Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 October 2020

Persoonlike Probleme: Twyfel en Sekerheid

1Johannes 3:19-24

Nadia het twee azaleas in haar tuin. Die een blom en die ander nie. So is dit met gelowiges: almal van ons het die wortels van geloof, maar nie almal het die blomme van geloofsekerheid nie.1 Daarom leer die Bybel ons om te toets of ons in die geloof is; of God ons uitverkies en geroep het (2Kor. 13:5, 2Pet. 1:10). Alhoewel jy nie die blomme van sekerheid nodig het om gered te wees nie, maak dit ’n groot verskil as jy dit het.

1. Broederliefde en sekerheid (v.19)

John Newton het eenkeer vir ’n gelowige geskryf wat nie die Gees se getuienis in sy hart gevoel het nie. Sy raad aan hom was: ‘...you [lack] the witness of the Spirit; what do you mean by this? Is it a whisper or a voice from heaven, to encourage you to believe that you may venture to hope that the promises of God are true, that He means what He says, and is able to make His word good? Your eyes are opened; you are weary of sin; you love the way of salvation yourself, and love to point it out to others; you are devoted to God, to his cause and people. It was not so with you once. Either you have somehow stolen these blessings, or you have received them from the Holy Spirit.’2

Dit werk dieselfde met broederliefde. As jy dit het, kan jy weet jy is gered en die Gees woon in jou (v.19, Rom. 5:5, Gal. 5:22). Dan is dit nie die gawes van die Gees wat wys of iemand gered is nie (Matt. 7:21-23), maar die vrug van die Gees: “En hieraan [aan die broederliefde van v.16-18] weet ons dat ons uit die waarheid is” (v.19).

Is dit waar van jou? Is jy lief vir ander gelowiges? Voel jy tuis by hulle? Wil jy soveel as moontlik by hulle wees (kontra 1Joh. 2:19)? Is jou liefde prakties, of jy net dat jy liefhet (v.16-18)? Iemand wat nie ander Christene uit sy hart liefhet nie, wys dat die Gees van aanneming nie in hom bly nie en dat hy nog nie gered is nie (v.14-15, 2:9, 11). Indien jy wel ander gelowiges liefhet, is dit omdat die Gees in jou woon en omdat jy self ’n gelowige is. Jy is uit die waarheid (v.19). Jy glo in Jesus wat die waarheid is en leef deur sy Gees wat die waarheid is (v.19, 5:6, Joh. 14:6). Jy kan met ’n geruste hart weet dat jy aan die Here behoort (v.19). Jou gewete hoef jou nie verder te pla nie en jy hoef ook nie na die duiwel te luister as hy sê jy is ongered nie (Rom. 8:33).

2. Jou gewete en sekerheid (v.20)

’n Vals leraar het eenkeer gesê dat jy volgens jou gewete moet leef. Toe ’n ouer prediker dit hoor, toe sê hy: ‘Dit is gevaarlik om volgens jou gewete te leef; veral as jy dit met hierdie vals prediker se lering voed.’

Jou gewete is nie die Heilige Gees, of die Bybel nie en kan verkeerd wees. ’n Ongelowige se gewete kan hom byvoorbeeld oortuig dat hy gered is, terwyl ’n gelowige se gewete vir hom kan sê hy is ongered. Dus kan jy nie op jou gewete staatmaak nie. Jy moet eerder vra wat God in sy Woord sê. Sê Hy dat jou broerderliefde wys jy is gered (v.19-20)? Glo Hom eerder as wat jy jou wispelturige hart glo.

Is broederliefde afwesig in jou lewe? Moet dan nie vir jouself sê jy is gered omdat jy seker voel jy gaan hemel toe, omdat jy ’n geestelike ervaring gehad het, omdat jy ’n dag en datum van bekering het, omdat jy die sondaarsgebed opgesê het, of omdat jy gedoop is nie. Wat sê God in sy Woord? Sien jy die Bybelse bewyse van redding in jou lewe: broederliefde, geloof in Jesus Christus die Seun van God, en gehoorsaamheid aan sy gebooie? Indien wel, dan is jy gered selfs al twyfel jy in jou hart. Jou hart is nie die hoogste hof om te bepaal of jy gered is, of nie—God is (v.20). Om ’n dag en datum te hê, is nie alles nie.

Moet ook nie oor jou redding twyfel, net omdat jy nie ’n radikale bekering gehad het soos Paulus nie. Geen twee bekerings is presies dieselfde nie. Sommige se bekering is soos ’n donderstorm wat losbreek. Ander s’n is soos ’n miswolk wat jou toevou. Party worstel vir maande en selfs jare onder sonde oortuiging. Ander se sonde oortuiging is nie so intens nie. En tog kom elke ware gelowige tot ’n mindere of meerdere mate onder sonde oortuiging. Niemand word gered sonder om te besef dat hy verlore is en ’n Verlosser benodig nie (Joh. 16:8).

