Coram Deo Cover Image

Coming soon...

7 April 2018

Vyf kenmerke van die oordeelsdag

Judgement Day

Romeine 2:1-16

Jason is 8-jaar oud.  Hy het laas week in sy bed gelê en wonder wat op die oordeelsdag gaan gebeur.  Wie gaan ons oordeel?  Gaan almal weet wat ons in die geheim gedoen het?  Sal Christene geoordeel word?  Wat van mense wat reg gedoen het, maar nie in Jesus geglo het nie?  En wat van mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie?  In Rom. 2:1-16 gee Paulus vyf kenmerke van die oordeelsdag waarin hy Jason se vrae beantwoord.

 

  1. Dit is onvermydelik (v.1-5)

Die bekendste preek wat nog ooit in Amerika gepreek is, is Sinners in the Hands of an Angry God deur Jonathan Edwards.  In die preek sê hy: ‘Almost every natural man [unbeliever] that hears of hell, flatters himself that he shall escape it’.[1]

Maar volgens Paulus sal selfs sg. ‘goeie’ of morele mense geoordeel word.  As Fanie by sy kerkvriende is oordeel hy die sondes wat in 1:18-32 gelys word.  Maar as hy alleen by die huis is doen hy dieselfde dinge (v.1, 3).

Voor sy vriende kla hy oor ons korrupte land en regering, maar in sy besigheid is hy oneerlik en kroek hy die belastingman.  Op die pad pla dit hom nie as hy ‘n omkoopgeldjie vir die verkeersbeampte gee nie.  En dan wil jy nie weet wat hy in die geheim op sy rekenaarskerm kyk nie.

En sal hy God se oordeel vryspring omdat hy ‘n kerkmens is?  Skryf dit op jou magie en vee dit met jou hempie af; vergeet dit (v.3).  Dit is heeltemal reg as God se oordeel soos ‘n rotsstorting of guillotine se lem op ongehoorsame Fanie val (v.2).

Maar soos baie ander mense dink hy nie so nie.  ‘Kyk dan hoe goed is die Here vir my,’ sê hy.  ‘Hoekom sal Hy dít doen as Hy beplan om my te oordeel?  Hy is ‘n God van liefde; sy genade is oneindig.  Ek glo dat Hy my op die oordeelsdag genadig sal wees.  Niemand is perfek nie, maar ek is verseker nie ‘n goddelose sondaar nie.’

Maar as Fanie mooi oor sy lewe dink sal hy besef dat hy wél ‘n goddelose sondaar is (v.1-3).  En as hy met ‘n ware Christen praat sal hy leer dat God goed, geduldig en genadig is sodat mense hulle kan bekeer, en nie sodat hulle nóg sonde kan doen nie (v.4, 2Pet. 3:9, 15).  Al rede hoekom Fanie nog nie in die hel is nie, is omdat God geduldig is (v.4).  Maar dit is ‘n dodelike fout om te dink dat sy geduld nie kan opraak nie.

Fanie gebruik nie die geleentheid om hom te bekeer nie, maar sê vir homself dat alles reg is.  ‘Die feit dat God my nie straf nie wys dat Hy nie omgee as ek ‘n paar randjies by my werkgewer of ouers steel nie,’ oortuig hy homself.

Hy het geen berou oor sy sonde nie, maar verhard sy hart (v.5).  As hy ‘n preek oor die oordeelsdag hoor sus hy homself aan die slaap en sê hy dat dit vir ander mense is, vir mense wat nie bid, die Bybel lees en kerk toe gaan nie.

As hy maar net geweet het dat hy met elke sonde besig is om die dam van God se toorn vol te maak, en dat die damwal eendag oor sy kop gaan bars (v.5).  Wanneer Jesus op swart stormwolke kom om die wêreld in geregtigheid te oordeel sal hy dit besef, maar dan sal dit te laat wees (v.5).

Hoe moet ons op hierdie verse reageer?  Moenie dink dat jy die oordeel sal vryspring omdat jy in ‘n Christelike huis groot geword het, tot in matriek in die Sondagskool was, voorgestel en aangeneem is, ‘n lidmaat van die kerk is, ‘n ouderling of predikant is, Afrikaans praat, ‘n sg. verbondskind is, in tale praat, op ‘n uitnodiging gereageer het, een of ander geestelike ervaring gehad het, opreg lewe, of ‘groot gedoop’ is nie.

Al hierdie dinge beteken niks as jy in sonde lewe nie (v.1-3).  Dalk dink jy dat jy later in jou lewe tot bekering kan kom.  Maar wat as die Here binne die volgende ses maande jou lewe neem?

