Coram Deo Cover Image

Coming soon...

13 October 2017

Waarop bou jy jou lewe?

House of cards

In die afgelope week was daar ‘n groot haelstorm in Durban.  Ek het in ‘n video gesien hoe die water die grond onder die huis se fondasie wegspoel.  Een van die huis se hoeke het niks gehad om dit te ondersteun nie, en het letterlik in die lug gehang.  As daar ‘n rotsbank onder die huis was, sou die water nie die grond onder die fondasie kon wegspoel nie.

 

Ek weet nie of die huis uiteindelik geval het nie.  Indien dit gebeur het was daar groot skade, maar kon dit herbou word.  Maar as jy jou lewe op ‘n wankelrige fondasie bou en dit val, kan jy dit nie herbou nie.  Maak daarom seker dat jy Jes. 28:14-29 ter harte neem en op die regte fondasie bou.

 

Juda se ooreenkoms (v.14-21)

Bart het die kontrak van sy lewe geteken.  Teen volgende jaar hierdie tyd sal hy omtrent R3 miljoen in sy bankrekening hê.  Hy kan nie glo dat dinge uiteindelik besig is om uit te werk nie.  Om sy planne aan die gang te kry, het hy ‘n spul geld by vriende en familie geleen.  Hy het belowe om hulle binne ‘n jaar dubbel terug te betaal.  Sy planne het egter deur die mat geval, en nou is hy in groot moeilikheid.

 

Soos Bart, het Juda ‘n kontrak geteken wat nie sou hou nie.  Assirië was oppad om hulle aan te val, en daarom het hulle Egipte se hulp gevra (30:2-3).  Hulle het nie op die Here vertrou nie, en daarom het Hy besluit om hulle te oordeel (v.12-13).  Daar was egter nog tyd om na sy woorde te luister en hulle te bekeer (v.14).  In Jes. 28 het die Here drie keer vir hulle ‘n tweede kans gegee (v.14, 16, 22).  Hy is die God van tweede kanse (Jona 3:1, 4, 10, 4:2, 11).  As jy dus ernstig droog gemaak en gesondig het, strek die Here sy hand uit om vir jou nog ‘n kans te gee.  Al wat Hy wil hê is dat jy moet erken jy het teen Hom gesondig (Jer. 3:13).

 

Ongelukkig was Juda nie bereid om dit te doen nie.  Die priesters en profete - die geestelike leiers! - het op Egipte vertrou.  Hulle het God se Woord wat deur Jesaja na hulle toe gekom het, afgelag (v.14, 7-10, Jer. 6:10).  Maar die ooreenkoms wat hulle met Egipte gemaak het, was eintlik ‘n verbond met die dood en die hel (v.15).  Dit sou immers die uiteinde van hulle ongeloof wees (v.15).  Dit is asof hulle ‘n verbond met die dood gesluit het, waarin hy (die dood) belowe het dat hy hulle nie sal doodmaak nie.  Maar het hulle regtig gedink dat die dood (Egipte) hulle teen die sweep van Assirië kon beskerm (v.15)?

 

Egipte het beskerming belowe, maar kon dit nie bied nie; daarom het Jerusalem en haar leiers op leuens vertrou en daarin geskuil (v.15).  Dit is soos iemand wat ‘n kombers gebruik om vir hom huisie te bou, in die hoop dat dit hom teen Durban se hael sal beskerm.  Juda se ooreenkoms met Egipte kon hulle nie teen die haelstorm van God se oordeel beskerm nie (v.15, 2).

 

Het jy ‘n skuilplek om jou teen God se oordele te beskerm?  Sal jou rykdom jou op die laaste dag teen God se vurige toorn beskerm?  Dit sal nie (Spr. 11:4).  Sal jou goeie werke jou help?  Ook nie, omdat jou beste dade soos ‘n ‘mechanic’ se smerige oorpak is (Jes. 64:6).  Sal jou pa, jou voorvaders, Maria, die ds., of iemand anders vir jou intree?  Dit sal nie help nie, omdat die geen mens sy naaste van die dood en die hel kan red nie (Ps. 49:8-10).  Verder kan geen mens in die troon kamer van die hemel inkom as God hom nie uitnooi nie (Jer. 30:21).  God is ‘n verterende vuur wat in helder lig woon, sodat enigiemand wat sy volle heerlikheid sien, onmiddellik dood sal neerval (6:2, Eks. 33:20, 1Tim. 6:16, Heb. 12:29).