En tog is sonde oortuiging op sy eie nie genoeg nie. Party mense kom onder sonde oortuiging en vrees God se oordeel, maar word nie gered nie (vgl. Felix in Hand. 24:25). Jy het meer as sonde oortuiging nodig. Jy moet besef wie Jesus is, Hom aanroep om jou te red, en Hom as jou persoonlike Verlosser ontvang (Joh. 1:12). Eers as jy dít gedoen het, kan jy seker wees jy is gered. Moenie jou bedrieglike hart en gewete glo nie, maar glo die Heilige Gees se getuienis deur die Woord (v.20, Jer. 17:9).

3. Vrymoedigheid en sekerheid (v.21-22a)

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress het Guilt, Faint-Heart en Mistrust vir Little Faith beroof. Hulle het sy geld gesteel, maar kon nie sy edelstene kry nie.3 Hy het met ander woorde nie sy redding verloor nie, maar die vreugde van sy verlossing.

Die les is dat jy gered kan wees, al het jy nie sekerheid nie. En tog is dit ’n groot genade as jy seker is van jou redding, omdat jy dan vrymoedigheid voor God het (v.21). Jy wonder nie alewig of die Here kwaad is vir jou en of Hy jou gaan verwerp nie. Jy dink nie: ‘Wat help dit ek bid, want dalk is God nie my Vader nie.’ Of as jy bid, twyfel jy nie gedurig of die Here jou gaan, of wil antwoord nie.

Kan jy dus sien hoe twyfel jou verhouding met die Here benadeel, terwyl sekerheid van redding jou vrymoedigheid voor God gee? Dit is byna soos twee weeskinders wat hulle oorlede pa se rykdom gaan erf as hulle 18 is. Die een weet dit en leef hoopvol, terwyl die ander een nog nie die nuus gehoor het nie en bekommerd is wat van hulle gaan word.

Is dit nodig dat ek dit weer sê: sekerheid van redding is ’n groot geskenk? Soek dit as jy dit nie het nie. Koester dit as jy dit het. Iemand wat sekerheid het, sien antwoorde op gebed (v.22). Dit is nie dat die Here hom voortrek nie, maar hy sien antwoorde omdat hy bid. En wanneer die Here hom antwoord, dryf dit hom om nóg meer te bid. So word sy verhouding met die Here al hoe dieper en word sy sekerheid sterker.

Die persoon wat twyfel, bly biddeloos en ontvang niks (Jak. 4:2). Of hy twyfel as hy bid en word dus nie beantwoord nie (Jak. 1:6-7). Dit laat hom net nog méér twyfel. Op die einde hou hy op met bid, omdat die Here hom nie antwoord nie. Sy biddeloosheid laat hom skuldig voel en nou wonder hy éérs of hy gered is. Kan jy die bose kringloop sien? Hoe breek ’n mens dit? Jy kan nie. Net die Here kan. Bely jou twyfel as sonde en vra die Here om jou sekerheid te gee.

4. Gehoorsaamheid en sekerheid (v.22b-24a)

’n Paar jaar na my bekering het ek oor my redding begin twyfel. Dit was te verstane, omdat ek besig was met sonde. As die Here my op daardie stadium sekerheid moes gee, sou ek gedink het my sonde pla Hom nie. Daarom moes Hy toelaat dat ek oor my redding twyfel.

Alhoewel gehoorsaamheid aan God se gebooie jou nie red nie, is dit nodig as jy sekerheid wil hê (v.22b). Jy kan tog nie seker wees jy is gered as jy soos ’n ongelowige in sonde lewe nie. Sonde sal ook maak dat jy jou vreugde in die Here verloor (Ps. 51:10). Dit is gevaarlik, omdat jy dan in die strik trap om die Here se vreugde te soek meer as wat jy Hóm soek. Om dus sekerheid te kry, moet jy nie op sekerheid fokus nie, maar op God.

Hoe doen ’n mens dit? Jy luister na God se gebooie en doen wat Hy vir jou sê (v.22b, Joh. 14:15). Sy gebod is dat jy in sy Seun Jesus Christus glo en dat jy die broers liefhet (v.23, Mark. 1:15, Joh. 13:34-35). Om te glo, is meer as om net die feite aangaande Hom te aanvaar (Jak. 2:19). Dit beteken eerder dat jy jou lewe aan Hom toevertrou, omdat jy jouself nie kan red nie. Jy glo nie net aan die begin van jou redding nie, maar jy glo aanhoudend in Jesus totdat jy jou asem uitblaas, of totdat Hy weer kom (Kol. 1:23). As jy só in Hom glo, gehoorsaam jy God se gebooie en bly jy in Hom soos Hy in jou bly (v.24a, Joh. 14:23, 15:4-5, Gal. 2:20). En as dít gebeur, sal jy nie oor jou redding twyfel nie, maar sal jy gedurig seker wees dat jy aan die Here behoort.

