Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 June 2022

Ses kenmerke van vals godsdiens

Lukas 11:37-54

In Matt. 15:12-14 lees ons: “Toe die dissipels nader kom, sê hulle vir Hom: ‘Weet U dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle dié uitspraak hoor?’ Hy het egter geantwoord: ‘Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal met wortel en al uitgetrek word. Los hulle—hulle is blinde leiers van blindes; en as ’n blinde ’n blinde lei, sal albei in die sloot val.’”

Ons generasie is sag. Jy kan skaars iets negatief sê, dan neem mense aanstoot. Die hele PEPUDA afvere is ’n voorbeeld hiervan. As iemand net ’n bietjie aanstoot neem, kan hy jou van haatspraak aankla.

Dit is so dat ons nie ‘heresy hunters’ moet wees wat ’n duiwel agter elke bos soek nie. Maar soms moet jy die wolwe uitwys en op mense se tone trap (1Tim. 1:20, 2Tim. 1:17, 3Joh. 9). Dit is wat Jesus in Lukas 11 gedoen het.

 

1. Vals godsdiens is uiterlik (v.37-41)

Het jy al opgemerk hoe vals godsdienste uniforms dra: Islam, die Sioniste (ZCC), Shembe, die Katoliekekerk, die Mormone met hulle swart langbroeke, wit hemde en swart dasse? Ongelukkig het ons Protestantse voorvaders dit met hulle togas en wit dasse gedoen.1

Die Fariseërs was dieselfde: “Al hulle dade is bedoel om deur die mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer.” (Matt. 23:5). Saam met die Sadduseërs was die Fariseërs die geestelike leiers van Israel. Laasgenoemde was teologies-konserwatief (Hand. 23:8). Hulle het die Ou Testament geglo, maar ook die tradisies van hulle voorvaders. Ons sien dit onder andere in v.37-38: “Tydens Jesus se redevoering het ’n Fariseër Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het by sy huis ingegaan en aangeleun om te eet. Die Fariseër was verbaas om te sien dat Jesus Hom nie voor die ete laat was het nie.”

Vir die Fariseërs het dit nie gegaan om goeie higiëne nie, maar oor rituele reiniging. Uit vrees dat hulle onwetend aan iets onrein geraak het (vgl. Levitikus 13-15), het hulle hulle hande gewas (Mark. 7:1-5).

Vandag vereis vals godsdienste dieselfde. Volgens die Katoliekekerk skenk die kinderdoop reddende genade. By die nagmaal of heilige mis soos hulle dit noem, word Jesus herhaaldelik vir ons sonde geoffer. Derhalwe kom reddende genade deur die nagmaal. Katolieke lidmate moet met behulp van krale bid en sekere rympies opsê. Een van hierdie gebede is die ‘hail Mary’ waardeur hulle Maria vereer. As ’n Katoliek gesondig het, moet hy dit aan ’n menslike priester bely. Omdat die Bybel dit nie beveel of vereis nie, is hierdie rituele en gebruike vals godsdiens.

Protestante het hulle eie weergawe van uiterlike godsdiens. Ons vereis dinge wat die Bybel nie beveel nie: die kinderdoop, die toewyding van babas, Christelike Feesdae, ’n spesiale erediens op vadersdag en moedersdag. Ek bedoel nie dat hierdie dinge noodwendig verkeerd is nie (Romeine 14), maar dit raak ’n probleem as jy dit op ander wil afdwing. Twee van my kollegas het dit beleef. Toe Kersdag een jaar op ’n Saterdag val, toe besluit ’n kollega in Alberton om nie op Kersdag ’n erediens te hou nie, maar op die Sondag. ‘Wat? Geen erediens op Kersdag nie?’ Waar beveel die Bybel ons om op Kersdag ’n diens te hê?

’n Ander kollega het ’n naweek konferensie bygewoon en hulle gemeente se Goeie Vrydagdiens afgestel. Een van sy lidmate was baie ontsteld. Weereens vra ek waar die Bybel ons beveel om op Goeie Vrydag ’n diens te hê. As jy op hierdie spesiale dae ’n diens wil hou is dit goed, maar moet dit nie op ander afdwing nie.

