[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]
Ek hou daarvan om vers vir vers deur boeke van die Bybel te preek. Dit dwing my om tekste en temas te preek wat ek andersins nie sou kies nie, bv. Paulus se lering oor hoofbedekkings in 1 Korintiërs 11:2-16.
Ek het eenkeer in my ‘n lewe vraag hieroor gehad by ‘n Bybelstudie. Ek het by ‘n kerk gesien hoe ‘n vrou ‘n dun serpie dra en oor haar kop gooi as die gemeente bid. Die ouer mense sal onthou hoe Baptiste vroue in die verlede hoede gedra het kerk toe. ‘n Vrou in Nelspruit vertel hoe haar ma ‘n hoed gedra het, en hoe die seuns ágter haar albasters in die hoed se rand gesit het.
Wat sê die Skrif regtig oor die saak? Hoekom dra vroue nie meer iets op hulle koppe nie? Is ons dalk ongehoorsaam aan die Skrif?
Hoofskap (v.2-3)
Jy ken seker die storie van die vrou wat die punt van die skaapboud afgesny het, voordat sy dit in die pot gesit het? Haar dogter het vir haar gevra hoekom sy dit doen. Sy het nie geweet nie, maar gesê: ‘Ouma het dit so gedoen; vra vir haar.’ Die dogter het toe vir haar ouma gaan vra. Haar ouma het ook nie geweet nie, en het gesê: ‘My ma het dit so gedoen; vra vir haar.’ Sy het vir haar oumagrootjie gaan vra. Dié het vir haar gesê: ‘My pot was nie groot genoeg vir die skaapboud nie, en daarom moes ek altyd die punt afsny sodat dit kon inpas.’
Soms doen ons dinge sonder dat ons weet hoekom. Wanneer Paulus dan oor hoofbedekkings praat, wil hy hê die Korintiërs moet die rede verstaan (v.2-3): hoofbedekkings simboliseer ‘n vrou se onderdanigheid aan haar man as hoof en leier van die huis. In ons kultuur dra ons hoede vir mode of vir die son. Vandag het dit niks te doen met hoofskap nie. ‘n Vrou hoef dus nie haar hoof te bedek om te wys sy is getroud of staan onder haar man se hoofskap nie (Genesis 24:65).
Paulus prys die Korintiërs omdat hulle sy voorbeeld en tradisie gevolg het, soos wat hy dit by Jesus ontvang het (v.2, 1, 15:3). Dié tradisie in hierdie vers staan vir die leer van die apostels (2 Tessalonisense 2:15). Hy wou veral gehad het hulle moes die Bybelse lering oor man-wees en vrou-wees verstaan (v.3).
Jesus is die Hoof van die man (v.3, Efesiërs 1:22), en dus ook die voorbeeld van hoe die man die hoof van sy vrou moet wees (Efesiërs 5:23, 25). Die man is die hoof van sy vrou om haar te lei, lief te hê, en te beskerm (v.3).
God is die Hoof van Christus (v.3). Die Vader en die Seun is in elke opsig gelyk (Filippense 2:6, Hebreërs 1:3). Die Seun is egter van ewig af uit die Vader en nie andersom nie (Johannes 3:16). Toe Jesus as mens op aarde was het Hy Hom aan sy Vader se wil onderwerp (Johannes 4:34, 5:30, 6:38).
Op dieselfde wyse is die man en vrou gelyk (Genesis 1:26-27, 1 Petrus 3:7, Galasiërs 3:28). En tog is die getroude man die hoof van sy vrou (Efesiërs 5:23). Die Grieks vir ‘hoof’ [kephale] het te doen met gesag en beteken nie oorsprong soos wat feministe sê nie.[1]
Moenie Bybelse hoofskap in ‘n lelike ding verander nie. Moenie dink hoofskap gaan oor die vrou wat ‘n kinderbaarmasjien of vloerlap is nie; oor die vrou wat nie besluite mag neem nie, maar ja-en-amen moet sê vir haar man se bevele. Hoofskap is ‘n skeppingsinstelling van God (v.3, 8-9). Hoofskap gaan oor die man wat, soos Jesus, sy bruid lei, beskerm, versorg, liefhet, en koester. Buiten vir hulle eie vroue, moet mans alle vroue met respek behandel en hulle beskerm. Leer ook jou seuns om so te doen.
Moenie jou ore uitleen vir teoloë, predikante, kerke, feministe, politici, en sielkundiges wat Bybelse hoofskap slegpraat, wat sê die Bybel is outyds, wat die skeppingsorde ontken, wat sê 1 Korintiërs 11:2-16, Efesiërs 5:22-24 is ‘n kulturele onderdrukking van die vrou, wat sê dat mans en vroue in elke opsig dieselfde is en net liggaamlik verskil.
Hoekom moet ons hoofskap reg verstaan en toepas? As ons dit nié doen nie, sal ons ‘n gebroke refleksie van Jesus se hoofskap uitstraal (v.3, Efesiërs 5:22-33).
Hoofbedekkings (v.4-13)
Ek het ‘n spotprent gesien van ‘n Arabier wat by ‘n publieke badkamer staan. Toe hy die prentjie van die stokman met die rok sien, het hy nie geweet watse badkamer om te gebruik nie.