 

Jesus in sy Persoon, lewe, kruisdood en opstanding is die enigste Een wat jou teen God se toorn kan beskerm en jou in sy teenwoordigheid kan inbring.  Hoekom?  Op Golgota het Hy God se toorn soos ‘n spons geabsorbeer.  As jy daarom deur geloof en bekering onder hierdie dak skuil, kan die haelstene van God se oordeel jou nie tref nie (Rom. 8:1).

 

Verder moet ons onthou dat Jesus God en mens is.  Omdat Hy beide is, kan Hy God se arm aan die een kant vasgryp en die mens s’n aan die ander kant, om ons só uit die put van ons sonde te red (Job 9:32-33, 1Tim. 2:5).  God het Hom ook as ‘n fondasie- en kosbare hoeksteen gegee, sodat Sion of Jerusalem in Hom kon glo (v.16, Matt. 21:42, 44, Hand. 4:11).  Op Golgota het Hy die aardbewing van God se toorn deurstaan.  Hy is dus ‘n beproefde steen op wie jy jou huis kan bou (v.16).  Hy sal jou nie in die steek laat soos wat die wankelrige fondasie van Egipte vir Juda in die steek gelaat het nie (v.15-16).

 

Ongelukkig het Jerusalem gedink dat hulle nie op Hom kan bou en vertrou nie.  Hoe weet jy dit?  Hulle was nie rustig nie, maar het soos afkop hoenders Egipte toe gehardloop (v.16).  Hulle was rusteloos en angstig (v.16).  Hulle het nie geglo dat die Here hulle kan help nie, en het nie geduldig op Hom gewag nie (v.16).

 

Hulle het die steen uiterlik beoordeel en gedink dat Hy nie die hoeksteen kan wees nie (53:2-3, Ps. 118:22).  Gevolglik het hulle Hom op die hoop bou rommel buite die stad gegooi.  Hulle het die Messias gekruisig; die hoeksteen het dood by hulle voete gelê.  Toe hulle omdraai om weg te loop, het hulle oor Hom gestruikel en hulleself te pletter geval (8:14, Rom. 9:32-33, 1Pet. 2:6-8).

 

Moenie so wees nie, maar glo eerder dat die hoeksteen die gewig van God se toorn kan dra, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:16).  Glo ook dat Satan en sy versoekings nie hierdie fondasie onder jou kan uitskud nie.  Glo en vertrou dat geen vyand of beproewing die fondasie kan laat kraak nie.  As jy jou lewe op hierdie fondasie bou is jy veilig.  Jy hoef daarom nie onrustig te wees, en haastig rond te bel in die hoop dat iemand jou kan help nie (v.15).  Jesus kan jou help (v.16).  Wag op Hom en bring jou sorge in gebed na Hom toe (1Pet. 5:7).

 

Hoekom het die Here hierdie fondasie- of hoeksteen gelê?  Die waterpas, bou penne en boulyn van reg en geregtigheid het vir die Here gewys dat die mure van Juda se lewens skeef is, en dat Jerusalem nie betroubaar is nie (v.17).  Juda wou die mure van goeie werke sonder ‘n fondasie steen bou, en daarom sou dit nie hou nie (v.16-17).  Die hael en vloed van God se oordeel sou hulle skuilplek van leuens wegspoel (v.2, 15, 17).  Daarom sou die Here ‘n nuwe tempel bou, waarvan Jesus en die evangelie (soos dit deur die apostels en profete opgeteken is) die hoeksteen is, en elkeen wat in Hom glo die mure (1Kor. 3:9-11, 16, Ef. 2:20, 1Pet. 2:4-5).

 

Omdat Juda hierdie fondasie verwerp het, sou hulle ooreenkoms met die dood (Egipte) nie uitwerk nie (v.15-16, 18).  Die sweep van God se oordeel (Assirië) sou elke dag deur die land trek en hulle platslaan (v.15, 18).  Dié wat in die nag gaan slaap het, het gebid dat die son moet opkom, terwyl dié wat opgestaan het, gewens het die dag is verby (v.19, Deut. 28:67).