Moenie God se geduld toets nie (v.4).  Indien jy jou verhard en met jou sonde aanhou sal God sy boog nóg ‘n sentimeter stywer span... en nóg een... en nóg een... en nóg een (v.5).  Hoe stywer Hy dit span, hoe dieper sal die pyl van sy toorn jou hart penetreer as Hy dit los (Ps. 7:12-14).

Moenie dom wees nie.  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2Kor. 6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Heb. 3:15).

 

  1. Dit is volgens ons werke (v.6-10)

Gestel jy het ‘n boom in jou erf wat sappige soet perskes dra.  Het dit ‘n perskeboom geword toe die perskes in Desember ryp word?  Of wys die lieflike geel vrugte dat dit ‘n perskeboom is?

Net so máák goeie werke jou nie ‘n Christen nie, maar wys dit dat jy een is (Jak. 2:14-26).  ‘n Persoon se dade wys wat in sy of haar hart is (Matt. 15:19).  Moet dus nie dink dat Paulus in v.6-10 sê dat ons volgens ons dade gered word nie (sien 3:28).  Die punt is eerder dat ons daarvolgens geoordeel word.

Volgens Paulus is daar twee soorte mense wat geoordeel word.  Die een soort hou dag na dag aan om goed te doen (v.7, Luk. 8:15).  Hy gee nie om oor mense se opinies nie en soek nie sy eie eer nie, maar doen alles om God te verheerlik (v.7).  Hy lewe nie vir hierdie wêreld nie, maar sy gedagtes is vol van die ewige lewe en die hemel (v.7).

Hy kry wat hy gesoek het: die volle rykdom van die ewige lewe (v.7, Joh. 17:3), die heerlikheid van die hemel (v.10), gelukwense, lof, beloning en eer (v.10), ewige vrede (v.10).

Die tweede soort is eiesinnig (v.8).  Hulle lewe vir hulleself en gee nie om dat hulle ongehoorsaam is aan die waarheid van God se Woord nie, solank húlle dit geniet (v.8).  Dit pla hulle ook nie dat hulle sonde ander mense benadeel nie (v.8).  Ongeregtigheid is die meester vir wie hulle lewe (v.8).

Vir hulle sal die oordeelsdag ‘n verskriklike dag wees, die donkerste dag in die geskiedenis, ‘n dag waarin God sy gloeiende toorn oor hulle sonde openbaar (v.8-9).  Hulle sal so verskrik wees soos ‘n vlakvark wat deur ‘n leeu getakel word (v.9).  ‘n Verdrukking en benoudheid wat hulle nog nooit beleef het nie sal hulle oorweldig (v.9).  Hulle het hulle boosheid en sonde geniet, maar nou sal hulle spyt wees.  Die sonde wat snaaks was toe hulle dit gedoen het sal nie meer snaaks wees nie.

Hoe moet ons hierdie verse op onsself toepas?

[a] God sal elkeen volgens sy werke vergeld (v.6).  Niemand sal dus die oordeelsdag mis omdat hy siek is nie.  Niemand kan vir jou instaan of namens jou geoordeel word nie.  God sal jou nie vir jou man, vrou, ouers of kinders se sonde oordeel nie.  Jou ma sal nie langs jou staan om jou hand vas te hou as dit jou beurt is om voor die Regter te staan nie.  Elkeen sal vir homself moet antwoord (Gal. 6:5).

[b] Omdat God ons volgens ons werke gaan oordeel, glo ek dat die mense wat as babas gesterf het die oordeel sal mis.  Alhoewel hulle ‘n sondige natuur het (Ps. 51:7), het hulle geen werke waarvolgens God hulle kan oordeel nie.  Ek glo dat Hy hulle in die hemel sal toelaat (vgl. Deut. 1:39, 2Sam. 12:22-23).  Let asb. op dat hulle nie hemel toe gaan omdat hulle goed gedoen het of dit verdien nie, maar omdat God genadig is.

[c] Wie ken jy wat volgens v.7 lewe?  Ek ken net Een en sy Naam is nie Ivor nie; sy Naam is Jesus.  Omdat net Hý so gelewe het, verdien net Hý die dinge waarvan ons in v.10 lees.  En tog gee Hy dit gratis aan dié wat hulle bekeer en in Hom glo.  Die vraag is of jy jou van jou sonde bekeer het en in Jesus glo om jou daarvan te red?

