Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 December 2014

Van die krip tot die troon

Crib, cross, crown

[youtube=http://youtu.be/k-uT_-D5E7M]

Kersfees is ‘n tyd van vrede.  In my kinderdae het ons in die strate gespeel.  Die groot mense het op die stoep gesit en kuier.  Gesinne het teen sondonder gaan stap.  Selfs vreemdelinge het mekaar met:  ‘Geseënde Kersfees!’ gegroet.  Tog is Kersfees maar net die begin.  Deur Jesus se geboorte, lewe, kruisdood, en opstanding is daar ‘n groter vrede wat kom.  Dit is waarvan Jesaja 11:1-9 praat.

 

Koning van geregtigheid (v.1-5)

In C.S. Lewis se Horse and his Boy, het Aravis veroorsaak dat haar stiefma se slavin in die moeilikheid kom en geslaan word.  Toe Aravis later op haar perd deur die woestyn ry, het ‘n leeu haar gejaag.  Alhoewel sy weggekom het, het die leeu diep wonde in haar rug geskeur.  Toe sy later die goeie leeu Aslan ontmoet, het hy gesê dat dit hy was:  ‘The scratches on your back, tear for tear, throb for throb, blood for blood, were equal to the stripes laid on the back of your stepmother’s slave because of the drugged sleep you cast upon her.  You needed to know what it felt like.’[1]  Onder die Messias se heerskappy sal daar geregtigheid wees.  Elkeen sal kry wat hy of sy verdien.  Vir dié wat in sy kruisdood en opstanding geglo en op Hóm vertrou het, sal daar vergifnis wees.  Maar dié wat hulle sonde liefgehad en daarmee aangehou het, sal doodgemaak word – vir ewig.

 

Israel het teen God gerebelleer.  Hy het sy byl, die Assiriërs, skerp gemaak om die boom van Israel af te kap (10:15, 33-34).  Daar sou net ‘n stomp in die grond oorbly (v.1).  Maar uit dié familie-boom sou die Messias kom.  Hy sou soos ‘n groen spruit groei en ‘n dik tak word wat baie vrugte dra (v.1, 4:2, Jeremia 23:5).  Die stam was Dawid se pa, Isai.  Die wortel en die tak was die Messias.  Ja, Hy was ‘n tweede Dawid.  Hy was sy nageslag maar ook wortel uit wie Dawid ontstaan het (Openbaring 22:16).

 

Net soos wat konings in die Ou Testament met olie gesalf is, sou die Gees van die Here die Messias as Koning salf.  In die Ou Testament het die Gees tydelik op mense gekom om hulle vir ‘n sekere taak toe te rus.  Met die Messias sou dit anders wees:  die Gees sou permanent op Hom rus.  “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het.  Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.” (42:1).  “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (61:1).  “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.” (Matteus 3:16).  “En Johannes het getuig en gesê:  Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.” (Johannes 1:32).  Die Gees het Hom met wysheid en verstand bekragtig om te heers, met raad en sterkte vir oorlog, met kennis en die vrees van die Here vir geestelike leierskap.  Hy sou vreugde daarin vind om sy Vader te vrees en sy wil te doen (v.3a).

 

Hy sou nie net oordeel volgens wat Hy sien of ander in sy ore fluister nie.  Hy kon die mens se hart en motiewe ken, en sou daarom regverdig oordeel.  “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.” (Johannes 7:24).  Johannes 2:24-25 sê dat Jesus “nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.”  Jesus sou nie – soos Israel – die armes en sagmoediges onderdruk nie, maar hulle regverdig oordeel (v.4, 10:2):  “Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg... Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.” (Psalm 72:2, 4).  “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele... Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matteus 5:3, 5).

