Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 January 2018

Vyf kenmerke van ‘n vals leraar

Greedy false teacher

Ek was eenkeer saam met my vriend by ‘n dierepark buite Parys.  Daar was leeus en ander diere in die kampe.  Die vrou wat die park besit het gesê dat sy onlangs wolwe gekry het.  Ons was baie opgewonde... totdat ons die wolwe gesien het.

 

Dit het soos straatbrakke gelyk; ‘pavement specials’.  Ek is tot vandag toe oortuig dat dit nie wolwe was nie.  ‘n Wolf het tog sekere kenmerke - iets wat ons nie in hierdie sg. ‘wolwe’ gesien het nie.

 

Net so is daar in Jud. 8-11, 16 vyf kenmerke wat vir jou sal wys of iemand ‘n wolf in skaapsklere is.  Alhoewel hierdie verse op alle vals leraars van toepassing is, wil ek my weer tot die Prosperity Gospel beperk.

 

  1. Vals leraars voeg by die Skrif (v.8)

In 1986 het Peter Popoff gesê dat die Here tydens sy preke vir hom spesifieke mense se siektes, adresse en name gegee het.  Terwyl hy besig was om te preek, sou Popoff bv. sê: ‘Die Here sê vir my dat Nancy Wilson van Siouxlaan 54 in Chicago terminale kanker het.’

 

Mnr. Popoff se sg. openbaringskennis het die mense verstom.  James Randi het egter uitgevind dat Popoff ‘n byna onsigbare gehoorstuk dra.  Popoff se vrou het tussen die mense beweeg en met hulle gesels.  Terwyl haar man preek, het sy ‘n radio sender gebruik om die mense se inligting aan hom deur te gee.  Randi het ‘n digitale ‘scanner’ gebruik om mev. Popoff se geheime boodskappe op te tel.  Hy het die hele afvere op The Tonight Show Starring Johnny Carson uitgelap.[1]

 

Soos die vals profete in Jer. 23:28-29, het die ketters in Judas se tyd op hulle drome vertrou (v.8).  Blykbaar was die Christelike geloof soos dit in die Bybel vervat is nie genoeg nie (v.3).  Hulle wou iets meer hê, en het toe gesê dat die Here d.m.v. drome vir hulle nuwe openbarings gee (v.8).

 

In die 2de eeu n.C. het die Montaniste dieselfde gesê, en is hulle deur die kerk as ketters bestempel.[2]  In ons tyd sê Prosperity predikers dat die Here deur persoonlike verskynings, drome, visioene en stemme vir hulle nuwe openbarings gee.  Jy het seker al gehoor hoe hulle tydens ‘n preek sê: ‘The Lord is telling me...’, en dan voortgaan om onsin te praat?

 

Hulle sg. openbaringskennis bots lynreg met Heb. 1:1 wat sê dat God nié meer soos in die Ou Testament deur profete, drome en visioene praat nie.  Jesus is die finale openbaring van God, en wat Hy vir ons wou sê is in die Bybel opgeteken.

 

Vir prediker so-en-so om dan nuwe openbarings weer te gee, oortree tekste soos Deut. 12:32 en Op. 22:18-19, waar die Here sê dat ons nie nuwe dinge by die Bybel mag bygevoeg nie.  In hierdie verband kan ek dit nie beter as Charles Spurgeon sê nie:

 

‘I have seen the Spirit of God shamefully dishonoured by persons - I hope they were insane - who have said that they have had this and that revealed to them.  There has not for some years passed over my head a single week in which I have not been pestered with the revelations of hypocrites or maniacs.

 

‘Semi-lunatics are very fond of coming with messages from the Lord to me, and it may spare them some trouble if I tell them once for all that I will have none of their stupid messages... Never dream that events are revealed to you by heaven, or you may come to be like those idiots who dare impute their blatant follies to the Holy [Spirit].