Vals godsdienste werk volgens ’n geestelike kalender (Gal. 4:10). Hulle is op die uiterlike ingestel. Die Fariseërs was so. Maar wat help dit jy was die buitekant van die beker as die binnekant vuil is; wat help dit jy is uiterlik moreel as jou hart vol gierigheid en boosheid is (v.39, 16:14, 20:47)? Dit help nie jy sing Sondag in die kerk en buig jou hoof by die nagmaal as jy in die week na pornografie kyk, skinder, dronk word, geld jaag, jou huweliksmaat afbreek, skelm besigheid bedryf, terugpraat met jou ouers of vuil taal gebruik nie. Jakobus sê: “As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ’n mens se godsdiens is vergeefs. Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.” (Jak. 1:26-27).

God het die innerlike, sowel as die uiterlike gemaak (v.40, Gen. 2:7). Jy moet Hom met albei liefhê (10:27m 2Kor. 7:1). Uiterlike aanbidding is nie genoeg nie (v.40). As jy die innerlike mens aan die Here wy, is die uiterlike ook aanneemlik (v.41, 2Kor. 8:5). Dit is soos ’n meer en ’n fontein: as die fontein wat die meer voed skoon is, sal die meer ook skoon wees. As jou hart rein is, sal jou woorde, gedagtes en dade ook rein wees (Spr. 4:23, Matt. 15:19). Vra die Here vir ’n nuwe hart; ’n hart wat rein is en Hom opreg sal dien (v.41, Ps. 51:12, Eseg. 36:26, Hand. 15:9, 1Joh. 1:7).

 

2. Vals godsdiens is wetties (v.42, 45-46)

Ek het al gesien hoe iemand ’n medegelowige op ’n tegniese punt in ’n konstitusie seermaak. Vals godsdiens is so: dit is meer besorg oor sy eie reëls as om God en mense lief te hê. Die Fariseërs het dit gedoen: “Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en allerhande soorte kruie, maar julle verwaarloos die reg en die liefde vir God. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.” (v.42). Die Fariseërs se gee van tiendes was nie om ander te seën nie, maar met die hoop dat hulle daardeur die hemel sou behaal. Die teenoorgestelde sou gebeur—hulle sou ’n vreeslike straf ondergaan: ‘Wee!’ (v.42, 43, 44, 46, 47, 52).

Selfs as dit by goeie werke kom, is vals godsdienste selfgerig. Wyle Martin Holdt het vir ons gesê: ‘Almal dink die Jehovas Getuies is ywerig. Hulle is nie ywerig nie; hulle is bang! Hulle vrees dat as hulle nie genoeg goeie werke doen nie, hulle die ewige lewe sal mis.’

Wat van jou? Hoekom woon jy eredienste by, dra jy vir die gemeente by, bid jy, wil jy gedoop word, gebruik jy die nagmaal, doen jy goeie werke en lees jy jou Bybel? Doen jy dit uit liefde vir God, of omdat jy bang is jy gaan nie hemel toe nie? Hoe jy hierdie vraag antwoord sal wys of jou godsdiens waar of vals is. Ware godsdiens is Godgerig; vals godsdiens is selfgerig.

Toe ’n sekere wetgeleerde hierdie dinge uit Jesus se mond hoor, toe neem hy aanstoot (v.45). Hoekom het hy aanstoot geneem? Want hy was so skuldig soos die Fariseërs—sy godsdiens was uiterlik, maar van binne was hy vrot.

Moenie soos die wetgeleerde wees, sodat jy aanstoot neem en die kerk verlaat as die Here jou sonde uitwys nie. Bely liewer dat jou hart nie reg is nie en bekeer jou. Die wetgeleerdes het dit nie gedoen nie. Hulle het mense met hulle eie interpretasies van die wet oorlaai en ekstra reëls bygevoeg: “Daarop het Hy gesê: ‘En ook julle wetskenners, wee julle, want julle belas die mense met ondraaglike vragte, en self raak julle nie met ’n vinger aan die vrag nie...” (v.46). Ons sien in v.38 hoe seremoniële reiniging ’n vereiste vir geestelike reinheid geword het. Die Fariseër in 18:12 het hom daarop beroem dat hy twee keer per week vas. Waar beveel die Bybel ons om twee keer per week te vas? Die Jode in Joh. 5:10 het vir ’n man gesê dat hy nie op die Sabbat sy slaapmatjie mag rondra nie. Waar het die Here dit beveel? Die Jode in Joh. 9:14, 16 was kwaad dat Jesus iemand op die Sabbat genees het. Waar verbied die Bybel dit? Hierdie en ander eksterne reëls het uit die wetgeleerdes se eie interpretasie gekom.2

