Coram Deo Cover Image

Coming soon...

23 June 2022

Vrees God!

Lukas 12:1-7

Party mense tref ’n vals onderskeid tussen die God van die Ou- en die Nuwe Testament. Hulle mak of dit verskillende Gode is; asof die God van die Ou Testament bloeddorstig en wreed is, terwyl die God van die Nuwe Testament liefdevol is. Hierdie siening is veral populêr onder liberale teoloë en ateïste. Die Bybel ken nie hierdie onderskeid nie. In ’n profesie oor die nuwe verbond sê die Here: “Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit: Ek sal My nooit daarvan weerhou om aan hulle goed te doen nie, en Ek sal ontsag vir My in hulle harte gee, sodat hulle nie van My af sal wegdraai nie.” (Jer. 32:40, eie beklemtoning).

Dit is so dat God liefde is (1Joh. 4:8), maar die Bybel sê ook dat Hy lig is (1Joh. 1:5). God is heilig en Hy haat sonde; daarom moet ons Hom vrees. Wat beteken dit om die Here te vrees—hoe doen ’n mens dit en hoekom?

 

1. God is alwetend (v.1-3)

Miljoene mense kloek rondom die Word of Faith beweging of Prosperity Gospel. Hulle is opsoek na wonderwerke, gesondheid en geld eerder as na Jesus. Net so het die skare in v.1 rondom Jesus saamgedrom. Hulle het van die wonderwerk gehoor wat Hy in 11:14 gedoen het. Hulle was nie daar, omdat hulle Hóm wou hê nie.

Terwyl die mense mekaar vertrap het, sê Jesus vir sy dissipels: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid.” (v.1). ’n Bietjie suurdeeg of gis laat die hele bol deeg ruis. Net so het die skynheiligheid van die Fariseërs die hele volk deursuur of beïnvloed (v.1, 11:37-54). Die dissipels moes hulleself daarteen beskerm en nie soos die Fariseërs skynheilig wees nie (v.1). Hartseer om te sê dat Judas die waarskuwing nie ter harte geneem het nie. Hy was skynheilig en het tot ’n val gekom (Joh. 6:64, 70-71, 12:4-6, Matt. 27:5).

Net so sal party mense hierdie boodskap hoor, skynheilig bly en val. Hulle dink niemand weet van hulle sonde nie (Ps. 36:3), maar dit sal uitkom. Wat jy in die donker doen en sê, sal aan die lig kom: “Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” (v.2-3). Die Here sien alles. Hy ken ons harte en gedagtes; wat in die donker gebeur is vir Hom soos die lig (Ps. 139:2, 4, 11-12).

Is jy skynheilig? Is jy ’n goeie kerkmens op Sondae, terwyl jy jou vrou slaan wanneer julle alleen is? Praat jy mooi met jou kinders voor ander, maar vloek hulle by die huis? Is jy vroom en opreg voor mense, maar in die geheim kyk jy na pornografie, pleeg egbreuk en word dronk? Steel jy in die donker; bedryf jy skelm besigheid? Glimlag jy vir die mense van wie jy skinder?

Bely jou sonde en bekeer jou daarvan. Vra die Here om jou met sy bloed van jou donker lewe te reinig (1Joh. 1:7). Dit is tragies dat baie skynheiliges nie hierop sal ag slaan nie. Hulle oortuig hulleself dat hulle die uitsondering op die reël is: ‘Ander skynheiliges sal uitgevang word, maar ek nie.’ Jou sonde sal uitkom (v.2-3). Die Here sal dit op maniere uitbring wat jou verbaas.

Toe iemand se sonde onder my aandag kom en ek hom bel, was hy geskok. ‘Hoe het jy uitgevind?’ wou hy weet. Moenie eers dink jy kan in jou gedagtes sondig en wegkom nie. Pred. 10:20 sê: “Selfs in jou gedagte moet jy die koning nie vervloek nie, en selfs in jou slaapkamer moet jy ’n ryke nie vervloek nie. Want die voëls van die hemel kan die geluid wegdra, ’n gevleuelde kan dalk ’n woord oordra.” Jy sal hardop dink en per ongeluk sê wat in jou gedagtes is. Of die pappegaai sal jou stemtoon, vloekwoorde en geskel namaak wanneer die dominee kom kuier.

