Matteus 6:10a
Baie Christene dink nie wyer as hulle eie behoeftes en probleme wanneer hulle bid nie. Hulle bid m.a.w. nie volgens Jesus se patroon in die Onse Vader nie. Hulle bid skaars of nooit vir die koms van God se Koninkryk deur Bybelse prediking, sending, evangelisasie, bekerings, herlewing en die wederkoms nie. Hulle prioriteite in gebed is verkeerd. Laat ons dan leer om God se sake eerste te stel en te bid volgens wat Jesus ons in die Onse Vader beveel: “Laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10a).
- Prediking
Die meeste moderne boeke oor prediking bevat min, of geen hoofstukke oor gebed nie. Dit spreek volumes oor wat die meeste mense oor prediking glo. Soos hulle dit sien, hoef ons eenvoudig die Woord af te lewer en sal die Here sy werk in mense se harte doen. Maar is dit waar? Nee, dit is nie. Volgens Matt. 6:10a moet ons bid dat God se Koninkryk kom. Ons moet bid dat die Heilige Gees mense se harte sal oopmaak, sodat hulle die evangelie kan verstaan, dit kan glo, hulle kan bekeer en deel kan word van God se Koninkryk (Joh. 3:3, 5, Hand. 16:14, Kol. 1:13).
Bid jy genoeg hiervoor in jou stiltetyd? Het jy al by ‘n biduur ingeskakel om saam met ander gelowiges hiervoor te bid? Bid jy vir meer as net die prediking op Sondae? Bid jy vir evangelisasie? Bid jy vir oop deure om die evangelie met mense te deel? Bid jy vir vrymoedigheid om nie bang te wees soos ek onlangs in Parys was nie? Vra jy die Here om sendelinge na die nasies toe te stuur? Bid jy vir sendelinge op die veld? Bid jy dat die Here die onbereikte volke sal red?
Dit is hoe die Here sy Koninkryk laat kom: deur gebed en prediking (v.10a, Rom. 10:14-15). Sonder prediking is ons gebede soos ‘n jagter wat sy geweer laai, maar nie die sneller trek nie. Sonder gebed is ons prediking soos ‘n jagter wat die sneller trek sonder dat daar ‘n koeël in die geweer is. God se Koninkryk sal nie kom sonder gebed én prediking nie (v.10a). En as óns dit nie wil doen nie, sal die Here ons eenvoudig verbygaan. Hy sal ander gemeentes opwek om dit te doen en húlle seën. Gód is nie die Een wat aan die kortste end sal trek nie; óns is.
Laat ons dan ’n biddende gemeente wees wat die evangelie met mense deel, eerder as wat ons ons eie maniere probeer uitdink om die Koninkryk te laat kom. Ek dink hier aan ‘n geval in die geskiedenis. Tussen 1096 en 1204 het die Katoliekekerk deur vier Kruistogte met die swaard probeer om Israel en Jerusalem by die Moslems terug te vat [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2 (London: Grace Publications Trust, 2000), 184-215]. Hulle het geen poging aangewend om die Moslems te evangeliseer nie, maar het hulle voor die voet doodgemaak [Ibid., 206].
Soos die Moslems, het die Katolieke die Kruistogte as ‘n heilige oorlog beskou waardeur hulle die ewige lewe kon verkry. Pous Eugenius III (1145-1153) het dit belowe [Ibid., 188]. Kloosterhoof Guibert van Nogent (c.1053-1125) het dit beaam: ‘In ons tyd het God heilige oorloë ingestel, sodat ridders [Eng. knights] ‘n nuwe manier kan vind om redding te verkry... hulle kan in ‘n sekere sin God se genade verkry deur hulle loopbane as ridders te volg...’ [Vry vertaal uit Ibid.].
Natuurlik is dit loutere onsin, omdat verlossing uit genade alleen is en nie deur enige poging van ons kant af nie (Ef. 2:8-9). Dan kan ons nie die Koninkryk deur politieke aksies tot stand bring nie. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Joh. 18:36).
Tot vandag toe probeer kerke om God se Koninkryk deur politieke aksies te laat kom. Talle mense dink: ‘As ons net die regte party kan instem, sal húlle God se Koninkryk uitbrei. Hulle sal dit regkry d.m.v. gebed en Bybelonderrig in skole; die bekamping van misdaad; die wettiging van die doodstraf; wetgewing teen dwelms, gay huwelike, prostitusie en aborsie; godsdiensvryheid; spesiale voorregte vir Christene; ens.’
Omdat ons só dink, teken ons petisies teen die regering, eerder as om vir hulle te bid en die evangelie met hulle te deel (1Tim. 2:1-7). Of ons probeer om ‘n voet in die parlement se deur te kry, sodat ons die land dáárdeur kan verander. Ander dink weer dat hulle die Koninkryk deur sosiale aksies kan laat kom. Hulle hou optogte teen aborsie en kindermishandeling en dink dat hulle die Groot Opdrag van Matt. 28 gehoorsaam het. Of hulle gaan vir twee weke Malawi toe om boorgate vir die armes te sink en noem dit ‘n sendinguitreik.