[d] As iemand se werke wys of hy regtig in Jesus glo of nie, beteken dit dat dit onmoontlik is om goed te wees sonder Hom.  Ongelowige Fanie se goeie werke is selfgesentreerd; hy het verkeerde motiewe (Matt. 6:1-2).  Net ‘n ware gelowige kan God se definisie van goedheid vervul en dit met suiwer motiewe doen.

Moet dus nie dink dat God onregverdig is om ‘goeie’ mense hel toe te stuur omdat hulle nie in Jesus glo nie.  Sonder Jesus kan jy nie goed wees nie.  “Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:12).

[e] As jy ongered is sal die oordeelsdag die ergste dag van jou lewe wees (v.8-9), maar as jy in Jesus glo sal sý heerlike beloning joune wees en sal jy vrede hê op die oordeelsdag (v.10, Jud. 24).  Jy hoef nie bang te wees nie.  Omdat Jesus in jou plek geoordeel is aan die kruis, sal God jou nie oordeel nie (Joh. 5:24, Rom. 8:1).

[f] As jy in sonde gelewe het sal God jou oordeel: klaar, finaal, punt (v.8-9).  Jy kan nie dán besluit om kante te ruil nie.  Besluit nóú wie jy wil dien: God of jou sonde.

 

  1. Dit is onpartydig (v.9-11)

In wêreldse howe kan ‘n mens die regter omkoop.  Hy trek jou m.a.w. voor omdat jy ryk is.  In die ou Suid-Afrika is mense voorgetrek omdat hulle wit is, en in die nuwe Suid-Afrika gebeur dit omdat hulle swart is.  Sommige kulture haat die rykes en bevoordeel die armes.

Met God is dit nie so nie.  Hy is onpartydig en trek niemand voor nie (v.11).  Die Jood wat Hom vrees en in sy Seun glo word aangeneem net soos die Griek wat dit doen (v.10, Hand. 10:34-35).  Maar die Jood wat Hom verwerp en in sonde lewe sal gestraf word net soos die Griek wat dit doen (v.9).

Die Jode kry nie voorkeur omdat hulle die wet ontvang het nie.  Net so bejammer God nie die Grieke omdat hulle sy wet nie in hulle besit gehad het nie.  Wat het die Jode met die wet gedoen?  En het die Grieke geen lig gehad om vir hulle te wys dat daar ‘n God in die hemel is nie?  Het hulle enigsins begeer om Hom te ken en het hulle die wet wat Hy op hulle harte geskryf het gehoorsaam?

Daar is een les wat uitstaan: niks in jou kan maak dat God jou voortrek of afkeur nie.  Hoe lyk jou lewensrekord?  Dit is die vraag.  As jy die Seun van God verwerp hoef ek jou nie daaroor te vra nie, aangesien jou rekord soos ‘n ink-bevlekte bladsy lyk.  Net as jy in Jesus glo is daar geen sonde op jou rekord nie, maar is dit perfek (2Kor. 5:21, Kol. 2:14).

 

  1. Dit is regverdig (v.12-15)

Ek het hierdie week iets geleer wat ek nie geweet het nie.  Kom ek stel dit vir jou in vraagvorm: wat is die basis waarvolgens God ons gaan oordeel?  Gaan Hy vir jou vra of jy Jesus aangeneem het of nie?  Nee.

Volgens v.12-15 is die wet die basis waarvolgens Hy jou gaan oordeel.  Natuurlik kom dit alles terug na Jesus toe, want as jy in Hom glo sal Hy jou sondige rekord met sý wetsgehoorsame rekord ruil en jou deur sy Gees in staat stel om Hom te gehoorsaam.

‘Maar wat van mense wat nie die wet gehad het nie?’ wil iemand weet.  ‘Hoe kan God hulle oordeel?’  Om hierdie vraag te beantwoord moet ons v.12-15 bestudeer.

Mense wat nie die wet van Moses gehad nie, sal nie daarvolgens geoordeel word nie (v.12).  Hulle sal volgens ‘n ander wet geoordeel word: die wet wat van geboorte af in hulle harte is (v.14-15).

Lank voor die sendelinge in 1956 Ecuador toe gekom het, het Mincaye se gewete hom gepla as hy egbreuk pleeg of steel, en goed gevoel as hy sy ouma help (v.14-15).  Maar omdat hy dit al so baie gedoen het, het dit hom nie meer gepla as hy ‘n spies deur iemand se maag steek nie.  Hy het sy gewete beskadig.  Maar ook hiervoor sal die Here hom verantwoordelik hou.