Let asseblief op dat die Bybel nie sê jy moet op jou geloof staatmaak om seker te maak jy is gered nie. Dit sê eerder dat jy deur die geloof op Jesus alleen moet staatmaak. Hiervoor is dit goed as jy gereeld die nagmaal vier en jou sonde bely, sodat jy op die kruis kan fokus. As jy dit doen, sal jy sekerheid hê, terwyl die persoon wat net sekerheid soek, dit nie kry nie.

Jaag daarom na Christus eerder as wat jy ’n afgod maak van sekerheid. Om op Jesus te fokus, is belangrik, omdat ons maklik dink dat die Vader ons op grond van ons swak, of sterk verhouding met Hom verwerp, of aanvaar. Ons vergeet dat Hy ons deur Christus alleen aanvaar.

Weereens rus jou sekerheid nie op wat jy vir die Here doen nie, maar op wat Hy vir jóú gedoen het toe Hy 2000 gelede aan die kruis gesterf het. Jou redding is veral seker, omdat jy dit nie kan verloor nie. As jy dit kon verloor, sou jy nie sekerheid hê nie: ‘...today justified, tomorrow unjustified; today a Peter, tomorrow a Judas; today a member of Christ, tomorrow a child of Satan... If one justified person may fall away from Christ, all may; and so Christ would be a head without a body.’4

Jesus sal jou nooit uitwerp, verlore laat gaan, toelaat dat iemand jou uit sy hand ruk, of dat iemand jou van sy liefde skei nie (Joh. 6:37, 39, 10:28-29, Rom. 8:38-39). Hy sal jou tot die einde toe bewaar (Fil. 1:6, 1Pet. 1:4-5). Daarom het jy geen rede om te twyfel nie, maar elke rede onder die son om seker te wees jy is syne.

5. Die Heilige Gees en sekerheid (v.24b)

Volgens party Christene lei God ons nooit deur ons emosies, of indrukke nie, maar net deur die Skrif. Ander sê weer dat die Gees ons hoofsaaklik deur ons emosies en persoonlike indrukke lei: ‘Om altyd na die Bybel toe te hardloop, wys dat jy nie ’n lewende verhouding met God het nie. Ons glo tog nie in die Vader, die Seun, en die Heilige Skrif nie.’

Ek glo dat dit nie een of die ander is nie, maar beide. Die Gees werk persoonlik met elkeen van God se kinders. Hy skep heilige begeertes in ons en dring ons harte en gedagtes. Om te weet of dit Hy is wat jou lei, moet jy jou indrukke en emosies aan die Skrif meet. As dit met die Skrif bots, is dit die vlees, of ’n vals gees wat jou lei. As dit met die Skrif ooreenstem, is dit die Heilige Gees wat jou lei.

Dit geld ook vir geloofsekerheid. Die Gees woon in ons (Rom. 8:9, 1Kor. 6:19) en getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (v.24b, 4:13, Rom. 8:16). Hoe doen Hy dit? Hy het die Skrif geïnspireer en sê vir jou dat jy ’n kind van God is as jou lewe ooreenstem met die Bybelse definisie van ’n Christen. Hy getuig ook subjektief deurdat Hy jou die begeerte gee om God jou Vader te noem, om Hom aan te roep, en om tot Hom te bid (v.24b, Rom. 8:15, Gal. 4:6).

Omdat dit die Gees is wat sekerheid gee, moet jy nie sonde doen en Hom bedroef nie (Ef. 4:30). Bely jou sonde en bekeer jou daarvan sodra jy dit doen. Waar die Gees die bloed van Jesus in jou lewe sien, sal Hy volg. Hy het immers gekom om Jesus te verheerlik (Joh. 16:14). Moet dan nie te veel introspeksie doen as jy sekerheid wil hê nie, maar kyk na Jesus. Dit is wat ’n sekere John Campbell ontdek het, nadat hy vir jare met geloofsekerheid gesukkel het: ‘Formerly the major part of my thoughts centred either upon the darkness I felt or the light I enjoyed. Now they are mainly directed to Jesus, what he hath done, suffered and promised.’5

Dit is dan die belangrikste ding om twyfel te oorkom: kyk na Jesus. En as ek nog drie dinge kan byvoeg: kyk na Jesus, kyk na Jesus, kyk na Jesus.


1  J.C. Ryle, Holiness (Darlington, England: Evangelical Press, 1979 [1879]), 106

2  Aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 189

3  John Bunyan, The Pilgrim’s Progress (Fearn, Scotland: Christian Focus Publications, 2005), 132-4

4  Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965 [1692]), 229

5  Aangehaal in Murray, ibid., 191

Kategorieë