In elke kultuur kan jy mans en vroue van mekaar onderskei. Tog verskil een kultuur van die volgende. In ou Babilon het mans en vroue oorbelle gedra. In 1800’s Suid-Afrika het net vroue oorbelle gedra. In ons kultuur dra mans en vroue broeke. In die vorige eeu het net mans broeke gedra. In Saudi-Arabië dra mans en vroue rokke. In ons land dra net vroue rokke. In Paulus se tyd het vroue lang hare gehad. In ons land het vroue kort- of lang hare. In ons tyd is kort hare vir mans bo die ore. In ou Engeland het mans se kort hare oor hulle ore gehang. Vroue in die Korintiër-kerk het sluiers gedra.
Selfs mét kort haarstyle en broeke, kan ons ‘n duidelike onderskeid tussen mans en vroue tref. Hierdie onderskeid moet ook in die kerk gesien word. Dít is die punt van v.4-13. Die punt is nie dat vroue hoede moet dra nie.
In die Ou Testament het die hoëpriester en ander priesters hoofbedekkings gedra in die tabernakel (Eksodus 39:28). Selfs in Paulus se tyd het Joodse mans in die sinagoge hulle hoofde bedek. Maar Paulus sê nou dat ‘n Christen man wat met ‘n bedekte hoof bid of profeteer, sy Hoof (v.3, Christus) onteer. ‘n Bedekte hoof simboliseer die omkeer van die man en vrou se rol. Dit wys ook dat die man ‘n menslike hoof het buite Christus (v.4).
Vroue kon binne die perke van 14:34-35, 1 Timoteus 2:11-12 profeteer. Sy kon dus nie vir ander mans profeteer nie, maar net vir vroue, kinders, individue, en ongelowiges (v.5, Eksodus 15:20, 2 Kronieke 34:22, vgl. Handelinge 18:26). As sy sonder ‘n sluier geprofeteer of gebid het, het sy haar hoof onteer (v.5, 3, haar man). ‘n Vrou wat dít gedoen het, het daardeur gesê dat sy ongetroud is, nie onder enige man se gesag staan nie, en beskikbaar is. Sy kon net sowel, soos ‘n prostituut, haar hare afskeer (v.5-6).
In die straat kon jy ‘n vrou deur haar sluier of lang hare uitken. Dit is ‘n skande as kleredrag en haarstyle in die kerk ‘unisex’ is, sodat jy nie mans en vroue van mekaar kan onderskei nie. Juis om dié rede moes vroue ‘n sluier en lang hare gedra het (v.6).
Die man is die beeld en heerlikheid van God. Net soos wat Jesus en die Vader die Hoof is, is hy die hoof van sy vrou (v.7, 3). Die vrou is uit die man geneem (v.8, Genesis 2:21, 23), en is gemaak as sy helper (v.9, Genesis 2:18). Sy voltooi hom en die skepping. Sy is die heerlikheid van die man (v.7). Sý is die een wat hom suksesvol laat lyk (Spreuke 12:4, 31:10-31).
Die vrou se heerlikheid is net ‘n refleksie van God se heerlikheid. Die mens se heerlikheid is onvolmaak en verdraai deur die sonde. Die vrou moet haarself met ‘n sluier bedek, sodat die fokus in die erediens nie op háár skoonheid en die mens se heerlikheid val nie, maar op Gód s’n.
God het die man eerste geskep en die vrou uit sy sy. Dit wys dat die man die hoof is (v.10). Die sluier oor haar hoof beeld dit uit (v.10). Sy moet ook ‘n sluier dra ter wille van die engele. Sommige dink dit beteken dat die engele deur die vrou se skoonheid versoek sal word (Genesis 6:1-4). Ander dink Paulus verwys hier na menslike boodskappers [Gk. aggelos] wat aan hom moet rapporteer of die Korintiërs gehoorsaam is of nie. Dis egter meer waarskynlik dat die teks verwys na engele wat toekyk hoe ons die Here aanbid (1 Timoteus 5:21, Efesiërs 3:9-10).
Die feit dat die man die hoof is van sy vrou, beteken nie hy is onafhanklik van haar nie. Man en vrou het mekaar nodig (v.11). ‘n Helper impliseer immers dat hy hulp nodig het. Ja, die vrou is deur skepping uit die man, maar die man is ook deur geboorte uit die vrou (v.12). Alles is uit God (v.12, Romeine 11:36). Hopelik kan die Korintiërs uit v.2-12 sien hoekom die vrou ‘n sluier moet dra (v.13).