 

‘If you feel your tongue itch to talk nonsense, trace it to the devil, not to the Spirit of God.  Whatever is to be revealed by the Spirit to any of us is in the Word of God already - he adds nothing to the Bible, and never will.  Let persons who have revelations of this, that, and the other, go to bed and wake up in their senses.  I only wish they would follow the advice and no longer insult the Holy [Spirit] by laying their nonsense at his door.’[3]

 

  1. Vals leraars besoedel hulle liggame (v.8, 16)

1 Sept. 2004 se uitgawe van Christianity Today vertel dat Paul Crouch - die man wat TBN begin het - ‘n homoseksuele verhouding met een van sy werknemers, Enoch Lonnie Ford, gehad het.  Volgens Ford het Crouch hom $425 000 betaal om stil te bly.[4]

 

Crouch se losbandigheid is nie die uitsondering nie, maar die reël (v.7-8, 16, 2Pet. 2:10, 14, 19).  Hy en ander vals leraars roem daarin dat die Gees hulle deur drome en visioene lei (v.8), terwyl die waarheid is dat hulle hulle sondige begeertes volg en nie volgens die Gees lewe nie (v.8).  Hulle lewe vir hulle vleeslike luste en nie vir die Here nie (v.16).

 

Waar ‘n ketter se lewe nie openlik losbandig is nie, sal dit een of ander tyd uitkom dat hy ‘n geheime lewe van sonde leef en skynheilig is (Luk. 12:2, 1Tim. 5:24).  Hoe kan Prosperity predikers nié losbandig wees, as hulle hele teologie op die wêreld en sy plesiere ingestel is nie: “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” (1Joh. 2:16)?

 

  1. Vals leraars verwerp gesag (v.8)

In Num. 16 het Korag teen Moses in opstand gekom, en het die Here hom doodgemaak.  Benny Hinn sê hieroor: ‘...Korah rose against Moses and came against the servant of the Lord, and the result was sickness.  Often people don’t realize, when you attack [a] man of God you’re gonna get sick.  Be careful... My brother, my sister, be careful if you raise your voice against the man of God.  Even if that man of God is wicked, sickness will come on you... Never, never, never, never...forget this: if you touch servants of God, you will be judged severely.  Severely.  Severely.  That’s all throughout the Word.  That’s why Jesus never attacked Judas.  Even the Son of God didn’t speak against Judas... I have seen many a man fall apart for touching preachers.  Never touch them; never.’[5]

 

In die res van die video vertel Hinn hoe Kenneth Copeland op ‘n dag baie siek geraak het.  Toe Copeland die Here hieroor vra, het Hy blykbaar gesê: ‘[You are sick] because you touched Benny; you spoke against Benny in Australia.’  Hinn vertel hoe Copeland sy vergifnis gevra het.  ‘If I don’t ask your forgiveness, God will never forgive me,’ het hy gesê.[6]

 

By ‘n ander geleentheid het Hinn gesê: ‘I’m pointing my finger with the mighty power of God on me.  You hear this: there are men and women in Southern California who are attacking me.  I will tell you under the anointing now; you’ll reap it in your children unless you stop... You attacking me on the radio every night - you’ll pay and your children will.  Hear this from the lips of God’s servant.  You are in danger.  Repent!  Or Almighty God will move his hand.  Touch not my Anointed.’[7]

 

Soos in enige kultus verhef Prosperity predikers hulleself tot op ‘n vlak waar hulle onder niemand se gesag staan nie (v.8).  Hulle is hulle eie god, en wat hulle sê is wet (Gen. 3:5).  Hulle is outoritêr: geestelike Hitlers; ‘n een man toneel.  Niemand het die reg om hulle en hulle lering aan die Bybel te meet nie.

 

1Kor. 14:29, 1Tess. 5:21, 1Joh. 4:1 beveel ons egter om dit te doen.  Die Jode in Berea het (Hand. 17:11), en ons moet ook.

