Ek het omtrent twaalf jaar gelede vir die eerste keer met hierdie dwaling te doen gekry. Iemand het by ‘n Bybelstudie gesê dat haar vriendin van Yeshua praat, en dat dit blykbaar verkeerd is om Jesus te sê. Drie jaar later het ek ‘n boek gelees wat hierdie lering verdedig. Ek het egter nog steeds nie geweet wat dit is nie, tot my vriend Jannie Vosloo vir my gesê het dat dit die Hebrew Roots Movement (hierna HRM) is.
Oor die afgelope drie jaar het ‘n paar van ons lidmate my hieroor gevra. Ek het besluit om die saak te ondersoek en met ander te deel, sodat ons nie soos die Galasiërs en Korintiërs vir ‘n ander evangelie sal val nie (2Kor. 11:4, Gal. 1:6-7). ‘n Leraar moet immers nie net die skape voed nie, maar hulle ook teen die wolwe beskerm (Tit. 1:9, 11).
Wie of wat is HRM?
‘Water’ is nie die naam van ‘n dam nie, maar dit kom wel in damme voor. Net so is HRM nie ‘n denominasie nie, maar ons vind dit in verskillende denominasies, gemeentes, huiskerke, selgroepe. HRM is soos roomys: alhoewel daar verskillende soorte is, is hulle in wese dieselfde. Ek sal later vir jou wys wat die leerstellings is waaroor hulle saamstem.
Waar kom hulle vandaan? Hulle lering kom nie uit die Bybel uit nie. ‘n HRM outeur genaamd Valerie Moody sê dat Jesus in die laat 1990’s twee maal aan haar verskyn het, en dat sy drie nuwe openbaringe by Hom gekry het. By dié geleenthede het Hy die tipiese HRM leerstellings aan haar bekend gemaak.[1]
Dit opsigself behoort vir jou ‘n rooi lig te wees. Hoekom kon sy nie die HRM leerstellings in die Bybel kry nie; hoekom moes die Here dit deur ‘n persoonlike verskyning aan haar bekend maak? Is dit nie dalk omdat die HRM leerstellings nie in die Bybel gevind kan word nie?
Mev. Moody se nuwe openbarings bots ook met verse soos Deut. 4:2, 12:32, Spr. 30:6, Heb. 1:1, Op. 22:18-19 wat sê dat Jesus die finale Profeet is, en dat ons nie iets by die Bybel mag byvoeg nie. Mev. Moody se getuienis impliseer verder dat gelowiges deur die eeue mislei is, en dat Jesus na meer as 2000 jaar die waarheid aan haar en die res van HRM bekend gemaak het.
Die term Hebrew Roots is in 1996 deur ‘n Amerikaner en sy vrou, Dean en Susan Wheelock, uitgedink.[2] Maar voor hulle het ‘n sekere dr. C.J. Koster van Suid-Afrika ‘n boek geskryf waarin hy aanbidding op Sondae, Kersfees,[3] Paasfees,[4] Christelike simbole soos die kruis, en woorde soos Jesus, Here, God, Bybel, amen, kerk en heilig as heidens bestempel.[5] Die lering het egter nie by hom begin nie.
HRM, soos Herbert W. Armstrong se Worldwide Church of God en die Sewendedag Adventistekerk voor dit, het Judaïsme uit die dood uit opgewek. Moet asb. nie Judaïsme met die godsdiens van Abraham en Moses verwar nie. Soos Timoteus in die Nuwe Testament, het Abraham en Moses in Jesus geglo vir hulle redding (Rom. 4:3-8, Gal. 3:6-9, Heb. 4:2). Stuart Olyott is dus reg om die godsdiens van die Ou Testament Christenskap te noem: hulle het in die Messias of Christus geglo wat sou kom.
Judaïsme is iets anders. Dit is wat die Fariseërs in Jesus se tyd, en die Galasiër-dwaalleraars in Paulus se tyd geglo het. Volgens Judaïsme moes die sondaar iets doen om aanneemlik te wees voor God. Die Fariseërs het die wet van Moses en hulle interpretasie daarvan nagekom, in die hoop dat hulle daardeur die Here se guns sou wen. Die ketters in die Galasiër-gemeentes het vir die heidene gesê dat hulle nie deur geloof alleen gered kan word nie, maar dat hulle ook sekere kosse moet vermy, die Ou Testament Feeste moet vier en besny moet word.