Elke vals godsdiens oorlaai mense met buite-Bybelse reëls. Die Mormone sê jy mag nie koffie drink nie. Volgens die Adventiste is dit beter om ’n vegetariër te wees as om vleis te eet. Almal van ons se harte is so: ons neig na reëls om God se guns te wen. Jy besluit byvoorbeeld om gesond te eet en voel dan skuldig as jy ’n sjokolade eet. Hoekom voel jy skuldig? Sê die Bybel jy mag nie sjokolade eet nie? Wanneer ons sonde doen, probeer ons dit met goeie dade uitkanselleer, terwyl die Bybel ons eenvoudig beveel om dit met ’n berouvolle hart te bely.

Selfs waar dit by Bybelse voorskrifte kom, moet ons versigtig wees. God het sy wet nie gegee dat ons daardeur gered moet word nie (Hand. 15:1, 10, Ef. 2:8-9). Wettiesisme maak jou hooghartig of depressief: depressief dat jy nie by God se standaard kan uitkom nie en hooghartig, omdat jy minder as ander sondig. Wettiesisme maak jou ongenaakbaar en genadeloos soos in v.46: “...julle belas die mense met ondraaglike vragte, en self raak julle nie met ’n vinger aan die vrag nie.”

Wat beteken hierdie vers? Die Joodse leiers het dinge van mense vereis wat hulle self nie gedoen het nie (Matt. 23:3, Gal. 6:13). Volgens die Joodse Mishna in Shabbat 10:3 kon iemand nie sy slaapmatjie op die Sabbat rondra nie. Om ’n ‘loophole’ in die wet te maak, het hulle gesê: ‘Jy mag dit met jou ken of jou mond ronddra; jy mag dit op die bokant van jou hande dra.’3

Buiten dat hulle hulle eie reëls verbuig het, het die wetgeleerdes nie ’n pastorale hart gehad nie. Waar iemand in sonde geval het, het hulle nie gehelp nie, maar die persoon geskop (v.46, vgl. Gal. 6:2). Doen ons nie maar dieselfde deurdat ons dié wat ons reëls oortree as ongered bestempel nie? Ja, maar wat as die Bybel dit vereis? Dan moet jy die persoon nog steeds in ’n gees van sagmoedigheid reghelp (Gal. 6:1). Ek besef dat ek ver kortskiet. Wees my ’n arme sondaar genadig!

 

3. Vals godsdiens soek mense se lof (v.43)

Conrad Mbewe vertel van ’n Zambiese vrou wat ’n besoekende prediker ‘sir’ genoem het. Die prediker het kwaad geword en gesê: ‘I am pastor!’ Ek het al gehoor hoe sommige predikers die titel ‘man of God’ verkies. Die Fariseërs was so. Hulle wou belangrik voel en titels hê (v.43, Matt. 23:7).

Ware godsdiens is nie so nie. Dit is nie uitspattig nie. Die geestelike leier wat ware godsdiens beoefen, lyk nie anders as die res nie. Hy sit nie soos TBN se klomp met vreeslike hare, juwele en klere op ’n troon nie. Ware godsdiens wil die Here behaag (1Tess. 2:4). Vals godsdiens soek die lof van mense (v.43, Matt. 6:1-2, 5, 16).

Watter een is jy? Dien jy die Here wanneer niemand jou sien nie (Matt. 6:6)? Soek jy God se eer alleen en leef jy daarvoor (Ps. 115:1, Jes. 48:11)?

 

4. Vals godsdiens is leweloos en onrein (v.44)

’n Sekere prediker in die Laeveld was baie populêr onder die mense. Toe hy later in ernstige sonde verval, toe kom hy met ’n skok agter hy is nie gered nie.

Soos hierdie prediker, was die Fariseërs ongered. Hulle was soos ongemerkte grafte: uiterlik skoon, maar van binne vol sonde en geestelik dood (v.44, Matt. 23:27-28, Ef. 2:1). Gevolglik kon hulle nie geestelike lewe vir mense bring nie (v.44). Hulle was geestelik kragteloos (2Tim. 3:5). Soos ’n ongemerkte grafte die een wat daaraan vat onrein maak (Num. 19:16), het die Fariseërs mense onrein en geestelik dood gemaak (v.44).