 

Toe Juda God se boodskap van oordeel deur die Assiriërs (mense van ‘n vreemde taal) hoor, was hulle verskrik (v.19, 11, 2Kron. 32:18).  Skielik het die hulp wat hulle by Egipte gesoek het, nie rus gebied nie.  Hulle was so rusteloos soos ek en my vriend in 1999 was.  Ons het Kaap toe gery.  Teen 02:30 was ons te moeg om verder te ry, en was dit te laat om by ‘n gastehuis in te boek.  Ek het probeer om op die Opel Corsa se agterste sitplek te slaap, en hy op die voorste twee sitplekke.  Jy kan raai dat ons nie eintlik geslaap het nie.

 

Augustinus het gesê:  ‘U het ons vir Uself gemaak, en ons harte is rusteloos, totdat hulle in U rus.’[1]  As jy in enigiets of iemand anders rus soek, sal jy rusteloos bly.  Die bed en kombers van drank, dwelms, geld, kos, verhoudings, ander mense, ontspanning, plesier, ens. kan nie vir jou rus gee nie.  Die bed is te kort, en daarom kan jy jou nie lekker daarop uitstrek nie; die kombers is te smal, en daarom kan dit jou nie warm hou nie (v.20).  Niemand buiten die Here kan vir jou die rus bied wat jy soek nie (Matt. 11:28-30).

 

Ongelukkig het Juda hierdie rus van die hand gewys (v.12).  Gevolglik het die plekke waar God eens vir Dawid teen sy vyande gehelp het, die plekke geword waar Hy teen sy eie volk opgestaan het (v.21, 2Sam. 5:20, 25. 1Kron. 14:11, 16).  Derek Kidner sê:  ‘God who swept away David’s enemies will now sweep away David’s kingdom.’[2]  Hierdie werk van die Here was inderdaad vreemd en ongehoord (v.21).

 

As jy soos Juda die hoeksteen ignoreer om jou rus in iets of iemand anders te vind, sal Hy ook teen jou oorlog voer soos Hy dit in v.21 teen Juda gedoen het (vgl. Op. 2:16).  Dit is o.a. wat Jesaja in v.22-29 met sy gelykenis bedoel het.

 

Jesaja se gelykenis (v.22-29)

My vrou het ewe skielik lief geraak vir tuinmaak.  Sy het varkore in die voorste tuin geplant, en rose in die agterste een.  Sy het ‘n boek wat vir haar sê hoeveel son en water elke plant moet kry.  Sy weet dat sy elke plant anders moet hanteer.  Dit is ook wat die Here met ons doen.  Hy weet wat elkeen van sy kinders nodig het, en daarom tugtig Hy ons verskillend (v.22-29).

 

In Juda se geval het God die land verwoes en die inwoners met sterk boeie gebind (v.22).  Dit het gebeur omdat hulle God se waarskuwings deur Jesaja afgelag het (v.22, 9-10, 14).  Hulle moes hulle eerder bekeer en na Jesaja se gelykenis geluister het (v.22-23).

 

Die gelykenis gaan oor ‘n boer en sy plaas.  Die boer weet wanneer hy genoeg geploeg het en moet begin saai (v.24).  Hy weet ook dat kruie soos swart komyn en komyn, en graansoorte soos koring, gars en spelt op verskillende tye, plekke en maniere geplant moet word (v.25).  Hy weet dit omdat God hom wys gemaak het (v.26, 29).  Hy weet dat swart komyn nie met ‘n slee gedors word nie, en dat hy nie met ‘n wawiel oor gewone komyn moet ry nie; hy moet dit eerder met ‘n stok uitslaan (v.27).

 

Hy kan graansoorte soos koring fyn maal, maar met komyn en swart komyn moet hy dit nie doen nie (v.27-28).  Maar selfs as hy die koring fyn maal, moet die wa met perde nie aanhoudend daaroor ry en dit te fyn maal nie (v.28).

 

Jesaja se gelykenis wys vir ons hoe God se tugtiging werk.