Alhoewel HRM en Judaïsme nie ‘n identiese tweeling is nie, moet jy blind wees om nie te sien dat die jonger boetie (HRM) die ouer een (Judaïsme) se baadjie aan het nie. HRM sal dit natuurlik ontken, maar dit is ‘n feit soos ‘n koei. Kom ek wys vir jou.
Wat glo HRM?
In sekere opsigte is HRM soos ‘n paling of soos seep in die bad: jy kry dit nie vasgevat nie. Ek het verskeie HRM webtuistes besoek om te sien wat hulle glo, maar hulle is nie vreeslik ywerig om die leerstellings van hulle geloof in ‘n dokument saam te vat nie. Hulle het m.a.w. nie ‘n geloofsbelydenis nie.
En tog kan ons in ‘n ander opsig sê dat hulle leerstellings soos ‘n seer duim uitstaan. Dit verg moeite om dit te kry, maar as jy die tyd het om dit op te soek sal jy agterkom dat hulle nie deel van die Christen familie is nie; hulle is kulties van aard.
As jy HRM se leerstelling in een paragraaf wil vasvang, sal die volgende definisie jou help: ‘HRM glo dat die Kerk van die ware Hebreeuse leringe van die Bybel afgewyk het. Die beweging glo dat Christene deur die Grieke en Romeine se filosofieë, kultuur en geloofsoortuigings gebreinspoel is. Hulle glo dat Christenskap soos ons dit vandag ken, ‘n heidense namaaksel van die ware evangelie is.’[6]
HRM glo nie net dat ons die Hebreeuse taal, agtergrond en kultuur moet bestudeer nie, maar dat ons soos Jode moet lewe. Dit is nie genoeg as jy in jou hart besny is en geestelik deel van die ware Israel is nie (Rom. 2:28-29, Gal. 3:7, 29, 6:16, Ef. 2:12, 19). Volgens hulle moet jy uiterlik soos ‘n Jood optree. Jy moet sekere Hebreeuse woorde gebruik, Joodse gebruike volg, Joodse klere dra, en ‘n Joodse dieet volg.
Ons kan HRM se geloofsoortuigings onder die volgende hoofde opsom:
[1] Hebreeuse Name
In ‘n poging om Hebreeuse woorde soos Elohim en Jahwe te behou, het dr. C.J. Koster sy eie vertaling uitgebring: The Scriptures[7]. Volgens dr. Koster is dit sonde om God se Naam te vertaal.[8] HRM reken dat ons ander gode se name op ons lippe neem en hulle aanbid as ons van Jesus, Here en God praat, en nie van Yeshua, Jahwe en Elohim nie. Volgens hulle is dit ‘n direkte oortreding van verse soos Jos. 23:7: “julle mag ook die naam van hulle gode nie vermeld en daarby nie laat sweer nie, en julle mag hulle nie dien en julle voor hulle nie neerbuig nie”.
HRM sê dat ons die Vader en die Seun se Naam verander het, maar hulle kan nie eers onder hulleself saamstem oor hoe ons die Hebreeuse name moet uitspreek nie. Sommige praat van Jesus as Yahushua, terwyl ander hom Yeshua of Yashua noem. Wat die Ou Testamentiese Naam van God betref, praat sommige van Yahweh en ander van Yahuweh.
Maar soos wat dit nie verkeerd is om John se naam as Johan, Jon, Ivan, Juan, Jean of João te vertaal nie, is dit nie verkeerd om die Vader en die Seun se Naam te vertaal nie. ‘n Paar eeue voor Jesus se geboorte is die Hebreeuse Ou Testament in Grieks vertaal (die Septuaginta of LXX). Dit is wel bekend dat die Nuwe Testament skrywers dikwels uit die LXX aangehaal het. Duidelik was dit nie vir hulle ‘n probleem om die Naam Jahwe met Kurios (Here) te vertaal nie.
Die Nuwe Testament is ook in Grieks geskryf, en nie in Hebreeus soos HRM wil voorgee nie.[9] Christene was dus van die begin af met die Here se vertaalde Name bekend. Titus sou bv. van Iēsous, Kurios en Theos gepraat het (Grieks vir Jesus, Here en God), en nie van Yeshua, Jahwe en Elohim nie.