 

Hy sou ook die goddelose met die staf van sy mond, die Woord, vernietig (Psalm 2:9, Openbaring 19:15, 2 Tessalonisense 2:8).  As iemand in Bybelse tye gereed gemaak het vir aksie, het hy sy rok opgetel en vasgebind.  Net so sou die Messias die gordel van geregtigheid en getrouheid opneem en gereed maak vir oorlog (v.5, Efesiërs 6:14).

 

Verwag dat Jesus by sy wederkoms in geregtigheid sal heers.  Om jouself voor te berei moet jy weet dat Hy jou hart, motiewe en gedagtes ken en sal oordeel (sien Romeine 2:16).  As jy sonde liefhet sal Hy jou doodmaak (v.4).  Vind jy plesier in leuens, hoogmoed, diefstal, seksuele sonde, vrees vir mense, dronkenskap, bitterheid, bakleiery, okkultisme, luiheid, ondankbaarheid, skinder, wellus, geldgierigheid, en ander sondes?  Bekeer jou hiervan.  Glo dat Jesus die straf vir sulke sondes op Homself geneem het aan die kruis.  Glo dat Hy nooit sulke sondes gedoen het nie, maar volmaak gehoorsaam was.  Glo dat Hy dié wat berou het oor sulke sondes sal vergewe.  Glo dat Hy almal red wat op Hom vertrou – al het hulle ook sulke sondes gedoen.  As jy dít doen sal Hy jou onskuldig en regverdig verklaar.  So kan jy selfs in die verlossing en vergifnis van sondaars sy regverdige heerskappy sien.

 

As sy regverdige heerskappy aanbreek, sal dit ‘n verligting wees vir gelowiges wat onderdruk word en in ‘n korrupte wêreld van ongeregtigheid moet lewe.  Wat sal die gevolg wees vir dié wat Jesus se regverdige heerskappy verwag?  Petrus antwoord:  “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.  Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” (2 Petrus 3:13-14).

 

Koning van vrede (v.6-9)

Het jy op skool van Harry Wolhuter geleer?  Hy was ‘n jagter en een van die eerste wildbewaarders in die Kruger Wildtuin.  In Augustus 1903 het hy teen die aandskemer op sy perd gery in ‘n gebied waar daar geen leeus was nie – of so het hy gedink.  Twee leeus het uit die gras opgespring en sy perd gejaag.  Toe die perd omdraai en hardloop, het hy afgeval.  Een van die leeus het hom aan sy regterskouer gegryp en in die veld ingesleep.  Met sy linkerhand het hy ‘n mes uitgehaal en die leeu twee keer in die hart, en een keer in die keel gesteek.  Die leeu het hom gelos, hard gebrul, en gevlug.

 

Hy het geweet die tweede leeu sou nie sy perd vang nie, en terugkeer.  Met sy mond en linkerhand het hy probeer om ‘n vuurhoutjie te trek.  Hy wou die gras aan die brand steek om die leeu af te skrik, maar dit was reeds nat van die dou.  Hy het in ‘n boom geklim en homself met sy belt aan ‘n tak vasgemaak.  Hy was dors en het baie bloed verloor.  ‘n End weg het hy gehoor hoe die eerste leeu vrek.

 

Die tweede leeu het teruggekom soos hy verwag het, en probeer om in die boom te klim.  Hy het op die leeu geskreeu.  Harry se hond, Bull, het hom kom soek.  Hy het die leeu bestorm, aanhoudend geblaf, en die leeu se aandag afgetrek.  Een van Harry se werkers het opgedaag.  Toe hy hom waarsku dat daar ‘n leeu in die gras is, het die werker ook in ‘n boom geklim.  Nóg werkers het met donkies daar aangekom.  Harry het geskreeu dat daar ‘n leeu is.  Om die leeu te verjaag het hulle ‘n paar skote afgevuur.  Nadat hulle haastig ‘n vuur gemaak het, het hulle vir Harry uit die boom uit gehelp.  Hulle het nie water by hulle gehad nie.  Die naaste watergat was 9.6 km weg.  Terwyl hulle deur die nag gestap het, het die leeu hulle gevolg.  Bull se geblaf het die leeu weggehou.