Die hoë bome en kleurvolle papegaaie het vir hom gewys dat daar ‘n God is, maar hy het besluit om die skepping te aanbid (1:18-25).  Op grond dan van sy gewete en die skepping is dit heeltemal regverdig dat God die naakte Auca oordeel en hom hel toe stuur.

Vir Abner ben Joseph en Bert Venter is daar ‘n ander maatstaf: die wet (v.12).  Beide van hulle het dit tot hulle beskikking gehad.  In ‘n sekere sin sal Mincaye se oordeel nie so streng wees soos hulle s’n nie.  Hulle het God se wet gehad en dit selfs vir ander geleer, maar nie daarvolgens gelewe nie (9:4-5, Amos 3:2, Matt. 11:20-24, Jak. 3:1).

Sal hulle dan die oordeel vryspring omdat hulle God se Woord in hulle besit gehad het as hulle dit nie ook gedoen het nie?  Verseker nie (v.13, Jak. 1:22).

‘Maar die sonde in my hart maak dat ek dit nie kan doen nie,’ sê iemand.  Ah, en dit is hoekom God jou hart moet verander!  As jy in Jesus glo en ‘n nuwe natuur het sal jy die vermoë hê om God se wet te gehoorsaam; jou geloof sal lei tot goeie werke (Rom. 8:4, Jak. 2:14-26).

Om v.12-15 toe te pas wil ek twee lesse uitlig.

[a] Mincaye gaan nie geoordeel word omdat hy nog nooit van Jesus gehoor het nie, maar omdat hy teen God se wet in sy hart gesondig het.  Onthou dit asb. wanneer jou ateïstiese familielid of kollega God valslik beskuldig en op sy geregtigheid spoeg.

[b] Suid-Afrikaners en ander nasies wat die Woord van God gehad het, maar nie gebruik het nie sal baie streng geoordeel word.  Bert Venter het meer as 20 kerke in sy woonbuurt gehad, maar het verkies om op ‘n Sondagoggend langs die rivier te sit.  Bert se broer was elke Sondag in die kerk, maar het nie gedoen wat hy hoor nie.  Hy het die Bybel geïgnoreer.

Nie een van hulle kan onkunde pleit as hulle voor die Regter staan nie.  Bert het elke geleentheid in die wêreld gehad om God se Woord te ken, maar ‘n dowe oor gegooi.  Bert se broer het die Woord gehoor en homself net so doof gehou.

“Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees” (3:19).

 

  1. Dit is deeglik (v.16)

Nou en dan sê ‘n jong Christen vir my dat ongelowige so-en-so ‘n goeie mens is.  ‘Hoe kan God hom dan hel toe stuur?’ wil hy of sy weet.  My antwoord hierop is dat ons nie mense se harte ken nie.

God gaan nie net mense se dade oordeel nie, maar hulle begeertes en motiewe (v.16, Pred. 12:14).  Hy ken elke mens se hart; daar is niks wat ons vir sy alsiende oë kan wegsteek nie (Ps. 139:1-2, Joh. 2:23-25, Heb. 4:12-13, Op. 2:23).

Wie gaan ons oordeel?  Jesus (v.16, Joh. 5:22, 27, Hand. 10:42, 17:31, 2Kor. 5:10).  So het Paulus dit in sy evangelie verkondig (v.16).  Hy het nie net vir mense gesê hoe om reg te wees met God nie, maar ook wat die gevolge sal wees indien hulle met hulle sonde aanhou (v.16).

Ek wil twee toepassings uit v.16 maak.  Ten eerste moet ons onthou dat Gód mense se motiewe gaan oordeel.  Ons kan die Bybel gebruik om mense se dade te beoordeel, maar ons kan nie hulle motiewe oordeel nie.

Jy weet nie wat in iemand se hart is nie, en kan daarom nie sê: ‘Jy het my nie gegroet nie, omdat jy my haat’ nie.  Is jy die alwetende God?  Los dit liewer vir Hom om mense se motiewe te oordeel (1Kor. 4:5).

Tweedens moet ons nie dink dat Jesus sag is nie.  As Hy op die oordeelsdag met sy vlammende oë deur jou kyk sal jy nie dink Hy is sag nie.  Moet Hom dus nie as ‘n sagte Verlosser beskou wat glimlag of ‘n traan pik oor jou sonde nie.  Hy gaan jou oordeel.

Jou enigste hoop is om deur geloof in Jesus se kruisdood te skuil, net soos wat Noag in die ark geskuil het, of soos wat seekoeie na hoër grond toe beweeg as hulle weet dat daar ‘n vloed oppad is.

 

[1] The Works of Jonathan Edwards: vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1974 (1834), p. 8

Kategorieë