Ek weet van ’n geval waar iemand na ’n Sondagaanddiens die predikant se selfoon en beursie van die nagmaaltafel af gesteel het. Dit het baie ontstel dat iemand in die gemeente sy goed sou steel. Daardie aand toe droom hy wie dit was. Hy het die volgende dag na die mense se huis toe gery en gesê: ‘Ek is hier om my selfoon en my beursie te haal.’ ‘Is dit joune?’ het die vrou gesê. Haar susterskind was saam met haar kerk toe en sy het die goed gesteel. Geen sonde kan weggesteek bly nie: “Julle moet besef: Julle sonde sal julle inhaal.” (Num. 32:23).

 

2. God is ’n Verwoester (v.4-5)

By ’n Bybelvertalingsbyeenkoms het ’n professor langs my opgestaan en gesê: ‘Dit is onmoontlik dat die Engel van die Here in 1Kron. 21:14-16 na Jesus verwys! Jesus sou nooit 70 000 mense doodmaak nie!’

Die Nuwe Testament verwys na Jesus as die Verwoester: “Laat ons nie vir Christus beproef, soos sommige van hulle Hom beproef het nie—hulle is deur slange doodgemaak. En moenie mor, soos sommige van hulle gemor het nie—hulle is deur die vernietiger uitgedelg.” (1Kor. 10:9-10, eie beklemtoning). “Now I want to remind you, although you once fully knew it, that Jesus, who saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (Jud. 5, ESV, eie beklemtoning).

Dieselfde Jesus wat die Israeliete uitgedelg het, noem sy dissipels vriende: “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie.” (v.4, vgl. Joh. 15:13-15, Jak. 2:23, 3Joh. 15). John Wycliffe se Katolieke opponente het hiervan vergeet. Omtrent 34 jaar na sy dood het hulle sy liggaam opgegrawe, sy bene verbrand en sy as in die Swift rivier gestrooi.1 Hoe dwaas. Jou vervolgers kan niks aan jou siel doen nie; hulle kan jou nie van God se liefde skei nie (Rom. 8:38-39). Sonder dat hulle dit weet, besef of bedoel, stuur hulle jou gouer hemel toe (Hand. 7:59-60).

As jy dan nie die dood hoef te vrees nie, hoef jy nie bang te wees as jou vyande jou afdank, slegsê, uitskuif of afskryf nie. Onthou v.4: jou vervolgers kan niks aan jou siel doen nie. Onthou ook dat Jesus elke tree van die pad by jou is (Matt. 28:20). In stede daarvan om mense te vrees, moet jy God wat liggaam en siel in die hel van verwoes, vrees (v.5, Matt. 10:28). Baie mense beskou die hel as ’n mite of bangmaakstorie van primitiewe mense of Katolieke leiers in die Middeleeue. Jesus weet beter, omdat Hy self onder die verskriklike toorn van God aan die kruis sou ly (Matt. 27:45-46). Self sal Hy ook God se toorn oor sy vyande uitvoer. Hy sal hulle in die parskuip van sy toorn vertrap, sodat hulle bloed sy klere deurweek (Op. 14:19-20, 19:11-16). Moet dan nie wink of vir Jesus grinnik wanneer Hy jou teen die hel waarsku nie. Vrees Hom. Die Griekse woord vir vrees (phobeō) beteken verskrikking, bang wees of eerbied. Op verskeie plekke in die Bybel vervang moderne vertalings dit met dien of toewy. Dit is onvoldoende. Bybelse vrees sluit diens en toewyding in (Deut. 10:12-13), maar dit is meer as dit. Dit beteken ook om bang te wees. Hier is ’n paar voorbeelde:

Die manne van Israel was bang toe hulle na die ark kyk en die Here sommige van hulle doodmaak (1Sam. 6:19-20). Dawid was bang toe Ussa aan die ark vat en die Here hom doodmaak (2Sam. 6:9). Die konings van die aarde moet Christus vrees en voor Hom bewe (Ps. 2:11-12). Die Psalmdigter sidder vir God se oordele (Ps. 119:120). Jesaja was verskrik toe hy die Here op sy troon sien (Jes. 6:5). Volgens Jesaja moet die Here ons vrees en verskrikking wees (Jes. 8:13). Ons moet vir die Here se Woord bewe (Jes. 66:2).