As die Nuwe Testament in Hebreeus geskryf is, is dit vreemd dat daar meer as 5000 Griekse manuskripte is, nie ‘n enkele Hebreeuse een nie. Niemand ontken dat Jesus en die apostels Hebreeus of Aramees gepraat het nie. Dat die Nuwe Testament egter in Hebreeus geskryf is, is sterk te betwyfel. Kan iemand asb. die bewyse op die tafel sit?
Die grootste gedeelte van die Nuwe Testament is vir mense geskryf wat nie Hebreeus gepraat het nie. Lukas en Handelinge is bv. deur ‘n Griek vir ‘n Griek geskryf (Luk. 1:3, Hand. 1:1). Paulus, die apostel na die heidene, kon Grieks praat en het sy briewe vir Griekssprekendes geskryf (Hand. 21:37-39, Rom. 11:13, 1Tim. 2:7).
Die res van die Nuwe Testament is ook in Grieks geskryf. Waar die outeurs Hebreeuse woorde gebruik, vertaal hulle dit (Matt. 1:23, Mark. 5:41, 15:22, 34, Joh. 1:39, 42-43, 9:7, 20:16, Hand. 4:36, 9:36, 13:6, 8). Dit impliseer dat baie van die eerste lesers nie Hebreeus verstaan het nie. Gevolglik is die woorde in Grieks verduidelik.
Maar ontheilig ons nie die Here se Naam as ons dit vertaal nie? God se Naam in Eks. 3:14-15 spreek van sy ewigheid, onveranderlikheid en onafhanklikheid. Om JHWH as ‘Here’ te vertaal, som sy soewereine heerskappy goed op.
Dit is ook nie ‘n probleem om Elohim te vertaal nie. Elohim beteken ‘God’. In Gen. 1:1 verwys dit na die ware God, maar in tekste soos Eks. 12:12 word dit van afgode gebruik. Maar die feit dat dit van vals gode gebruik word beteken nie ons moet dit uit die Hebreeuse Ou Testament uit verwyder nie.
“Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is - soos daar baie gode en baie here is - tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” (1Kor. 8:5-6).
As HRM konsekwent wil wees, moet hulle elke verwysing na vals gode as ‘Elohim’ los en dit nie vertaal nie.
Vir ons gaan dit oor meer as net die vertaling van God se Naam. In die Bybelskrywers se denke gaan God se Naam oor wie en wat Hy is; sy hele Persoon en karater word daarin saamgevat. Wat help dit jy ken God se Naam in Hebreeus, as jy dit nie in jou gedagtes, woorde en dade heilig nie? Wat help dit jy ken Jesus se Hebreeuse Naam, maar jy praat disrespekvol met jou ouers? Die Here is nie beïndruk as jy sy Naam in Hebreeus kan sê, maar Hom nie deur sy Seun ken nie. Jou kennis van ‘n paar Hebreeuse woorde beteken niks as jy nie dors is vir die Here nie.
[2] Die Torah
Die Torah verwys na die wet van Moses of die eerste vyf boeke van die Ou Testament: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium. Volgens HRM se interpretasie van Matt. 5:17-20 het Jesus gesterf om ons na die Torah toe terug te neem, en dus moet ons weer die Feeste, Sabbat en voedselswette wat daarin voorgeskryf word, nakom. Op dié manier stel hulle die Ou Testament skadubeelde bo die volheid wat ons in Christus het, en verkleineer hulle die voller openbaring van God in die Nuwe Testament. Dean en Susan Wheelock sê in soveel woorde dat die Nuwe Testament briewe nie dieselfde gesag dra as die Torah nie.[10]
Maar is dit wat Matt. 5:17-20 beteken?[11] Nee. Dit beteken eerder dat Jesus die Ou Testament profesieë, skadus en tipes in sy lewe, kruisdood, opstanding, hemelvaart en wederkoms vervul (Luk. 24:27, 44). Omdat Hy die wet vervul, vat Hy ons nie terug na die skadus toe nie, maar help Hy ons om die volheid daarvan in die evangelie te geniet.
Hierdie beginsel geld o.a. vir die voedselwette, Sabbat en Feeste - dit word in Christus vervul: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kol. 2:16-17). Wat beteken hierdie verse?
