“13:22 ‘n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre. 14:26 In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees. 15:20 ‘n Wyse seun verbly sy vader, maar ‘n dwase mens verag sy moeder. 17:2 ‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel. 19:26 Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel. 20:7 Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom. 23:22 Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie. 23:23 Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. 23:24 Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. 23:25 Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het. 27:8 Soos ‘n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (Spreuke).
Sekuriteit vir jong kinders
Ons almal weet van besighede wat vir geslagte in 'n familie bly. 'n Slim ouer dink, werk en beplan so. Hy werk nie net vir die hier en nou nie. Hy dink nie net aan homself nie, maar ook aan sy kinders en kleinkinders se toekoms: “'n Goeie mens laat sy kindskinders erwe” (13:22a). “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” (Psalm 37:25). Net soos wat Jesus 'n erfdeel vir sý kinders nalaat, moet ons vir óns s'n doen. Dit is nie altyd moontlik nie, maar indien jy kan, moet jy vir hulle 'n materiële erfenis gee. Indien jy dit nie kan doen nie, sal God vir hulle sorg. Alles is buitendien God s'n, sodat Hy dikwels die goddelose se rykdom vir die regverdige gee.
'n Baptiste predikant in ons land het 'n ongelowige swaer gehad. Dié swaer was 'n multi-miljoenêr, maar het die evangelie gehaat en wou nie veel met die predikant te doen hê nie. Die slegte man het sy vrou (die predikant se suster) geslaan, sodat sy gereeld haar broer gebel het en met trane gesê het: “My man gaan my doodmaak.” Hulle het in hulle kar geklim en die 700 km afgelê om mooi met die man te praat. Maar hy was so hard soos 'n klip. Uiteindelik het sy vrou siek geword en is sy oorlede. Die predikant het hom gereeld gebel om te hoor hoe dit met hom gaan. Hy was nogsteeds hard en so toe soos 'n boek. Die predikant het nie moed opgegee nie. Eendag toe bel hierdie goddelose man die predikant: “Ek wil graag hê jy en jou vrou moet vir my kom kuier.” Hulle het gegaan. Hy het sy testament gewysig en gesê hy wil hê dat húlle sy miljoene moet erf. Twee weke later het hy selfmoord gepleeg. Toe die polisie op die toneel verskyn, het twee polisiemanne 'n paar duisend rand gesteel en die storie verdraai. Die koerant het gesê dat die predikant en sy vrou die man vermoor het. Maar die Here het gesorg dat die waarheid uitkom. Die polisiemanne is gevang en die predikant en sy vrou het miljoene geërf. Hulle het BAIE geld vir sending en die verspreiding van die evangelie gegee.
Hierdie storie bevestig net die waarheid van 13:22b: “...die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.” Nóg tekste in die Bybel sê: “Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.” (28:8). “As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder—hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.” (Job 27:16-17). “Want aan ‘n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” (Prediker 2:26).
Geestelike rykdom is ononderhandelbaar: jy móét dit vir jou kinders nalaat. Gee vir hulle die Woord van God en die evangelie. Maak seker dat jy vir hulle 'n goeie en gesonde kerk nalaat. Onthou dat geld nie belangriker is as 'n goeie karakter nie. Party ouers dink dat hulle vir hul kinders sekuriteit bied in rykdom, beleggings, goeie opvoeding of 'n helder toekoms. Hulle spandeer die meeste tyd hieraan en gee baie min aandag om hulle kinders van Jesus en sy Woord te leer. Jóú heiligheid en vrees vir God is die grootste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee: “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees...Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.” (14:26, 20:7). Dis nie die wisselkoers of groot beleggings wat hulle sal veilig hou nie, maar “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (18:10). “Die vrees van die HERE is tot die lewe” (19:23). Dís die ware skat en belegging en rykom – om God te ken en Hom te vrees: “En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ‘n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees.” (Jesaja 33:6). Jy hoef nie skelm te wees of onderduims te handel om ekstra geld in te bring om vir jou gesin te sorg nie. As jy so lewe sal God jou nie seën nie. Wees eerlik, opreg en deursigtig – dán sal die Here jou kinders seën: “Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.” (20:7). Wandel in die lig: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:7).
'n Ouer wat God vrees hoef niks anders te vrees nie. Sy kinders sal veilig wees – veral van God se toorn deur die evangelie wat hy vir hulle geleer het: “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees.” (14:26). Indien ouers vir hulle kinders 'n voorbeeld en toevlug wil wees, is dit belangrik dat hulle baie tyd by die huis moet spandeer. Moenie 'n besigheidspersoon wees wat nooit tuis is nie, gedurig laat werk of vir ure voor die TV sit as jy na werk by die huis kom nie. Daar bestaan nie iets soos kwaliteit tyd sonder kwantiteit tyd nie. Dit is beter om elke dag met jou kinders te gesels, in hulle belang te stel en vir hulle die Bybel te leer, as om een keer in twee weke R500 se geskenke vir hulle te koop. “Soos ‘n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (27:8). Die les is duidelik: wees by die huis. Moenie dink die gras is groener oorkant die heing, sodat jy wegdwaal nie. Skape is altyd die veiligste in die kraal. Hierdie les geld ook op 'n geestelike vlak. Jesus verlaat nooit sy bruid, kinders en gesin nie. Hy is getrou en lojaal. Moet jy dan ook nie van Hom en jou geestelike gesin (die kerk) af wegdwaal nie.