In reaksie op die Here se profesie van straf, was Habakuk angsbevange en lam. Sy hele liggaam het gebewe (Hab. 3:16). Toe Jesus die storm stilmaak, het sy dissipels Hom gevrees (Mark. 4:41). Toe die Here Ananias en Saffira doodmaak, het almal gevrees (Hand. 5:5, 11). Paulus se vrees vir die Here het hom gedryf om mense te waarsku (2Kor. 5:11). Volgens Fil. 2:12 moet jy jou verlossing met vrees en bewing uitwerk. Soos Moses en die Israeliete by berg Sinaï voor die Here gebewe het (Heb. 12:18-21), moet ons die Here met vrees en ontsag dien, omdat Hy ’n verterende vuur is (Heb. 12:25-29).

Wie kan die heilige God aanskou en nie sidder nie (Jer. 10:6-7, Op. 15:3-4)? Wie sal uit homself waag om nader te kom as die Here hom nie geroep het nie (Jer. 30:21)? Die gepaste reaksie op hierdie vrees is nie om weg te hardloop nie, maar om op Christus te vertrou wat ons van die komende toorn verlos (1Tess. 1:10). Jesus het die beker van God se toorn namens ons gedrink en daarom kan ons deur geloof in Hom na die Vader toe kom (Joh. 18:11, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13).

As die Here jou so gered het, hou die vrees nie op nie. Omdat jy besef hoe naby jy aan die hel was, vrees jy die Here. Jy is verlig en bewe voor Hom: “As U sondeskuld toereken, Here—my Heer, wie kan dan staande bly? Maar by U is daar vergifnis, sodat U ontsag afdwing.” (Ps. 130:3-4).

Om die Here te vrees, moet jy Hom deur sy Woord ken, dit vir jou kinders leer en sy gebooie gehoorsaam (Deut. 6:1-2, 17:18-19, 31:11-13, Pred. 12:13). Wie die Here so vrees, sal wegdraai van die kwaad, reg praat, sondige gesindhede aflê en ’n heilige lewe nastreef (Job 1:1, 28:28, Ps. 34:12-15, Spr. 3:7, 8:13, 2Kor. 7:1). Wie met sy sonde aanhou, ken God nie en vrees Hom nie: “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” (Rom. 3:18, vgl. Ps. 36:2). Ek het so iemand ontmoet. Die man het in sy diep respek vir God geroem. ’n Paar maande later toe vloek hy die Here. Dit het uitgekom dat hy met vieslike sonde besig is.

Mense se disrespek vir God word dikwels sigbaar in hulle disrespek vir gesag. Hulle toon geen respek vir hulle ouers, ou mense, hulle werkgewers, geestelike leiers of die regering nie (Lev. 19:3, 32, Kol. 3:22, 1Tess. 5:12, 1Pet. 2:17). Is jy so? Bekeer jou, vrees God en buig laag voor Hom neer (v.5). Dan sal die Here jou, jou huis en die gemeente seën (Eks. 1:21, Ps. 112:1-3, 115:13, 128:1-4, Spr. 14:26, Mal. 3:16, Hand. 9:31). Sy barmhartigheid, vriendskap, ontferming, beskerming, voorsiening, guns, rykdom, eer en genesing sal oor jou wees (1:50, Ps. 25:12, 14, 34:8, 10, 103:11, 13, 17, 111:5, 10, 145:19, 147:11, Spr. 22:4, Mal. 4:2). Maak die vrees van die Here jou skat (Jes. 11:3, 33:6). Erken en bewonder Hom as jou Vrees (Gen. 31:42, 53).

As jy dit nie doen nie, sal Hy jou liggaam doodmaak en jou daarna in die hel werp (v.5 Deut. 32:39, 1Sam. 2:6, Matt. 13:41-42, 25:31-32, 41, 46, 2Tess. 1:7-9, Jak. 4:12). Mense soos die Jehovas Getuies oortuig hulleself dat ’n God van liefde nooit so iets sal doen nie. Jesus sê Hy sal (v.5). Die Griekse woord vir hel (gehenna) is afgelei van die Hebreeus wat Hinnomvallei beteken. Die Hinnomvallei suid van Jerusalem was ’n ashoop waar mense hulle vullis verbrand het.2 Die vure het altyd gesmeul en het nooit opgehou brand nie. Net so sal die goddelose in die ewige vuur van God se toorn ly (Jes. 66:24, Matt. 3:12, Mark. 9:48, Op. 20:15, 22:8). Dit is iets wat hulle oor hulleself bring. Hulle wil nie die Here vrees nie, maar vra Hom om van hulle af weg te gaan (Job 21:14-15, 22:17). Hy respekteer hulle versoek en gee vir hulle wat hulle wil hê: ’n ewige bestaan sonder Hom. Die psalmdigter se beginsel geld hier: “Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het ’n verterende siekte in hulle kele laat ontstaan.” (Ps. 106:15).