 

  1. Vals leraars laster die duiwel (v.8-10)

In een van sy preke het Voddie Baucham met kerke gespot wat dink dat hulle die duiwel kan bind.  Volgens hom bind hulle hom nie styf genoeg nie, omdat hy (soos Harry Houdini) elke keer los kom en hulle hom weer moet bind.

 

Baucham is reg.  Prosperity predikers is arrogant wanneer dit by die duiwel en demone kom.  Hulle maak of hulle hierdie heerlike wesens kan beheer (v.8, 10, 2Pet. 2:10).  Hulle dink dat hulle die diep dinge van Satan verstaan (Op. 2:24), maar omdat hy hulle verblind en die Heilige Gees nie in hulle woon nie, weet hulle van geestelike dinge so min soos my hond (v.10, 19, Ps. 73:22, 1Kor. 2:14, 2Kor. 4:4, 2Pet. 2:12).

 

Hulle verdraaide teologie oor die duiwel neem nie Jud. 9 in ag nie: “Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!”[8]

 

Wat beteken hierdie vers?  Het Satan gesê dat Moses ‘n mislukking is, en dat hy sy liggaam wil vernietig (vgl. Sag. 3:2)?[9]  Wou hy dit dalk as ‘n objek van aanbidding gebruik om die Israeliete tot afgodery te versoek?[10]

 

Verwys Judas miskien na Israel as ‘n geestelike liggaam waarvan Moses die leier was?[11]  Wou Satan m.a.w. Israel se vyande gebruik om haar uit te wis - was dít die kwessie waaroor hy met Migael getwis het (v.9, Dan. 10)?

 

Niemand weet presies wat hierdie vers beteken nie.  Die punt is egter dat die engele na God kyk om die duiwel te bestraf, maar dat die vals leraars nie bang is om hom te laster nie (v.8-10).  Hulle praat gans en al te maklik oor hulle sg. mag om die duiwel te bind en te bestraf.  Hulle maak of hy ‘n skoothondjie is wat jy in die tande kan skop.

 

As jy vir hulle luister sal jy in jou stryd teen die duiwel op jou eie krag staatmaak en nie op die Here s’n nie (Ef. 6:10-20).  Dit sal wees soos om teen Job 40:27 se seemonster, Leviatan te baklei: “Sit jou hand op hom; dink aan die geveg; jy sal dit nie weer doen nie.”

 

  1. Vals leraars is geldgierig (v.11, 16)

Prosperity predikers soos John Hagee glo dat Jesus in ‘n groot huis gebly het, en dat Hy ontwerpersklere gedra het.[12]  Soos die res van sy trawante sê hy dit om sy geldgierigheid te verdedig.

 

Soos Hagee wil Fred Price mense oortuig dat Jesus nie arm was nie, maar ryk: ‘The Bible says that He has left us an example that we should follow His steps.  That's the reason why I drive a Rolls Royce.  I'm following Jesus' steps.’[13]  In 2015 het Creflo Dollar gevra dat sy mense $65 miljoen moet bydra om vir hom ‘n nuwe privaat jet te koop.[14]

 

As jy hierdie mense oor hulle praktyke bevraagteken, is hulle soos Kain en wil hulle jou doodmaak (v.11, Gen. 4:1-16, 1Joh. 3:12).  Benny Hinn het gesê:  ‘Those who put us down are a bunch of morons... You know, I’ve looked for one verse in the Bible, I just can’t seem to find it... Sometimes I wish God would give me a Holy Ghost machine gun - I’ll blow your head off!’[15]

 

Prosperity predikers haat dit dat mense in hulle pad staan om ryk te word.  Soos Bileam en elke vals leraar in die geskiedenis lewe hulle vir geld (v.11, Num. 22-25, 31, Matt. 21:13, Mark. 12:40, 1Tim. 6:3-10, Tit. 1:11, 2Pet. 2:14-15, Op. 2:14).

