Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 November 2013

Sê die Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde?

Gays

In ons dag word die Bybelse lering oor homoseksualiteit uitgedaag en aangeval.  Mense het baie besware teen verse soos Romeine 1:26-27:  “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.”  Dit is glad nie polities (of selfs godsdienstig) korrek om te sê dat homoseksualiteit sonde is nie.  Maar wie gee om vir mense se opinies?  Wat het God hieroor te sê?  Hier is my poging om die besware te beantwoord.

 

Beswaar 1:  God is nie teen homoseksualiteit nie.

 

Antwoord:  God het Sodom en die omliggende stede vernietig oor hulle sonde (onder andere die sonde van homoseksualiteit, sien Genesis 19).  In Rigters 19 het dieselfde in Israel gebeur en God het hulle vernietig.  Ander tekste sê:

 

“Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel.” (Levitikus 18:22).

 

“En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen.  Hulle moet sekerlik gedood word.  Hulle bloedskuld is op hulle.” (Levitikus 20:13).

 

“Moenie dwaal nie!  Geen...wellustelinge of sodomiete...sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Korintiërs 6:10, cf. 1 Timoteus 1:10).

 

“soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” (Judas 7).  ‘Vreemde vlees’ in hierdie vers verwys na die onnatuurlike seksuele begeerte vir iemand van dieselfde geslag.

 

Beswaar 2:  Sodom se sonde was nie homoseksualiteit nie.

 

Antwoord:  Mense wat dít sê haal gewoonlik Esegiël 16:49-50 aan:  “Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom:  In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie.  En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.”  ‘Hoogmoed en rykdom was Sodom se sonde,’ is wat homoseksuele mense sê.  Mense wat gay regte voorstaan sê:  ‘Toe die manne in Genesis 19 Lot se gaste wou ken, wou hulle net beter met hulle bevriend raak’.  Die waarheid is dat die woord ken ook in Genesis 4:1 gebruik word:  “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar”.  As hulle net bevriend wou raak met Lot se gaste, hoekom het hy vir hulle gesê dat dit boos is (Genesis 19:7)?  Selfs nádat hulle met blindheid geslaan is, het hulle die hele aand lank vir die deur gesoek, omdat hulle aan hulle luste uiting wou gee (Genesis 19:11).  Ek het reeds uit Judas 7 aangehaal om te wys dat hulle sonde niks anders as homoseksuele wellus was nie.  Buitendien is die woord ‘gruwelikheid’ in Esegiël 16:50 dieselfde woord wat in Levitikus 18:22 gebruik word met verwysing na homoseksualiteit.

 

Beswaar 3:  Die Hebreeuse woord ‘gruwel’ in Levitikus 18:22, 20:13 verwys na homoseksuele dade in afgodsdiens.  Die Bybel verdoem nie opregte homoseksuele liefde nie.

 

Antwoord:  Die Skrif tref nie onderskeid tussen verskillende soorte homoseksualiteit nie, maar verwerp dit kategories.  Levitkus 18:27, 29 sê dat egbreuk, bloedskande (seks met jou naaste familie) en bestialiteit (seks met diere) 'n gruwel is (dieselfde Hebreeuse woord as in v.22).  Beteken dit dat hierdie sondes verkeerd is in die konteks van afgodediens, maar aanvaarbaar wanneer jy dit opreg beoefen?

 

Beswaar 4:  Die woorde vir homoseksualiteit in <st1:bcv_smarttag>1 Korintiërs 6:10 is verkeerd vertaal.  Die Griekse terme het niks met homoseksualiteit te doen nie.

 

Antwoord:  Die Griekse woord malakos (‘wellustelinge’ in die Ou Afrikaanse Vertaling) beteken letterlik ‘meisieagtig’ en verwys na die persoon wat 'n vroulike rol aanneem in 'n homoseksuele verhouding.  Die woord arsenokoites (‘sodomiete’ in die Ou Afrikaanse Vertaling) kom van twee Griekse woorde wat ‘man’ en ‘bed’ beteken, en verwys na die persoon wat 'n manlike rol in 'n homoseksuele verhouding aanneem.  Hierdie Griekse term is dieselfde woorde wat gebruik word in die Griekse vertaling (die Septuaginta of LXX) van Levitikus 18:22, 20:13.  Paulus waarsku dat homoseksuele mense hulleself nie moet bedrieg om te dink hulle kan so lewe en nogsteeds hemel toe gaan nie (1 Korintiërs 6:10).

