Coram Deo Cover Image

Coming soon...

13 February 2015

Twee toetse om te sien of jy Jesus liefhet

Shepherd and flock

Toe ek in die laerskool was het ons ‘n formule gebruik om te sien hoe baie ‘n seun en dogter van mekaar hou.  Ek sou byvoorbeeld skryf:  ‘Ivor true loves Deirdrè.’  Ek sou dan die formule uitwerk en in ekstase wees as dit op 98% uitkom.  As ek ‘n lae telling gehad het sou ek ons vanne by sit.  Soos baie ander kinders het ek geglo dis waar.

 

Die Bybel gebruik nie lawwe toetse om te sien of iemand Jesus liefhet nie.  In Johannes 21:15-19 gee God vir ons twee betroubare toetse om te sien of ons Hom liefhet.

 

Jou gehoorsaamheid (v.15-17)

Verlede jaar moes my oudste dogter ‘n gedig voorberei vir die kunswedstryd.  Die gedig het so geklink:

 

My ma kan ‘n pyn wees, dit moet jy weet.

Soms wens ek sy wil my naam vergeet!

As ek net ‘n bietjie op die rekenaar speel,

kla sy na uur:  ‘Dis heeltemal te veel!’

Sy sê dat ek met my gevroetel daar

haar rekenaar se brein weer heeltemal verwar.

Is julle ma’s ook so erg oor eet?

Die hemel weet, daar’s altyd kos gereed!

Tog moet ek sê, ek erken, nou ja:

Ek is regtig egtig baie lief vir my ma.

Want sonder haar, dis nou maar waar,

is my magie leeg en kom ek glad nie klaar.

 

Is dit waar dat hierdie kind sy of haar ma liefhet?  Hoekom nie?

 

Nadat die ontbyt op die strand (v.12-13) het Jesus met Petrus gepraat.  Jesus noem hom Simon, seun van Jona.  Jesus gebruik sy ou naam, om te wys dat hy soos die ou Petrus opgetree het (v.15, 1:42).  Johannes noem hom Simon Petrus om hom van Simon die Seloot te onderskei (v.15, Markus 3:18).  Petrus het by ‘n vuur gesit toe hy drie keer die Here verloën het (18:18, 13:38).  Nou sit hy weer by ‘n vuur waar Jesus hom drie keer vra of hy Hom liefhet (v.15-17, 9).  Toe Jesus gesê het dat die dissipels hom sou verloën, het Petrus geroem dat hy nie soos die ander was nie; dat hy Jesus meer liefgehad het:  “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie... Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie!” (Markus 14:29, 31).  Jesus sê nou in effek:  ‘Jy het met drie keer verloën.  Dink jy nogsteeds dat jy my meer liefhet as die res?  Is Ek jou eerste liefde?’ (sien v.15, Openbaring 2:4).

 

Die Griekse teks sê letterlik:

 

Vers 15:  Het jy my lief (agapao)?... Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).

Vers 16:  Het jy my lief (agapao)?... Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).

Vers 17:  Het jy my lief (phileo)?... Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).

 

Volgens sommige kommentators is agapao ‘n sterker liefde as phileo.  Volgens hulle vra Jesus of Petrus ‘n diep liefde vir Hom het.  Petrus sê dan dat hy ‘n sterk gevoel vir Jesus het.  Uiteindelik is Jesus tevrede dat Petrus se liefde net ‘n warm gevoel is.

 

Dit lyk egter nie of dit is wat die verse beteken nie.  In 2 Timoteus 4:10 kry Demas die wêreld lief (agapao) en in Johannes 5:20 het die Vader die Seun lief (phileo).  Dit is nie altyd waar dat agapao sterker is as phileo nie.  Vir Petrus was agapao en phileo dieselfde.  Hoe weet ons dit?  Toe Jesus gevra het of Petrus hom liefhet (agapao), het hy nie gesê:  ‘Nee, ek het U nie so lief (agapao) nie, maar het net ‘n warm gevoel van liefde (phileo).’ Sy antwoord op Jesus se vraag was:  ‘Ja...’