Laat ons die Here nie ligtelik opneem nie, maar laat ons Hom vrees (v.5).

 

3. God is ’n Vader (v.6-7)

’n Paar jaar gelede het RSG ’n gesprek oor pakslae aangebied. Ek het ingebel en gesê dat kinders hulle ouers moet vrees. Die omroeper wou weet wat ek hiermee bedoel. Ek het verduidelik dat ’n klein kind sy sterk pa vrees, omdat dié hom liefhet, tugtig en beskerm. Net so moet gelowiges hulle sterk en goeie hemelse Vader vrees (Heb. 12:5-6). Die konneksie in Jesus se lering is duidelik: God is gevaarlik (v.5), maar Hy is ook goed (v.6-7). Iemand het dit met die son vergelyk: die son is goed, maar as jy te naby kom, is dit gevaarlik. Net so is ’n geweldige donderstorm gevaarlik, maar goed.

Ons gevaarlike God is goed vir sy skepping. Hy sorg vir die mossies. Al word vyf mossies vir twee klein muntstukke verkoop, vergeet God nie een van hulle nie (v.6, Matt. 6:26, Ps. 135:6). Nie een van hulle val op die aarde sonder die wil van ons Vader nie (Matt. 10:29). Daar bestaan nie so iets soos toeval nie (1Sam. 6:7-12, 1Kon. 22:34, Spr. 16:33). God onderhou die fyn besonderhede van sy skepping (v.6, Kol. 1:17, Heb. 1:3). Selfs die hare op ons hoof is almal genommer (v.7, vgl. Ps. 147:4). Sonder God se toestemming sal daar nie ’n haar van jou kop afval nie (Luk. 21:18, Hand. 27:34).

As die Here so in jou belangstel, sal Hy jou nie teen die vervolgers help nie (v.4)? Jy het ’n ewige siel wat meer werd is as baie mossies (v.7, Ps. 49:8-10, Jes. 43:4, Mark. 8:36). As die Here so oor jou waak, moet jy Hom vrees eerder as vir mense (v.4, 5, 7).

Moenie bang wees nie, die Here sorg vir jou (v.7)! Tydens die Anglo-Boere oorlog het Anette Marais dit op ’n unieke manier in Bethulie se konsentrasiekamp ervaar. Die vroue en kinders was siek. Baie van hulle het gesterf. In haar moedeloosheid het Anette langs haar bed gekniel en die Here aangeroep. Die volgende dag toe deel sy Matt. 10:29-30 met die vroue: “Word twee mossies nie vir ’n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle—selfs die hare op julle kop is almal getel.” Terwyl sy die verse lees, toe kom sit daar ’n mossie op haar skouer. Almal was verbaas. Anette het geweet dat die Here haar nie vergeet het nie. Toe die storie later by Jan Smuts uitkom, het hy twee mossies op die kwart pennie laat druk. Later was dit op die halfsent en toe op ons een sent.3

Ek het iets soortgelyk ervaar. Toe ek eendag moedeloos was, sien ek ’n dooie mossie op die grasperk. Ek het Jesus se woorde onthou en moed geskep. By ’n ander geleentheid was ek bekommerd. Ek was op pad om ’n klas te gaan aanbied. Op die pad het ’n mossie vir byna ’n halwe blok voor my kar se windskerm bly vlieg. Die Here het my aan sy Woord herinner en my bemoedig.

Wat is jou krisis? Onthou v.7: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie—julle is meer werd as baie mossies.” Vrees die Here. Glo mnr. Bewer se woorde aan Lucy in C.S. Lewis se Chronicles of Narnia. Toe Lucy vra of Aslan ’n veilige leeu is, toe antwoord Bewer: ‘Who said anything about safe? ’Course he isn’t safe. But he’s good.’4


1  N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2 (London: Grace Publications Trust, 2000), 388

2  Johannes P. Louw & Eugene A. Nida (Ed.), Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 1.21, p. 6

3  https://africaagriculture.co.za/the-story-of-the-two-sparrows/

4  C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Lion, the Witch and the Wardrobe (New York: HarperCollins Publishers, 1950), 146

Kategorieë