 

Beswaar 5:  Jesus praat nooit teen homoseksualiteit nie. 

 

Antwoord:  Hy praat ook nooit teen verkragting, bestialiteit of bloedskande nie.  Jesus het aanvaar dat almal hierdie dade as sondig beskou.  Hulle het mos Levitkus 18 en 20 gehad.  Jesus impliseer dat homoseksualiteit verkeerd is wanneer hy sê dat God die mens man en vrou gemaak het (Matteus 19:4-6).  Volgens Jesus is selibaat die enigste alternatief (Matteus 19:12).  Vir Hom is homoseksualiteit nie 'n opsie nie.

 

Beswaar 6:  Romeine 1:26-27 sê nie dat homoseksualiteit onnatuurlik is nie.  Wat Paulus eerder bedoel is dít:  Iemand wat heteroseksueel gebore is moenie teen sy natuur ingaan en homoseksueel probeer wees nie.  En iemand wat homoseksueel gebore is moenie teen sý natuur ingaan en heteroseksueel wil wees nie.

 

Antwoord:  Genesis 1 en 2 leer dat God die mens man en vrou gemaak het.  Die mens se biologiese samestelling wys vir ons dat twee mense van dieselfde geslag nie bymekaar ‘pas’ nie.  Bloot die feit dat homoseksuele mense nie kan kinders kry nie wys dat dit onnatuurlik is (sien Genesis 1:28).

 

Beswaar 7:  Om meer as een maat te hê is verkeerd.  Homoseksuele verkragting is verkeerd.  Maar dit is nie verkeerd om in 'n gesonde gay huwelik saam te lewe nie.

 

Antwoord:  Romeine 1:27 praat nie net teen homoseksuele verkragting nie, maar verwys duidelik na mans wat brand met wellus vir mekaar.  Jesus definieer die huwelik as 'n verhouding tussen 'n natuurlike man en 'n natuurlike vrou, en sê dat die twee een vlees word (Matteus 19:4-6).  Enigiets anders as dit is nie 'n huwelik nie.  Hoe kan twee mans of twee vroue buitendien een vlees word?  God se definisie van een vlees kan net gebeur in 'n verhouding tussen 'n man en 'n vrou.  'n Liefdevolle en toegewyde verhouding met een persoon is 'n gay mite.  Een studie wys dat homoseksuele mans tot 100 bedmaats per jaar het (Corey, L. and Holmes, K.; Sexual Transmission of Hepatitis A in Homosexual Men; New England Journal of Medicine; 1980; pp.435-38.  Ek het die aanhaling verkry by http://www.traditioninaction.org/HotTopics/a02rStatistcs.html).

 

Beswaar 8:  Mense wat sê homoseksualiteit is sonde is homofobies.  Die eintlike probleem is dat hulle gays haat. 

 

Antwoord:  Sommige restaurante, winkels en ander publieke plekke het 'n verbod teen rook.  Beteken dit dat hulle alle rokers haat?

 

Beswaar 9:  Dawid en Jonatan was homoseksueel.  Die Bybel sê hulle het mekaar gesoen, omhels en liefgehad.  Die Skrif sê selfs dat Jonatan sy klere vir Dawid gegee het (1 Samuel 18:1, 4, 20:41). 

 

Antwoord:  Dawid het egbreuk gepleeg met Batseba.  Hy het baie vroue gehad.  Jonatan het 'n seun (Mefiboset) gehad.  Sulke optrede is nogal vreemd vir homoseksuele mense?  Dawid en Jonatan het 'n gesonde en ryk vrienskap gehad.  Hulle was alles behalwe homoseksueel.

