Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 April 2012

Tien bewyse vir Jesus se opstanding

In die verlede was dit net liberale teoloë wat Jesus se liggaamlike opstanding ontken het.  Vandag ontken lidmate en predikante dit.  Hoe antwoord ons die vals leraars en help ons verwarde lidmate reg?  Hier is tien bewyse vir die liggaamlike opstanding van Jesus Christus.

[1] Die vroue het vroegoggend gegaan om Jesus se lyk te balsem (Mark. 16:1).  Hulle het nie gegaan met die verwagting dat Hy uit die dood uit opgestaan het nie.  Duidelik was dit nie húlle wat die ‘storie’ van Jesus se opstanding uitgedink of opgemaak het nie.

[2] Die dissipels wou nie glo die graf is leeg nie (Luk. 24:11).  Dan is dit eenvoudig nie waar om te sê dat hulle die liggaam gesteel het nie.  Buitendien was die grafsteen verseël en is dit deur Romeinse soldate bewaak (Matt. 27:66).

[3] Daar was nie 'n liggaam in die graf nie en die opgevoude grafklere wys dit was nie werk van grafrowers nie (Joh. 20:6-7).  'n Rower is haastig en wil nie uitgevang word nie, en daarom los hy dinge deurmekaar.

[4] Die dissipels het vasgehou aan die waarheid van die opstanding en was bereid om daarvoor te sterf.  Ek sal dalk sterf vir 'n valsheid wat ek vas glo, maar ek sal nie sterf vir iets wat ek opgemaak het en weet is onwaar nie.

[5] Daar was meer as 500 ooggetuies van die opstanding (1 Kor. 15:6).  Indien die storie opgemaak is sou iemand daarmee uitgekom het.

[6] Oppad Getsemane toe het Jesus vir sy dissipels gesê dat Hy ná die opstanding vooruit sal gaan Galilea toe en hulle daar ontmoet (Matt. 26:32).  Die vroue het hierdie selfde boodskap aan die dissipels oorgedra ná die opstanding.  Waar anders kon die vroue dit gehoor het as by die engel en die opgestane Jesus self (Matt. 28:7, 10)?

[7] Met diep droefheid het die vroue graf toe gegaan (Joh. 20:11).  Met oorweldigende blydskap is hul daar weg (Matt. 28:8).  Die radikale verskil in emosie vóór en ná hulle besoek aan die graf wys vir ons iets van die feitlikheid van Jesus se opstanding.

[8] Die ongelowige soldate self het gesien dat die klip weggerol word en dat die graf leeg is; vir 'n redelike bedrag geld is die storie verdraai (Matt. 28:11-15).

[9] In die Naam van die opgestane Jesus het die apostels mense met organiese siektes genees (Hand. 3:2, 6-7, 12-16).  Die ongelowiges self kon dit nie ontken nie (Hand. 4:14, 16, 22).  Indien Jesus dood was, sou sy Naam geen krag gehad het nie en sou niemand in sy Naam genees kon word nie.  Ook gebede wat in Jesus se Naam gebid word, word beantwoord.  Indien die Jesus tot wie ons bid nog in die graf is, sal ons gebede nie beantwoord word nie.

[10] In die 21ste eeu nog word sondaars wat geestelik dood was, opgewek tot 'n nuwe lewe, sodat mense nie kan glo dis dieselfde persoon nie.  Hoe verander 'n geharde sondaar binne oomblikke in 'n liefdevolle en nederige persoon?

Sonder die liggaamlike opstanding is daar geen troos vir gelowiges wat siekte en pyn verduur in hulle liggame nie.  Sonder die liggaamlike opstanding bestaan daar nie iets soos wedergeboorte en bekering (die opstanding van die siel) nie.  Sonder die liggaamlike opstanding sal óns liggame nie opgewek word wanneer Jesus weer kom nie.  Sonder die liggaamlike opstanding is die dood nie oorwin nie en gaan niemand hemel toe nie.  Sonder die liggaamlike opstanding is Jesus dood en is ons sondes nie vergewe nie.  Sonder die liggaamlike opstanding bestaan die evangelie nie en is ons nie Christene nie.  So leer 1Korintiërs 15.  Daarom bely ek met my hele hart saam met Christene in die geskiedenis:  Jesus leef!

Kategorieë