Dit is reg om standpunt in te neem teen ongeregtigheid en om die armes te help (Spr. 24:11-12, 31:8-9). Maar geen sondaar word deel van God se Koninkryk, omdat hy opgehou het om babas dood te maak, of omdat hy lopende water het nie. God laat sy Koninkryk kom deur gebed en prediking (v.10a, Matt. 4:23, 9:35, 24:14, Hand. 4:31, 8:12, 13:3, 28:23, 31, Ef. 6:19-20, Kol. 4:3-4, 1Tess. 5:25, 2Tess. 3:1). Hy doen dit nie deur die New Apostolic Reformation se 7 Mountain Mandate, waarin óns God se Koninkryk laat kom deur die ‘verchristeliking’ van ‘n land se godsdiens, opvoeding, gesinne, regering, media, kuns en vermaak, en die besigheidsektor nie. As die Here ons gebede beantwoord en mense deur die evangelie verander, sal die samelewing outomaties beïnvloed word soos wat lig duisternis verdryf, en soos wat sout keer dat biltong vrot word (Matt. 5:13-16).
Ek wil jou dan aanspoor om nie net te bid dat die Koninkryk kom nie, maar om die evangelie met mense te deel. Vertel hulle van Jesus wat in die plek van sondaars aan die kruis gesterf het. Sê ook vir hulle dat Hy opgestaan het en as verheerlikte Koning aan die Vader se regterhand regeer (Ps. 110:1, Jes. 52:7). Sê vir hulle: ‘As jy jou bekeer en die knie voor Jesus buig, sal Hy jou vergewe en in sy Koninkryk verwelkom (Matt. 25:34, Luk. 12:32, 22:29, Hand. 3:19). Maar as jy weier, sal Hy jou soos ‘n kleipot verpletter (Ps. 2:9, 12).’
Dalk is jy bang om die negatiewe sy van die evangelie te deel, maar dit is nie vir ons om die evangelie met die suiker van aanvaarbare woorde te versag nie. Ons plig is eenvoudig om die Koning se boodskap af te lewer en deur gebed te vertrou dat Hy sy werk in mense se harte sal doen.
- Herlewing
As prediking ‘n reënbui is, is herlewing ‘n sikloon. ’n Herlewing is iets wat die Here gebruik om die koms en die verspreiding van sy Koninkryk te versnel. Waar Hy deur die weeklikse prediking, evangelisasie en sendingwerk individue red, red Hy tydens ‘n herlewing dorpe, gemeenskappe, provinsies, streke en selfs nasies.
Hoe gebeur ‘n herlewing? Dit is ’n soewereine werk van God. Soos met die wedergeboorte van ’n individu, kies die Heilige Gees hoe, waar en wanneer ‘n herlewing plaasvind (Joh. 3:8). Maar dit gebeur nie net sommer nie. Hy stuur dit in antwoord op die gebede van dié wat dringend en met erns bid dat die Koninkryk kom (v.10a). Dit is hoe die New York herlewing op 23 Sept. 1857 onder Jeremiah Lanphier begin het. Hy het mense genooi om saam met hom te bid. Die eerste biduur het met ses mense begin en so vinnig gegroei dat daar teen Maart 1858 duisende mense was wat daagliks op verskeie plekke in die stad saam gebid het. So het die herlewing versprei [Iain Murray, Revival and Revivalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994), 342-343].
Wil jy dit nie ‘n prioriteit maak om hiervoor te bid nie? Bid dat Jesus ons met sy Gees sal vervul en ‘n nuwe werk onder ons sal doen. Bid dat Hy ons land en samelewing sal omkeer. Sê jy miskien dat Suid-Afrika te ver heen is, en dat dit nie kan gebeur nie? Waar is jou geloof? Is enigiets vir die Here onmoontlik (Gen. 18:14, Jer. 32:17, 27, Luk. 1:37, 18:27)? Is dit nie vir Hom maklik om wonders te doen nie (2Kon. 3:18)? Of is sy arm gebreklik en te kort om te help (Num. 11:23)? Kan Hy nie doen ver bo wat ons bid of dink nie (Ef. 3:20)?
Toe Engeland vol dronkenskap, misdaad, losbandigheid en korrupsie was, het die Here George Whitefield opgewek, ‘n herlewing gestuur en Engeland op sy kop gekeer [Arnold Dallimore, George Whitefield: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1970), 19-32]. Die vraag is of ons sal bid en die evangelie sal deel, en of ons saam met die media, ons kollegas en die res van die land sal kla, angstig sal wees, en in politieke vegterye betrokke sal raak.
