius is ’n arbeider se dagloon) nie genoeg is vir almal om eers ’n bietjie te kry nie (Joh. 6:7). Jesus het vir die dissipels gesê om te kyk hoeveel brood hulle het (Mark. 6:38). Andreas het ’n klein seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies gekry (v.13, Joh. 6:8-9).

Dit is as ons niks het nie wat die Here sy grootste werk doen. Sodoende kry Hy die eer en ons nie. Moet dan nooit die verskoning gebruik: ‘Ons kan nie ’n kerk plant, sendeling uitstuur en ondersteun, leraar beroep, uitreik of leraars oplei nie, want ons het nie geld nie.’ Jesus besit die vee op ’n duisend heuwels, die goud en silwer in die wêreld, die aarde en alles daarin (Ps. 24:1, 50:10-11, Hag. 2:8). Hy kan brood en vis vermeerder as Hy wil. As ons sy werk reg doen, is dit onnodig om oor geld te bekommer (v.3). ‘Depend upon it, GOD’S work done in GOD’S way will never lack GOD’S supplies’ (Hudson Taylor).5

Jesus is groter as Elisa wat ’n honderd mans met twintig garsbrode gevoed het (v.7-8, 2Kon. 4:42-44). Jesus kan maklik 5000 gesinne—15 000 tot 20 000 mense—uit ’n seuntjie se kosblik voed (v.14).

Omdat Hy ’n God van orde is, het Jesus vir die dissipels gesê om die mense in groepe van 50 en 100 te laat sit (v.14-15, Mark. 6:40). Volgens die Joodse gebruik het Jesus opgekyk en ’n seëngebed gebid (v.16, Joh. 6:11, 1Tim. 4:3-5): ‘Blessed art thou, O Lord our God, King of the world, who bringest forth bread from the earth.’6 Jesus het die brood gebreek (vgl. 22:19) en vir die dissipels gegee om vir die skare voor te sit (v.16). Hy het waarskynlik die (gedroogte?) vis heel uitgedeel. Almal het geëet tot hulle versadig was. Die dissipels het die oorskiet opgetel. Daar was twaalf mandjies vol (v.17, Joh. 6:11). Jesus mors nie met kos nie. Miskien het Hy dit saam met die seuntjie huistoe gestuur of dit vir die armes gegee. Daar was meer brood en vis as waarmee Jesus begin het.

Twaalf mandjies vol brood in ’n verlate plek (v.17, 12) herinner ons aan God wat die twaalf stamme van Israel met manna in die woestyn gevoed het (Eks. 16). Dit wys dat Jesus die God van Israel is. Dit wys dat Hy die Brood van die lewe is wat ons versadig (Matt. 5:6, Joh. 6:32-33).

Party mense dink dat die wêreld ook na Jesus honger, maar dit is nie so nie. Ongelowiges soek nie na God nie (Rom. 3:11). Jou ongelowige kollegas, kinders by die skool en die mense van ons land begeer nie vir Jesus nie. Hulle wil hê wat Hy kan gee, maar Hom soek hulle nie (Joh. 6:26). Ons moet vir hulle vertel dat niks in hierdie wêreld hulle honger kan stil nie: nie geld, vriende, sukses, kennis of enigiets anders nie. Jesus alleen kan mense se honger stil (Joh. 6:35). Hulle sal ons nie glo as ons soos die wêreld vir onsself lewe, ons eie plesiere najaag en altyd eerste wil wees nie. Hulle sal sê: ‘Jesus is vir nie eers vir jou genoeg nie. En hoe wil jy my oortuig dat Hy vir my genoeg sal wees?’ Eers as Jesus jou allesoorheersende begeerte word, sal die wêreld glo dat Hy genoeg is en mense se honger kan stil.

Ek wil deel van ’n gemeente wees waar mense ons oor Jesus vra en ons gereed staan met ’n antwoord (1Pet. 3:15). Dit is wat in Louis Trichardt Baptistekerk gebeur het toe ek ’n kind was. Mense by die skool het ons gevra: ‘Ons het van julle kerk se jeug gehoor—ons wil ook kom.’ ’n Seuntjie in my laerskool het vertel hoe wonderlik die vorige aand se erediens was. ’n Joernalis van die plaaslike koerant het ons predikant in die dorp raakgeloop en gesê: ‘Mense in die dorp praat oor die liefde in julle gemeente.’

My wens is dat ongelowiges dieselfde van ons gemeente sal sê en dat ons hulle van Jesus sal vertel. Mag die Here ons help om hierdie doel te bereik.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Aangehaal in Augustus Strong, Systematic Theology (Glasgow: Pickering & Inglis, 1977 [1907])), 900

3  Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 221, 263

4  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 183

5  Aangehaal in John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 794

6  D. Guthrie & J.A. Motyer (Ed.), New Bible Commentary: Third Edition (Leicester: Inter-Varsity Press, 1970), 903

Kategorieë