Vandag nog is daar sulke godsdienste. Van buite af lyk dit goed, maar hulle is geestelik dood en maak mense onrein. Waak teen hulle. Ek dink byvoorbeeld aan die Word of Faith beweging en die Hebrew Roots Movement. Baie mense in Christelike gemeentes val vir hierdie dwalings. Wees op jou hoede! Hierdie ketters belowe vryheid, terwyl hulle self slawe van reëls, regulasies en allerhande sonde is (Kol. 2:20-23, 2Pet. 2:19).

 

5. Vals godsdiens vervolg ware godsdiens (v.47-51, 53-54)

Dit was nog altyd so. Kain se godsdiens was vals en Abel s’n waar. Kain het sy broer Abel vermoor (Genesis 4). Stefanus se godsdiens was waar en Saulus s’n vals. Saulus het vir Stefanus vervolg en toegesien dat hy gestenig word (Handelinge 7). Na Saulus se bekering het die Jode aagehou om Christene te vervolg net soos Ismael sy halfbroer Isak vervolg het: “Maar, soos hy wat op ’n natuurlike manier verwek is, destyds die een vervolg het wat deur die werking van die Gees verwek is, so gebeur dit ook nou.” (Gal. 4:29).

Vandag kom die die grootste vervolging van Moslems af. In die Middeleeue het die Katoliekeker ware Christene tot die dood toe vervolg. Ons weet dat Kommuniste dieselfde doen. In Jesus se tyd en deur die geskiedenis het die Jode God se kinders vervolg (v.47-51, 53-54). Hulle wou kamtig die profete vereer deur hulle grafte te versier, maar het soos hulle voorvaders geleef wat die profete vermoor het. Hulle moes hulleself van die moordenaars distansieer, maar het hulle vereenselwig (v.47-48)! Jesus is die Wysheid van God (v.49, 1Kor. 1:24, Kol. 2:3). As God se Wysheid het Hy verdere vervolging voorspel: “Ek sal profete en apostels na hulle stuur, maar hulle sal sommige doodmaak en vervolg.” (v.49). Dit het presies so gebeur. Die vervolgers het vir Stefanus en Jakobus doodgemaak. In 1Tess. 2:14-16 sê Paulus:

“Want julle, broers, het die voorbeeld gevolg van die gemeentes van God in Christus Jesus wat in Judea is, omdat julle dieselfde dinge onder julle eie mense gely het as hulle onder die Judeërs, hulle wat die Here Jesus en die profete doodgemaak, en ons ernstig vervolg het, wat God nie tevrede stel nie, en vyandig teenoor alle mense is, en wat ons verhinder om met die heidene te praat, sodat hulle verlos kan word. So het die Jode se sondes in elke opsig hulle volle maat bereik, en die oordeel het uiteindelik oor hulle gekom!”

Die Fariseërs was die geslag wat die Messias gekruisig het. Hulle was een met hulle voorvaders wat die Ou Testamentiese profete vermoor het (v.51-52, Hand. 7:52-53). ‘Van Abel tot by Sagaria’ (v.51). Abel is in Genesis 4 vermoor, terwyl Sagaria in 2Kronieke 24 vermoor is. Die Hebreeuse Ou Testament bevat dieselfde boeke as ons s’n, maar is in ’n ander orde. Genesis is die eerste boek, terwyl 2Kronieke die laaste boek is. Jesus sê met ander woorde dat hulle van begin tot einde die profete vermoor het. Deurdat hulle uiteindelik die Seun van God vermoor het, het hulle die kersie op die koek gesit (Matt. 21:37-39). Hulle het Hom reeds soos ’n leeu ingewag (v.53-54) en daarom sou ’n groot straf oor hulle kom (v.50-51). Dit het in 70 n.C. gebeur toe daar deur die Romeine ’n miljoen Jode gesterf het en 97 000 gevange geneem is.4 Jesus bedoel ook dat die Fariseërs beswaarlik van die hel sou ontsnap (Matt. 23:33).