 

Toe hulle by die watergat kom was dit opgedroog.  Harry het in ‘n hut skuiling gevind, terwyl die werkers geloop het om water te soek.  Hulle het net modderwater gekry, maar dit was beter as niks.  Koors en pyn het gekeer dat Harry slaap.  Die volgende dag het Harry se werkers die dooie leeu se vel en hart met steekwonde uitgesny.  Die leeu se maag was leeg.  Hy was honger.  Genadiglik het Harry die aanval oorleef.[2]

 

Wat ‘n kontras is dit met die Messias se Koninkryk in Jesaja 11:6-9.  Nadat die Messias geregtigheid gebring en die goddelose vernietig het, sal Hy vrede tot stand bring.  Onder sy heerskappy sal bloeddorstige wolwe en sagmoedige lammetjies saamwoon.  Dodelike luiperds en hulpelose bokkies sal rustig langs mekaar op die gras lê.  Kragtige leeus en kalfies wat vet en sappig is, sal saam wees.  Sterk bere en skadelose koeie sal saam wei.  Het mense hulle mak gemaak?  Nee, God het.  Hulle kleintjies sal ook dié nuwe instinkte hê en met mekaar speel (v.7).  Leeus sal gras eet soos beeste (65:25).  Dit sal wees soos voor die sondeval:  “Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel.  En dit was so.” (Genesis 1:30).

 

Babas en kleuters sal veilig wees met giftige slange om hulle.  Die vloek van Genesis 3:15 sal omgekeer word:  “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.”  Op God se heilige berg, Sion, sal niemand meer seer- of doodmaak nie (v.9).  Hosea 2:17 verduidelik:  “Verder sluit Ek in dié dag vir hulle ‘n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land, en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.”

 

Wat is die rede vir dié vrede?  Die wêreld sal vol wees van die kennis van die Here (v.9, Habakkuk 2:19).  Psalm 72 gaan oor die Messias.  In v.19 sê die psalmis:  “En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam!  En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!  Amen, ja amen.”  Is dit nie postmillenialisme nie:  as die evangelie die eindes van die aarde bereik het, sal daar ‘n goue tydperk van vrede wees?

 

Uiteindelike vrede kan slegs deur Jesus en sy evangelie kom.  Moenie dié glo wat anders sê nie.  Deur sy kruisdood het Jesus verseker dat die vloek finaal omgekeer sal word.  Tog het ons nog nie al die voordele daarvan ontvang nie.  Verwerp daarom die lering van Joel Osteen wat sê dat jy nóú jou beste lewe kan hê.  Verwerp enige lering wat sê dat ons op aarde altyd voorspoed en rykdom moet hê.  Wat van politiek?  Moet ons hoop om sonder die evangelie vrede te hê; om deur politieke aktivisme ‘n ryk van vrede daar te stel?  Die Messias bring vrede deur die verspreiding en oorwinning van die evangelie.  Mense wat dink dat hulle in dié lewe altyd voorspoed en rykdom kan hê, sal hopeloos en verward wees as die beproewing tref.  Sal dit nie beter wees as jy die evangelie verkondig en bid dat die goue tydperk van vrede aanbreek nie?

 

Om op universiteitsvlak te lees en wiskunde te doen, moet jy die alfabet ken en leer om te tel.  Maar beteken dit jy gaan vir ewig graad 1 handboeke koop?  In ‘n sekere sin is Kersfees die alfabet en basiese wiskunde.  Daarsonder kan jy nie verlossing en die ewige vrede van die hemel hê nie.  Maar moet asseblief nie by Kersfees vashak nie.  Begeer en verwag die ewige vrede wat kom.

[1] The Chronicles of Narnia, p.299

[2] Harry Wolhuter, Memories of a Game Ranger

Kategorieë