 

Hulle sal sê wat jy wil hoor, jou vlei, voortrek, manipuleer, skuldig laat voel, vrees inboesem, vals beloftes maak en enigiets doen om jou geld te kry (v.16, Gal. 4:17, 2Tim. 4:3-4, 2Pet. 2:3).  Hulle is nie tevrede met wat hulle het nie, maar soek meer (v.16).  As hulle dit kry spog hulle oor hoe ryk, suksesvol en populêr hulle is (v.16, 2Pet. 2:18).

 

‘n Prosperity prediker het my eenkeer van sy suksesvolle bediening vertel.  ‘Ons blink uit in alles wat ons doen,’ het hy gesê.  Hy het hard probeer om dit deur sy duur klere en swart Mercedes te wys.  Hy het selfs ‘n skiewie gehad wat die kar vir hom moes aansit en die deur vir hom oopmaak.

 

Vir Prosperity predikers en ander vals leraars gaan dit nie oor die Here nie, maar oor hulleself (v.16, Joh. 7:18).  Indien hulle nie die gewenste rykdom kry nie, kla hulle daaroor en is hulle ontevrede (v.16).  Om Jesus, kos en klere te hê is vir hulle nie genoeg nie (v.16, 1Tim. 6:8).  Hulle moet ook Rolex horlosies, privaat vliegtuie, massiewe huise en duur karre hê.

 

Dit is ironies dat Benny Hinn sy opponente met Korag se oordeel in Num. 16 dreig, want volgens v.11 sal die Here hóm en elke ander geldgierige vals leraar soos Korag laat omkom.  Ons moet ons nie hierin verlekker nie, maar soos Paulus in Fil. 3:18 treur oor dié wat as vyande van die kruis lewe.

 

In jou poging om vals lering uit te ken, moet jy jouself ondersoek om te sien of jý gered is (2Kor. 13:5).  Dit sal tragies wees as jy soos party kultusse ander se dwalinge raaksien, maar nie besef dat jy self verlore is nie.

 

Hoekom is jy oortuig dat jy gered is, dat jou sonde vergewe is, en dat jy die ewige lewe het?  Is dit omdat jy soos die vals leraars ‘n ervaring gehad het: ‘n droom, ‘n visioen, ‘n warm gevoel, hoendervleis, trane wat jy nie kon keer nie, ‘n liggaam wat omval en ruk (v.8)?

 

Maar het jou ervaring jou gehelp om nie meer hoogmoedig, jaloers, bitter, wellustig, vreesagtig en kwaad te wees nie?  Het dit jou gehelp om jou verslawing te oorkom?  Het dit gehelp dat jy nie meer vir jouself lewe nie?  Het dit gemaak dat sonde nie meer jou baas is nie, maar dat jy Jesus as Here erken (nie net met jou lippe nie, maar deur jou gehoorsame lewe)?

 

Het dit gemaak dat hierdie wêreld met sy rykdom en sukses nie meer vir jou die belangrikste is nie, maar dat jy na ‘n ewigheid saam met Jesus verlang?  Het dit gemaak dat jy nie omgee of jy ‘n Opel bakkie ry en in ‘n ou woonstel bly nie, maar tevrede is met wat die Here jou gee?

 

Het dit gemaak dat dit vir jou lekkerder is om jou geld vir die Here se werk te gee, as om baie geld te kry?  Het dit gemaak dat jy vir mense wil vertel hoe wonderlik Jesus se Persoon, karakter, lewe en kruisdood is, en nie hoeveel jou juwele, huis of kar gekos het nie?  Het dit jou skuld weggevat, jou sonde vergewe, jou gewete gereinig en vir jou ‘n perfekte rekord voor God gegee?

 

As jou ervaring nie die bg. dinge vir jou gedoen het nie, kan jy dit maar in die asblik gooi.  Dit beteken niks en beïndruk ook nie die Here nie.  Wat vir die Here belangrik is, is dat jy die ware Jesus en sy evangelie moet ken.