 

Petrus het drie keer gesê:  ‘Here, U weet dat ek U liefhet.’ (v.15-17).  Die laaste keer het hy gesê:  ‘Here, U weet alles.’ (v.17).  Sy belydenis dat Jesus alles weet was ‘n belydenis dat Jesus God is.  Jesus het die harte van alle mense geken (2:25).  In 16:30 het die dissipels bely dat Hy alles weet.  Volgens 18:4 het Jesus alles geweet wat oor Hom sou kom.  In 1:48-49 het hy geweet dat Nataniël ‘n opregte man is, en dat hy onder die vyeboom gesit het.  In 4:18 het hy geweet dat die Samaritaanse vrou vyf mans gehad het en tans saam met ‘n man bly.  In 6:64 het hy geweet wie in Hom glo en wie Hom sou verraai.  In Markus 2:8 het Jesus geweet wat die Fariseërs dink.  Die Grieks dui aan dat Jesus alles van Petrus geweet het; dat dit nie nodig was dat Hy iets oor hom moes leer nie.[1]  Hy het Petrus intiem geken.[2]

 

Om te bewys dat hy Jesus liefhet, sê Jesus drie keer dat Petrus sy lammers en skape moet oppas en voed (v.15-17).  Die lammers verwys dalk na kinders, nuwe bekeerlinge, of swak gelowiges (Jesaja 40:11).  In hfst.10 het Jesus gesê Hy is die Goeie Herder wat die skape versorg en sy lewe vir hulle aflê (Psalm 23, Matteus 2:6, Openbaring 7:17).  Petrus en alle ouderlinge is onder-herders wat die kudde oppas, voed en versorg (1 Petrus 5:1-2, Handelinge 20:28).

 

Ouderlinge moet Jesus se opdrag ter harte neem en dit uitvoer.  Moenie te gou wil preek nie.  Wees eers gehoorsaam voor jy vir ander sê om gehoorsaam te wees.  Dit is hoe Esra en Timoteus dit gedoen het:  “For Ezra had set his heart to study the Law of the LORD, and to do it and to teach his statutes and rules in Israel.” (Esra 7:10, ESV).  “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.” (1 Timoteus 4:16).

 

Moenie vir ander preek maar dan self in geheime sonde lewe, en so die Naam van die Here belaster nie (Romeine 2:21-24).  Moenie net die Bybel bestudeer om preke voor te berei of teologiese studies te doen, terwyl jy jou eie siel, vrou, en kinders afskeep nie.  Sorg vir jou eie siel; veg vir jou persoonlike stiltetyd:  “Gee dan ag op julleself” (Handelinge 20:28).  Voed jou vrou.  Moenie net vir haar kos op die tafel sit nie, maar sorg vir haar siel (Efesiërs 5:29).  Leer vir jou kinders die Bybel (Deuteronomium 6:7).  Moenie ‘n Marta wees wat altyd besig is om die Here te dien nie.  Wees eers ‘n Maria wat by sy voete sit (Lukas 10:38-42).

 

Wees lief vir Jesus.  Bewys dit deur sy kudde met die sappige soet gras van die Woord te voed (v.15-17).  In Jeremia 3:15 sê die Here:  “En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.”  Daar is baie dinge wat jou sal versoek en ontmoedig, sodat jy nie die Here se skape voed nie:  administrasie, mense, gemak, geld, lyding, of geen vrug op jou arbeid nie.  Bly by jou hooftaak:  voed die skape (v.15-17).  Preek die Woord, moenie jou fokus verloor nie, gebruik jou gawe (2 Timoteus 4:2, 1:7, 2:4).  Gee jouself aan gebed en die bediening van die Woord (Handelinge 6:4).  Moenie jou gawe verwaarloos nie (1 Timoteus 4:14).  Doen jou bes om die Bybel beter te ken en beter te preek.  Bestudeer jou Bybel, lees goeie boeke, woon konferensies by, praat met ander predikers.  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering... Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:13, 15).

 

Lidmate moet hulle leraars bemoedig.  Help hulle om die las te dra, sodat hulle vry kan wees om die skape te voed.  As jy die Here liefhet, sal jy Hom gehoorsaam (Johannes 14:15).

 

Jou dood (v.18-19)

In 1991 het Bryan Adams die tema lied gesing vir Robin Hood: Prince of Thieves.  ‘n Paar reëls uit die lied sê:

 

...Take me as I am, take my life.

I would give it all, I would sacrifice.

Don't tell me it's not worth fightin' for

I can't help it, there's nothin' I want more

You know it's true:

Everything I do, I do it for you, oh, yeah...

...I would fight for you, I'd lie for you,

Walk the wire for you, yeah, I'd die for you...