[3] Die voedselwette
Volgens Lev. 11 het Israel ‘n spesiale dieet gevolg, en het hulle nie onrein kosse geëet soos die heidene nie. Maar toe Jesus vir die heidene sterf en hulle deel van sy volk maak, het Hy hulle nie van Israel onderskei nie (Gal. 3:28, Ef. 2:11-22). Israel het nie meer sekere kosse geëet om hulle af te sonder nie. Die voedselwette het verval, en nou kan gelowiges alles eet (Mark 7:19, Hand. 10, Rom. 14:14, 20, 1Kor. 10:25, 1Tim. 4:1-5, Tit. 1:15). Om dan varkworsies, spek of iets te eet wat nie kosher is nie, is nie sonde soos HRM sê nie.[12]
Om sekere kosse te eet of te vermy, maak jou nie meer aanneemlik voor die Here nie. “Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie” (1Kor. 8:8). As jy anders dink, glo jy ‘n evangelie van werke waarin jy iets kan doen om God se guns te wen. Dit is waaroor Paulus in Gal. 2:11-14 vir Petrus aangevat het. Deur hom van die onbesnede heidene se ‘onrein’ etenstafel te onttrek, het Petrus gesê dat hy nie met hulle gemeenskap kan hou nie en dat hulle ongered is. Dalk het hy dit nie so bedoel nie, maar dit was die implikasie van sy skynheilige optrede. Hy het indirek gesê dat ons deur ons navolging van die wet vir die Here aanneemlik kan wees (Gal. 2:16-20). Maar as dit waar is, het Jesus verniet gesterf (Gal. 2:21).
Is dit nie dwaas om te dink dat ‘n ham toebroodjie iemand geestelik kan terughou, en dat hulle sonde doen om dit te eet nie? “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak.” (Mark. 7:15). Dis nie die kalamari wat jy in jou mond sit wat onrein is nie, maar die skinderstories wat uit jou mond uitkom, of die bitter gedagtes wat in kop rondswem (Mark. 7:21-23).
Kan HRM se spesiale dieet hierdie dinge uit iemand se hart uit verwyder? Nee. Kan die voedselwette hulle heilig maak? Ook nie (Kol. 2:20-23). Is dit dan nie tragies dat hulle meer artikels oor Lev. 11 se voedselwette skryf, as oor die bloed van Jesus wat mense se harte reinig nie?
En is dit nie nét so erg as jy dink die Here is meer tevrede met jou, omdat jy vir die afgelope twee weke gesond geëet het nie? As jy ‘n bietjie te veel stysel geëet het of ‘n kilogram opgetel het, is jy nie eers lus om jou Bybel te lees nie en voel jy terneergedruk.
Soos in HRM en die Judaïste se voedselwette, is daar in ons diëte sekere wette, rituele, boetedoening [Eng. penance], en ‘n hoop dat dit ons beter sal laat voel. Soos in HRM voel jy skuldig as jy nie by die reëls gehou het nie, en goed as jy daarin geslaag het om dit na te kom. Jy voel dat jy in beheer is. Jy vind nie jou vreugde in die Here nie, maar in die onderhouding van die reëls wat jy vir jouself gestel het. Jou liggaam, dieet en die kosse wat jy eet (of nie eet nie) het vir jou ‘n afgod geword.[13]
Leef ons dan nie ook partykeer soos HRM, asof kos ons aanneemlik maak vir die Here nie? Dalk dink jy nie eers aan die Here nie, en gaan dit net oor jouself. In daardie geval het jou gesonde liggaam vir jou ‘n afgod geword.
Volgens Kol. 2:16-17 vervul Jesus die voedselwette. Dus is dit Jesus en nie kos nie, wat maak dat God met ons tevrede is en oor ons glimlag. Op die oordeelsdag gaan die Here nie vir jou vra of jy volstruis geëet het of nie, maar of die liggaam en bloed van Jesus se kruisdood jou versadig het (Joh. 6:51-58). Het jy geglo dat net Christus jou van jou sonde kan red? Of het jy jouself verhef en op ander neergekyk, omdat hulle nie die reëls (bv. die voedselwette) so goed nagekom het soos jy nie?
Ons mag nie HRM goedpraat nie. Maar ons moet ook nie maak of ons in onsself beter is as hulle nie. Toe ek ‘n student was het ek ‘n liedjie van die Fariseër en die tollenaar in Luk. 18:9-14 gehoor. Dwarsdeur die liedjie sing die kunstenaar dat die Fariseër gedink het hy is beter as die tollenaar. Die liedjie eindig dan met ‘n ‘twist’: ‘En dink jy jy is beter as die Fariseër?’