Ons is net so skuldig, omdat ons sonde vir Jesus se dood verantwoordelik is. Maar daar is vergifnis deur dieselfde kruis waaraan Jesus vir ons sonde gehang het. As jy opregte berou het, sal die Here jou vergewe (Hand. 2:36-38). Dan sal die kruis vir jou ’n plek van lofprysing en danksegging word, omdat Jesus jou daardeur kom red het (1Kor. 2:2, Gal. 2:20, 6:14). Indien jy die kruis verwerp en jou eie geregtigheid opstel, wag daar vir jou ’n verskriklike straf (Heb. 2:3, 10:29). Die Here sal jou vervolg soos jy sy kinders vervolg het (2Tess. 1:6).

 

6. Vals godsdiens lei mense hel toe (v.52)

Vir ’n duisend jaar het die Katoliekerk die Latynse Bybel gebruik en mense in die donker gehou. Slegs die geleerdes kon Latyn lees. Die gewone man in die kerkbank het dit nie verstaan nie. Sodoende het die priesters die ware kennis van God van die mense weerhou.

Die wetgeleerdes in Jesus se tyd het iets soortgelyk gedoen. Hulle het mensgemaakte tradisies eerder as die Bybel verkondig. Hulle het God se Woord van die mense weerhou (v.52). Sodoende het God se volk in haar sonde weggekwyn: “My volk kom om weens ’n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet.” (Hos. 4:6). “...Die lippe van ’n priester moet immers kennis in stand hou. Mense soek onderrig in wat hy sê, omdat hy 'n boodskapper is van die Here, Heerser oor alle magte. Maar júlle het afgewyk van die pad en baie mense laat struikel deur julle onderrig. Julle het die verbond met die Leviete geskend,’ sê die Here, Heerser oor alle magte.” (Mal. 2:7-8).

Vandag weerhou baie predikers die kennis van God. Hulle is veronderstel om God se Woord te verkondig (2Tim. 4:2), maar nou preek hulle wat mense wil hoor (2Tim. 4:3-4). Ek het dit eerstehands beleef. Tydens een vakansie het ons ’n gemeente in Limpopo besoek. Die prediker het ’n motiverende toespraak gelewer. Aan die einde van sy toespraak het hy drie of vier Bybelverse aangehaal. Sulke predikers verdoem hulleself en hulle hoorders, omdat ’n mens slegs deur die ware kennis van God die koninkryk kan ingaan (v.52, Matt. 23:13). Dit is erg genoeg as die leiers hel toe gaan, maar dit is erger dat hulle ander met hulle saamvat (v.52, Matt. 23:15).

Bly weg van sulke predikers. Moenie op die internet, TBN, of in persoon na hulle luister nie. Moenie dink jy is slim en sterk genoeg om hulle dwaling te weerstaan nie. Daar sit demone agter hulle lering; hulle sal jou uitvang (1Tim. 4:1). Dit is sonde om na hulle te luister. Die Bybel beveel jou om dwaling te vermy (Rom. 16:17). Jy stel jouself in gevaar. Ek het gesien hoe dit met iemand gebeur. Ons het iemand gewaarsku om nie ’n sekere kultus te besoek nie. Die persoon het ons geïgnoreer en gegaan. Eers toe die prediker sy baadjie uittrek, tussen die banke loop en aankondig dat hy die Messias is, het sy wakker geskrik.

Moenie met dwaling speel nie. Die duiwel is nie jou speelmaat nie. Wat die Here van Leviatan (’n reusagtige dier; moontlik ’n dinosourus) sê, geld vir die duiwel: “As jy jou hand op hom plaas, sal jy die geveg onthou; jy sal dit nie weer doen nie.” (Job 40:27). Dit is waar dat die duiwel nie verder kan gaan as wat die Here toelaat nie (Job 1:12), maar dit is ook waar dat die Here jou aan Satan kan oorlewer, sodat hy jou liggaam vernietig (1Kor. 5:5). Kom skuil asseblief by Christus, want daar is jy veilig (Spr. 18:10).


1  Ek bedoel nie dat dit verkeerd is om ’n das te dra nie. Dit raak egter ’n probleem as mense jou sonder ’n das sien en dan sê: ‘Jy het geen respek vir God nie.’

2  Mishna Sanhedrin 11:3. Verkry by https://www.sefaria.org/Mishnah_Sanhedrin.11.3?lang=bi

3  Mishnah Shabbat 10:3. Verkry by https://www.sefaria.org/Mishnah_Shabbat.10.3?lang=bi

4  Flavius Josephus, Complete Works: The Wars of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 6:9:3, p. 587

Kategorieë