Kry ‘n Bybelse verstaan van man-wees en vrou-wees, en laat jou voorkoms dit weerspieël. Hoe doen ‘n mens dit? Moenie afgestomp raak deur die kultuur wat maak asof die verskille tussen die geslagte onbelangrik is nie. Leer jou kinders reg. Voorskoolse seuns dra al pienk klere. Dit sal seker nie lank wees voordat baba seuns pienk dra nie. Sommige ouers sê dat hulle kinders self moet kies wat hy of sy wil wees! Sê vir jou kinders dat dit nie normaal is as mans, soos Nataniël, Evita, of Glamour Guru, vroue-klere en grimmering dra nie. Dis nie normaal dat mans hulle hare soos vroue s’n sny of dra nie (soos ‘n prokureur wat ek by Boksburg-hof gesien het). Dis nie normaal dat vroue hulle hare soos mans s’n sny, of mansklere dra nie (Deuteronomium 22:5). Moenie toelaat dat jou kinders deelneem aan die ‘sex-change’ wat populêr is in skole nie. Daar is ouers wat hulle seuns soos meisies aantrek, hulle hare laat groei, en vir hulle oorbelletjies inskiet, sodat mense vra: ‘Is dit ‘n seun of ‘n dogter?’
Óns moet die voorbeeld stel en nie só aantrek dat ons vir die teenoorgestelde geslag misken word nie. Niemand moet oor ‘n Christen se klere of haarstyl wonder, sodat hulle vir mekaar fluister: ‘Is dit ‘n man of ‘n vrou?’ nie.
Hoekom moet man-wees of vrou-wees in jou voorkoms weerspieël word? As ons dit nié doen nie, sal mense dink dat Genesis 1:26-27 nie belangrik is nie.
Hare (v.14-16)
Jare gelede was daar ‘n King Pie advertensie van ‘n man met ‘n dik bril wat ‘n vuurwarm pastei gekoop het. Deur sy gewasemde bril het hy ‘n vrou met lang blonde hare gesien wat op ‘n park bankie sit. Hy wou met haar praat en langs haar gaan sit. Toe die wasem verdwyn het hy gesien dis ‘n groot kwaai man.
Paulus sê dit moenie in die kerk gebeur nie: mans en vroue moenie vir mekaar misken word nie. In ‘n kultuur waar ‘n sluier of hoed ‘n verskil tussen die geslagte aandui, moet vroue dit dra. Anders hoef hulle nie. Dra klere wat die verskil duidelik maak, en vermy dinge wat die verskille verbloem.
Selfs ‘n klein verskil soos mans en vroue se hare, wys dat hulle nie gemaak is om dieselfde te lyk nie. Mans se hare groei stadiger en val makliker uit as vroue s’n (v.14-15). Die dinge wat ‘n vrou mooi maak, maak nie noodwendig ‘n man mooi nie (en andersom). ‘n Man met lang hare beskou ons as slordig of rebels of ondissiplineerd (v.14). ‘n Vrou met lang hare beskou ons as mooi, skoon, en goed versorg (v.14-15). Dit is skandelik as ‘n man soos ‘n vrou lyk of andersom.
Paulus wil nie hê dat enigiemand hieroor moet stry nie. Hy wil veral nie hê dat vroue moet stry en teen hulle mans se gesag rebelleer nie (v.16). Hierdie reël geld vir alle kerke deur alle eeue (v.16): mans moet soos mans lyk, en vroue soos vroue; vroue moet hulself aan hulle mans se hoofskap onderwerp.
Dalk is jy nie teen die skeppingsorde, sodat jy baklei teen manlike hoofskap in die huis en kerk, of ‘ja’ sê vir gay predikante nie. Tog dink baie Christene 1 Korintiërs 11:2-16 is onbelangrik. Hulle misbruik dit om sonde te regverdig. Hulle sê: ‘As jy sê homoseksualiteit is sonde, vroue mag nie preek nie, kerke moet tug toepas, ongetroudes mag nie saambly nie, dan moet vroue ook hoede dra. Omdat 1 Korintiërs 11:2-16 wegval, tel hierdie ander verse ook nie meer nie.’
Ander stry met kerke wat nié hoede wil dra nie. Dis nie sonde as jy ‘n hoed kerk toe wil dra nie, maar wees ten minste konsekwent. Dra ‘n sluier, nie ‘n hoed nie. Dra net ‘n sluier as jy getroud is en jou man se hoofskap wil erken. Dra ‘n sluier as jy mall toe gaan en nie net as jy kerk toe gaan nie. Moenie net ‘n sluier dra in die erediens nie, maar ook by die Bybelstudie en biduur.
‘n Kinderrympie sê:
What are little boys made of?
Frogs and snails and puppy-dog tails –
that’s what little boys are made of.
What are little girls made of?
Sugar and spice and all that’s nice –
that’s what little girls are made of.
Waaraan dink jy as jy aan man-wees dink? Spiere, sweet, en ‘n moderne haarstyl? Of aan iemand wat heilig is, geestelike leiding gee, ‘n sterk karakter het, en vroue respekteer? Wat is in jou kop as jy aan vrou-wees dink? ‘n Bruin vel, uitlokkende klere, en mans wat voor haar val? Of iemand met ‘n sagte persoonlikheid en sterk karakter wat ander dien? En moet hierdie Bybelse beeld nie in ‘n man en vrou se voorkoms en kleredrag sigbaar wees nie? Dis waaroor 1 Korintiërs 11:2-16 gaan – nie oor hoede nie.
[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, pp.459-460 en D.A. Carson, Exegetical Fallacies, pp.37-38
[/column]