En dink jy jy is beter as HRM? “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1Kor. 4:7).
[4] Die Feeste
Jare gelede het iemand by ‘n konferensie vir Stuart Olyott gevra hoekom hy dit nie aanprys dat Christene Israel toe gaan om die Ou Testament Feeste te vier nie. Hy het opgestaan en gesê dat hy baie van boeke en tee hou: ‘While I am reading a book, my wife brings me a cup of tea. Before she reaches me I can see her shadow. I don’t embrace the shadow.’
Ons het reeds in Kol. 2:16-17 gesien dat die Ou Testament Feeste en die nuwe mane wat hulle aandui, skadubeelde van Christus is; alles word in Hom vervul. Hy is die Paaslam wat gedurende die finale Pasga geslag is (1Kor. 5:7). Ons slag dus nie ‘n lam om die uittog uit Egipte te vier nie, maar ons eet en drink die nagmaal om die Lam van God se kruisdood vir sondaars te herdenk (1Kor. 11:23-26).
Deur sy kruisdood het Jesus die suurdeeg van sonde verwyder, en so die Fees van Ongesuurde brode vervul (1Kor. 5:7-8). Deur die versoening wat Hy tussen ons en die Vader bewerk het, het Hy Lev. 16 se Dag van Versoening vervul. Deur sy opstanding het Hy die Fees van die Eerstevrug vervul (1Kor. 15:20, 23), en waarborg Hy dat ons in die toekoms uit die graf uit sal opstaan, soos wat ‘n koring oes uit die grond uit opspruit.
Hy het die Fees van Weke of die Pinksterfees vervul toe Hy in Hand. 2 die Heilige Gees soos reën uitstort, en daar ‘n groot oes van bekerings gevolg het. Hy vervul die Huttefees of die Fees van Tabernakels, deurdat Hý die Tabernakel is in wie se skadu ons skuil (Op. 7:15, 21:3, Joh. 1:14, Gk., Ps. 91:1, 4, Jes. 4:5-6, 25:4-5, Matt. 23:37). Wanneer Jesus in die wolke verskyn sal die laaste trompet sy koms aankondig, en sal Hy die Fees van Basuine of Trompette vervul (1Kor. 15:52, 1Tess. 4:16).
Volgens HRM se interpretasie van Kol. 2:16-17 is die Feeste ‘n skaduwee van die toekomstige dinge, en moet ons dit dus tot by die wederkoms vier. Maar verwys ‘die toekomstige dinge’ in Kol. 2:17 net na die wederkoms? Nee. Dit verwys na Jesus wat in die hemel is, na die nuwe verbond en na die hele tydperk tussen sy eerste en tweede koms. Dit is ten minste hoe Heb. 8:5, 9:9, 11, 24, 10:1 dit verstaan.
Dit is nie verkeerd as jy vir interessantheidshalwe ‘n Fees wil bywoon om te sien hoe die Jode dit gevier het nie. Dis ook nie sonde as jy ‘n Fees bywoon of ander ‘seremoniële’ wette volg, omdat jy ‘n Jood of HRM aanhanger vir Jesus wil wen nie (1Kor. 9:19-23, Hand. 20:16, 21:24, 26).
As jy egter die Feeste hou omdat jy die Here se guns wil wen, is dit sonde. Om dit te doen is soos om jou doktorsgraad te kry, en dan terug te wil gaan graad 1 toe.
“maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.” (Gal. 4:9-11).
Dit is nie Jesus plus die voedselwette, Sabbat, Feeste of enigiets anders wat maak dat God tevrede is met jou nie; dit is Christus alleen. Iemand wat weer die Feeste wil vier moet konsekwent wees en die reëls volg wat in Lev. 23, Num. 28-29, Deut. 16 neergelê word: hy moet in ‘n landbou samelewing bly, Jerusalem toe reis, ‘n tabernakel of tempel laat oprig, ‘n Levitiese priester kry, en die regte offers bring.