Respek vir bejaarde ouers
In my paar jare van bediening het ek al genoeg ouers gesien wat treur oor hulle volwasse kinders se dwase optrede. Moenie so 'n kind wees nie. Respekteer jou bejaarde ouers. Moenie wees soos 'n man wat ingebel het op RSG nie: “Ek wil vra dat die mense asseblief vir my sal bid. Ek slaan my ma.” Moenie wees soos die gevoellose man wat sy bejaarde ouers uit die woonstel agter in sy erf wou uitsit nie. Onthou eerder dat jou pa aan jou lewe gegee het en jou ma jou in die lewe gebring het (23:22, 25). Onthou hoe jou ouers opofferingings gemaak het toe jy jonk was. Dink aan al die lewenslesse wat jy uit hulle monde gehoor het; en wees selfs as 'n volwassene bereid om van hulle te leer (23:22-23, 31:1). Moenie met jou bejaarde ouers spot, hulle verwaarloos of hulle vloek nie. Moenie disrespek betoon, hulle geweld aandoen of hulle wegjaag nie. In Bybelse tye sou die laasgenoemde veral belangrik wees, omdat families saamgewoon het (dink maar aan Jakob en sy seuns). Bewys liefde aan jou bejaarde ouers: bel hulle, bid vir en saam met hulle, besoek hulle, respekteer hulle en sorg vir hulle – veral as jou ma 'n weduwee is: “...‘n dwase mens verag sy moeder...Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.” (15:20b, 19:26).
“Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ‘n offergawe—dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie. So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” (Matteus 15:4-6). Met ander woorde, as jy jou familie pligte versuim, omdat jy dinge vir die Here se werk wil doen, sondig jy. God sal nooit vir jou sê om iets vir Hom te doen wat jou familie sal laat ondergaan nie. Jesus self het in sy sterwensuur voorsorg getref vir sy weduwee-ma: “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Johannes 19:26-27).
As jy wil hê dat jou kinders jou nie weggooi wanneer jy oud word nie, moet jy sorg dat jy hulle reg tug en opvoed wanneer hulle jonk is. Indien jy toelaat dat hulle disrespekvol is wanneer hulle klein is, sal hulle erger wees wanneer hulle groot is (dalk sal hulle selfs geweldadig wees). As jy te streng is of hulle mishandel, sal hulle wraak neem wanneer jy oud word en jou skade aandoen (nie dat dit enigsins reg is nie). Maak hulle reg groot. Wanneer jy oud is sal hulle jou liefhê en respekteer. In die woorde van Salomo in Prediker 11:1: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.”
My ma het al dikwels gesê dat sy soos Johannes in 3 Johannes 4 voel: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.” Deur die Here se genade is al vier my ouers se kinders gered (en al hulle skoonkinders). Ouers sal bly wees wanneer hulle na jare se harde werk sien hoe hulle kinders wys is en hul lering uit die Skrifte gehoorsaam en toepas: “‘n Wyse seun verbly sy vader...” (15:20a). “Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.” (23:24-25). Jy moet onder andere nie 'n ongelowige lewensmaat kies wat die lewe vir jou ouers hel sal maak nie (Genesis 26:34-35, 27:46). Maak jou bejaarde ouers bly.
As jy hierdie verse ignoreer, sodat jy dwaas en rebels is, dan sal jy skande bring op die familienaam: “Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.” (19:26). Jy sal geen erfenis kry nie. Een van die betroubare werkers sal die plaas of familie besigheid oorneem: “‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.” (17:2, cf. 2 Samuel 16:4, 1 Konings 11:26-38). In die kultuur waarin Salomo geleef het, was die erfdeel 'n groot ding. In ons tyd voel baie kinders 'n veer vir hulle erfenis of hul ouers se seën. Maar hulle sal spyt wees as dit te laat is, as hulle op hul oudag besef wat hulle verloor het (soos Esau of soos ouers wat hulle kinders terugsoek jare nádat hulle die kinders opgegee het vir aanneming).
Net soos wat jy jou aardse pa moet blymaak, moet jy ook jou Hemelse Vader bly maak. Moenie dat sý Naam as gevolg van jóú sondige optrede deur die modder gesleep word nie (Romeine 2:24). Uiteindelik was dit net Jesus wat sy Vader se hart bly gemaak het (Matteus 3:17). As jy in Christus glo en jou bekeer, sal God jou vergewe, terugneem, en Hom in jou verbly (Lukas 15:11-32). Jy sal soos die goeie dienskneg wees wat die erfenis verkry, terwyl die skandelike seuns van die koninkryk (rebelse Israel) uitgewerp word: “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 8:11-12).