 

[1] God sal nie die tugtiging langer laat duur as wat dit nodig is nie (v.24, 28).  Wanneer die tyd reg is sal die tugtiging ophou, sal jy soos suiwer goud uitkom, en sal die Here jou weer optel (Job 23:14, 1Pet. 5:6).

 

[2] Moenie sê dat die Here jou fyn maal, dat sy tugtiging te swaar is, of dat dit te lank aanhou nie (Jer. 30:11, Rom. 9:27-29, 1Kor. 10:13, 2Kor. 1:8).  Hy weet hoe om met jou te werk (v.27-28).  Hy onthou dat jy van stof gemaak is; Hy sal jou nie vernietig nie (Ps. 103:14).

 

[3] Die Here weet dat sy kinders verskillend getugtig moet word (v.25, 27-28).  Hy weet dat een kind ‘n pakslae nodig het, terwyl Hy met ‘n ander een moet raas.  Hy weet dat een gelowige op ‘n siekbed moet lê, terwyl ‘n ander een skerp gekritiseer moet word.  Een gelowige word baie erg versoek, terwyl ‘n ander een nie genoeg geld het nie.  God is wys, en daarom is elke gelowige se tugtiging handgemaak (v.29).

 

[4] God is die boer wat jou geplant en geoes het, en dit is ook Hý wat jou fyn maal (Rut 1:20-21, Job 1:21, 2:10).  Moet dan nie moedeloos word en kla wanneer dit met jou sleg gaan nie.  Weet eerder dat die Here met jou besig is, en onthou wat ‘n ou man vir my gesê het toe ek deur ‘n moeilike tyd gegaan het:  ‘God is obviously up to something good.’

 

[5] Die Here geniet dit nie om jou te tugtig nie (Lam. 3:33).  Hy doen dit egter, omdat Hy goeie dinge in jou lewe wil voortbring.  Hy wil jou soos Jesus maak (Rom. 8:28-29).  Hy wil hê jy moet heilig word en vrugte dra (Joh. 15:2, 8, Heb. 12:10-11).  Hy wil jou karakter vorm (Rom. 5:3-4).  Hy wil jou van die verkeerde pad af wegdraai, sodat jy op die regte pad sal loop (Ps. 119:67, 71).

 

Sy tugtiging help dat jy nie gemaklik raak nie, maar volhard (Rom. 5:3-4, Jak. 1:2-3).  Hy tugtig jou sodat jy meer na die hemel sal verlang (Rom. 5:3-5, 2Kor. 4:17-18).  Hy gebruik dit as ‘n sweep, sodat jy vinniger na die hemel toe sal hardloop (v.15, 18).

 

Verder tug Hy jou sodat jy Jesus se lyding sal waardeer, en Hom meer sal liefhê (Heb. 12:2-4).  Wanneer Hy jou tugtig, skop Hy die onbetroubare krukke van geld, gesondheid, die wêreld se wysheid, mense se guns, jou kundigheid, geestelike gawes, kragte en vermoëns onder jou uit, sodat jy op Hom sal vertrou en jy ‘n vaste fondasie onder jou voete kan hê (v.15-18, 2Kor. 1:8-9).

 

God se dissipline maak dat jy nie te veel van jouself dink nie, maar dat jy op die Here se wysheid en genade staatmaak (v.29, 2Kor. 12:7-10).  Die Here gebruik dit om te wys dat Hy jou liefhet en dat jy regtig syne is (Heb. 12:6-8).

 

Maar om God se spesifieke doel met jou tugtiging uit te werk is nie die belangrikste nie.  Wanneer jy soos Job nie kan verstaan wat die Here in jou lewe doen nie, kan jy ten minste weet dat jy ‘n rotsvaste fondasie onder jou voete het.  En dan moet jy die ou Sondagskool liedjie uit Matt. 7:24-27 liedjie onthou:

Die wyse man bou sy huis op die rots (x 3)

En die reën het neergeval

En die reën val neer en die vloed styg op (x3)

En die huis op die rots staan vas.

 

[1] Vertaal uit The Confessions of Saint Augustine, Whitaker House, New Kensington: PA, 1996, Book One, p.11

[2] D. Guthrie & J.A. Motyer, red., New Bible Commentary: Third Edition, Inter-Varsity Press, Leceister, 1970, p.606

Kategorieë