As hy dit nie doen nie, hou hy nie die Torah nie. En as hy dit doen, oortree hy Kol. 2:16-17 wat sê dat Jesus die Feeste vervul. Hy oortree Heb. 10 wat sê dat Jesus die finale offer is, en loop hom ook vas in die granietblok van Paulus se brief aan die Galasiërs. Volgens Paulus is dit nie genoeg dat jy net ‘n gedeelte van die wet die hou nie. Om die Here tevrede te stel moet jy dit volmaak en in sy geheel nakom; as jy dit nie doen nie is jy vervloek en gaan jy hel toe (Gal. 3:10, 5:3-4).
Maar volgens HRM verstaan ons Paulus verkeerd, en praat Galasiërs nie van die Ou Testament wet nie. Vir hom was dit nie ‘n probleem dat die Galasiërs die Ou Testament Feeste en ander wette gehou het om God se guns te wen nie. Sy probleem was dat die wet nie vir hulle genoeg was nie, en dat hulle die Rabbynse tradisies bygevoeg het.[14]
Maar jy hoef nie ‘n teoloog te wees om te sien dat ‘die wet’ in Galasiërs na die wet van Moses verwys, en nie na die Rabbynse tradisies nie. Sien bv. 3:10, 17-18, 4:4, 10, 21-22, 5:3-4, 14.
[5] Die Sewendedag Sabbat
Ek het eenkeer by ‘n kamp gepreek toe ‘n vrou my oor die Sabbat vra. Na ek my siening verduidelik het, het ‘n oom wat naby gesit het gesê dat daar nie ‘n enkele vers is wat sê dat die Sabbat na Sondag toe verander het nie.
Maar dit is soos om te sê dat daar nie ‘n vers is wat sê God Drie-Enig is nie. As ons die verse saam sit, is dit duidelik dat God in meer as een Persoon bestaan. En as ons die Bybelverse oor die wet, die Sabbat en Sondag-aanbidding saam sit, wys dit dat Christene op Sondae vergader om die Here te aanbid, en nie op Saterdae nie. Laat my asb. toe om my standpunt te verdedig.
[a] Jesus is die klip wat deur die bouers verwerp is. Hy is op die Vrydag van sy kruisiging verwerp, en het op die Sondag van sy opstanding die hoeksteen geword (Hand. 4:10-11). Volgens Ps. 118:22-24 is dit die dag wat die Here gemaak het: laat ons juig en daarin bly wees.
[b] Volgens die HRM boek wat ek in die inleiding vermeld, is Jesus op ‘n Woensdag gekruisig en het Hy op ‘n Saterdag opgestaan. Om hulle nakoming van die Saterdag-Sabbat te verdedig, móét HRM dit sê. Maar iemand soos D.A. Carson wys baie oortuigend dat Jesus op ‘n Vrydag gekruisig is, en dat Hy op ‘n Sondag uit die graf uit opgewek is.[15]
[c] Die vier Evangelies wys dat die vroue die graf op die eerste dag van die week leeg gevind het, en dat Jesus op ‘n Sondag aan hulle, die dissipels en die Emmaus-gangers verskyn het.
[d] Joh. 19:31 wys dieselfde patroon. Volgens Lev. 23:5-7 het die Jode die dag na die Pasga as ‘n Sabbat beskou. Dit het nie noodwendig op ‘n Saterdag geval nie. As die Pasga bv. op ‘n Maandag begin het, het hulle die Dinsdag as ‘n Sabbat gevier.
Maar as die Pasga op ‘n Vrydag geval het, het hulle die volgende dag as ‘n dubbele Sabbat beskou. In daardie geval het hulle dit ‘n groot of hoë Sabbat genoem. En is dit nie presies wat Joh. 19:31 sê nie?
[e] Omdat dit so is, het Jesus die Pasga op die Vrydag vervul, die Fees van Ongesuurde Brode op die Saterdag, en die Fees van die Eerstevrug op die Sondag (Lev. 23:5-6, 10-11). Presies sewe weke later het Hy die Fees van weke op ‘n Sondag vervul (Lev. 23:15-16). Ja, die Nuwe Testament kerk is op ‘n Sondag gebore!