 

Erken dat jy ‘n suurstof dief is.  Omdat jy vir jouself en jou eie plesiere lewe, sondig jy met elke asem teen die Here.  Jy verdien om in die vloed van sy ewige oordeel te verdrink, om aan die swael van sy toorn te verstik, en om in die vlamme van die hel te brand.

 

Besef dat jy verlore is, en dat $1 triljoen nie genoeg is om God se guns te koop nie.  Omdat die Here heilig en regverdig is, moet jy sterf.  Maar omdat die Here liefdevol en genadig is, het Hy ‘n plan beraam sodat dit nie nodig is nie.

 

Hy het mens geword om die streng vereistes van die wet perfek na te kom.  Op Golgota het die dodelike swaard van die wet Hom getref.  Hy het soos ‘n hond gesterf.  Hy is begrawe, en het na drie dae uit die dood uit opgestaan.

 

As jy berou het oor jou sonde, jou bekeer en in Jesus glo om jou te red, sal die Vader sy perfekte lewe aanvaar asof jy dit geleef het.  Hy sal ook Jesus se dood in jou plek aanvaar, asof jy self die straf vir jou sonde gedra het.  As jy só op Jesus vertrou sal die Vader jou red, al het jy tot nou toe die dwalinge van die Prosperity Gospel geglo of verkondig.

 

As jy reeds gered is, moet jy daarvan bewus wees dat die Bybel nóg kenmerke van vals leraars gee.  Judas fokus egter op hierdie vyf  Onthou dit asb., sodat jy die ketters kan uitken.  Moenie vir hulle val, net omdat hulle hulle is nie vals leraars nie.

 

In die laat 1990’s het Carte Blanche Benny Hinn se leuens aan die publiek bekend gemaak.  Teen die einde van die program was daar ‘n snit waarin Benny Hinn vorentoe leun, vir die kamera kyk en die volgende woorde sê:

 

‘Look in my eyes right here.  Come, give me a close shot will you, and look at these eyes.  I have never lied to you - never.  I never will.  I’d rather die than lie to God’s people.’[16]

 

Ek hoop dat die bg. kenmerke jou help om te sien hoekom hy en ander Prosperity predikers nie die waarheid praat nie, maar vals leraars is.

 

[1] John MacArthur, Strange Fire, Nelson Books, 2013, p. 61

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, pp. 104-111, 114-115

[3] Strange Fire, pp. 130-131

[4] Ibid., p.63 en http://www.christianitytoday.com/ct/2004/septemberweb-only/9-13-11.0.html

[5] https://www.youtube.com/watch?v=7-sd-pzsbzI

[6] Ibid.

[7] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson, Nashville, 2009, p. 31

[8] Clement van Alexandrië het gesê dat Judas uit ‘n buite-Bybelse geskrif genaamd Assumption of Moses uit aanhaal.  Geen manuskrip van die Assumption bevat egter die storie waarna Judas hier verwys nie.  Dus kan ons, volgens D.A. Carson, nie definitief bewys dat Judas hieruit aanhaal nie (G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament Use of the Old Testament, BakerAcademic, Grand Rapids: Michigan, 2007, p. 1075).

[9] Ibid.

[10] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Jude 9

[11] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-holy-war/

[12] Hanegraaff, Ibid., pp. 200-201

[13] ‘Ever Increasing Faith’ program, TBN, 19 Dec. 1990

[14] https://www.youtube.com/watch?v=EkyTIB9U4Xg

https://www.youtube.com/watch?v=uGOEt1PCWio

https://www.washingtonpost.com/news/acts-of-faith/wp/2015/06/03/pastor-creflo-dollar-might-get-his-65-million-private-jet-after-all/?utm_term=.d687dbe47d20

[15] Strange Fire, p. 7

[16] Hierdie video is ook by die volgende skakel beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=YWLR04h6OPE

Kategorieë