 

Baie mans sê so, en net soveel vroue wil dit hoor.  Tog is dit nie lank voordat hulle baklei, mekaar afskeep, egbreuk pleeg, en skei nie.  Dis maklik om te sê jy is lief vir Jesus en sal jou lewe vir Hom aflê.  Petrus het:  “Ek sal my lewe vir U gee.” (13:37).  “Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind ‘n betroubare man?” (Spreuke 20:6).  Petrus het Jesus drie keer verloën.  Net deur die Here se genade en ‘n sterk liefde vir Jesus sou hy ‘n marteldood kon sterf.

 

Vers 18 begin met ‘voorwaar, voorwaar’.  Die Grieks is ‘amen, amen’.  Ons sê ‘amen’[3] as ons klaar gebid het.  Jesus sê dit vóór Hy praat en wys so dat sy woorde absoluut seker is.  Toe Petrus jonk was het hy sy eie gordel vasgemaak en gegaan waar hy wou (v.18, 7).  Wanneer hy oud is sal hy nie sy eie besluite neem nie.  Ander sal hom vasbind en na ‘n kruis toe lei waar hy sy hande sal uitstrek (v.18).  Volgens oorlewering het Petrus só gesterf het:

 

Toe Nero vir Petrus wou doodmaak, het hy uit Rome gevlug.  Jesus het langs die pad aan hom verskyn.  Petrus het gevra:  ‘Waarheen gaan U?’  Jesus het gesê:  ‘Ek gaan om weer gekruisig te word.’  Petrus het teruggedraai en is onderstebo gekruisig.  Hy het gesê dat hy nie waardig was om gekruisig te word soos sy Here nie.[4]  So het Petrus die Here in sy dood verheerlik (v.19).

 

Dit lyk of Petrus in v.3 die bediening wou los en weer sy vissersbesigheid wou opneem.  Nou het Jesus vir hom gesê om die kudde te versorg; om Hom te volg (v.15-17, 19).  ‘Volg my’ (v.19) impliseer dat Petrus soos Jesus aan ‘n kruis sou sterf (vgl. Lukas 9:23).  Die feit dat Petrus bereid was om vir Jesus te sterf, het bewys dat hy Hom liefhet.

 

Wees lief vir Jesus in lewe en dood.  In Suid-Afrika sal jy waarskynlik nie jou lewe gee of ‘ten bloede toe weerstand bied nie’ (Hebreërs 12:4).  Maar dit mag kom.  Jy moet bereid wees om vir Jesus te sterf.  Is jy bang?  Jy hoef nie bang te wees as jy Hom in jou lewe liefgehad het, vir genade gevra het, en nederig is nie.  Jy sal nie alleen deur die dal van doodskaduwee gaan nie – Hy is met jou (Psalm 23:4).  As jy vir sy Naam ly sal sy Gees op jou rus en jou help (1 Petrus 4:14).  Onthou sy kruisdood en liefde vir jou.  Dit sal jou help om Hom tot die einde toe lief te hê:  “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1 Johannes 4:19).

 

Begeer jy om vir die Here te sterf?  Wees versigtig.  Dis moontlik om jou lewe te gee sonder dat jy Hom liefhet (1 Korintiërs 13:3).  Roem jy dat jy nie die Here sal verloën nie?  Onthou vir Petrus.  Sal jy jou lewe vir Hom gee as jy nie eers die evangelie met ander kan deel, of opstaan vir wat reg is nie?  Hoe sal jy jou lewe gee as jy nie eers bereid is om jou tyd en geld te gee nie; as jy nie eers getrou is aan sy kudde nie?  Jy sing I surrender all, maar is jy regtig bereid om alles op te gee en Hom te volg (Lukas 14:33)?  Ware liefde is om Hom tot die einde toe lief te hê.

 

Lank gelede was daar ‘n prinses wat in ‘n draak se kasteel toegesluit was.  Na baie jare het ‘n dapper en aantreklike prins op sy wit perd gekom, die draak doodgemaak, die prinses gered.  Hy het haar gesoen, ‘and they lived happily ever after’.  Hierdie verdraaide beeld van liefde kry jy net in feëverhale.  In die regte wêreld word liefde bewys deur ‘n voortdurende begeerte om iemand anders te behaag en sy of haar belange bo jou eie te plaas; deur ‘n gewilligheid om op te offer vir ander.  So moet jou liefde vir Jesus wees.

[1] Die Griekse woord vir kennis (oida) is ‘n perfektum.

[2] As Petrus sê dat Jesus alles weet gebruik hy die woord ginosko wat spreek van ‘n intieme kennis.  Die woord is in ‘n voortdurende tydsvorm.

[3] Amen beteken ‘laat dit so wees’.

[4] John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, pp.12-13

Kategorieë