[f] Is dit dan enige wonder dat Christene van die begin af op ‘n Sondag bymekaar gekom het om die Here te aanbid (Hand. 20:7, 1Kor. 16:1-2)? In die 2de eeu reeds het Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) - Justin Martyr in Engels - dit bevestig en gesê dat Christene op Sondae vergader om die Here te aanbid.[16]
Hulle was bly dat Jesus deur sy opstanding op die eerste dag van die week ‘n nuwe skepping begin het (2Kor. 5:17), en het dit dus die Here se Dag genoem (Op. 1:10). Vroeë Christene soos Ignatius van Antiochië (c. 35 - c. 107 n.C.) bevestig dat die Here se Dag Sondag is, en nie Saterdag nie.[17]
God se nuwe skepping en die rus van sy verlossing is ‘n groter werk as die eerste skepping en die rus wat Hy op die sewende dag ingestel het. Daarom beskou Christene nie die sewende dag as ‘n rusdag nie, maar die eerste een.
[g] Omdat ons ‘n nuwe Priester het, het die wet ook verander (Heb. 7:12). Jesus het die ou verbond tot niet gemaak en dit met ‘n beter een vervang (Heb. 8:13, 10:9). Hy het die Sabbat vervul (Kol. 2:16-17), sodat ons in Hom die ewige rus van God se verlossing geniet (Heb. 4:3, 8-10, Matt. 11:28-29, Op. 14:13). Om hierdie rus te herdenk, aanbid ons die Here op die dag van sy opstanding.
Duidelik hoef ons nie na die Ou Testament Sabbat (of Shabbat, soos HRM dit graag noem) toe terug te keer nie. As jy die Sabbat soos Paulus wil gebruik om Jode of HRM aanhangers vir die Here te wen, doen dit (Hand. 17:1-2). Geen gelowige hoef egter skuldig of verplig te voel om die Sewendedag Sabbat te vier nie.
Hoe moet jy op HRM reageer?
Ons het onlangs ‘n gemeente in Jeffreys Baai besoek. Na ‘n aanddiens het ons in groepe gedeel om te bid. ‘n Jong man het gesê dat hy gefrustreerd is, omdat hy mense ken wat ‘n sekere Bybelse waarheid nie kan insien nie. ‘Selfs as ek vir hulle die verse wys, stry hulle met my en kan hulle dit nie raaksien nie,’ het hy gesê.
Ons móét probeer om mense van die waarheid te oortuig (Hand. 18:4), maar ons moet ook onthou dat goeie argumente en slim redenasies nie genoeg is nie. Die Heilige Gees moet mense se oë en ore oopmaak om die waarheid te verstaan (Hand. 16:14).
Moet dan nie die lering hierbo gebruik en dink jy gaan HRM aanhangers daardeur oortuig nie. Dit is nie die rede hoekom ek dit geskryf het nie. Ek het dit eerder nagevors om God se kinders teen hierdie dwaling te beskerm. Jou reaksie op HRM moet eerder die volgende wees:
[1] Maak seker jy is gered. Wat help dit jy ken die evangelie en weet dat HRM verkeerd is, as Christus jou nie verander het nie? Jy moet glo dat niks wat jy doen kan maak dat die Here jou aanneem nie; geen navolging van die wet kan maak dat Hy oor jou glimlag nie (Rom. 3:20, Ef. 2:8-9). Die wet kan jou nie in die hemel bring nie.
Jy moet glo dat die Vader tevrede is met Jesus se kruisdood, en dat jy slegs deur geloof in Hom gered kan word. Geloof op sy eie is genoeg; dit is nie nodig vir werke nie (Rom. 3:28). Bekering is egter ‘n element van ware geloof, en daarom kan jy nie sê jy glo in Jesus as jy jou nie ook bekeer nie.
Ons moet ook onthou dat ware geloof outomaties tot goeie werke sal lei (Ef. 2:10, Jak. 2:14-26). Hierdie werke verwys nie na die onderhouding van die Sabbat, die voedselwette, ens. nie, maar na Jesus se lering in die Nuwe Testament (Matt. 28:20).
As jy in Jesus glo, sal God die sonde van jou rekord af verwyder, en die Here Jesus Christus se volmaakte geregtigheid aan jou toereken.
[2] Ek ken iemand wat waarlik in Jesus glo en die vrug van bekering dra. Hy gaan op Sondae kerk toe, maar glo dat hy op Saterdae moet rus. Wat moet jy met so iemand doen? Los hom en moenie in ‘n bakleiery betrokke raak nie.
“Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here” (Rom. 14:5-6).