Moet ook nie vergeet om vir die Jode se bekering te bid nie. Dit is immers een van die maniere waarop God sy Koninkryk laat kom. Sal die Jode se bekering nie ‘n wêreldwye herlewing tot gevolg hê nie (Rom. 11:12, 15, 25-26)? Laat ons dan nie nalaat om vir hulle te bid en te vra dat die Here ‘n herlewing onder die nasies stuur nie.
- Die wederkoms
Verlede jaar het ‘n vriend vir my die verskil tussen my en sy eindtyd siening verduidelik: ‘Jy glo dat die Koninkryk by Jesus se eerste koms begin, dat dit deur die geskiedenis groei, en dat dit vervul sal word by die wederkoms. Ek glo dat die Koninkryk sal begin wanneer Jesus weer kom, dat dit vir ‘n duisend jaar sal aanhou, en dat dit vervul sal word na die finale oordeel op die nuwe aarde. Jy glo dat die kerk die Koninkryk inbring, terwyl ek glo dat Jesus dit laat kom.’
Hy was reg en verkeerd. Ek glo inderdaad dat die Koninkryk by Jesus se eerste koms begin het. Die Nuwe Testament sê dit. Johannes die Doper en Jesus het gesê dat dit naby is (Matt. 4:17, 10:7, 12:28, Luk. 10:9, 11, 17:21). Toe Jesus opstaan en na die hemel toe opvaar, het Hy as Koning gaan sit en die titel-akte van die Koninkryk ontvang (Ps. 2:8, 24:7-9, 110:1, Dan. 7:13-14, Matt. 28:18, Ef. 1:20-22, Heb. 1:3, 1Pet. 3:22, Op. 11:15). Deur die kerk se gebede, die evangelie en herlewing sal Hy die Koninkryk uitbrei, totdat dit die hele aarde vul, die nasies Hom aanbid en sy Koninkryk die enigste een is wat bestaan (Ps. 22:27-28, 67:1-8, 72:8-11, 17-19, 86:9, Jes. 9:6, 11:9, Dan. 2:35, Matt. 13:31-33, 1Kor. 15:24-25).
Probeer ek hierdeur sê dat die kerk en nie Jesus nie, die Koninkryk laat kom? Glad nie. Ons vra immers die Here om sy Koninkryk te laat kom (v.10a). Dit is Hý wat sy kerk bou (Matt. 16:18). Toe die kerk in Handelinge groei, het Hý dit deur sy Gees in die apostels en die gelowiges gedoen (Hand. 1:1). Soos my vriend, glo ek dus dat Jésus die Koninkryk laat kom. Ek glo egter dat dit by sy eerste koms begin het, dat dit besig is om te groei, en dat dit by sy tweede koms vervul sal word.
Dit is uiteindelik waarvoor ons moet bid: dat elke tong Jesus Christus as Koning en Here sal bely (Fil. 2:10-11); dat sy Koninkryk elke ander koninkryk tot niet sal maak: die duiwel s’n, asook die koninkrykies van mense wat hulleself op die troon plaas en dink dat hulle oor hulle eie lewens regeer.
Ons moet bid dat Jesus weer sal kom: “Laat u koninkryk kom... Maranata!” (v.10a, 1Kor. 16:22). Moenie so in die wêreld se plesiere, sonde en probleme vasgevang raak, dat jy vergeet om vir die wederkoms te bid nie. Moenie soos baie Christene sê: ‘Ek wil hê Jesus moet weer kom, maar kan nie daarvoor bid nie, omdat ek eers wil verjaar, studeer, trou, kinders hê, kleinkinders hê, vakansie hou, geld maak, aftree, die wêreld toer, ens.’ nie.
Bid eerder om die volheid van sy Koninkryk op die nuwe aarde te geniet (2Pet. 3:13). Dink aan ’n wêreld waar jy altyd in Christus se lieflike teenwoordigheid sal wees. Jy sal in perfekte gemeenskap met Hom lewe. Jy sal nooit meer sonde doen, siek word, pyn hê, hartseer wees, of doodgaan nie (Op. 21:1-7). Is dit nie tienduisend keer beter as die lewe wat jy in hierdie stukkende wêreld leef nie?
Maak dit dan ‘n prioriteit om vir God se Koninkryk te bid. Daarsonder sal jy nooit gelukkig wees nie en sal jy ook nie God se antwoorde op die res van jou gebede sien nie. Dit is tog die orde wat Jesus ons geleer het: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33).
Laat God se Koninkryk vir jou ‘n prioriteit wees soos wat dit vir David Brainerd (1718-1747) was. ’n Week voor sy dood het hy in sy dagboek geskryf: ‘Oh that his kingdom might come in the world; that they might all love and glorify Him, for what He is in Himself... Oh come, Lord Jesus, come quickly! Amen.’ [Jonathan Edwards, Works: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 385].