 

Beswaar 10:  Diere openbaar soms ‘homoseksuele’ optrede. 

 

Antwoord:  Ja, 'n mannetjie hond sal partykeer op 'n ander een se rug klim.  Maar dit wys nie dat homoseksualiteit normaal is nie.  Dit wys eerder dat die mens in sy sonde daal tot op die vlak van 'n dier.  Geen dier leef buitendien so nie, maar doen dit om uiting te gee aan sy wellustige instink.

 

Beswaar 11:  Ek is homoseksueel gebore en kan dit nie help nie. 

 

Antwoord:  Daar bestaan nie iets soos 'n gay-geen nie.  Wetenskaplikes kon dit nog nooit bewys nie.  Simon LeVay het 'n klomp kadawers ondersoek en gevind dat die hipotalamus ('n klein deel in die brein) in sommige van sy ‘pasiënte’ se breine kleiner was as in ander s'n.  Maar daar is geen bewyse dat die hipotalamus 'n persoon se seksualiteit bepaal nie.  Sommige van die ‘pasiënte’ was homoseksueel, maar nie al die homoseksuele ‘pasiënte’ se hipotalamus was kleiner nie.  Indien homoseksualiteit deur die hipotalamus bepaal is, moes al die homoseksuele ‘pasiënte’ 'n kleiner hipotalamus gehad het.  Party van die gay ‘pasiënte’ se dood is deur siektes soos VIGS veroorsaak.  Wie weet of siekte nie die hipotalamus se grootte bepaal nie?  Ons moet ook wonder:  word 'n homoseksuele leefstyl deur 'n kleiner hipotalamus veroorsaak, of lei homoseksuele gedrag daartoe dat die hipotalamus kleiner word?

 

'n Studie deur Bailey en Pillard het gewys dat, indien een van 'n identiese tweeling homoseksueel is, die kanse 50% is dat die ander een ook homoseksueel sal wees.  Hierdie persentasie is baie oordrewe.  Maar selfs al is die kanse 50% bewys dit nogsteeds niks nie.  'n Identiese tweeling deel 100% dieselfde gene.  Indien homoseksualiteit aangebore is moet die kanse nie 50% wees nie, maar 100% (inligting verkry uit Welch, Edward T.; Blame it on the Brain?; P&R Publishing; PHILLIPSBURG; 1998; pp.165-171).

 

Beswaar 12:  Ek kan nie onthou dat ek ooit gekies het om homoseksueel te wees nie.  Dit bewys ek is so gebore.

 

Antwoord:  Sonde werk op 'n dieper vlak as bloot net ons keuses of dade.  Dit is deel van ons diepste wese.  Ek kan nie onthou dat ek ooit gekies het om mense te vrees of hoogmoedig te wees nie.  Tog word ek nie daardeur verskoon nie.

 

Beswaar 13:  My pa was onbetrokke in my lewe.  Ek wou graag my ‘unmet love needs’ vervul, en toe word ek homoseksueel.  My homoseksuele leefstyl is dus my pa se skuld.

 

Antwoord:  Onbetrokke ouers dra by tot die probleem.  Maar om sondig te reageer is ons eie keuse.  Indien onbetrokke ouers homoseksualiteit veroorsaak, moet elke kind wie se ouers onbetrokke was homoseksueel wees.  Of dan moet geen persoon wie se ouers betrokke was, homoseksueel uitdraai nie.  En tog weet ons dis nie so nie.  Ja, ouers het 'n invloed.  Maar wanneer ons sonde doen kan ons nie sê:  ‘Dis Eva se skuld...Dis die slang se skuld’ nie (sien Genesis 3:12-13).  Elkeen is verantwoordelik vir sy eie sonde.  In Paulus se woorde:  “Want elkeen sal sy eie pak dra.” (Galasiërs 6:5).  Indien jy graag hulp wil hê om hierdie sonde te oorkom, kan jy my artikel lees wat binnekort (hopelik voor 24 November 2013) op die blog sal wees:  'n Oplossing vir homoseksualiteit.

Kategorieë