[3] Moenie nuuskierig wees en HRM byeenkomste bywoon nie. Satan sit agter hierdie dwaling en sal jou uitvang (1Tim. 4:1-3). HRM sal soos gis na jou gesin en ander gelowiges toe versprei (Gal. 5:9). Onthou asb. dat ware gelowiges mislei kan word (Gal. 1:6, 5:7). Om in HRM in te kyk is gevaarlik; dit sal jou nie bevoordeel nie (Gal. 5:2, 4).
As jy met HRM speel, moet Gal. 1:8-9 in jou ore weerklink: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
[4] As ‘n lering jou ontstel en ongemaklik laat voel, moet jy klaar weet iets is nie lekker nie: bly weg (Gal. 1:7, 5:10).
[5] Net soos wat die Torah jou nie kan red nie, kan dit jou ook nie heilig maak nie (Gal. 3:3, 21, Kol. 2:16, 20-23). Niemand kan meer soos Jesus word omdat hy ‘n stel reëls nakom nie. Om heilig te wees moet jy jou aan die Gees van God onderwerp. Hy sal jou in staat stel om Christus se lering uit te voer en ‘nee’ te sê vir sonde (Rom. 8:4, Gal. 5:16-26). As die Gees jou lei sal jy nie wetties wees nie (Gal. 5:18), maar jy sal ook nie wetteloos wees nie, omdat Hy die wet se beginsels en bevele in jou vervul (Gal. 5:13, 22-23).
Dit beteken dat ons nie die wet weggooi nie. Ons prys Hom eerder vir die vervulling daarvan in Jesus. Ek onthou dat wyle dr. Martin Holdt dit soos volg verduidelik het. ‘n Sekere prof. Paxton van Australië het eenkeer in Suid-Afrika kom preek. In sy preek het hy ‘n klein vasvra gehou.
‘Wie van julle sê dat ons op grond van ons geloof gered is?’ het hy vir die gehoor gevra. Die meeste mense het hulle hande opgesteek. ‘Wie van julle sê dat ons op grond van wetsonderhouding gered is?’ Niemand het ‘n hand opgesteek nie. ‘Wie van julle sê dat ons op grond van iets anders gered is?’ Twee of drie mense het hulle hande opgesteek.
‘Nou gaan ek julle skok,’ het hy gesê. ‘Ons is op grond van wetsonderhouding gered.’ Die mense was inderdaad geskok... tot hy verder verduidelik het. ‘Ons is op grond van Iemand anders se wetsonderhouding gered. Jesus het die wet perfek vervul namens ons. Hy het dit in ons plek onderhou, en die straf vir ons wetsoortreding aan die kruis gedra.’
Upon a Life I have not lived,
Upon a Death I did not die,
Another’s Life; Another’s Death,
I stake my whole eternity.
-Horatius Bonar-
---------------------------------------------------------------------------------------------
[1] https://www.hebraicrootsnetwork.com/valerie-moody/
[2] http://www.hebrewroots.net/about/
[3] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2017/12/15/moet-christene-kersfees-vier/
[4] http://www.christianitytoday.com/history/2009/april/was-easter-borrowed-from-pagan-holiday.html
[5] http://come-out-of-her-my-people.com/wp-content/uploads/2012/06/Come-out-of-Her-my-people.pdf
[6] Vry vertaal uit https://www.gotquestions.org/Hebrew-roots.html
[7] https://isr-messianic.org/information/frequent-questions.html
[8] https://cdn.shopify.com/s/files/1/0918/1588/files/repent.HTM?10822359684759406205
[9] Sien die inleiding tot The Scriptures (TS2009) op www.e-sword.net
[10] http://www.hebrewroots.net/wp-content/uploads/2017/01/Which-Law.pdf, pp. 12-13
[11] Sien D.A. Carson, The Sermon on the Mount, Paternoster Press, 1998, Carlisle, Cumbria, CA3 0QS, U.K., pp. 38-44 vir ‘n volledige verduideliking van hierdie verse.
[12] https://cdn.shopify.com/s/files/1/0918/1588/files/Kashrut_Afr.htm?4360167907482028517
[13] Die teenoorgestelde is ook waar sodat as jy te veel eet, jou liggaam en kos vir jou ‘n afgod is.
[14] http://hebroots.org/101notes.pdf, p. 15
[15] Sien bv. D.A. Carson, The Gospel According to John, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1991, pp. 455-458.
[16] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, pp. 66-67
[17] Letter to the Magnesians, Chapter IX